“Happy Christmas, my kind, van almal hier!” My pa praat aanhoudend en hard en op die agtergrond hoor ek ’n helse lawaai, klappers wat skiet en mense wat gil.
“Happy Christmas vir julle ook.”
“Hou jy darem lekker vakansie? Jy’s nie weer siek nie, is jy? Ek sal vir jou sê, dis hier so warm dat ons in die swembad boer.”
Hy was nooit iemand wat alleen kon wees nie.
“Roep gou vir Sussie dat ek met haar ook kan praat.”
Hulle praat gewoonlik nie lank nie. Nie oor die telefoon of andersins nie. My suster kom sit weer, net so stil soos wat sy opgestaan het.
“Wel, geseënde Kersfees en smaaklike ete,” sê my ma. “Ek hoop nie die kos is nou koud nie.”
Ons eet in stilte, met net die skerp geluide van messe en vurke tussen ons.
“Kom, jy eet soos ’n voëltjie; hierso, skep vir jou nog.”
My suster lig haar hande en skud haar kop, maar my ma gee reeds die bak aartappelslaai aan. “Toe nou, Sussie.”
“Nee dankie, nie nou nie,” sê my suster en druk die bak weg.
My ma stoot die aartappelslaai terug.
“Wat is dit met jou!”
“Ek het genoeg gehad,” sê my suster, kry die bak met albei hande beet en skuif dit oor die tafel sodat die tafeldoek frommel.
My ma gryp die ander kant van die bak. Die aartappelslaai doen ’n paar rondomtalies tussen my ma en my suster – ou Verergdheid en klein Desperaatheid wat mekaar nou aangluur – links, regs, links regs. ’n Mes val. Ek merk hoe baie my suster se hande soos my ma s’n lyk. ’n Vurk klingel agterna, ’n glas sjampanje wieg op ’n dun steeltjie, eers na die een kant toe, dan die ander kant, en kantel toe met ’n blikgeluid om. Sjampanje stroom deur die ertjies in my suster se bord en stol in ’n dik, naar souserigheid van mayonnaise en blatjang. My ma trek haar asem so hard in dat dit deur haar neusvleuels fluit, haar lyf ’n uitroepteken. Ek proes toe my suster die gemors met haar poedinglepel en servet probeer opdam. ’n Vlek het intussen soos ’n woeste silhoeët oor die tafeldoek uitgesprei.
“Wat maak jy? Ag nee, Sussie, ek het jou mos gesê, man!”
’n Aartjie op my suster se voorkop bult en toe rooi hale in haar nek begin krap, spring sy op. Haar stoel klap teen die terracottateëls. Die honde het intussen hul snoete in die aartappelslaai gedruk en morsig begin vreet.
“Sien jy nou,” sê my ma vir my met haar kraakbeenlippe, “dit was nie nodig om te lag nie.”
Dit is toe dat ek opstaan en langs die see, tot ver verby die akwarium, gaan stap.
Terug by die huis, sien ek deur die oop voordeur my ma het voor die televisie aan die slaap geraak met haar honde op haar skoot. Toe sy die traliehek hoor, gaan haar oë oop, net om dadelik weer toe te rol. Die son skyn in plasse oor die vloer. Ek sien sy het lipstiffie aangesit.
“Jy raak nou lekker cheeky, nè. Waarheen het jy verdwyn? Jy moenie so lank wegbly sonder om te sê waar jy gaan nie. En kyk tog of Sussie beter voel; sy is al vir ure doenig in die badkamer.”
Ek klop liggies en aanhoudend aan die badkamerdeur totdat sy antwoord.
“Kom tog nou uit, man. Jy’t dit mos nie aspris gedoen nie.”
Die water rommel toe sy die badprop uittrek en kort daarna die toilet twee maal ná mekaar spoel. Net voordat sy haar kamerdeur agter haar toetrek, sien ek hoe dun haar skouers deur haar T-hemp druk en hoe los haar broek om haar middel en heupe vou. Bamboesbeentjies, ’n rugstring van klippies, ’n treurende lyf.
Dié verhaal speel in die tagtigerjare af. Ons kon destyds nie geweet het nie. Ons kon nie.
“My hele familie was nog altyd skraal,” het my ma aanvanklik gesê, halftrots.
By die huis het my suster in haar kamer weggekruip en onophoudelik na The Carpenters geluister – “talking to myself and feeling old”. Nadat sy by die skool flou geword het, het die skoolhoof my ma ingeroep. Maar dit sou nog ’n paar maande neem voordat my suster, haar hare dof en plat teen haar kop gekam, armoediglik maer saam met my en my ma in die enigste psigiater in Oos-Londen se spreekkamer gaan sit en wag het. My ma was desperaat om iemand te blameer. Jy het nooit. Dis jy wat. Ek het mos gesê. Hoekom het jy nie? En hou tog op om daai donnerse musiek heeltyd te speel.
