Die besoeker. Anchien Troskie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703362
Скачать книгу
Hy vervaardig dit self en verkoop dit dan aan ons.”

      “Op skuld, seker.”

      “As jy genoeg kontant het om jou eerste voorraad te koop, kan jy. Maar ja, ek het op skuld gekoop. Dis heel eenvoudig: jy koop by hom, sit ’n prys op en verkoop weer. Jake soek net sy geld, die res is joune. Dis ’n wettige besigheid.”

      “Wettige besigheid? Dwelms?” wil ek verstom weet.

      “Jy weet wat ek bedoel.” Sy wuif my verontwaardiging weg. “Ek dog jy het geld nodig?”

      “Ek het, maar nie só nie! Gebruik jy ook dwelms?”

      “Natuurlik nie! Jake laat dit in elk geval nie toe nie.”

      “Ek kan nie aandadig wees aan so iets nie, Lisa. Nie iets onwettigs nie, en beslis ook nie dwelms nie.”

      “As jy dit nie verkoop nie, sal hulle dit by iemand anders kry, Emmie. Dis nie asof jy iemand gaan dwing om te begin nie! Vandag se kinders kan nie meer sonder die goed lewe nie.”

      “Jy verkoop aan kinders?”

      “By die skool. Jy sal verbaas wees om te hoor hoeveel van ons toppresteerders gebruik dwelms.”

      “En jy dra daartoe by!”

      “Soos ek sê, ek dwing niemand om te koop of te gebruik nie. Hulle sal dit wel by iemand anders kry. Eintlik doen ek hulle ’n guns. By Jake kry jy net dwelms van hoogstaande gehalte, maar op straat kan hulle enige gemors optel en gebruik. En dis goeie geld, Emmie.”

      “Ek stel nie belang nie.”

      “Moenie te vinnig praat nie. As jy dit nie doen nie, sal iemand anders wel. En ek wil graag hê dit moet jy wees. Aangesien jy geld nodig het.”

      “Ek sal regkom – sonder dwelmgeld.”

      “Ek gaan nou. Dink eers rustig daaroor, Emmie. Ek weet dis ’n effense skok, maar dis nie so erg soos dit klink nie. Jy sal verbaas wees hoe vinnig jy dit gewoond raak. En dis easy money. Dink net wat jy alles met ekstra, báie ekstra geld kan doen.”

      “Ek stel nie belang nie.”

      * * *

      “Ek wou regtig nie betrokke raak nie, Migael. Ek het haar by haar motor gaan afsien, my woonstel ingeloop en ek was gewalg. Die idee dat klein, fyn Lisa dwelms aan kinders verkoop sodat sy ’n sekere lewenstyl kan handhaaf, het my gewalg. Ek was beter as dit! Ek het haar die volgende dag geïgnoreer. Net met haar gepraat wanneer ek moes.

      “Die dag daarna het meneer Meyer my ingeroep. Hy het Lisa se pos vir my aangebied omdat hy tevrede met my werk was. Dit het ’n salarisverhoging beteken. Nie baie nie, maar genoeg om my te laat besef dat ek die regte besluit geneem het deur nee te sê vir dwelms. En toe . . .”

      Ek vryf moeg oor my oë. Hoe sou my lewe uitgedraai het as ek by my besluit gehou het? Sou ek nou doodgelukkig – diep in die skuld, toegegee – gewees het? Sou ek Migael ontmoet het?

      Ek laat sak my kop teen die rugleuning. “En toe kom daar twee aanmanings. En ’n hele paar telefoonoproepe. Een aand toe ek by die huis kom, ontdek ek dat my krag afgesny is. Ek is druipstert terug na my ma toe met ’n storie oor kabels wat foutief is, en dat die krag die volgende dag uitgesorteer behoort te wees. Ek het vir amper ’n week uitgehou. Ek kon nie elke aand by my ma opdaag vir ’n bad en ’n warm bord kos nie, dus het ek in koue water gewas en geleer om van brood te hou.

      “Ek het my selfoon glad nie beantwoord nie, en die huistelefoon was ook afgesny. Maar by die skool kon ek nie wegkom van die oproepe nie. Ek kon nie so aangaan nie. Ek kon seker my ma gevra het om te help, en sy sou. Maar ek wou nie die teleurstelling in haar oë sien nie. Ek wou haar nie weer deur so ’n hel sit nie. Ek kon dit nie aan haar doen nie, ek kón net nie.”

      Ek lig my kop en kyk na Migael. Simpatie. Dit staan oral op sy gesig geskryf.

