Dwelms wat kategorieë oorvleuel
Ecstasy, MDA en meskalien
Kan as stimulante of hallusinogene beskou word. Dit het ’n uitwerking op sowel dopamien as serotonien.
Cannabis en PCP
Word in my indelingstelsel as hallusinogene aangedui, maar kan ook stimulant- of depressant-effekte hê.
Middels wat ingeasem word
Kan ook ’n depressant-uitwerking hê.
Let asseblief daarop dat ek in die kategorieë hierbo afsonderlik aan elke dwelmmiddel aandag gee. Dit is ongelukkig tog so dat die meeste mense wat dwelms en alkohol misbruik, dikwels meer as een dwelm op ’n keer gebruik. Stimulante kan as opkikker gebruik word, terwyl depressante daarna gebruik sal word om “af te koel”. ’n Aantal depressante word soms saam gebruik, byvoorbeeld alkohol en bensodiasepienmiddels word saam gebruik om ’n verhoogde uitwerking te kry met moontlik lewensgevaarlike gevolge. Hallusinogene kan ’n slegte trip veroorsaak, met as resultaat die gebruik van depressante om te herstel. Ander algemene kombinasies sluit in alkohol en kokaïen, kokaïen saam met dagga, en kokaïen en heroïen saam. Afhangende van die plaaslike dwelmkultuur kom verskillende kombinasies dikwels voor. Verskeie verdunningsmiddels kan ook by ’n dwelm gevoeg word om volume te verkry. Daar is ’n verskeidenheid verdunningsmiddels, wat suiker, verskeie soorte medisyne, ander dwelmmiddels, kinien en strignien kan insluit. Tot waspoeier en rottegif word blykbaar soms hiervoor aangewend. Veelvuldige dwelmmisbruik, veral as die betrokke gebruiker se dwelm verdun is, dra by tot die onvoorspelbaarheid en gevaar wat met dwelmgebruik geassosieer word.
Dwelms waarop die media die afgelope jare sterk gefokus het, sluit die sogenaamde afspraakverkragtingsmiddels in. Hierdie term verwys na twee middels in die besonder, naamlik ’n bensodiasepien met die chemiese naam flunitrasepaam (met die handelsnaam Rohypnol en algemeen bekend as “roofies” of “rope”) en GHB. Albei hierdie middels veroorsaak ’n anterograad-geheueprobleem, wat beteken ’n mens kan nie later gebeure onthou wat plaasvind terwyl jy onder die invloed van die dwelms is nie. Algemene “partytjiedwelms” wat op fuifpartytjies of in nagklubs gebruik word, sluit in stimulante soos ecstasy en metamfetamien, hallusinogene soos byvoorbeeld LSD en ketamien, en depressante, soos verskeie soorte bensodiasepiene en GHB.
Daar moet onthou word dat elke indelingstelsel mettertyd sal moet verander om nuwe dwelms wat in ons natuurlike plante- en diereryk ontdek kan word, in te sluit. Insgelyks sal elke dwelm wat sinteties ontwerp en vervaardig word die stelsel nog ingewikkelder maak.
HOE GEVAARLIK IS DAGGA?
Dagga is die plaaslike naam vir cannabis. Cannabis het sy oorsprong in ’n plant met die naam Cannabis sativa. Die aktiewe bestanddeel is 9-tetrahidro-kannabinol (9THC). Ander name vir cannabis sluit in grass, weed, pot, hemp en marijuana. Word cannabis in ’n sigaret gerol, staan dit as ’n joint bekend, en word die sigaret met koerantpapier gerol, is dit ’n zol. As cannabis met Mandrax (metakaloon) vermeng word, staan dit algemeen as ’n witpyp bekend. ’n Besonder kragtige vorm van cannabis is hasj of hasjisj.
Gewoonlik word cannabis gerook en bereik dit die brein baie vinnig via die longe en die bloedstroom. Af en toe word dagga geëet in die vorm van daggakoekies.
Daar is baie mites oor dagga en die uitwerking daarvan op die liggaam. Volgens die meeste opvattings is dagga óf heeltemal onskadelik óf geweldig gevaarlik. Waarskynlik is nie een van die twee opvattings volledig waar nie en lê die waarheid iewers tussenin. Uitsluitsel oor hierdie vraagstuk is moeilik, omdat die beskikbare getuienis steeds slegs gedeeltelik is.
