Ena Murray
Bruid Uit Die Vreemde
Jasmyn
1
Dis ’n paar minute oor twaalf, en die nuwe jaar 1683 het pas begin. In die strate van Parys polsslag en krioel dit van dansende en laggende skares wat jolyt maak. Op die oewers van die Seine, wat soos ’n breë blou aar oor Frankryk na die see toe kronkel, klink die vrolike liedere op, maar die water spoel waardig voort. Tog word sy rustigheid effens verstoor wanneer die waters by Rouen verbyvloei en die geraas van die vierende menigtes oorverdowend opklink.
Die aanbreek van die nuwe jaar is met oorgawe gevier. ’n Hele paar jong edelmanne word so onopsigtelik moontlik in goudbeslaande koetse gehelp en van die strate verwyder, maar daar is ’n paar wat hardnekkig op hul waggelende bene bly staan en met swaar tonge protesteer dat hulle nie dronk is nie en nog ’n glasie van die heerlike rooi Franse wyn wil hê.
“Kyk waar jy loop, jou onnosele dronklap!”
Die jong man moet vinnig wegspring voor die twee paar perdehoewe wat wild in die lug kap. Hy kom op sy knieë te lande, maar spring weer ligweg op sy voete.
Die koetsier is beveel om stil te hou, en die gordyntjie voor die venster word weggetrek.
Die jong man stap op sy tyd nader en kyk dan op na die koetsier wat met sy gekrulde wit pruik en rooi satynklere minagtend op hom neerkyk.
“Ek neem aan jy het met iemand anders gepraat toe jy op ’n onnosele dronklap geskree het?” sê-vra hy en sy hand rus op sy pistool in ’n skede aan sy gordel.
Hy hoor ’n sagte snak na asem en draai sy kop in die rigting van die koets. Sy liggaam verstyf van algehele verbasing toe hy die beeldskone vrou sien wat ontsteld by die venster uitleun. In die sagte lig van die lanterns wat vanuit die wynhuis agter hom skyn, vertoon haar vel marmerwit, haar oë diep en geheimsinnig. Dan ruk hy homself reg en buig galant.
“U het gepraat, mademoiselle?”
“Ek … ek is jammer. Is u beseer?” vra sy in ’n hees stem.
“As ek dronk en boonop onnosel was, sou ek definitief verongeluk het. Gelukkig is ek heel nugter. Maar dis ’n gevaarlike spoed om te ry wanneer die strate so vol mense is,” betig hy haar. “Maar ás ek beseer was, wat sou u gedoen het?”
“Ek sou u vergoed het, natuurlik.”
Die vreemdeling antwoord nie dadelik nie, en die jong meisie neem die kans waar om hom ongemerk te beskou. Sy kleredrag is dié van ’n gewone burger, maar tog kan sy nie ’n tikkie bewondering onderdruk nie. Die broek wat van sy kuite af tot in sy middellyf styf om sy liggaam span, vertoon ’n paar welgevormde bene, en intuïtief weet sy dat hierdie man nie van valse middele soos kussinkies gebruik maak om spiere te vertoon, soos so baie van die mans wat sy ken nie. Sy hemp is ongeërg voor oopgeknoop, sodat die grootste gedeelte van sy gespierde borskas ontbloot is.
’n Diep blos spoel oor haar wange toe dit skielik tot haar deurdring dat die jong man nader gekom het en haar ewe takserend bestudeer.
Hy bring sy kop nog nader, en toe sy wil terugsak in die veilige donkerte van die koets, gryp sy hande hare op die raam van die koetsvenster vas en sê hy beskuldigend: “Ek het my knieë nerfaf gestamp, of het u nie gesien nie? Dus dink ek ek het die reg om vergoeding te eis.” Sy tande blink soos hy glimlag.
Sy ruk haar hande onder syne uit en knip haar handsakkie oop. In haar palm blink twee muntstukke. “Ek is jammer, maar dis al wat ek op die oomblik by my het …” Haar stem sterf weg toe hy uitbundig lag.
Die volgende oomblik ruk hy die koetsdeur oop. “U het my seker verkeerd verstaan, mademoiselle. Ons het nie een keer van geldelike vergoeding gepraat nie!” Voordat sy presies weet wat gebeur, word sy hard teen sy kaal bors aangedruk en deeglik gesoen.
Toe die ontstelde koetsier by die deur verskyn, spring hy laggend aan die ander kant uit.
“Totsiens, o skone! Dankie vir die vergoeding! Ek het dit geniet!” roep hy en verdwyn voor haar verwoede oë tussen die skare.
Maar baie gou verdwyn die glimlag om sy mond, en die geamuseerde lig in sy oë verflou. Sy gelaat raak weer stroef en streng terwyl hy vir hom ’n pad tussen die mense deur baan. Sy gedagtes dwaal terug na die een onderwerp wat al jare lank sy hele lewe oorheers, en die verbitterde trek om sy mond verdiep.
