“Liefste, Isolde sal nooit vir so iets te vinde wees nie. Ons moet aan iets anders dink.”
“Aan wat? Gee jy dan ’n beter plan.”
Maar daar is geen beter plan nie, en as Isolde kon weet wat die twee in die nagtelike ure lê en fabriseer en watter rol sy daarin gaan speel, sou sy nog slegter geslaap het.
Kobus is die volgende oggend baie vroeg na Richard toe en toe hy omstreeks elfuur weer terugkeer na die woonstel, kyk die twee susters hom elk met hul eie bedenkinge aan.
“Ons het die man geskakel. Hy sê hy het nog niks verkoop nie, en as ek wil, kan ek kom en kom uitsoek wat ek wil hê.” Hy kyk na Isolde. “Asseblief, jy moet verstaan, Isolde.”
Albei jongmense kyk haar so pleitend aan dat Isolde aardig voel. Haar stem is effens heftig. “Ek verstaan, Kobus. Maar dis jóú mense wat jy moet oortuig, nie vir my nie.”
“Ons het aan ’n plan gedink.”
Isolde kyk haar suster agterdogtig aan. Daardie stemtoon ken sy goed. Martina gebruik dit altyd wanneer sy iets wil hê waarmee sy weet haar suster nie sal saamstem nie. “Ja?”
Martina kom nader, slaan haar arms om haar suster. “Asseblief, sus, jy moet ons nou help. Nog net hierdie een keertjie. Ek sal nooit weer iets van jou vra nie. Asseblief tog, Sol!”
Isolde se gesig verstil. Sy voel sommer hier is ’n groot slang in die gras, maar haar hart word onwillekeurig week. Sy is al wat Martina het. As hul ouers geleef het, sou Martina haar nou tot hulle kon wend. Maar nou het sy net haar suster.
“Goed, wat is dit? Hoe kan ek help?”
Man en vrou kyk weer vlugtig na mekaar, en Kobus lyk nie juis hoopvol nie.
Maar Martina wend haar weer moedig tot haar suster. “Jy sien, sus, ons het gewonder ... ek en Kobus ...”
Kobus tree vorentoe. “Voordat Martina jou oor haar plan inlig, moet ek jou ... julle eers iets vertel. Ek het plaas toe gebel nadat ek met die man in Argentinië gepraat het. Zak klink heeltemal te vinde vir my plan. Hy dink ek kan moontlik ’n goeie slag slaan. Maar dan ...” Hy trap effens ongemaklik rond. “Hy het my ook gewaarsku dat ek ... wel, dat ek nie dwase goed moet aanvang en miskien skielik trou nie, want ... want dan gaan hy toesien dat ek onterf word.”
“Wat?” Martina lyk geskok en frons hewig. “Kobus, jy het Zak as so ’n wonderlike mens geskilder, maar ek begin my bedenkinge oor hom kry.”
Isolde het verbleek sodat die groen oë nog skerper uitstaan teen haar ligte vel. Haar dunk van Kobus se broer daal by die minuut. “En watter reg het hy om dit te doen?”
Kobus lyk moedeloos. “Hy kan. Toe my pa oorlede is, het hy alles, ook alle seggenskap oor sy boedel, in Zak se hande gelaat omdat Ma se gesondheid so sleg is. Zak kán my onterf. Ek kan nie glo ... kan dit vir geen oomblik aanvaar ... dat hy werklik tot sulke uiterstes sal gaan nie, maar aan die ander kant ... hy is ’n onpeilbare mens. ’n Mens moet hom liewer nie te ver dryf nie.”
“Van al die ...” Isolde spring op en haar groen oë blits. “Hy moet ’n soort onmens wees as hy so iets sou doen. Ek is jammer, Kobus, maar ek het nie ’n druppel tyd vir daardie broer van jou nie.”
Ook Martina is openlik ontsteld. “Kobus, dink jy regtig hy sal? Jy het dan nog altyd vertel hy is so ’n wonderlike broer ...”
“Maar hy is ’n wonderlike broer en ’n wonderlike mens, liefste. Ek besef sy houding moet baie ... onredelik voorkom, maar ek verstaan tot ’n mate hoekom hy so optree. Dis net omdat hy my nog altyd as sy kleinboetie beskou wat hy moet beskerm. En dan is daar natuurlik nog Ma. Hy is baie erg oor haar en hy sal enigiets doen om haar teen pyn of teleurstelling te beskerm. Die man wat aan haar raak, raak aan Zak. En die persoon wat haar ontstel, sal met hom te doen kry. Hy was – en is – meer soos ’n vader vir my as soos ’n broer. Seker omdat hy byna twaalf jaar ouer as ek is. En dan natuurlik is hy ’n man met ’n onwrikbare wil. Hy kan behoorlik hardkoppig wees as hy eers ’n besluit geneem het.”