Ons gesin praat nooit oor dié tyd nie, die tyd toe Mamma se oogappel ’n bietjie ver van die boom af geval het.
Saam met die vorige verhaal tik ek die teks op my rekenaar oor en verander so hier en daar iets. Toe ek daarmee klaar is, is dit halftwaalf.
Nou is dit my boekrak se beurt, waar ek na ’n bloemlesing soek wat aan my ma behoort het. My ma wou dié bloemlesing een vakansie gedurende ’n hewige huisskoonmaaksessie weggooi en ek het gevra of ek dit mag kry. Sy was ingenome dat ek die boek wou hê, ek kon dit sien.
Hoërskool Grens, Queenstown, 1956, toegeken vir Geskiedenis, is op die eerste bladsy in sierskrif geskryf. Ek blaai vir die soveelste maal deur die boek op soek na ’n teken, ’n onderstreepte woord, ’n vingermerk of ’n ingevryfde voutjie by ’n gunstelinggedig. Die papier is skilferig. Soos altyd kry ek net ’n silwer sigaretpapiertjie en ’n servet met ’n goue en groen blomrandjie wat soos klokke lyk, plat gepars tussen Uys Krige se “Lied van die Fascistiese bomwerpers”. In die middel van die servet is ’n afdruk van ’n lipstiffiesoen. ’n Klein dogtertjie se skatte.
Onder my lewe se administratiewe rompslomp wat op die telefoontafeltjie vergader het – advertensies, aanwysings na verlede jaar se werkspartytjie, telefoonrekeninge en onoopgemaakte vensterkoeverte – vind ek ’n Croxley-eksamenblok waarin ek lank gelede ’n nota gemaak het met die doel om dit in ’n latere teks of gedig oor my ma te dramatiseer en te mismaak.
Wolfgang Schleidt, ’n Oostenrykse dierkundige, het ’n kalkoenhen bestudeer wat al haar kuikens doodgepik het. Dit is ’n rare verskynsel onder kalkoene, aangesien die henne daarvoor bekend is dat hulle hul kuikens verbete teen enige vyand sal beskerm. Volgens Schleidt het kalkoene ’n eenvoudige senustelsel en registreer hulle ’n vyand as enige bewegende voorwerp wat nie die rollende kloek-kloek-geluide van ’n kalkoen maak nie. Met ander woorde, alles wat nie na ’n kalkoen klink nie, is ’n vyand. Waarom dan het die kalkoenhen haar kuikens as vyande gesien en hulle doodgepik? Uiteindelik het hulle die rede bepaal: Die kalkoenhen was doof en kon haar kuikens nie hoor nie.
Die potensiële simboliek hiervan moes my destyds beïndruk het. Ek gooi die nota verleë weg, trek ’n trui aan en gaan sit voor die rekenaar. Die venster laat ek oop sodat die bedompigheid uit die gordyne kan trek.
“Fotoverhaal” was die verhaal waarvoor ek die meeste hoop gehad het, onthou ek toe ek die dokument op my rekenaarskerm oopklik. Dit moes ’n paniese geskiedenis van my ma en dié se direkte familie wees wat my verhouding met haar in ’n meer historiese en gemoedelike perspektief sou stel. Elke inset was veronderstel om op ’n foto gebaseer te wees, maar die projek het ’n mank aanvang gehad. Ek het nie soveel foto’s van my ma gevind soos ek gehoop het nie, en sy was nie juis tegemoetkomend met stories oor haar kinderjare nie. “Hy was ’n vark,” het sy van haar stiefpa gesê en ek het nie weer gevra nie. Ek het wel op ’n paar klasfoto’s en die ondervyftiennetbalspan se foto afgekom, waar ek my ma links in die voorste ry herken het.
Haar skooluniform het sakkerig tot op haar knieë gehang, selfs al was dit om haar middel met ’n gordel ingevat. Sy was kaalvoet. Haar bene dun en sonder rondings. Haar arms soos stokkies. Sy het opgekyk, haar hare stylloos en prakties geknip om ’n smal gesig en haar oë op skrefies getrek soos sy glimlag. Sy het gelukkig gelyk.
Dan was daar die ateljeefoto waar ’n jong ouma Sofia op ’n stoel tussen twee van haar dogters sit. Van my ma se broer was daar slegs een foto met ’n vergeelde riffelrandjie. Hy het by sy pa gebly, het my ma verduidelik toe ek vra waarom ek hom nooit ontmoet het nie.