“Waarheen gaan jý nou?”
“Ek voel ook om vir ’n rukkie alleen te wees, Ma. Los my ook liewer net eers uit.”
’n Verdwaasde Janneman voeg hom by die twee broers. “Pa …? Pa, maar is dit wáár? Ek bedoel … hoe kan Nols nie … regtig … Waar kom dié storie vandaan?”
Helgard sug, lê sy hand swaar op die jong man se skouer. “Dis waar, Janneman,” erken hy dan met moeite. “Nols ís nie my kind nie. Maar dis ’n lang storie. Ek dink nie ek sien nou kans om te verduidelik nie. Dis so onnodig, hierdie ding. Dit kon gebly het.”
Arnold skud sy kop. “Miskien nie, Ouboet. Paradys is werklik Janneman se regmatige erfenis. Jy moet my verskoon, maar wat dit betref, wil ek met Pa saamstem.”
“Ja, Arnold, maar die maniér waarop dit gedoen is! Hoekom het hy nie die saak openlik met my bespreek nie? Hoekom op so ’n skokkende manier die waarheid aan die kind tuisbring?”
“Sou dit gehelp het as Pa die saak met jou bespreek het?” Arnold se oë is simpatiek, maar sy woorde reguit. “Sou jy werklik vir Nols kon vertel hy is nie jou kind nie en dat hy daarom nie kan verwag om eendag Paradys van jou te erf nie?”
Die twee broers kyk mekaar ’n oomblik vas aan. Uiteindelik knik Arnold. “Jy sou dit nie kon regkry nie, Helgard. Jy sou hom Paradys laat erf het.”
“Ja, goed. Dit is so.” Sy stem klink weerbarstig, verdedigend. “Want hy was vir my my seun, werklik my seun. Ek het totaal vergeet hy is nie regtig nie.”
“Daarom het Pa geen ander keuse gehad as om self op te tree nie. Probeer verstaan hoekom hy dit ook op hierdie manier gedoen het, Helgard. Hy het ook nie die hart gehad om dit vir Nols openlik in sy gesig te sê nie. Hy was tog ook baie lief vir sy Nollie, soos jy voor jou siel weet.” Die klein Nollie het namate hy ouer geword het, by almal Nols geword, maar selfs op twee-en-dertigjarige ouderdom was hy vir sy oupa steeds Nollie.
Helgard se adamsappel beweeg hewig op en af. “Hoekom kon hy hom dan nie ook so aanvaar nie, as Nollie, óns Nollie nie?”
“Omdat hy nie net een kleinseun het nie, Helgard. Daar is nog een, en een van sy bloed en sy vlees. Jy het Pa geken, Ouboet. As daar een ding is waarvan ons as sy kinders van hom kan getuig, is dit dat Nols Retief sy plig teenoor sy kinders geken het. En so het hy ook sy plig teenoor sy nageslag geken. Ek kry dit nie reg om Pa hieroor te veroordeel nie. Ek het hom beter verstaan as jy. Julle twee was te eners. Ek verstaan hoekom Pa hierdie ding gedoen het. Soos hy ’n plig teenoor Nollie het – en hy het hom ’n plaas laat erf – het hy ook ’n plig teenoor Janneman, en sy plig en regverdigheidsin het hom gesê dat Paradys Janneman se regmatige erfenis is.”
Helgard sug en sak op ’n stoel neer, vee met die vingerpunte oor sy oë. “Ek is nou te ontsteld om die saak so helder en nugter soos jy te beredeneer, Arnold. Dit maak in elk geval my kommer oor Nols nie minder nie. Ek ken my seun. Nols kan soms ’n bietjie irrasioneel word as dinge nie verloop soos hy dit verkies nie. En hierdie ding …”
Arnold knik. Hy verstaan maar alte goed. Nols kan soms ’n heethoof wees en hy is self bekommerd oor die gevolge wat vandag moontlik vir hom kan inhou. Maar Nols sal maar, soos alle mense die een of ander tyd in hulle lewens, moet aanvaar dat daar dinge is wat jy nie kan verander nie, en leer om daarmee saam te leef. Nols Retief het hom immers nie summier uit sy testament gelaat nie, maar hom Ou Werwe gegee – ’n plaas in alle opsigte gelykstaande aan Paradys. Dis net die opstal wat verwaarloos is. Niemand het ooit daaraan aandag gegee nie, want die jong Nols was so oortuig daarvan dat hy eendag Paradys sou erf. Dis Janneman wat maar later sou moes sorg dat Ou Werwe bewoonbaar gemaak word. En nou is die bordjies skielik verhang …
Eenkant in die groot sitkamer sit die twee skoonsusters bymekaar. Nes Janneman netnou, kan Rita nie anders as om te vra nie: “Elise, is dit regtig waar? Is Nols nie Helgard se kind nie?”
“Nee. Toe Lida met Helgard getroud is, was sy reeds twee maande swanger – by ’n man wat sy op ’n oorsese reis ontmoet het.”
