Meteens word die nagstilte deur aanstormende perdepote verbreek. Hy spits sy ore en sy waaksaamheid verskerp. Hy weet maar te goed dat sy lewe niks werd sal wees indien iemand hom hier gewaar nie.
Dan bars die perd ’n paar treë links van hom deur die bosse en die teuels word so vinnig in die dier se bek teruggeruk dat hy op sy agterpote terugsteier. Maar die ruiter het reeds afgespring en hardloop na die voordeur waar hy ongeduldig teen die massiewe deur hamer. ’n Oomblik later val ’n helder streep lig skuins oor die perd en ruiter wanneer die deur oopswaai en ’n lamp omhoog gehou word.
“Is dit nodig om die deur af te breek?” vra ’n ongeduldige stem.
“Ek het nie verwag dat u moet kom oopmaak nie. Waar is die bediendes dan?” antwoord die jong ruiter parmantig.
“Ek het al die huisbediendes vanaand laat gaan. Dis nie net jy wat Nuwejaar wil vier nie,” antwoord die ou man en kug dan hees: “Kom tog binne en maak die deur toe. Die aandlug is sleg vir my bors.”
Die vreemdeling hoor hoe die grendel weer toeslaan en voetstappe in die rigting van die verligte vertrek opklink.
“Geld! Geld! Van die oggend tot die aand net geld!” dreun die ou man se stem deur die venster. “Dis tyd dat jy begin werk. Dan sal jy uitvind waar geld vandaan kom en dit nie so vryelik verkwis nie!”
Die luistervink se mond trek smalend by die aanhoor van hierdie woorde en hy bring sy oor ’n bietjie nader.
“Ek móét tweeduisend frank hê,” sê die jong ruiter dringend. “Vanaand nog.”
“Hoekom móét? Wat wil jy daarmee maak?”
Daar kom geen antwoord op sy vraag nie.
Dan sug die ou man diep. “Toe maar, jy hoef my nie te vertel nie. Dis natuurlik weer dobbelskuld.”
Stilte. Dan beweeg daar voetstappe in die rigting van die venster en sy stem kom helder na die vreemdeling wat geïnteresseerd staan en luister.
“Wel, ek gaan jou nie weer help nie. Jy het my geduld nou een keer te veel beproef. Jou lewe bestaan net uit drank, dobbel en vroue. Jy het jou laaste kans gehad. Wat geld betref, is ek klaar met jou. Goeienag. Ek voel nie te gesond nie.”
Die voetstappe klink weer op en ’n deur word oopgemaak. Maar dan verstil dit meteens toe die jong man uitroep: “Jy sál my die geld gee!”
Sy nuuskierigheid kry nou die oorhand, en versigtig loer die vreemdeling om die hoek van die venster na binne.
Die jong ruiter staan met sy rug na hom gekeer en in sy hand blink ’n pistool dof in die lamplig. ’n Paar tree verder staan die ou man, sy oë uitdagend op die jong man voor hom gerig.
“Jy is ’n dwaas. Sit neer daardie speelding.”
Maar die jong man gee ’n tree nader en lig die vuurwapen met ’n bewende hand omhoog. “Ek speel nie. Ek eis tweeduisend frank – onmiddellik!”
Die ou man glimlag meewarig. “Jy bly ’n kind ten spyte van jou grootmenshoudinkies. Jy dink tog seker nie dat ek vir jou dreigement sal skrik nie. Skiet, as jy nie te lafhartig is nie, maar van mý sal jy geen geld weer ontvang nie.”
Die ou man draai om en ’n skoot knal deur die vertrek. ’n Stonde lank staan hy stil. Dan syg hy stadig grondwaarts. Twee paar oë staar geskok, ongelowig na die grusame toneel. Dan kom daar meteens lewe in die jong ruiter. Hy spring na die deur en voordat die vreemdeling dit reg besef, dawer die perdepote oor die oop kol en verdwyn tussen die bosse. ’n Swaar stilte sak oor die ou kasteel neer.
Fronsend staar die vreemdeling voor hom op die grond. Stadig dring dit tot hom deur dat al sy planne verydel is. Hy loer weer deur die venster. Die persoon wat die sleutel was tot die oplossing van sy probleem, lê op sy gesig terwyl die donkerrooi vlek op sy weelderige satynkamerjas al groter word.
