Rodriguez. Piet van Rooyen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Piet van Rooyen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795800351
Скачать книгу
was hoog. Daar was baie vreemdelinge in die rondte – brasserige Duitsers, rou Engelse en bleek Finne. Almal het gereed gestaan om te skep uit die hulpbronne van die nuwe land.

      Skerf was gefokus op sy nuwe werk. Dit was maar ’n gewone lessenaarjoppie – koerantberigte lees, uitknipsels versamel, dokumente bekyk, leggers liasseer, inligting omwerk na iets bruikbaars toe. Maar hy het vir die regte mense gewerk, het hy geglo. Teen die Vyand. Dis wat getel het. Hy het geweet dat dit maar die begin van groot dinge vir hom was.

      Hy het die land geken, daarin grootgeword. Hy’t hom dus min gesteur aan die daaglikse dinge wat sy vrou bekommer het.

      Die telefoon was al waaraan Monique kon vashou, ’n reddingsboei na die ou bekende: “Jissie, Ma moet sien wat kos botter en melk en kaas! Die tamaties is pap. Vrugte kry mens omtrent nêrens in die winkels nie.”

      “Toemaar my dogter, julle het darem oorgenoeg vleis, hoor ek. Is hy nog goed vir jou?”

      “Hy’s ’n goeie man, maar dis ver van die huis af!”

      “Jy’s nou ’n grootmens, my kind, in ’n grootmenswêreld.”

      “Aai!”

      “Ons verlang net so baie, hoor!”

      8

      Eendag het hy net ’n kort nota van die hoofkantoor af ontvang. Daar’s vir hom iets anders op die horison. Hulle moes trek uit Namibië uit, al was hulle teen hierdie tyd hoe gelukkig daar. Die brief het geen verdere inligting bevat nie. Net ’n amptelike weergawe van “pak jou goed en kom”. “Rapporteer die 1ste Junie by hoofkantoor in Pretoria.” Daar was geen verdere aanduiding van wat hulle vir hom beplan het nie. Dit het geruik na maar net nog ’n lessenaarpos. Hy was haastig om werklik iets vir sy land te beteken, maar het besef dat hy geduldig moet bly. Hy het teen hierdie tyd al goed vermoed hoe die Intelligensiediens werk. Soms word ’n man onmiddellik in ’n taak ingedruk, amper nog te groen vir wat hy moet doen. Soms oormerk hulle ’n ou lank voor die tyd. Sit hom deur al die opleiding, vergeet byna van hom, voor hulle hom gebruik. Soms gebruik hulle hom nooit. Bly hy maar so rondhang in ’n lessenaarjoppie, tot die dag van sy aftrede, of tot die verveling te veel raak vir sy gemoed en hy self bedank. Skerf het meer vertroue as dit in homself gehad. Hy was vir groot dinge beskore.

      Hy en Monique het vir hulle ’n tipiese voorstedelike huis met lemmetjiegroen mure in Centurion gekoop. Toe was die plek nog bekend as Verwoerdburg. Aanvanklik is hy in ’n klerklike joppie geplaas by die hoofkantoor van O3 as “lessenaarbeampte vir frontlinie-state”. Skerf het met die bus in- en uitgery werk toe, te spaarsamig vir ’n eie motor.

      Hulle het hom ses maande hier gehou, om hom goed deur te kyk. Toe moes hy ’n reeks hoëvlak psigometriese toetse deurgaan, wat hy, hoewel hy die uitslae nooit self onder oë gehad het nie, oënskynlik met lof geslaag het. Hy is “diep” geklaar. Hy het ’n nuwe naam en van gekry, ’n volledig nuwe nasionale identiteitsdokument. Sy ou naam het nou ’n vreemde naam geword, ’n troetelnaam vir omtrent net sy vrou, sonder amptelike status. Selfs dit was lastig vir die owerhede, maar dit kon nie anders nie, al sou hulle wou, hulle kon sy ou identiteit nie net eenvoudig met ’n penstreep uitwis nie. Hy is dadelik aangesê om sy handtekening oor en oor te oefen, tot hy dit foutloos kon uitvoer. So het hy hom in ’n nuwe lewe ingeskryf. Dit was maklik genoeg hier aan die Rand, waar niemand hom geken het nie.

      Bedags het hy saam met ’n klein groepie spesiaal uitgesoekte agente van koverte operasies ’n kasarm van ’n kamma-gesinswoning in die sestigerstyl in Midrand betrek. Die plek was van bo tot onder met mikrofone, alarms en luisterapparate bedraad. Elke woord is met spesiale bandopnemers ingesuig, elke skuifelgang presies en rigtingopspoorbaar vasgelê. Snags is elke tik-tak van die muurhorlosies, elke krakie van die dakplate, elke veeg van die takke teen die geute elektronies ingebed en sonies geliasseer. Niemand kon daar uit of in sonder dat iemand hoër op in ’n hiërargie daarvan geweet het nie. Die huis was wat as ’n safe house bekend gestaan het.