Rita skud haar kop, steeds verdwaas. Sy en Elise is so na aan mekaar, maar van hierdie intieme besonderhede het sy nooit kennis gedra nie.
“Maar hoe het dit dan gebeur dat Helgard met haar getrou het? Hy moes tog bewus gewees het van wat aangaan.”
“Hy was nie. Toe Nollie sewe maande ná hulle huwelik gebore is, het hy geglo die kind is vroeggebore. Dis wat Lida met behulp van haar dokter almal wysgemaak het. En almal het dit geglo, behalwe ta’ Vroeteltjie. Sy was baie skepties, maar sy het nooit daaroor gepraat nie – behalwe teenoor my, en ek wou destyds natuurlik niks met die Retiefs van Paradys se sake te doen hê nie. Dit was eers toe Lida my self die volle verhaal vertel, dat ek sekerheid gekry het oor die saak. Dit was net voor sy selfmoord gepleeg het. Sy het ’n brief aan Helgard nagelaat waarin sy alles gebieg het, maar ek en Helgard het besluit niemand sal ooit weet nie, veral nie oupa Nols nie. Rita, ek kan nie dink wáár hy hieraan gekom het nie! En wánneer?”
“Hy moet dit egter op die een of ander manier uitgevind het, en toe besluit het hy sal ook maar die swye bewaar … tot hy sy testament moes opstel. Arme Pa. Ek glo hy het nie sonder hewige stryd tot hierdie besluit gekom nie, Elise.”
“Nee, ek besef dit. Ek verstaan ook hoekom hy dit gedoen het. Hy kon nie uit jammerte vir die een ’n onreg teenoor die ander pleeg nie. Die feit dat hy Ou Werwe net so aan Nols gee, bewys tog dat hy hom werklik liefgehad het en dat hy teenoor hom meer as regverdig wou optree. Maar sal Nóls dit so insien?” Sy staan op. “Ek wil gaan kyk waar Isabé is. Dit was vir haar ook ’n groot skok. Dit kon ek sien. Ag, mag die Here gee dat Nols nie iets onverantwoordeliks aanvang nie! Hy kan soms so impulsief wees.”
Teen haar beterwete probeer Rita troos: “Hy is darem al twee-en-dertig, Elise. As hy eers ’n bietjie oor die saak gedink het, sal hy besef dis darem nie doodsake nie. Daar is trouens nog baie om voor dankbaar te wees. Hy sal altyd Nols Retief wees. Hy het ’n plaas geërf en is verloof aan ’n pragtige meisie. Hy het alle rede om hom reg te ruk en ’n mooi toekoms vir homself op te bou, al is dit dan op Ou Werwe. Gaan kyk waar is Isabé. Sy hét baie ontsteld gelyk. Moet jou nie oor die kos bekommer nie. Ek sal daarna omsien.”
Met die besorgdheid van ’n moeder in haar hart stap Elise die groothuis, soos dit bekend staan, uit en tref haar seun op die stoep aan waar hy peinsend voor hom staan en uitstaar. Vir die eerste keer besef sy dat nie net Nols se lewe hierdeur ontwrig is nie. Dit raak hulle almal, miskien nog die meeste vir Janneman. Die twee broers was nog altyd baie na aan mekaar, en met hernieude kommer in haar hart wonder sy hoe hierdie ding hulle verhouding gaan beïnvloed.
Sy sit haar arm om sy middellyf en hy druk haar ’n oomblikkie vas, sê sag: “Ek voel verskriklik sleg oor hierdie ding, Ma.”
“Ons voel almal jammer, my seun, maar hoekom sleg voel? Jy dra tog geen skuld …”
“Maar ek vóél skuldig. Dit voel vir my dis ék wat Nols van Paradys beroof het. Ek is die een wat hom nou uitdruk …”
“Maar dis onsin, Janneman! In werklikheid sou jý beroof gewees het as Oupa nie hierdie ding reggestel het nie. Paradys kom jóú werklik toe.”
Hy skud sy kop. “Ma, ek verstaan nog nie kop of stert van hierdie hele besigheid nie. As Pa dan nie Nols se pa is nie … wie ís dan sy pa?”
Elise aarsel. Dis so ’n delikate saak … Maar die waarheid sal die een of ander tyd moet uit. “Ons weet nie, Janneman,” erken sy dan sag.
Sy oë kyk ongelowig op haar af. “Wéét nie! Maar hoe is dit moontlik?”
“Lida, Nols en Isabé se ma, was op ’n buitelandse toer toe sy ’n man ontmoet het op wie sy dolverlief geraak het. Die dag toe hulle terugkom in Suid-Afrika, ontdek sy eers op die lughawe dat ’n vrou en twee kinders op hom wag.”
“So ’n lae lak! Maar Pa … hoe het hy dan so gou in die prentjie gekom?”
“Hy het haar ’n paar dae nadat sy terug was, op ’n partytjie ontmoet. Hulle