Tuiskoms. Irma Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Irma Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624053729
Скачать книгу
luister nog.

      “Nou, dis die begin van my moeilikheid: Grant het highlights in sy hare – sien, hulle skool laat dit toe – en buite skool dra hy ’n oorbel, en Pa . . . nou ja, jy weet mos.”

      Lady Jane verstaan.

      “En dis nog nie die einde nie: Grant het nie ouers soos in ouers nie. Hy het ’n ma en ’n pa, maar hy woon by sy ma en sy pa is in Johannesburg of êrens.”

      Lady Jane lyk of sy wil vaak raak, so sy verduidelik vinnig.

      “En die grootste moeilikheid wat ek het, is: Nie sy ma óf sy pa gaan die naweek saam nie. Dis net hy en sy pelle en ’n klompie girls wat gaan. En ek wil so graag ook gaan, maar Ma sal beslis nooit ja sê nie. En nou val dit nog op Vadersdag ook. En jy wéét hoe is Ma oor sulke goed.”

      Lady Jane verstaan: Sy strek haar pootjies uit, druk haar sagte lyfie onder Petronel se ken in en maak sagte spingeluide, maar sy het ook nie raad nie.

      Uiteindelik weet Petronel: Sy sal maar met haar ma moet praat. Dis jammer haar ma het nie so ’n kar soos daai outjie in die TV-advertensie se pa nie, dan kon sy haar ook gevra het net wanneer sy haar by die skool drop. Maar nou ja. Sy wag tot ná aandete, help afdek én skottelgoed was. Nou behoort haar ma meer chilled-out te wees.

      “Mamma, ek wil iets by Ma hoor.”

      Haar ma lyk agterdogtig, nie geïnteresseerd soos sy gehoop het nie.

      “Ja?”

      “Grant het my gevra om hierdie naweek saam met hulle strandhuis toe te gaan.”

      “Gaan sy ouers saam?”

      Sy glo dit nie – haar ouers is telepaties verbind. “Nee, Mamma, net ’n groep van ons vriende.”

      “Gaan enige volwassene saam?” gaan haar ma meedoënloos voort.

      Petronel loer na haar pa vir moontlike ondersteuning. Maar hy kruip agter sy koerant weg. Sy is alleen in die leeukuil.

      “Nee, Mamma. Maar Grant het al sy rybewys en hy . . .” Maar sy weet reeds: Verloor is haar voorland.

      “Wat dink jy gaan ek sê, Petronel?”

      “Ek dink Ma gaan nee sê.”

      Sy knik. “En hoekom sal ek nee sê?”

      Sy sug. “Omdat ons nie alleen kan gaan nie.” Maar nou word sy kwaad. “Omdat Ma ons nie kan vertrou nie. Omdat ek nooit iets mag doen wat al die ander kinders mag doen nie. Omdat . . .”

      “Petronel, ek is regtig nie nou lus vir een van jou vloermoere nie. Die antwoord is nee.”

      Petronel is woedend, soos in witwarmwoedend. (Sy moet daai woord onthou vir haar volgende opstel – mooi alliterasie, sal haar Afrikaans-meneer sê.) Sy storm op kamer toe en slaan die deur dat die kranse antwoord gee. Dan sit sy haar musiek aan – hárd. En sy maak haar vensters oop. Nou sal iémand in die huis antwoord gee.

      Niemand reageer nie.

      Sy loop sommer weg, dan kom haar gesig ook op die melkbokse.

      Sy wens sy kon vir Grant bel. Hy is al een wat haar regtig verstaan. Of miskien eers vir Melissa, sy het net soveel probleme met haar ouers. Maar nee, sy wat Petronel is, het mos nie ’n selfoon nie – moet alewig van die huisfoon af bel. Sy is ál een in haar klas wat nie ’n selfoon het nie. Sy vermoed sy is al een in die skóól wat nie ’n selfoon het nie. En sy kan nie gló haar pa help haar nie eens ’n bietjie nie – ’n man moet tog sy dogter help as haar ma totaal onregverdig is.

      Ná hokkie die volgende middag wag sy vir Grant. Hy en ander ouens oefen op sy skool se rugbyveld, sy kan hom sien van die pawiljoen af. Hy is soos in gorgeous. Ná oefening stort hy altyd eers. Sy bly in haar hokkiedrag, want die rompie is darem ’n bietjie korter as haar skoolromp. Hy stap saam met haar tot by die blok voor hul huis, daar draai hy links. Hy stoot sy fiets en balanseer hul tasse en sportsakke op die handles en die carrier.

      “Grant, ek het ’n dilemma, ’n tameletjie.”