      Hier, in die klein groepie van vyf, die binnekring, het nie een sy regte naam gebruik nie. Elkeen was agter ’n front. Die manne is bloot aan sulke kort, blaffende, half-absurde byname geken, tipies van die onderwêreld, of die bendelewe: Dik-Daan, Mad Max, Tony-Turtle, Swart-Maans. Die nominale hoof was ’n eertydse polisiesersant, ’n stugge, stil, vroeg-middeljarige man met ’n kortgeskeerde borselkop, wat net as “die Saboteur” bekend gestaan het, en aangespreek is as “Meneer”. Die topstruktuur van Nasionale Intelligensie was bekend, maar bloot as ’n soort skaduteenwoordigheid, ’n hangende wolk. Hulle het bitter min met hulle te doen gehad. Daar is toe reeds kontak gemaak met ’n hoogs geheime agent onder uiters diep dekking, ’n man wat die kodenaam “die doctore” gehad het.

      Al het hulle hoe nou moes saamwerk, hoe diep elke dag mekaar se sweetreuke moes inadem, in watter mate van oomblik tot oomblik mekaar se irriterende maniërismes moes verduur, die slymerige snuifgeluide, die hoesies, die gekopkrap en die hangende sigaretdampe, is nie een toegelaat om enigiets van die ander se privaat lewe te mag weet nie. Dit was ’n bisarre situasie waar ses hoogs intelligente, hoogs opgeleide, liggaamlik fikse, uiters mededingende, hormoongedrewe hoofsaaklik jong mans in die grootste geheimhouding en onder uiterse spanning vir landsbelang moes saamwerk, sonder dat die een die ander ooit kon vra waar hy op skool was, waar hy vandaan kom, waar hy woon, watter sport hy speel, of hy getroud is, en of hy kinders het. Van hierdie selfde spelers sou later, in sy Mosambiek-dae, een vir een weer in Skerf se lewe opduik, ten goede of ten kwade.

      Die dekmantel vir die bedrywighede was aanvanklik dié van ’n transportonderneming wat groot vragmotors vol goedere in Afrika ingestuur het. Die maatskappy het werklik bestaan, onder eienaarskap van ’n sterk patriotiese sakeman van faam, en het werklike goedere na Afrika vervoer. Die Midrand-basis was binne die struktuur geplaas as ’n besonderse bemarkingsafdeling van daardie groter maatskappy. In agentetaal het dié soort strategie bekend gestaan as dekking vir status. Later is die dekmantels verander soos operasionele omstandighede dit van elke individu vereis het. Dit het dan bekend gestaan as dekking vir aksie. Skerf was die houtman.

      Hy het ’n salaris van twintigduisend rand ’n jaar gekry – bogemiddeld vir daardie dae – en ’n rang gelykstaande aan ’n luitenant-kolonel in die Weermag.

      9

      Dis die jaar 1990, in Mosambiek, in die basis naby die mond van die Zambezi. Dis vieruur die oggend in Massala. Twee uur voor sonop. Gaspar is naarstiglik aan’t soek na ’n paar kanne brandstof vir wat hy as ’n nuttelose reis na Marromeu beskou. Tog het Pappa hom die opdrag baie duidelik gegee. Daar is nooit voldoende brandstof beskikbaar nie, maar op een die of ander wonderbaarlike wyse het Rodriguez vir Pappa oortuig dat die voorgenome rit belangrik is.

      Gaspar kan hierdie Rodriguez-karakter nie mooi kleinkry nie. As hoof van Pappa se veiligheid is hy hoogs agterdogtig oor die wit man se invloed op Pappa, sy gedurige aanwesigheid by die bevelvoerder.

      Die woud is besonder dig hier rondom Massala. ’n Mens kan skaars jou hand voor jou oë sien. Hy kan nie mooi onthou waar hy laas die klompies-klompies dieselkanne weggesteek het nie.

      Die basis bestaan al vir twaalf jaar hier in Massala, maar die bos kruip daagliks van voor af daaroor. Soos Renamo hom destyds al dieper in die woud onttrek het, het hierdie plek die de facto hoofkwartier van die weerstandsbeweging geword. Dis ’n besonder veilige plek, juis omdat dit so goed weggesteek is. Oral groei reuse umbila- en panga-panga-bome, party meer as twintig meter hoog. Hulle blaredak maak die kamp heeltemal onsigbaar uit die lug uit. Selfs die normale Renamo-soldate word nie in die hoofbasis toegelaat nie, maar bly in gedurig bewegende satallietkampe in die massiewe omringende Ziwe-woud. Die basis is net vir die topgeneraals en vir Pappa, wanneer hy kom besoek aflê.

      Gaspar ken hierdie basis en die woud soos die palm van sy hand. Hy kan toe-oë hierdeur beweeg. Hy’s maar twee-en-twintig, maar al langer as tien jaar ’n soldaat. En hy’t die meeste van sy gevegswerk in die nag gedoen. Hy ken die donker. Sy kop dink al blindelings. Hy’t geleer om op sy voorgevoel, eerder as sy sintuie staat te maak. Om die diesel op te spoor is nie ’n kwessie van sien nie, maar van onthou. Hy het dit juis so hier en daar weggesteek dat niemand anders dit sou kry nie,