Die besoeker. Anchien Troskie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703362
Скачать книгу

      Hoofstuk 2

      Van twee dinge raak ek bewus toe my oë oopgaan. Die eerste is dat die dag aan die breek is. Dankie tog. Ek het nog nooit van die donker gehou nie. Die tweede is dat daar iemand oorkant my in ’n stoel sit.

      Naby my.

      Omtrent drie tree weg.

      My maag trek krampagtig saam, ek voel my hart in my ore klop. Die gil wat by my mond wil uit, sluk ek desperaat maar betyds weg. Nee. Ek gaan nie my vrees wys nie. Wat hy ook al vir my beplan, hy sal nie vrees in my oë sien nie. Ek dwing myself tot kalmte, sluk verbete aan die volgende gil. Haal diep asem.

      In. Wie is dit?

      Uit. Hoekom sit hy so stil?

      In. Een van Jake se ouens?

      Uit. Jake kan niemand meer stuur nie.

      In. Polisie?

      Uit. Nee.

      “Wie is jy?” My stem klink yl, paniekbevange, nie sterk soos ek dit wou hê nie.

      “Moenie bang wees nie, Emmie. Dis ek, Migael.”

      “Hoekom is jy hier? Het Jake jou gestuur?”

      “Nee, nie Jake nie. Jy weet wie ek is, Emmie.”

      “Het my ma jou gestuur?”

      “Nee, jy weet wie ek is.”

      Ek skud my kop. “Is jy van die polisie?”

      “Jy weet. Dínk.”

      Ek ken hom. Sy teenwoordigheid hier voel reg. Asof dit so hoort. Asof ek al jare lank vir hom wag. Al is hy ongenooid, wil ek hom hier hê. Want ek kén hom. Al het ek hom nog nooit gesien nie. Dis tog nie moontlik nie?

      Ek skud my kop weer. “Ek ken jou nie.”

      Hy sug. “Dis ek, jou beskermengel.”

      Vir ’n oomblik wil ek hom glo. Wil ek hoop dat ek so hoog geag word dat ’n engel my besoek. Wanneer jy niks meer het om voor te lewe nie, wanneer jy alles om jou swart wil verf, hoop jy. Wíl jy jouself om te hoop. Wíl jy jouself om te glo.

      Maar ek is nie naïef nie, ook nie dom nie. Engele bestaan, maar hulle is nie wérklik nie. En Jake het ’n sadistiese sin vir humor. Hy sal dit amusant vind dat ek in ’n beskermengel glo. Maar Jake kon hom nie gestuur het nie . . . of kon hy?

      Ek hou my oë op Migael. Hy is mooi genoeg om ’n engel te wees. Dit raak ligter in die vertrek; die son moet nou amper heeltemal uit wees. Ek kan hom al hoe duideliker sien. Dis wat ek altyd doen wanneer ek nuwe mense ontmoet: bestudeer hulle tot in die fynste besonderheid. Sodat wanneer ek aan hulle dink, van hulle praat, ek hulle sien.

      Migael is mooi. Selfs sittend kan ek sien dat hy lank is. Lenig gebou. Gespierd, te oordeel na sy voorarms, maar sonder om soos ’n kragman te lyk. Groot hande en lang vingers, sy naels kort geknip. Stewige, manlike ken, hoë wangbene wat menige vrou hom sal beny. Blouselblou oë onder digte wenkbroue. Swart hare, effe lank, effe deurmekaar, effe krullerig. Sy lippe vol, en wanneer hy glimlag, soos nou, trek die linkerkant van sy mond hoër op.

      Mooi. Maar méns. Nie ’n engel nie.

      Ek sluk hoorbaar. “Kan ek jou iets vra? ’n Guns, as jy wil.”

      “Sekerlik, Emmie.”

      “Sal jy my vinnig doodmaak? Asseblief? Moenie met my speel soos ’n kat met ’n muis nie. Doen wat jy moet doen en kry klaar. Asseblief.” Ek skop die kwilt af, dis skielik te warm daarvoor.

      “ ’n Ander mens sou vir sy lewe pleit. Hoekom pleit jy nie, Emmie?”

      “Ek verdien om te sterf. Ná dit wat ek gedoen het, verdien ek om te sterf, te ly seker ook. Maar ek wil nie ly nie, daarvoor is ek te veel van ’n lafaard.”

      “Ek is hier om jou te help, nie om jou te vermoor nie. Ek is hier vir jóú, Emmie.” Hy reik na my ineengestrengelde hande, vou syne daarom. “Ek is hier vir jou. Ek wil jou help.”

