’n Tweede metode waarvolgens middels wat misbruik word, ingedeel kan word, is dat die chemiese samestelling van die middel as primêre bepaler gebruik word. Vir farmakoloë is dit ’n bruikbare stelsel, maar vir ander mense kan dit omslagtig en onprakties wees. Vir diegene sonder ’n agtergrond in chemie is chemiese teorieë soms moeilik om te verstaan en ingewikkeld om toe te pas. Is dit werklik belangrik dat ecstasy geklassifiseer word as 3.4-metielleniendioksie-N-metielamfetamien (MDMA)? En wie stel daarin belang om te weet dis verwant aan 1-(3.4 metiellenien-dioksifeniel)-2-aminopropaan (MDA)? Albei hierdie middels val in ’n heel ander chemiese kategorie as heroïen (’n opioïed-agonis) en delta-9-tetrahidrokannabinol (dagga). Sulke chemiese name en klassifikasies is verwarrend as jy nie ’n apteker of ’n dokter is nie.
’n Derde wyse van indeling is volgens die roete van inname, naamlik deur die mond (oraal), inspuiting (binneaars), deur die neus (snuif) of deur dit te rook of in te asem. Ook dít blyk ’n onbevredigende stelsel van indeling te wees. Alkohol word meestal oraal ingeneem (deur dit te drink), terwyl sommige ander dwelms op ’n verskeidenheid wyses ingeneem kan word. Hoewel heroïen óf ingespuit óf gerook óf ingeasem kan word, gebeur dit nie op dieselfde wyse as waarop sigarette gerook word nie. Heroïen word op ’n spesifieke manier verhit en dan ingeasem. Omdat die rookkrulle vermoedelik soos ’n draak se stert lyk, word dit “chasing the dragon” genoem. Kokaïen en amfetamien kan ingespuit, gerook óf gesnuif word. Verskeie soorte voorgeskrewe medisyne kan oraal (in tabletvorm of as kapsules) geneem word, maar dit kan ook fyngedruk en dan gesnuif of ingespuit word.
Ná jare lange mediese studie, spesialisering in psigiatrie, en daaropvolgende werksaamheid in die verslawingsveld, het ek ’n indelingstelsel ontwikkel wat ek prakties en maklik begryplik vind. Ek gebruik hierdie stelsel om gebruikers, hul gesinne en mediese studente oor misbruik te onderrig. Die indelingstelsel is afgelei van die terme wat middelgebruikers self gebruik. Hierdie terme is stimulante (uppers), depressante (downers) en psigedelia (psychedelics). Dié drie terme verskaf ’n eenvoudige benadering tot die indeling van dwelms. Alle middels wat hulle tot misbruik leen, kan hiervolgens in vyf breë groepe geklassifiseer word, naamlik:
1 Stimulante
2 Depressante
3 Psigedelia,
4 Ander dwelms wat misbruik word, maar wat nie netjies in een van die bogenoemde kategorieë inpas nie.
5 Dwelms wat kategorieë oorvleuel.
Ek het ander publikasies raakgeloop wat ’n soortgelyke indelingstelsel gebruik. Die bogenoemde stelsel is dus ’n hibried van my eie idees en ander, algemeen aanvaarde kategorieë oor dwelmmisbruik. Party akademici kan redeneer dat heelparty dwelms wat misbruik word in alternatiewe kategorieë geplaas moet word. Hul redes is velerlei, maar is meestal gegrond op die chemiese samestelling of die kliniese uitwerking van ’n middel. Hulle is nie noodwendig verkeerd nie. Uiteenlopende opinies wys hoe moeilik dit is om ’n komplekse situasie op ’n eenvoudige manier te verduidelik. Dit is daarom dat ek die vyfde kategorie – middels wat met die eerste drie kategorieë oorvleuel – ingevoeg het. Die vyfde groep dwelmmiddels kan in meer as een kategorie ingedeel word omdat hul chemiese samestelling en kliniese uitwerking verskil.
Stimulante (uppers)
Die meeste stimulante van die sentrale senustelsel beïnvloed ’n chemiese stof, dopamien, in die brein.
Klassieke stimulante
Die klassieke stimulante sluit amfetamien en kokaïen in. Voorbeelde van algemene name waarmee na amfetamien verwys word, sluit in metamfetamien, crystalmeth, speed, tik of ice. Algemene name waarmee na kokaïen verwys word, sluit in coke, crack, candy, rock, snow en flake. Die rookbare vorm van amfetamien (tik, ice) en kokaïen (crack) is hoogs gekonsentreerd en verfyn en daarom so erg verslawend.