“En hy het besluit dat indien jy met ’n meisie van hierdie geweste trou, of met enigiemand aan wie hy nie eers sy goedkeuringsetiket geplak het nie, jy onterf sal word. Baie gerieflik, moet ek sê. Dan word sy erfenis mos soveel groter, nie waar nie?”
“Isolde!” Kobus lyk werklik ontsteld en geskok. “As jy Zak eers leer ken het, sal jy besef dat hy nooit so iets sal doen om persoonlike munt daaruit te slaan nie. Rocklands is so ’n magsonmoontlike stuk aarde – eintlik vyf groot plase ineen – dat daar meer as genoeg vir hom oorbly as dit in twee gedeel word. En, in alle beskeidenheid gesê, daar is genoeg kapitaal om seker nóg so ’n stuk grond te koop as hy dit wil hê.”
“Dis miskien een van die redes hoekom hy oor alles wil koning kraai. Dis gewoonlik so met ryk mense. Hulle verbeel hulle hulle kan oor alles en almal heers. As hy ’n bietjie minder aan aardse goed gehad het, sou hy dalk meer van ’n mens gewees het,” laat Isolde op haar reguit manier hoor.
Man en vrou kyk weer vlugtig na mekaar. Kobus se oë vertel duidelik aan sy vroutjie dat sy maar haar plan kan vergeet. Nou, minder as ooit tevore, sal Isolde daarvoor te vinde wees.
Isolde voel hoe ’n hulpeloosheid haar oorval. Wat kan sy doen om hierdie twee mense te help? Sy voel dis haar plig om hulle teen hierdie hardvogtige man te beskerm, al vertel Kobus ook hóé watter wonderlike mens hy eintlik is. Kobus is maar net lojaal, besluit sy spytig.
“Wat gaan julle doen?” wil sy reguit weet, ook ten einde raad. “Kan Martina nie maar eers plaas toe gaan en hulle gaan ontmoet nie, sê as jou verloofde?” Sy glimlag skeef. “Ek weet dis nie heeltemal eerlik nie, en dis beslis nie reg van my om julle voor te gaan met so iets nie, maar wat kan ’n mens anders doen? Gaan jy dan Argentinië toe en gaan koop jou beeste, en stuur Martina solank plaas toe. Wanneer jy terugkom, het hulle darem tyd gehad om haar te leer ken, en kan julle maar bieg. Ek kan aan niks anders dink nie. Kan julle?”
Die twee loer weer onderlangs na mekaar, en dan lig Martina haar kop op. Dis nou of nooit. “Ons het self aan iets in daardie rigting gedink, maar ... ons het eintlik gedink dit sal beter wees ... ek bedoel, ons wil jou vra of ... jy nie liewer eers Rocklands toe wil gaan nie.”
“Ek? Maar wat moet ék daar gaan maak? Dis in jóú wat hulle belangstel, nie in my nie.”
“Jy verstaan nie. Wat ek eintlik bedoel, is dat jy eers daarheen gaan en voorbrand vir ons maak ...”
“O nee, dankie. Nie al wat ’n Brahmaankoei in die wêreld is, kry my op daardie plaas nie. Nee, Martina, nee.”
“Ag, sus, asseblief. Ek vra so mooi. Nog net hierdie keer, asseblief, sus, doen dit vir my, toe?”
“Martina, jy is nie reg in jou kop nie. Die liefde het jou verstand aangetas. Daardie Zak sal my sommer van die plaas af verjaag.”
“Nie as jy as Martina gaan nie. My ma weet dat daar ’n Martina is op wie ek verlief geraak het, en ter wille van haar sal hy jou dan nie sommer kan weg- ...”
“Wag ’n bietjie. Wát het jy nou net gesê?”
Martina spring ook weer in. “Hy het gesê as jy as ek gaan ... Verstaan jy nie? Jy gaan eers as Martina plaas toe en maak hulle mak, om dit so te stel, en dan ...”
“Maar julle is seker stapelgek. Waar’t jy gehoor ... Liewe land!” Haar asem is skoon weg. “Julle is nie reg wys nie,” sê sy met oortuiging toe sy die erns op albei se gesigte sien.
Haar jonger sussie se oë het nog nooit só gepleit nie. “Sol, asseblief. Dis al wat ons kan doen.”
“Maar dis bedrog. Gruwelike bedrog!” protesteer Isolde geskok. “Jy kan nie werklik verwag dat ek so iets sal doen nie, Martina! Om ’n ou dame wat my nog nooit enige kwaad aangedoen het nie so te gaan staan en bedrieg!”
“Maar dis juis ter wille van haar,” laat Kobus vinnig, oorredend hoor. “Ma sal dadelik van jou hou, net soos ek weet sy dadelik van Martina sal hou. En