Ver weg van die rumoerige strate, op ’n klip aan die oewer van die Seine, gaan hy sit en laat sy kop in sy hande sak. Vir die eerste keer voel hy hoe die vuur van sy oortuiging hom verlaat; hoe ’n moedeloosheid in hom posvat. Hoe lank al soek hy nie na die feite wat sal bewys dat hy jare gelede op ’n geslepe manier van sy regmatige titel, sy erfenis en honderde duisende frank beroof is nie? Maar die soektog het tot dusver net mooi niks opgelewer nie. Inteendeel! Mense wat hom aan die begin ondersteun het, het die afgelope tyd duidelike tekens van ongemak begin toon – so asof hulle nie meer seker is dat hy gelyk het nie.
Hy spring op en kners op sy tande. Laat die hele wêreld dan maar dink dat dit skone sinsbedrog is om te verklaar dat hy – ’n gewone arbeider – in werklikheid een van die mees invloedryke en gesiene persone in Frankryk behoort te wees. Hy gee nie om nie. Laat hulle maar voortgaan om agter sy rug spottenderwys van hom te praat as “die graaf”. Hy bal sy vuiste. Eendag, ééndag sál hy hulle almal oortuig dat hy geen gewone lid van die gepeupel is nie, maar ’n afstammeling van een van die oudste adellike families in Frankryk.
Hy kyk in die rigting van die bosryke klowe en rante wat hy nou net vaag in die donkerte kan sien. Dáár, waar daardie punt teen die naghemel eindig, daar lê die uitgestrekte landgoed wat sy erfenis sou gewees het as dit nie was vir die gemeenheid van …
Sy gedagtes stol en hy voel hoe sy liggaam met ’n koue woede gevul word, hoe die haat diep en donker in sy binneste gloei. Dan begin hy vinnig aanstap totdat hy later, in sy haas om sy bestemming te bereik, op ’n drafstap oorslaan.
Hoe nader hy aan sy bestemming kom, hoe duideliker raak dit vir hom wat hy moet doen. Hy spoor homself nog vinniger aan. Toe hy eindelik die kruin van die heuwel bereik, staan hy stil en laat sy blik oor die toneel voor hom dwaal. Sy bors hyg terwyl sy oë soekend, besitlik om hom staar. Voor hom, aan die voet van ’n skotige afdraand, lê die ou kasteel waar hy, sy vader en oupa en al die geslagte voor hulle gebore is. Hy voel hoe sy bors swel van trots en sy hand, wat teen die ruwe stam van ’n omgevalle boom rus, liggies bewe. Sy erfenis. Sýne! Dit alles behoort aan hom! Hierdie lieflike landgoed wat deur geslagte heen vir hom opgepas en bewaar is tot … tot dié dag dat sy ouers koelbloedig vermoor is en sy erfenis in vreemde hande geval het. En die moordenaar bly vandag nog hier en kraai koning oor dít wat nie aan hom behoort nie. En hy, die wettige erfgenaam, is ’n armsalige arbeider op die paaie van Frankryk! Hy vee met sy gespierde voorarm oor sy voorkop en probeer om die haat te vergeet en nugter te dink oor die volgende stap wat hy moet neem.
Dan sluit sy lippe ferm op mekaar en voel-voel hy na die swaard en pistool aan sy sy. Vanaand, vanaand sal daardie moordenaar en verraaier gedwing word om ’n bekentenis te teken. Hy sal hom met die punt van sy swaard dwing om sy erfenis aan hom terug te gee. Hy gaan nie langer tyd mors om te soek na bewyse nie. Vanaand gaan hy net eenvoudig opeis wat syne is!
Ondersoekend kyk hy om hom heen, maar al teken van lewe is een venster waaruit die lig van helder lampe skyn. Die res van die massiewe kasteel is in donkerte gehul. Versigtig begin hy sy pad tussen die bome deur baan en kom telkens in ’n afwagtende houding tot stilstand, maar die toneel bly kalm en vreedsaam. Hy is nou so naby dat hy die swaar kopergrendels van die groot voordeur in die dowwe lig van ’n flou maan kan sien blink. Hy wag nog ’n oomblik en dan trek sy spiere saam.
Die volgende oomblik skiet hy soos ’n pyl uit ’n boog van agter die digte bosse uit oor die oop kol en smelt dan weer saam met die donker skaduwees en die struike wat tot teenaan die eeue oue klipmure groei. Hy wag gespanne, maar steeds duur die stilte voort. Dan druk hy sy lyf styf teen die muur aan sodat hy die koel oppervlak van die klip teen sy natgeswete rug voel en beweeg geruisloos op die punte van sy tone nader aan die verligte venster. Eindelik bereik hy sy bestemming, maar net toe hy wil inloer, val ’n skaduwee deur die venster na buite