Die stoel. Kan jy dit glo? ’n Maand ná hulle terugkeer het Rodriguez die stoel in ’n nedersetting raakgeloop, ’n volle vyftig kilometer van waar hy dit weggegooi het. Die hoofman het dit vir eie gebruik toegeëien. Hy sit wydsbeen daarop met ’n kierie in die hand, ’n verweerde weermaghemp aan, ’n ou sendelinghelmet op die kop en muskeljaatkatvelle vir ’n lendedoek. Rodriguez wil nie eers waag om te vra waar die stoel vandaan kom nie.
11
Gaspar kom uit ’n klein nedersetting in die ooste van Cahora Bassa, naby die rivier. Die mense het vir hulle in digte bos ’n paar lappies landerye oopgekap. Hier woon hulle al geslagte lank. Die grond raak jaarliks al hoe armer, die oumense al hoe ouer en meer verward. Hulle verstaan nie die nuwe dinge wat om hulle aan die gebeur is nie. Hulle kan nie meer die kinders lei nie. Die stories werk nie meer nie.
Een oggend voor ligdag het Gaspar se hele lewe in ’n paar oomblikke radikaal verander. Hy was skaars twaalf. Hy was die sewende van nege kinders. Sy ma was vyf-en-twintig, maar klaar oud en afgeleef. Die lewe was nooit maklik in hulle klein gemeenskap nie, maar hulle het ten minste altyd kos gehad om te eet, water om te drink en ’n plek om snags te slaap. En daar was g’n vrees nie. Bedags was dit warm. Die dag se take het daarom altyd baie vroeg begin, nog voor dit behoorlik lig was. Gaspar se pa het hom altyd kom wakker maak kort na die tweede hanekraai. Hy moes die vroue gaan help om die koeie te melk, water aan te dra van die rivier af, daarna het hy die beeste uitgeneem na die weiding toe. Dit was ’n taamlik goeie lewe, gemaklik en geborge.
Daardie nag het hy wakker geword vanuit sy slaap in die werklikheid van ’n nagmerrie. Die vroue se gille het oor die werf geskeer, hoog en ontliggaam. Hy kon geen bekendes daarin herken nie. Hy het hom wysgemaak dat dit nie sý mense is wat so boosaardig skreeu nie.
Deur die splete van die hut kon hy lywe sien ruk. Daar was vreemde soldate met pangas. Die mans van die dorpie is een vir een uit die hutte gesleep, en net daar doodgekap. Daar was byna geen geluid van hulle kant af nie. Hulle het almal besef dat die einde onafwendbaar was. Net die vroue het bly gil, geweeklaag om genade. Toe het hulle met die vroue begin. Gaspar kon hom aanvanklik nie wegskeur van wat hy gesien het nie. Toe die verste hutte begin brand, het hy in die lig van die vlamme uit sy verstarring wakker geskrik. Daar was ’n spleet aan die agterkant van die hut waardeur hy homself kon wurm. Met die vlamme in sy agterkop en die geluid van die skreeuende vroue in sy gesig het hy begin hardloop, die woud binne, sy asem hygend in sy bors, sy oë swemmend van die skrik.
Hy het nie ver gekom voor die stomp kant van die panga-lem hom in die waaie van sy bene, reg onder die knieë tref nie. Sy bene het onder hom padgegee. Hy’t geval en bly lê. Die soldate het bo hom kom staan en gelag. “Jy kom saam,” het hulle gesê. Daar was vir hom geen opsie nie.
Vir die volgende weke het Gaspar en sy broer, twee jaar ouer as hy, saam met tien ander seuns van die dorpie, saam met die soldate beweeg. Hulle werk was om die gewere te dra, saans die kos voor te berei, die potte skoon te skuur. Hulle het gedweë saamgegaan. Hulle was gelukkig. Geeneen van die grootmense het ontkom nie. Hulle het gesien wat met die mense van die dorpie gebeur het. Hulle wou nie ook so sterf nie. Hulle is geen tyd gegee om te dink nie, hulle moes maar altyd bly voortbeweeg, voortbeweeg. Gaspar se Portugees was swak, hy kon die soldate skaars verstaan. Hulle het buitendien nooit sy opinie gevra nie.
Toe hulle die tweede keer oor die Zambezi is, swemmend met die gewere op bondels palmblare gestut, het sy broer ’n snak gegee en onder die bruin water verdwyn. Hy was net eenvoudig te moeg en verrinneweer om verder te gaan. Gaspar het hom laat wegdryf in die stroom. Dis ’n tyd wat verby is, daardie soort broederskap.
