Talia vat grond. Melissa Scharneck. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Melissa Scharneck
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780795800290
Скачать книгу
nie.

      Dis kort voor tien toe Maggie huis toe gaan.

      Ek stort vinnig en klim pligsgetrou in die bed. Ek lê gewoonlik lank wakker, maar ek het niks anders om te doen nie. Dit voorspel net treurigheid.

      My ma sê dis omdat ek nooit nodig gehad het om gered te word nie dat James vir hom so ’n bleeksiel gekies het om ’n affair mee te hê. Alle mans wil glo die redder wees, anders voel hulle nie soos mans nie.

      Ek weet nie aldag hoeveel logika daarin lê nie. Dalk wil James nie soos ’n man voel nie. Mans wat soos mans wil voel, kies sekerlik nie vir hulle ’n ander man om lief te hê nie? Die homoseksuele verhouding is een van die vele dinge wat ek nooit verwag het toe ek op James verlief geraak het nie.

      Die jong man wat hy nou naai, is beeldskoon. Sy engelgesig lyk asof hy te broos is vir hierdie lewe. Soos iemand wat nie sonder hulp oor die weg sal kan kom nie. Ek hoop hy dink nie hy gaan daardie hulp by James kry nie.

      My ma is gewoonlik reg (oor alles), maar sy maak ’n fout as sy dink dat ek nog nooit gered wou word nie. Ek het al baie redding nodig gehad, maar dit het nie in James se broek gesit om dit te doen nie. Mans soos hy sien net kans vir vlak poeletjies. Hulle kom haal jou nie in ’n storm uit die see uit nie.

      Hoofstuk 2

      Smeer botter op een kant van 4 snye brood.

      Rasper kaas.

      Plaas 2 snye brood met botterkant onder, sit kaas op.

      Plaas oorblywende stukke brood bo-op (botterkant bo) en toast.

      (Onthou dat jou snackwich toaster se buitekant ook warm word – moenie dat dit teen die koord lê en die krag kortsluit nie.)

      Ek is nou eenmaal nie ’n oggendmens nie. Ek het tyd nodig om aan die nuwe weergawe van die lewe gewoond te raak. Die eerste daglig voel soos ’n flits wat om middernag op my skyn. Dis ’n bliksem waarvoor ek net nooit gereed is nie.

      Ek lyk darem nie té sleg nie, dink ek terwyl ek ’n paar groot hoepeloorbelle insit. Ek probeer hard om op ’n Maandag na iets te lyk. Ek maak my hare reguit, sit grimering aan en dra klere wat pas. Dit klink dalk nie na veel nie, maar vir iemand wat die ander ses dae van die week soos ’n kleurblind weeskind lyk (met hare so na aan ’n afro as wat ’n wit mens kan kom), is dit ’n noemenswaardige prestasie.

      “Is daar tamatie op my brood?” vra Louisa uit die badkamer.

      Sy vra elke oggend, al weet ek baie goed dat sy nie tamatie op haar brood eet nie. Ek wonder gereeld tot watter mate sy kompulsief is.

      Ek eet ook nie tamatie op ’n toebroodjie nie. Dit maak die brood nat en pap en laat my gril.

      “Nee, kaassmeer.” Ek sit twee piesangs in haar skooltas.

      “Dankie, Ma.”

      Waterbottel. Selfoon. Sleutels. Merkboek. Vraestelle. Handboeke. Beursie. Penne. Dagboek. Nié sigarette nie. Ek dink ek het alles.

      Ek kan nie wag om uit die huis te kom nie. Alles is oortrek met stof wat die wind oor die naweek ingewaai het. En dis nog nie eers seweuur nie, maar die hitte wurg my klaar.

      Petrol in die kar sit. Krag koop. Louisa aflaai.

      Ek móét probeer om naweke meer produktief te wees, anders put ’n Maandag my uit nog voor dit begin het. Die res van die week is nooit ’n piekniek onder die reënboog nie, maar daar is iets omtrent Maandae …

      Die dag by die skool is soos enige ander Maandag. Personeelvergadering, saal, sportverslae, klasgee, klasgee, klasgee, pouse, klasgee, klasgee, pouse. Niks buitengewoons durf ooit gebeur nie.

      Die laaste periode sit ek in die grasvierkant met die graadtwaalfs wat hulle groepmondeling oefen. Dae soos vandag gooi petrol op my brandende begeerte om Vuurkloof se stof van my skoene af te kry. Dis so warm en kurkdroog dat dit voel asof jou vel gaan kraak.

      Ek weet nie eintlik wat my besiel het om die klas buitetoe te bring nie. Behalwe vir die hitte het ek al gehoor die hoof hou nie daarvan as die klasse buite sit nie. Gelukkig het hy my nog nooit daaroor aangespreek nie.