Rats lig hy hom op die vensterbank en spring die vertrek binne. Versigtig hardloop hy nader en keer die liggaam om, maar toe hy in die starende oë kyk, weet hy dat die koeël sy werk deeglik gedoen het. Hy vloek saggies en staan op. Stadig laat hy sy blik deur die vertrek dwaal. Sy oog word getrek deur die swaar lessenaar wat in die hoek staan. Hy stap vinnig daarheen en trek die een laai ná die ander oop sonder om te vind waarna hy soek. Eindelik sak hy met ’n sug op ’n stoel neer. Wat nou?
Dan spring hy vervaard op en lig sy kop. Hy is seker hy het die geluid van aanrollende wiele gehoor. Na ’n paar oomblikke kan hy die gestamp van die koetswiele duidelik hoor en met ’n laaste blik op die stil figuur, spring hy op die vensterbank en verdwyn in die nag.
“Wat makeer jou? Jy lyk soos die dood.”
“Ek … ek het hom geskiet …”
“Geskiet? Waarvan praat jy, man?”
Die jong man lek oor sy droë lippe. “Ek het hom die geld gevra en hy het … hy wou dit nie gee nie. Toe … toe skiet ek hom …”
“Wát?” Daar heers ’n onheilspellende stilte. Dan bars dit uit: “Jou gek! Was jy dan van jou sinne beroof?”
Die jong man gryp sy vriend aan die arm. “Jy moet help. Jy móét! Ek moet vlug. Ek …”
“Kalmeer, man! Is jy seker hy is dood?”
“Ek weet nie. Ek dink so …”
“Dit maak ook nie saak nie. Al lewe hy ook, jy sal moet vlug.” Hy kyk na die bleek gesig. “Jy het alles pragtig verbrou. Maar dit nou daar gelaat. Ons moet spore maak. Kom!”
“Kaptein …”
Kaptein Isaac Goske kyk ongeduldig op van die kaart wat voor hom op die tafel lê. Sy oë rek toe hy die gehawende gestalte voor hom gewaar.
“Wat de duiwel … Wie is jy? En hoe kom jy op my skip?”
Hoewel sy klere geskeur is en sy baard lank, ontgaan die stewige bors en breë skouers nie die kaptein se skerp oë nie, en toe hy in die oop, eerlike gesig opkyk, voel hy sommer aan dat hier iets verkeerds aan die gang is. Hy is nog meer verras toe die gehawende vreemdeling hom beleef in keurige Frans aanspreek.
“Ek moet verskoning vra dat ek u kajuit so ongenooid binnekom, maar …”
“Maar wat?” Isaac Goske stap om die tafel. Hoewel hy geensins kort is nie, is hy verplig om na die ongenooide gas op te kyk. Jare lange ondervinding met alle soorte mense vertel hom dat ’n ontwikkelde en intelligente persoon voor hom staan, en sy belangstelling word teen sy sin geprikkel. Nietemin is sy stem ongenaakbaar en streng toe hy vervolg: “Na regte hoef ek jou nie eens uit te vra nie. Weet jy wat met verstekelinge en drosters gebeur?”
Hy hou die man voor hom fyn dop en ’n tikkie van sy belangstelling skemer deur in sy oë toe hy die skewe glimlag om die bebaarde mond gewaar.
“Ja, kaptein. Hulle word gekielhaal, nie waar nie?”
“Heeltemal korrek. En is jy nie bang nie?”
Die glimlag raak breër. “Wat wil u hê moet ek daarop antwoord, kaptein?”
Kaptein Goske tel ’n sigaar van sy tafel af op en sê ernstig: “Kyk, vreemdeling, wie jy ook al is, jy moet nou gou praat. Ek is nie juis bekend vir my groot geduld nie.”
“Maar wel om u redelikheid en regverdigheid, kaptein.”
Isaac Goske kyk stip deur die sigaarrook. “Jy wil vir my iets sê. Nou sê dit en kry klaar,” sê hy kortaf en gaan weer agter die tafel sit.
“Goed,