Daar is een foto van ouma Sofia se tweede man. Sy gesig is vierkantig en sy skouers breed. Blykbaar het my ma en haar suster hom eenmaal teen die kombuismuur vasgedruk en hom goed gedonner. Nadat my ma hom met ’n vurk gegooi het, is sy na ’n koshuis in Queenstown gestuur. “Deesdae is dit glo so swart daar dat ’n mens nie kan leef nie,” is al wat sy ooit oor Queenstown gesê het.
Ouma Sofia het ek ontmoet toe ek ses jaar oud was. Tot op daardie stadium het my pa se familie ons lewe oordonder en was ek onbewus daarvan dat my ma ook ’n ma gehad het. My nuwe ouma het vir my ’n legkaart van Winnie the Pooh gegee en my op my tweede naam genoem, wat my bang en vreemd vir haar laat voel het. Sy het na sigarette geruik. My suster was twee jaar oud en kon later nie onthou dat sy gehuil het toe die vreemde vrou met die grys hare haar wou optel nie. Ouma Sofia was ’n verkoopsdame by ’n skoenwinkel en het my vertel sy kon twintig persent afslag op skoene kry. Nadat sy weg is, het my ma ’n foto van ouma Sofia op my spieëltafel gesit.
Destyds het ek my ook na my pa se fotoalbums gewend – die ou tipe albums met dik, swart bladsye waarop ’n mens hoekies moes plak en dan die foto’s monteer – om my karige verhaal te red. Sommige van die hoekies was los en van die foto’s het verlore geraak. By elke foto het my pa met ’n wit pen ’n byskrif aangebring, soos “Ek en Pieletjies in die armie”, “Ek, Mammie en Pappie by my Citroën”, “My girlfriend Rieta”. Op latere foto’s het my ma verskyn. Hy en sy staan langs mekaar as deel van die Matie-gimnastiekspan. Op die agtergrond, skuins verby haar neus, steek die naambord van Beaufort-Wes se streeksbiblioteek uit en die bus se dakrak is gestapel met gimnastiektoerusting.
“Ons het altyd pleisters oor ons nipples geplak as dit koud is sodat dit nie deur ons leotards wys nie,” sê my ma vir my. “Dit lyk tog so lelik. Jy moet dit ook maar onthou, veral met die klere wat jy deesdae dra.”
Dan stap my ma en pa hand aan hand, skynbaar onbewus daarvan dat hulle afgeneem word – hy steeds in die helfte van dieselfde sin, sy wat wegkyk, haar bene vasgevang in die plooie van haar romp. Agter op die foto is ’n adres wat ek as deel van my verhaal neergeskryf het: Sunbeam Photo Co, Box 4264, Cape Town. Phone 20714.
“In al die groot stede was daar fotograwe wat jou foto sommer so op straat neem,” het my ma verduidelik, “en dan het hulle vir jou ’n nommer gegee en jy kon dit later by hulle studio gaan koop as jy wou. Baie keer was hulle sommer orig. Hier kan jy sien hoe vies jou pa was, want hulle het ons al twee keer daai dag afgeneem.” Sy het gelag terwyl sy my vertel het. “Ek was maar elke keer ’n sucker en het die foto’s gaan koop.”
My pa was haar eerste kêrel. Hulle het saam studeer en was albei goed in sport. Hy het vir haar ’n eekhorinkie present gegee wat haar potlode tot op die lood gekou en soggens vroeg op haar maag kom lê het. Aan die begin van haar tweede jaar het hulle verloof geraak. Sy ouers het haar soos ’n dogter aanvaar. Sy pa was groot en statig en het nooit sy humeur verloor nie. Ná die troue het sy hom “Pappie” genoem. Dit was vir haar ’n vreemde woord. Haar skoonma het haar leer naaldwerk doen en kook, maar van ’n breipatroon kon sy nooit sin maak nie. Dit is nou haar lewe, het sy gedink, en die vrouens van die buurt oorgenooi vir ’n Tupperware-partytjie. Sewe jaar later, ná ’n huwelik waaruit twee dogters gebore is, het prokureurs op 20 Maart 1971 in Oudtshoorn hul egskeidingsdokumente gefinaliseer. Sy het vir haar skoonma geskryf: Ek het hom nie meer lief nie.
Dit is die enigste paragrawe uit “Fotoverhaal”, met sy fundamentele gebrek aan agtergrondinligting, wat ek in my nuwe dokument herskryf. Waar ek verder vir stories moet soek, weet ek nie. Dalk is daar iewers ’n verhaal oor ’n geluid of ’n reuk, ’n sug of parfuum, ’n nota op my hand geskryf, ’n skildery, ’n droom wat ek te moeg is om te droom?
Ek gaan badkamer toe, spoel my gesig af, staan ’n oomblik voor die badkamerspieël. Roesvlekke waar my oë moet wees, tandepastakwyl in my hare. Iemand sê my naam en daar, net dáár, toe ek my oë teen die skerp oggendlig skreef, sien ek dit. Maar veral as ek op ’n sekere manier glimlag, of wanneer ek ongeduldig is en my mond trek. My stem wat met hare verwar word oor die telefoon. Jy klink nou nes. Ek kan nooit te gerus wees met so ’n nessie van doringdraad in my agterkop nie.
Ek druk my vingers in my mond en rek my mondhoeke. My tong spartel en my keel ruk. Terselfdertyd mismaak ek my oë deur my onderste ooglede met my duime afwaarts te rem. In die flou badkamerlig lyk my gesig grotesk. Geleidelik verdwyn my ma. Ek kan hoor hoe sy haar huissleutels op die tafelblad neersit. Dit het vir dae net daar gelê nadat sy weg is.
Ek gaan lê op my bed, moeg ná die nag se werk, maar bly wonder of ek iets vergeet het. Ná ’n ruk verval ek in ’n ligte slaap waaruit ek spartel om wakker te word. My kop voel swaar en my mond is seer. Met my tong voel ek oor die riwwe aan die binnekant van my wang. Saam met my eerste koppie koffie sluk ek ’n paar pynpille en lees my nuwe verhaal oor my ma. Hoe verder ek lees, hoe onsekerder voel ek. Later hou ek op lees, stap badkamer toe en kyk weer in die spieël. ’n Anemiese gesig en wit seertjies in my mond – my lyf kon nooit yster inhou nie. Ek was nooit sterk genoeg nie. Vir oulaas lees ek my laaste paragraaf deur voordat ek dit delete.
Wat die dogter haar duidelik voorstel, is die ma se slaappienk kopvel wat deur haar dun, gekleurde hare skyn, sy wat die ma aan die keel neem en haar kop teen die muur stamp en stamp totdat die ma se bril skeef oor haar neus val. Die ma sak tot op haar knieë. ’n Strepie bloed en snot loop teen haar gesig af, volg die groewe om haar mond en deurweek haar bloes se netjiese kragie. Haar lippe krul soos sy probeer praat. Die dogter leun nader tot by die ma se oor, waar sy stront en haarsproei ruik. Toe nou, toe nou, dis nie so erg nie, sê sy en verstewig haar greep. Onder die vellerigheid voel sy hoe die lugpyp kraak en deur die stembande sny. Toe sy stil raak, neem die dogter haar ma se willose lyf in haar arms, wieg haar liefderik, hou haar vir ’n lang ruk net styf vas.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.