Dagga se vermeende medisinale eienskappe is reeds baie eeue aan die mensdom bekend. Hieronder tel ’n uitwerking op inflammasie, pyn, epileptiese aanvalle, naarheid en anoreksie. Dagga is daarom reeds gebruik as antiinflammatoriese middel, as pynstiller, middel teen stuiptrekkings, as anti-braakmiddel en as aptytwekker. Tog blyk dit uit talle ondersoeke dat dagga verskeie nadelige gevolge vir die gesondheid kan hê. Dit sluit in inflammasie van die lugweg, infeksies, kankers, ’n uitwerking op die hart en ’n nadelige uitwerking op menslike seksuele funksionering weens ’n afname in sekshormone, spermproduksie en ovulering.
Dit lyk ook of dagga nadelig vir geestesgesondheid is, veral as gebruik op ’n vroeë ouderdom begin. Spesifiek word dagga met ’n toenemende risiko van depressie vereenselwig. Die blootstelling van kwesbare individue aan dagga kan ook tot psigose lei. Daggagebruik kan spesifieke relevansie hê in veral die geval van ’n jong en ontwikkelende brein, soos dié van byvoorbeeld tieners. Dit lyk asof cannabis ’n oorsaaklike rol in die ontwikkeling van skisofrenie speel. Weer eens lyk dit of hierdie gevaar in die geval van kwesbare individue verhoog is. Probleme met die korttermyngeheue en onomkeerbare kognitiewe probleme is reeds opgeteken oor daggagebruik wat vroeg begin en lank aanhou. In die laaste instansie is ’n spesifieke psigiatriese sindroom, die amotiveringsindroom, geïdentifiseer. Dit is ’n kliniese toestand wat in chroniese en gereelde daggagebruikers ontwikkel en oënskynlik die ontwikkeling van die volgende inhou: apatie, lusteloosheid, moegheid en uitputting, asook anhedonie met die gepaardgaande gebrek aan motivering, dryfkrag en selfversorging en ’n afname in persoonlike higiëne – met ’n gevolglike vermindering in persoonlike potensiaal.
In die laaste instansie moet genoem word dat dagga vroeg reeds ’n reputasie ontwikkel het as ’n sogenaamde “voorlopermiddel”, wat beteken dat die gebruik daarvan die weg baan tot ander, gevaarliker middels. Daarom word veronderstel dat daggagebruik die eerste sport is op die leer tot meer problematiese dwelmgebruik. Die wetenskaplike getuienis dui aan dat hierdie aanname wel in sommige gevalle waar kan wees, maar die besluit om tot ander middels oor te gaan, is gewoonlik baie ingewikkelder as ’n eenvoudige glybaan van dagga tot die volgende onwettige middel.
HOOFSTUK 2
Verslawingsmodelle (Verskillende perspektiewe op die verslawingsprobleem)
Dwelmmisbruik en -afhanklikheid is ’n wêreldwye probleem. Dit is met ons sedert die mensdom eeue gelede die gemoedswysigende uitwerking van sekere plante ontdek het. Oor die eeue heen het mense veel te sê gehad oor die oorsake en behandeling van verslawing. In die breë kan die opinies van die meeste mense oor die verslawingsprobleem opgesom word deur na vyf verskillende verslawingsmodelle (teorieë) te verwys. Hierdie vyf modelle is:
1 Die morele model.
2 Die geregtelike model.
3 Die sosiokulturele model.
4 Die sielkundige model.
5 Die mediese model.
In akademiese kringe en onder diegene wat in aanraking kom met dwelmmisbruikers is daar ’n groot debat, uiteenlopende opinies en kritiek op hierdie teorieë. Elkeen skyn die geloof te hê dat sy eie opvatting (of die opvattings van ’n moeder, ’n vader, ’n baas, ’n predikant, ’n dokter en sielkundige) die korrekte uitgangspunt verteenwoordig. Die meeste mense neig om hardnekkig aan hul opvattings vas te klou. Hulle is luidrugtig daaroor en dikwels onverdraagsaam teenoor ander menings wat van hulle s’n afwyk. Baie emosionele energie word met hierdie debatte vermors en dit het eindelik geen praktiese nut vir die pasiënt en sy naasbestaandes nie. Ek sal nou probeer om die essensie van die vyf verskillende modelle op ’n verstaanbare wyse oor te dra.
Die morele verslawingsmodel
Volgens die morele verslawingsmodel is enige verslawing die gevolg van immorele gedrag. In sy uiterste vorm word verslawing beskou as “sonde in die oë van God”. Die aanname is dat elke verslaafde ’n vrye keuse gemaak het vir hierdie gedrag (en duidelik die verkeerde, sondige keuses gemaak het) en eindelik aan sy God en aan die gemeenskap verantwoording sal moet doen. Op grond van hierdie siening word dwelm- en alkoholverslaafdes dikwels geblameer, verstoot en vermy.
Dis ’n model wat impliseer