Ontsteld oor wat sy alles in die oë moes kyk in hierdie nag wat verby is, onthou sy weer gister se oproep. En sy weet sommer dat haar voorgevoel van onheil nie ongegrond is nie. Kobus se mense – spesifiek sy ouer broer – is beslis nie ingenome met die verloop van sake nie. Verder het sy nog die gevoel dat hulle glad nie eens die volle toedrag van sake ken nie.
Die res van die dag dwaal sy diep bekommerd in die woonstel rond. Van vyfuur af hou sy die straat voor die woonstelblok dop, en slaak ’n sug van verligting toe sy Kobus se motor sien stilhou. Hulle is terug! Dit was die langste Sondag wat sy nog belewe het.
Sy voel gemeen om hul vreugde en geluk te demp, want die twee lyk so stralend gelukkig, maar daar sit ’n man, ’n baie ontevrede man, iewers op hulle en wag. Hoe gouer sy hulle van die oproep vertel, hoe beter. Kobus is nou ’n getroude man en hy moet sy verantwoordelikhede self dra.
Martina bars die woonstel binne en gryp haar suster om die nek. “O, dis lekker om jou weer te sien, sus. O, Isolde, ek is só gelukkig!”
Isolde se keel trek toe terwyl haar oë verteder. Ag, mag die Vader gee dat haar kleinsus altyd so gelukkig sal bly. Maar met beklemming besef sy dat dit nie sal gebeur nie. Sy het sedert gisteroggend die nare voorgevoel dat daar probleme op die paartjie wag.
Martina is egter te intens in haar eie geluk opgeneem om iets van haar suster se kommer agter te kom, en sy borrel voort. “En weet jy wat? Die wonderlikste ding het gebeur by die vakansieoord. Daar is toe mos buitelandse toeriste in die rondawel langs ons en Kobus en die man begin gesels en toe vertel dié hom van ’n miljoenêr in Argentinië wat aan die bankrot speel is en dié het ’n hele stoetery van Brahmane en hy sê toe vir Kobus as hy gou speel, kan hy dalk van die Brahmane spotgoedkoop kry ...”
“Stadig, liewe land. Jy is soos ’n orrel, Martina,” keer Isolde. “Waarvan praat jy, kind? Wat is Brahmane?”
Martina lyk heel verontwaardig. “Dis natuurlik beeste. Dis ’n soort beesras waarin Kobus belangstel. Dis hoekom hy Johannesburg toe gekom het, op soek na kontakpersone van wie hy egte stoet-Brahmane kan koop. En toe loop ons nou dié Amerikaner raak en nou gaan ons volgende week Argentinië toe om te gaan kyk na ...”
Isolde gooi haar hande in die lug en Kobus lag saam, sy oë aanbiddend op sy opgewonde jong vroutjie. Dan knik hy op die vraag in Isolde se oë.
Isolde gaan sit en kyk die twee verstom aan. “Julle kan nie gaan nie. Jy moet liewer Argentinië los en jou broer bel voordat hy ontplof.”
2
Die twee jong gesigte versober ietwat.
Kobus lyk bekommerd. “Hoekom?”
“Hy het gister hierheen gebel en ... wel, om dit sag te stel, hy was baie ontevrede.” Sy aarsel. Sy kry hulle jammer. Hulle is so vreeslik gelukkig, maar hulle moet liewer weet waar hulle staan. Daardie meneer Coetzenbergh het nie geklink na ’n man wat onsin verdra nie. “Hy wou weet wat de duiwel hier aangaan. En hy was baie skepties omtrent jou keuse. Hy het hardop gewonder waar jy Martina uitgekrap het. Sy eie woorde.”
“Sus!” Martina se oë is rond van skok, en Kobus laat sy kop skuldig sak. Dan kyk hy verskonend op.
“Jy ... moet hom maar verskoon, asseblief, Isolde. Zak is maar ... kort van humeur en baie reguit van geaardheid.”
Isolde kan die koelheid in haar stem nie keer nie. Sy voel nou nog hoe haar bloeddruk styg as sy net terugdink aan daardie gesprek. “So het ek agtergekom, ja.” Sy kyk haar jong swaer stip aan. “Kobus, het jy jou mense vertel van jou huwelik?”
Hy én sy bruid lyk meteens só skuldig dat Isolde se hart in haar skoene sak. “Martina?”
“Jy sien, sus ...”
“Ja?” Sy weet sy klink nou presies soos ’n versuurde oujongnooi, vol kritiek en oordeel, maar daardie Zak-mens gaan hulle almal lewend braai as hy moet agterkom dat hulle hom bedrieg het. “Kom. Wat gaan hier aan? Dit klink dan nou vir my julle is met ’n bedrieëry besig.”
