Die besoeker. Anchien Troskie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703362
Скачать книгу

      

      ANCHIEN TROSKIE

titel.jpg

      KWELA BOEKE

      Vir Ma Sally, en vir Lafras, Chris en Joice – soos altyd.

      En vir Janine.

      En vir Deirdré – vir die lees en die kommentaar.

      En vir jou – as jy in engele glo.

      Hoofstuk 1

      “Daar word dringend gesoek na mejuffrou Emmerentia Engelbrecht. Sy bestuur ’n wit Toyota Corolla met nommerplaat . . .”

      Dis te vinnig, dink ek. Té vinnig. Paniek stoot in my op. Ek het aangeneem, gegló dat ek veilig is vir nog ’n dag. Dan eers sou my ma begin bekommerd raak. Dan eers sou sy iemand na my woonstel stuur om ondersoek in te stel.

      “Mejuffrou Engelbrecht is 1,6 meter lank, met blonde hare en blou oë. Skakel inspekteur De Witt by 041 . . .”

      Dis te vinnig! Ek moet eers die sleutel kry en dan nog ’n volle twee uur ry! Hou by die plan, Emmie, hou by die plan.

      Maar eers, besef ek toe die motorhawe voor my opdoem, moet ek iets aan my lang blonde hare doen. Moet ek stop? Aanhou ry? Gaan hulle my herken? Indien wel, hoe vinnig kan ek wegkom?

      Ek parkeer skeef, hardloop die winkeltjie in, gryp die eerste boksie donker haarkleursel. Staan met bewende knieë en hande voor die kasregister. Herken hulle my? Hoeveel blonde blouoogvrouens van my lengte is daar? Hoeveel vroue loop dié tyd van die aand rond met kneusmerke aan haar gesig en vingermerke om haar keel?

      Gryp die pakkie en kleingeld. Terug in die motor. Haal asem. In. Uit. In. Uit. Skakel aan, ry rukkerig weg. Bewende knieë se skuld.

      Ry eers voor die skool verby. As die hekwag vanaand Henry is, is dit goed. As dit een van die ander is . . . wat dan? Ander plan. Dis al. Ek sal ’n ander plan moet maak.

      Dis Henry. Dankie, dankie, dankie. Stop voor die hek.

      Hy kom vinnig nader. Verligte glimlag toe hy my herken, geskokte oë toe hy my gesig sien. “Juffrou?”

      Ek skud my kop. “Dis niks. ’n Ongelukkie . . .”

      Hy knik en skuif die hek oop. Dis nie vir hom snaaks dat ek snags hier moet in nie. Die laaste tyd het ek heelwat werk moes oordoen. Omdat my kop ver was.

      Hou voor kantoor stil. Gryp pakkie met haarkleursel. Skakel alarm af. Sluit deur oop. Soek ligskakelaar.

      Meneer Meyer se deur is nie gesluit nie. Dankie, dankie. Haal sleutel uit boonste laai. Die aanwysings ken ek uit my kop. Hoeveel keer moes ek dit al tik, e-pos, telefonies herhaal?

      Draf terug na my kantoor. Kry skêr, rekkies uit laai. Badkamer. Was hande. Weer. En weer.

      Maak hare hoog vas. Ander rekkie amper op die end van my poniestert. Knip-knip iewers tussen die twee rekkies. Ek sukkel, die skêr is stomp. Eindelik staan ek met die poniestert in my hand. Ek druk dit vinnig in die papiersak, maak die ander rekkie los. Die kort hare voel vreemd.

      Ek lees die aanwysings op die boksie. Meng skud-skud, handskoene aan. Smeer oor kop. Nog. Nog. Dit moet 45 minute aanbly.

      Gryp die sak en draf na my kantoor. Kry ’n pet in my lessenaar se laai om my hare weg te steek. Swart pet, die naam Geelhoutboom voorop in sierlike rooi letters. Skakel ligte af. Sluit deur. Alarm aan. Ry.

      Henry is by die hek.

      Vroetel in ander sak. Klein pakkie met wit poeier. Hou op handpalm na hom uit.

      “Juffrou?” vra hy verbaas.

      “Ek was nie hier nie. Henry, ek was nie hier nie!”

      “Ek het juffrou Vrydag laaste gesien,” sê hy en neem dit gretig.

      Dankie, dankie. Ry deur hek.