      “ ’n Wát?” Haar taalkreatiwiteit oortref sy taalvermoë. Dis nogal jammer.

      “ ’n Moeilikheid.”

      “Nou hoekom sê jy nie so nie? Wat?”

      “Ek weet nie of ek die naweek sal kan saamgaan nie.”

      “Jy wéét nie, of jy weet jy kán nie gaan nie?” Hy lyk kwaad.

      “Ek dink ek weet ek kan nie.”

      Hy is woedend, soos in vlam-ore-skiet-oë woedend.

      “En jy sê my nóú? Soos in Donderdagmiddag, as ons soos in môre al ry? Waar de hel dink jy moet ek soos in nóú ’n ander chick kry? Of het jy ge-anticipate ek moet soos in alléén gaan?” Hy praat in hoofletters. Sy stem slaan plek-plek skoon deur.

      Dit word ’n moerse fight.

      En sy kan nie eens vir Melissa bel nie.

      Tuis besef sy: Ek haat my ouers. Ek het nie gedink dit sal ooit met my gebeur nie, maar ek moet dit erken: ek haat hulle. Hulle het my social life totaal geruïneer. (Sy hou van die woord “ruïneer” – dis beeldend. Sy moet dit in haar volgende opstel inwerk.)

      Sy besef ook: Ek sien nie kans om vanaand, óf die res van die naweek, óf moontlik vir ’n onbepaalde tyd, saam met hulle aan een tafel te sit en eet nie – dit sal beteken ek moet ’n moordkuil van my hart maak. (Onthou daai een ook.) Sy besluit: hulle sal my nie eens, soos daardie voëlverskrikker-girl in die TV-advertensie, met Kentucky Fried Chicken hier af kry nie. Sy weet: Iemand gaan nou-nou kom klop, vra of sy wil kom eet. Sy sal dit ignoreer. Later sal haar ma (nee, eerder haar pa) ’n skinkbord kos boontoe bring. “Meisie,” sal hy sag by die deur smeek, “eet asseblief hierdie kos. Jy kan nie honger gaan slaap nie.” Sy sal die kos net daar los – dit sal al die miere in die buurt lok.

      Niemand kom roep haar nie. Niemand kom smeek nie.

      Dis seker vir hulle lekkerder as sy nie by is nie.

      Minstens kan sy môre by die skool vir Melissa vertel. Minstens kan hulle nie ook by die skool interfere nie.

      Sy doen haar tuiswerk. Sy wonder wat het vandag op Bold gebeur – selfs Melissa het ’n klein TV in haar kamer. Sy word honger. Sy lees haar voorgeskrewe boek klaar – orraait vir ’n voorgeskrewe boek, maar eintlik ook maar ’n bietjie boring. Sy gaan slaap sonder om tande te borsel.

      Eenuur word sy wakker. Haar maag raak aan haar rugmurg. Hulle sal waaragtig nog die oorsaak van my anoreksie word, dink sy terwyl sy by die trappe afsluip. Dalk besef hulle dán wat hulle aan my gehad het.

      Daar is nêrens ’n bord kos vir haar opgeskep nie. Lady Jane en Ore het seker haar deel ook in hul bakke gekry. Sy vat twee snye brood, smeer appelkooskonfyt op, sit dan dik snye kaas bo-op en skink ’n glas melk. Sy weet nie wanneer sy weer die geleentheid sal kry om ordentlik te eet nie.

      Vrydag verbeter die situasie nie. Melissa luister met ’n halwe oor na haar penarie (lekker woord), want sy wil eerder vertel: JP (gorgeous JP) het haar gevra om Saterdagaand te gaan fliek. Melissa lewe in haar eie seepbel.

      Vrydagaand is lank, baie lank. Sy het Bold gemis, en nou nog die heruitsending van Friends ook. Sy het nie iets om te lees nie. Sy gaan never op ’n Vrydagaand tuiswerk doen nie – dít sal haar lot as social failure finaal verseël. En dit word al hoe moeiliker om kos in die hande te kry.

      Sy kan nie glo haar pa is so ’n harde mens nie. Haar ma, ja – kleintyd het haar ma hulle goed bygekom met die pantoffel. Maar haar pa? Dit worry haar.

      Saterdag is erger. Hokkie help, ook die snoepie by die skool. Die middag tan sy haar bene, die aand is ’n donker gat van boredom.

      Sy soek tussen die boeke op haar rak.

      Petronel is ’n woordmens – gaan waarskynlik eendag ’n gevierde skrywer word. Sy weet dit al van kleins af. Haar Afrikaans-onderwyser sien haar potensiaal raak. Al een in haar familie