Martina en Kobus kyk na mekaar. Ten spyte van die erns van die oomblik, ontmoet hul oë in ’n verskuilde geamuseerde blik. Kobus se broer Zak is wel uitgesproke – maar Isolde staan nie ver terug vir hom nie. Kobus se geamuseerdheid verdiep. Hy sal graag dié twee bymekaar wil sien. Die vonke sal spat!
Dis Martina wat vinnig begin verduidelik. “Jy sien, sus, ek en Kobus het gedink ... wel, dis miskien beter om hulle nie sommer dadelik van die troue te vertel nie.” Die uitdrukking op haar suster se gesig laat haar nog vinniger verduidelik. “Ons wou nie doelbewus bedrog pleeg nie, sus. Dis net ... Kobus se ma is ’n hartlyer. Hy het gevoel ons moet maar eers met die nuus wag tot ons daar kom.”
“Ja, sien,” val Kobus ook in om te help verduidelik, “ek weet Ma sal natuurlik dadelik vir Martina lief word as sy haar sien en dan sal sy dit makliker aanvaar dat ons getroud is. Anders sal sy haar baie bekommer as sy moet weet ek is met ’n wildvreemde meisie getroud. Maar as sy haar eers gesien het, sal sy weet en verstaan hoekom ek Martina nie onder my oë wou laat uitgaan nie. Ons wou regtig nie doelbewus skelm wees nie, Isolde.”
“Hmmm.” Isolde lyk minder kwaai, maar is nietemin nog net so bekommerd. “Ek dink julle sal met hierdie storie by jou ma verbykom, Kobus, maar dis daardie ouboet van jou met wie julle rekening moet hou. Die duiwel gaan los wees op daardie plaas wanneer julle daar kom. Ek kon dit sommer aan sy stem hoor. Julle moet dus maar liewer hierdie Argentinië-storie vergeet en sorg dat julle op die plaas kom en julle verduidelikings agtermekaar kry vir ouboet Zak.” Sy frons. “Dis darem ook ’n vreeslike naam. Waar kom hy daaraan?”
Kobus moet glimlag. “Dis ’n afkorting vir Zacharias. Almal noem hom Zak, en Ma noem hom selfs soms Zakkie.” Sy glimlag verdiep. “Dis natuurlik haar eksklusiewe voorreg om hom só aan te spreek. Hy sal dit van niemand anders duld nie.”
Die rooi glinster in Isolde se hare. “Ek kan my ook nie voorstel dat so ’n dwars mens ’n troetelnaampie kan hê nie. Wel, daar het julle nou die hele storie. Julle moet maar liewer môreoggend vroeg terug plaas toe en gaan regmaak waar julle verbrou het.”
“Maar ons kan nie, Isolde!” roep Martina ontsteld uit.
Kobus laat ook fronsend hoor. “Dis buite die kwessie. Ek móét eers van daardie beeste uitvind, en as daar ’n moontlikheid is dat ek wel van die Brahmane in die hande kan kry, moet ek eers Argentinië toe gaan.”
Isolde sluit haar oë ’n oomblik. Sy is self nie alte bekend vir haar geduld nie, en hierdie twee besef blykbaar nie die erns van die saak nie. “Hoe langer julle draai om jou mense die waarheid te vertel, hoe slegter gaan dit lyk en hoe swakker gaan hulle van julle dink. Gaan éérs plaas toe en dan kan julle reël vir Argentinië.”
“Maar dis nie moontlik nie, Isolde,” laat Kobus koppig hoor. “Teen die tyd dat ek nog eers op die plaas was en alles verduidelik het, is daardie winskoop reeds deur iemand anders opgeraap. Dis die kans van ’n leeftyd.”
Daardie nag slaap nie een juis baie lekker nie. Isolde bekommer haar dood oor Martina. Sy was al die jare so gewoond om haar sussie te beskerm dat sy dit nie sommer kan afmaak met die gedagte dat sy nou getroud is en haar man na haar moet kyk nie. Martina is so ’n liewe kind, maar hierdie ding gaan haar uit die staanspoor in ’n slegte lig by haar skoonmense stel. Hulle gaan ’n totaal verkeerde indruk van haar kry. As daardie Zak net nie so ’n buffel was nie.
Ook die jong paartjie lê tot laatnag en gesels, en daar word aan allerhande planne gedink hoe om hierdie eerste groot probleem in hul huwelik die hoof te bied. Party heeltemal vergesog, soos Kobus uitwys, maar Martina hou voet by stuk toe die idee eers posvat.