Ander stimulante
Ander stimulante sluit in cathinone (khat, cat), ecstasy (XTC, E, adam, X, MDMA), PMA (“Doctor Death”), kafeïen (koffie), nikotien (tabak) en party soorte medisyne wat slegs met ’n doktersvoorskrif by apteke beskikbaar is. Sodanige medisyne sluit in produkte wat efedrien, pseudo-efedrien en metielfenidaat (Ritalin) bevat. Medisyne wat oor die toonbank gekoop kan word, sluit in eetlusdempers, verkoue- en teengriepmiddels.
Depressante (downers)
Die meeste depressante van die sentrale senuweestelsel het ’n uitwerking op ’n chemiese stof, GABA, of die opio-ïedsisteem, in die brein.
Klassieke depressante
Klassieke senustelseldepressante sluit in alkohol (etanol), opiate (heroïen) en opioïede (sintetiese voorskrifmedisyne). Algemene name vir heroïen sluit in smack, brown sugar, Thai white, horse of H. Ander depressante van die sentrale senuweestelsel sluit in kalmeermiddels en hipnotiese middels, soos die bensodiasepiengroep en ’n ouer medisynegroep bekend as die barbiturate.
Ander depressante
Ander depressantmiddels sluit in GHB (gamma-hidroksibutiraat of liquid ecstasy), Zopiclone en Zolpidem, wat algemeen as slaapmiddels voorgeskryf word, en metakaloon (Mandrax, star, flowers, boggel, Mandies, ludes, Q, vitamien Q, Quaalude). Ander middels in hierdie groep sluit in meprobamaat en chloorhidraat.
OPIATE EN OPIOÏEDE
Opiaat en opioïed is van die woord “opium” afgelei, wat verwys na ’n papawerplant, ook bekend as Papaver somniferum. Opiate is middels wat berei of gesintetiseer word uit die natuurlike opiumsamestelling en die onderskeie chemiese komponente daarvan. Voorbeelde is onder meer heroïen, morfien en kodeïen. Roetine-dwelmtoetse spoor gewoonlik die teenwoordigheid van opiate op. Opioïede sluit al die middels in wat aan een of meer van die opioïedreseptore in die brein bind. Dit is soortgelyk aan opiate, maar nie noodwendig regstreeks of onregstreeks uit die natuurlike papawerplant berei nie. Dit is dus sintetiese middels met opiaatagtige eienskappe. Voorbeelde is petidien en metadoon. Roetine-dwelmtoetse vir opioïede word gewoonlik op versoek gedoen. Die term “opioïede” sluit dus die opiate in. Die twee terme word dikwels soos sinonieme gebruik.
Hallusinogene / psigedelia
Die meeste hallusinogene beïnvloed ’n chemiese stof in die brein wat as serotonien bekend is. Dit kan ook die cholinergiese en kannabinoïede breinstelsels beïnvloed.
Klassieke hallusinogene
Die klassieke hallusinogene verwys na LSD (lisergiensuurdiëtielamied, candy, blotter, microdots of acid), MDA (Eve, love drug), meskalien (meskalkaktus) en psilosibien (magic mushrooms).
Ander hallusinogene
Ander middels wat as hallusinogene geklassifiseer kan word, sluit in PCP (fensiklidien, angel dust), ketamien (Special K, K of Kitcat) en cannabis (weed, dagga, dope, hasjisj, grass, Durban poison, Malawi cob, skunk of marijuana).
Ander middels wat misbruik word
Hierdie is dwelms wat nie netjies in enige van die bogenoemde drie kategorieë pas nie.
Anaboliese steroïede
Dit word gebruik om die prestasie en spiermassa van atlete en spierbouers te verhoog. Dit word dikwels juice of roids genoem.
Middels wat ingeasem word
Hierdie middels word gevind in gom, naellakverwyderaars, reukweerders, lugverfrissers, verf, sigaretaanstekervloeistof, verfverwyderaars, haarspuit- en skoonmaakmiddels. In hierdie groep is daar vyf chemiese klasse. Dit is alifatiese hidrokoolstof (insluitende petrol, bensien en terpentyn), eenvoudige verstikkende middels (butaan en propaan), aromatiese hidrokoolstofsoorte (tolueen, benseen en xileen), gechlorineerde hidrokoolstofsoorte (dichloroëtileen, trichloroëtaan en chloroform) en nitrosegas (laggas).
Vlugtige nitriete
Dit