      My hele klas sit onder die bietjie koelte wat die boom in die vierkant bied. Gewoonlik sou hulle wyd versprei in hulle groepies sit, maar vandag is die skaduwee almal se vriend. Niemand gee om om onder mekaar se voete op die droë gras te sit nie. Dis seker hoe dit in ’n oorlog gaan, wanneer mense ’n gemeenskaplike doel het en sosiale verskille misgekyk word.

      Ek maak asof ek merk, maar eintlik luister ek na die kinders om my. Amper niemand oefen hulle mondeling nie, hulle gesels te lekker. Praat oor allerhande dinge: musiek, puisies, klere, sport, ander kinders. Dinge van die jeug. Dit voel asof ek baie meer as net twaalf jaar ouer as hulle is.

      Baie dinge het verander vandat ek by Hoërskool Vuurkloof in matriek was; baie dinge is nog presies dieselfde. Net nie ek nie. Ek kan skaars die meisiekind van destyds in my gedagtes herken. Sy sou my vervloek het as sy in die toekoms kon sien.

      Dit sou haar grensloos irriteer as sy kon sien wat nou in my lewe aangaan – die groot gemors. Die waansinnige manier waarop ek net meer en meer goed uitkrap en rondgooi en geen plan het om te begin skoonmaak nie. Sy sal nie verstaan dat mens weet waarmee jy bly sit as die gemors eers skoongemaak is nie. Ek wil nie weet wat oorbly nie, so die gemors is welkom.

      Daardie weergawe van my het haar eie storms gehad, maar hulle was anders. Hulle het haar skoongewas, het weggebreek wat onnodig was. As sy geweet het die storms wat kom, sal alles verpletter, sou sy dalk anders gewees het – meer versigtig.

      “Jy gaan die afkondigings mis, mevrou Prinsloo!” roep Andries Gouws uit een van sy klasvensters. Sy klas is op die tweede verdieping, aan die grens van die grasvierkant.

      “Jy sal my sekerlik in kennis stel as iets spesifiek op my van toepassing is, meneer Gouws?”

      Ek glimlag toe ek opkyk, raak omtrent oombliklik verblind. Andries het ’n geel hemp aan met groen strepe en ’n blou das met rooi kolle.

      “Ek’s ’n kak PA!” skree hy terug.

      Amper dertig matrieks se koppe ruk op. Onderwysers by Hoërskool Vuurkloof vloek nie. Hulle ken eintlik geen vloekwoorde nie. Hulle weet nie van seks of dwelms of drank nie. Hulle ken geen droom of teleurstelling nie, hulle is maar net daar – soos skoolbanke, stof en klokke wat lui.

      “Wat? Ek het gesê ‘swak’. Nare kinders,” sê hy streng vir hulle.

      Maar ek sien die effense blos wat oor sy gesig trek voor hy wegdraai van die venster af.

      Onder die mans by Hoërskool Vuurkloof is Andries Gouws sonder twyfel my gunsteling. Hy het ’n vreemde sin vir humor en hy kry dit altyd reg om my te laat lag. Hy is een van die min mense in die personeelkamer wat nie snaaks na my kyk nie. As hy na my kyk, kyk hy lank en aandagtig, asof ek sy aandag van die hele wêreld aftrek. Dan bloos ek, dan lag hy, dan lag ek.

      Die huistoegaanklok lui. Dis ’n geskarrel soos die kinders hulle goed wegpak en uit die klas verdwyn.

      Almal behalwe Celia le Roux, die meisiekind wat my so na aan die hart lê. Wie se stiefpa Vrydagmiddag doodgery is. Deur die vreemde vrou in die vreemde kar.

      “Wat’s fout, Celia?” vra ek terwyl ek my eie boeke in my sak sit.

      Alles is seker fout, maar ek vra tog. Ek vermoed die ou dronk bliksem het hulle met ’n klomp ekstra skuld gelos. Die ma ken ek nie, maar ek het al gehoor sy suip net so. Celia is gelukkig die enigste kind.

      “Niks, juffrou. Ek sit so ’n bietjie vas met die opstel wat ons Vrydag gekry het. Ek’t gewonder of ek dalk vanmiddag ’n draai kan maak?”

      Ek kyk op na haar. Sy het mooi geword. In my eerste jaar by Hoërskool Vuurkloof was sy in graad agt. Sy was toe al lank, maar mens kon sien daar is nie sorg by die huis nie. Die hare was vol koeke en haar skoolrok was nooit skoon of gestryk nie.

      Intussen het sy nog langer geword, geleer hoe om haar blonde krulhare in toom te hou en self haar skoolrok te was en stryk.