Hy, hulle almal, moes geweet het wat kom. Mosambiek was in ’n oorlog met homself gewikkel al van voor hy gebore is. Vandag het daar ’n nuwe geslag van mense in die land regeer. Jong mans, skaars in die twintig. Of jonger. Vreesloos. Primitief. Tot die uiterste gebrei. In staat om vir onbepaalde tydperke direk uit die veld te leef. Hulle het g’n mens meer nodig gehad om te sorg nie. G’n huis. G’n moeders nie. Mans met ’n arrogansie wat gegrens het aan die bonatuurlike. Hulle was soos gode. Hulle het geen respek vir lewe meer gehad nie. Hulle het doodgemaak om die blote rede dat hulle geen kompetisie geduld het nie. Waar hulle vertrek het, het hulle rou vrees agtergelaat. Dit was hulle wat vir Gaspar uit sy slaap kom wakker skud het daardie nag.
Al was hy klein en maer, was Gaspar ’n taai kalant. Op sy eie basiese manier het hy besef wat die reëls was wat hom aan die lewe sou hou. Hy het algaande, uit sy eie wil, klein takies vir die soldaat wat hom gevange geneem het, begin verrig. Hy kon die man se goedkeuring voel, en het daarin ontluik. Hy het homself as spesiaal uitgesoek begin sien. Hy het op die ander kinders begin skree as hulle te stadig was na sy sin. Sy bevele was blaffend en skerp.
Naby Caia het twee van die ouer seuns probeer weghardloop, maar Gaspar het hard na sy soldaat geroep om hom te waarsku, en die soldaat het albei die seuns met ’n sarsie skote uit die heup platgeskiet. Hulle het net daar in die halfmas gras bly lê. Nie geroer nie.
Gaspar het daardie selfde dag nog sy eie geweer gekry. ’n AK-47. ’n Kalashnikov, met ’n twaalfduim-loop. Dit was ’n mooi geweer met ’n kolf en pistoolgreep van donker hout, mooi glad gevorm. Die grendel en die loop was wel al hier en daar blink geskuur van die werk, maar ongeroes. Dit het koel en glad onder die vingerpunte gevoel wanneer Gaspar daaroor stryk. Met ’n ligte druk van die vinger kon dit dertig, veertig koeëls uitstrooi, in ’n enkele onafgebroke gestotter. Gaspar was baie bly om so ’n geweer te hê. Die soldate het gelag en vir hom gesê: “Dis ’n toorgeweer. Dit dra net sulke klein-klein koeëltjies, maar daardie koeëltjies groei vanself, en kan baie, baie mense doodmaak.”
Gewere was volop. Daar was genoeg vir almal wat wou veg. Hy was nou self ’n ware Renamo-soldaat. Vir ’n mannetjie wat laas week nog verveeld agter ’n troppie sukkelbees aangeloop het, was dit ’n groot oomblik.’n Suksesverhaal.
Die geweer was lig genoeg vir ’n kind om te dra. ’n Mens kan buitendien nie swaar goed dra in die bos nie.
Drie dae later het hy sy eerste mens doodgeskiet, ’n ou man uit een van die dorpies wat hulle met ’n windmakerhouding binnegestap het. Die ou man is spesiaal deur die ouer soldate vir Gaspar uitgesoek, tussen die verskrikte groepie dorpenaars uit, om sy mannemoed mee te bewys. Dit was ’n maer ou man met ’n grys kop en ’n puntbaardjie. Sy gesig was onduidelik. Hy het nog vir Gaspar gevra: “Weet jou ma wat jy doen?”
Gaspar het geantwoord: “Praat jy met my?”
Toe die ou man “ja” sê, het Gaspar hom deur die maag geskiet. Gaspar het nie eers behoorlik na hom gekyk toe hy hom geskiet het nie. Hy sal hom vandag nie eers in ’n droom kan herken nie.
Die eerste keer wat hy in ’n regte skermutseling was, was moeilik. Hy was bang, met die koeëls wat so om hom fluit, die koeëls wat die dun takkies van die bos met skerp klapgeluide breek, wat die blare laat ritsel het soos ’n hand wat daaroor vee. Hy was nie seker wat hy behoort te doen nie. Die ouer soldate het hom egter gehelp en gesis: “Moenie net daar lê met jou hande oor jou kop nie. Vat die geweer en skiet in die algemene rigting van die vyand. Skiet daar waar jy die takke sien roer.”
Hy het dit gedoen, en was skielik nie meer bang nie. Die gestotter van die masjiengeweer in sy hande het die vrees weggeneem. Toe dit stil raak, het hulle versigtig vorentoe gegaan om te kyk, en die lyke van ses regeringsoldate in die bos gekry. Die bloed het uit hulle liggame gesypel en oor die blaremat uitgesprei. Gaspar kon die bloed ruik, ’n skerp soet reuk, gemeng met die muwwe houtagtige reuk van die blare. Dit was ’n reuk waaraan hy gewoond geword het, waarvan hy mettertyd leer hou het.
Later het hy geleer om ’n RPG-missiel te gebruik. Ook noodhulp en ander nuttige dinge.
Gaspar het homself altyd later wysgemaak dat hy ’n soldaat geword het om wraak te neem. Dat hy sy mense se dood wou wreek. En ook ter wille van sy vaderland. Met sy vaderland het hy bedoel daardie stukkie bloedgrond waarop sy pa geskiet is.
12