      ’n Rustigheid kom lê in my. Ek kry dit selfs reg om flou te glimlag. “Die ewigheid in?”

      “Koffie,” sê hy beslis en staan op. “Geen mens kan die dag behoorlik begin sonder ’n koppie koffie nie, hoor ek.”

      Ek was reg, hy is lank. En nog mooier. Noudat die lig helder deur die fyn gordyne in die kombuis skyn, kan ek hom beter sien. Hy draai die gasplaat aan, vul die ketel, sy rug na my gedraai.

      Ek kan hardloop. Ek kan probeer wegkom. My motor staan nie te ver nie, dalk kan ek onder hom uit hardloop. Maar ek wil nie. Waarheen sal ek gaan? Hoe lank voor hulle my tog opspoor?

      Ek sug, lê terug teen die rugleuning van die bank, waarvandaan ek hom steeds kan dophou. Die skril gefluit van die ketel kondig aan dat die water kook. Dalk is dit dít? Kookwater wat oor my uitgestort gaan word. Jake is wreed. En Jake is kwaad. En ’n Jake wat kwaad is, is nog wreder. Maar Jake kan nie . . .

      Quintin? Natuurlik, ja. Hy is die een wat Jake se vuilwerk doen. Een van die twee wat die sneller getrek het. Die Q van Q & A. Moenie dink nie!

      “Het Quintin jou gestuur?” glip die vraag oor my lippe.

      Migael sit ’n stomende beker koffie voor my neer. Goed, dit gaan nie kookwater wees nie.

      “Nee. Drink klaar, dan gaan stap ons. Ek wil jou iets wys.”

      Hier is baie bosse. Hoe gaan hy dit doen? My skiet? Met ’n mes? My eenvoudig met iets oor die kop slaan? En my tussen die bome los.

      Ek wil nie tussen bome gelos word nie! Nie met allerhande vreemde diere wat aan my kan kom kou nie! Ek moes gehardloop het, ek moes probeer het!

      “Klaar?”

      Hy het so ’n rustige stem. Hy neem die halfleë koppie voor my weg, sluk die glas water in sy hand leeg.

      “Kom, daar is modderstewels by die deur. Trek vir jou ’n paar aan, dan stap ons.”

      Hy stap vooruit. Kyk nie eens om of ek volg nie. Ek kan nou probeer wegkom, tog doen ek dit nie. Dis asof daar ’n onsigbare tou tussen ons gespan is en hy my saamsleep. Nee, die tou is juis nié gespan nie, dit hang slap tussen ons. Ek loop saam met hom omdat ek wíl. Omdat ek skielik willoos is. En hy weet dit.

      Ek volg hom gedwee, soos een van die rotte agter die fluitspeler aan. ’n Baie mooi fluitspeler, met ’n wit T-hemp en jeans aan. Kaalvoet. Ons stap en stap; my stewels sloef-sloef deur die modder. Ek gaan vir ’n oomblik staan, hande op my heupe.

      “Toe nou, Emmie, dis nie meer ver nie.” Sonder om om te kyk.

      My hande val slap langs my sye. My bene begin asof vanself verder deur die modder ploeg.

      Dan maak die bome onverwags oop en is ons in ’n oopte. Die lig is verblindend ná die skemering van die bos. Ná nog ’n entjie bereik ons ’n waterval.

      Mooi. Dan gaan dit só wees. Verdrinking. Water, my grootste vrees, Jake weet dit.

      “Kyk hoe mooi, Emmie!”

      Ek kyk. As ek ’n ewige rusplek moes kies, sou dit hier kon wees. Ek kan ten minste dankbaar wees dat Migael my sentiment deel. Groen gras, ’n paar veldblomme, ’n poel donker water en die waterval. Nou nie ’n donderende watermassa nie, eerder ’n groter as normale pisstraaltjie. Mooi. Ja, ek kan hier doodgaan, net nie ín die water nie.

      “ ’n Waterval is vir my een van die mooiste dinge op aarde,” sê Migael. “In tye van swaarkry droog dit op, maar dit gaan nooit regtig weg nie. Wanneer voorspoed kom, vloei dit net weer. En dit bly dieselfde, met dalk kleiner, beter veranderings. Nuwe, vars water, oeroue vloeipatrone.”

      Ek voel hoe magtelose, vreesbevange trane uit my oë drup. “Doen dit nou. Vermoor my nou. Terwyl ek hier staan sonder ’n wil van my eie. Ek kan dit nie langer uithou nie. Doen dit.”

      Migael draai só skielik na my om dat ek skrik. Hy kom staan amper