      “Die volgende dag is ek na Lisa toe. Daardie aand het sy my na Jake se klub gevat. Ek was bang, maar desperaat genoeg om enigiets te probeer.”

      Hoofstuk 6

      Op Lisa se instruksies trek ek my partytjieklere aan: jeans, plat skoene vir dans, blink, stywe toppie. Hare lank en los oor my skouers.

      Lisa kom haal my by my woonstel. ’n Ander Lisa, met ’n kort-kort rompie en hoë hakke aan. Hare wild om haar kop. Swaar gegrimeer.

      Sy kyk kopskuddend na my. “Ai, Emmie, ons gaan na ’n klub toe, nie ’n braai nie!”

      “Ek kan gou –”

      “Daar’s nie tyd nie. Kom.”

      My moed sak in my skoene toe ek die lang ry mense sien wat wag om ingelaat te word. “Ons gaan nooit hier inkom nie, Lisa. Ons sal maar op ’n ander aand moet kom.”

      Sy lag net en trek my vorentoe. Die deurwag glimlag vir haar, knik vir my en laat ons sonder ’n woord deur.

      Dit ís ’n strip-klub, ’n eksklusiewe strip-klub. Soort van. Want nie een van die blink, oliebesmeerde lywe in einaklein stukkies klere wat aan pale rondswaai, raak ontslae van hulle klere nie. Maar nogtans. Hulle dans op verhoë wat oral in die groot klub opgerig is. Strategies opgerig, let ek op. Wanneer jy by die deur inkom, is dit die eerste ding wat jy sien: die meisies, die ronde verhogies, die pale waaraan hulle rondswaai.

      Rondom die verhogies is tafels en stoele gerangskik, waar meestal mans, maar ook ’n paar vroue, oopmond na die dansers staar. ’n Groot kroegtoonbank beslaan die hele linkerkantste muur; daaragter is ’n spieël wat die drankbottels weerkaats.

      Trappe lei na die boonste verdieping, waar die dansvloer is. Die gewone dansvloer, vir dié wat verkies om met hulle klere aan te dans. My mond dreig om oop te sak, want só iets het ek nog nooit gesien nie. Die vertrek is groot, indrukwekkend en luuks. Daar is ’n menigte mense, polsende musiek, flitsende ligte en mengeldrankies in al die kleure van die reënboog.

      Lisa trek my aan die arm dansvloer toe, en daar, met ’n drankie in die een hand, dans ek saam met haar. Totdat ’n man haar op die skouer tik.

      “Jake is ready for you, Lisa.”

      Sy gryp my aan die arm en ons stap agter die man aan. En ek is seker dis nie my verbeelding dat haar hand krampagtig om my boarm sluit nie.

      Die een muur is versier met houtpanele en heelparty spieëls, wat die indruk gee dat daar dubbel soveel dansendes is. Ons loop op een van die panele af en nadat die man vinnig geklop het, maak hy dit oop en stap saam met ons in.

      Dis ’n groot vertrek; die musiek is skaars hoorbaar hier binne. ’n Kantoor met ’n lessenaar, stoele voor die lessenaar, ’n indrukwekkende boekrak en ’n groot plasmaskerm-televisie. ’n Enorme man staan met sy rug na ons, sy blik op die televisie. Krieket.

      Toe hy van ons bewus raak, draai hy stadig om. Nie ’n haar op sy kop nie. Hy glimlag lui, beduie dan vir die ander man dat hy maar kan gaan.

      “Lisa!” groet hy uitbundig, en beduie ons na die stoele voor die lessenaar. Hy neem agter die lessenaar plaas.

      “En dit moet jou plaasvervanger wees?” Hy praat met Lisa, maar sy oë verlaat my gesig nie ’n oomblik nie.

      “Jake, ontmoet my vriendin, Emmie. Emmie, dis Jake Muller.” Lisa se stem is effens bewerig.

      “Emmie.” Hy steek een van sy enorme hande uit en dit sluit warm om myne.

      “Hallo, Jake,” kry ek dit hees uit.

      Sy grootte, sy stem, alles aan hom is intimiderend, tog is sy stem rustig. Maar sy glimlag reik nie tot by sy oë nie. Dié bly koud, berekenend op my gerig.

      “Lisa het alles mooi aan jou verduidelik?”

      Ek knik.

      “Goed so. Dis ook nou nie asof jy slim moet wees om die werk te kan doen nie!” Hy lag bulderend vir sy eie grap.

      “Maar soos met alles in die lewe is daar