      My hande is geklem om die stuurwiel. Vingers wit, bene bewe, asem jaag. My maag voel soos ’n hekseketel. Bubble, bubble, toil and trouble. Kyk op my horlosie. Genoeg tyd om in die volgende dorp te kom. Daar petrol ingooi en hare afspoel. Jake . . .

      Moenie dink nie, moenie dink nie. Kalmeer. Konsentreer. Ry. Vinnig. Nie te vinnig nie. Ry net.

      Ek stop veertig minute later op die volgende dorp.

      “Maak vol,” sê ek vir die petroljoggie, gryp my sak en draf na die ruskamer.

      Spoel-spoel-spoel by die wasbak. Dit sukkel, die wasbak is te klein. Opknapper. Was. Spoel. Het nie handdoek nie. Druk hare droog met hande.

      Uit. Betaal petrol. Ry.

      Nog tweehonderd kilometer.

      Nog honderd en vyftig.

      Honderd.

      Vyftig.

      Uiteindelik, ligte. Amper daar.

      Groot boom links – draai regs, tweehonderd meter verder – links. Versigtig, pad is sleg.

      Twaalf kilometer verder – stop onder boom.

      Flits.

      Sakke.

      Stap, stap, stap.

      En met die stap word dit losser in my. Voel my kop oper. Word my asemhaling meer reëlmatig. My skouers, wat styf opgetrek is van spanning, sak ’n fraksie laer. Dit was ’n goeie besluit om hierheen te kom.

      ’n Jaar is ’n lang tyd, dink ek terwyl ek my hand oor die geverfde letters op die hekkie laat gly, soos een wat braille lees. Tog onthou ek hierdie hekkie asof ek gister hier was. Ek onthou die woorde daarop: Geen toegang. Oortreders sal vervolg word.

      In groot swart letters staan dit daar, so onthou ek dit. Ek kan maar net hoop dis onbeset, dat ek hierdie alleentyd gegun sal word. Omdat ek dit nodig het. Omdat ek geregtig is daarop.

      Ek laat die sterk straal van die flits oor die letters speel. Presies soos ’n jaar gelede. Meneer Meyer verf dit seker gereeld oor. Op hierdie plek is hy heilig. Sy batterylaaiplek. Die plek waar hy weer homself kan word. Waar jy net op uitnodiging welkom is. En die mense staan tou om genooi te word.

      Self kon ek nooit die aantrekkingskrag van hierdie klein, lelike huisie verstaan nie. Hier is geen krag, geen televisie, geen radio nie. Hier is dit doodstil. Soos ’n arendsnes klou die plekkie verbete aan ’n krans vas; ek sal hoog kan sit en ver kan kyk.

      Die stram hekkie protesteer skril toe ek dit oopmaak en deurstap. Voor my lê die huis. Ek haal die sleutel uit en sluit die voordeur oop. Die reuk van lank toe staan hang skerp in die lug. Laat die flitslig deur die vertrek speel. Kerse. Vuurhoutjies.

      Ek steek ’n paar kerse aan en laat dit oral staan. Wie het gesê dat kerslig romanties is? André . . . Vergeet van André. Hy behoort tot die verlede. En niks is romanties aan hierdie prentjie nie.

      Ek draai die gasbottel by die stoof oop, tap die ketel vol water. Koffie, suiker. Niks suiker, makiesakie. Terwyl die water kook, kyk ek om my rond. Linoleumvloere. Geel staalkaste. Ou Aga wat staan en stof vergaar. Groot vuurherd. Die kombuis en sitkamer is een groot, koue vertrek. Die banke in die sitkamer is verslete. Mevrou Meyer het bont kwilte oor die banke gegooi vir kleur. Dit help nie. Alles lyk so ordinêr.

      Die eerste sluk bitter koffie brand in my keel af. Die tweede sluk is beter.

      Ek trek ’n kwilt van die naaste bank se rugleuning af, kruip daaronder in. Dit ruik effens muwwerig. Maak my oë toe. Bang? Baie. Wie sal na my kom soek? Sal iemand my hiér kom soek? Nee. Niemand sal weet waar ek is nie.

      En as iemand uitvind? Wie sal eerste wees? Jake se mense? Die polisie? Wie verkies ek om my te kry? Éérste te kry?

      Jake beteken sekerlik baie pyn, dalk die dood. Polisie beteken lewenslank in die tronk. Op die ou end is dit dieselfde ding. Ek wil nie nou al doodgaan nie. Al verdien ek dit. Ek hou my oë styf toe. Dis makliker om die waarheid in die oë te kyk as jy dit nie kan sién nie.

      Ek