“Wag nou, mevrou. Moenie u so ontstel nie,” sê Jacqueline kalmerend. “Dis baie jammer dat dit gebeur het, maar niemand sal u vir die ongeluk verantwoordelik hou nie.”
“Ja, maar die goewerneur gaan baie ontevrede wees. Dis die laaste bruide wat na die Kaap gestuur word. Hulle betaal my baie goed om die meisies te vergesel, maar nou weet ek nie.”
“Kyk, mevrou, ek sal u help as u my help,” sê Jacqueline vinnig.
“Ek jóú help?” vra die ou dame verbaas.
“Ja. Ek is ook op pad na die Kaap de Goede Hoop, maar ek het ’n baie goeie rede hoekom ek dit nie bekend wil laat raak nie. Ek is bereid om u baie goed te betaal indien u my in die verdrinkte meisie se plek sal neem, en my as Marie van der Weyde, die weesmeisie uit Nederland, aan die Kaap voorstel.”
“Maar …”
“Hoekom nie, mevrou?” Jacqueline leun dringend nader. “U verloor niks nie. Inteendeel. U sal agt bruide lewer soos u belowe het, en u word nog deur my vergoed ook.”
“Ja, maar … maar sê nou maar die goewerneur vind uit? En wat van die kaptein van dié skip? Wat sal hy dink as u sommer van die toneel verdwyn?” maak die ou dame beswaar.
“Moenie daaroor bekommerd wees nie. As Marie van der Weyde verlede nag tydens die storm oorboord geval en verdink het, kon dieselfde mos met my ook gebeur het, nie waar nie? As ek die klere van ’n weesmeisie aanhet en ek haal hierdie pruik af, sal niemand my ooit herken nie. Asseblief, mevrou!” pleit sy gretig.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.