Tuiskoms. Irma Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Irma Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624053729
Скачать книгу
die venster uit saam met jou lag, dink sy opstandig.

      Die blonde bom wat aan die kroegtoonbank hang, laat die aand finaal in skerwe op die vloer lê. Sy sien vir Giovanni voordat hy háár sien. Sy pyl op hom af.

      “Gio! Ek dog jy is uit op ’n date?”

      “Goeienaand, Claudia. Kan ek jou voorstel aan die nuwe liefde in my lewe? Dit is nou Eusía. Maar julle het seker al ontmoet?”

      Eusía se mond val oop. Gelukkig Claudia s’n ook, en Eusía s’n gaan eerste toe. “Goeienaand,” sê sy.

      Toe hulle terugstap, betig sy hom: “Jy het gejok. Dis nie reg nie.”

      “En jy het ook gejok, die hele aand al, selfs vir jou ouma!” Sy oë terg heeltyd. “Nou sal jy maar verder moet saamspeel.”

      “Maar dis nie reg nie,” sê sy streng.

      “Jy’s reg,” kom dit gemaak ernstig. “Kom ons geniet dit nogtans.”

      “Maar wat van Claudia?”

      “Hoe gouer Claudia besef ek stel nie belang nie, hoe beter vir albei van ons,” sê hy.

      Dit word ’n vreemde aand – ’n aand waarop Oumie byna nooit met haar praat nie, net blinkoog na die groot Italianer langs haar luister. Dit word ’n aand waarop haar humeurige baas vermurwe voor haar ouma se sagte glimlag en hy teer herinneringe opdiep. Dit word ’n aand waarop hulle baie wyn drink en eksotiese kosse eet – en ’n aand waarop sy met Giovanni dans, in sy arms dans.

      Sy voel die hele aand Giovanni se hand op haar kaal rug. Sy is in die waai van sy arm, sy ander hand toegevou om hare. Sy volg die bewegings van sy lyf, sy voel die ritme van die musiek deur haar pols, sy volg hom waar hy lei. Hulle deel grappies, probeer saam verspotte bewegings, lag saam voordat hy haar vinnig in die rondte swaai en haar dan weer styf teen sy lang lyf vasdruk. Hulle dans totdat hul lywe een word.

      Teen elfuur staan Vittorio Venucci op. “Giovanni, jy ry saam met Eusía, sy kan jou by jou woonstel gaan aflaai. Ek neem vir Eufesia terug met jou motor.”

      Giovanni se oë glinster. “Het ek en Eusía ’n sê?”

      Sy oupa kyk hom verbaas aan. “Nee,” sê hy.

      Toe hulle later – baie, baie later – na sy woonstel ry, sê Giovanni: “Dit was regtig ’n aand om te onthou.”

      “Ja,” antwoord sy tevrede, “ek dink nie my Oumie gaan meer eensaam wees nie.” Sy hou voor sy woonstelblok stil.

      Hy draai na haar en sy gesig is ernstig. “Ek praat nie net van húlle nie, Eusía.”

      Sy sit doodstil.

      “Dit was vir my ook ’n . . . baie besonderse aand.”

      Sy sit doodstil.

      “Dink jy ons kan nog sulke aande hê, ek en jy?”

      Sy sit doodstil.

      “Hoekom praat jy nie?”

      “Ek is bang die seepbel bars,” sê sy met haar mooiste glimlag.

      En toe sy mond op hare sluit, weet sy hy was reg: Dié aand sal almal van ons baie lank onthou.

      Petronel se dilemma

      Petronel het ’n moeilikheid, soos in ’n groot moeilikheid. Nou nie in die klas van “wat gaan ek volgende civvy-dag aantrek” of “hoe raak ’n mens binne vyf minute van hierdie karbonkel op jou neus ontslae” nie. Moeilikheid soos in wat haar broer sal noem ’n dilemma, of wat haar Afrikaans-meneer sal noem ’n tameletjie. Sy verkies “tameletjie” bo “dilemma”, want dit is ’n taai spul, eintlik nog ’n erger spul as dít.

      Sy moet baie, baie dringend iets omtrent haar moeilikheid doen. Dis al Woensdag. Miskien moet sy dit eers met haar broer bespreek.

      “Lourens, ek het ’n dilemma.”

      Haar broer lyk beïndruk. “Ja?”

      “Eintlik ’n tameletjie.”

      Hy lyk nog meer beïndruk. “Ja?”

      “ ’n Taai tameletjie.”

      Hy begin geïrriteerd lyk. “Ja?”

      “Grant het my gevra om die naweek wat kom saam met hulle strandhuis toe te gaan.”

      Hy lyk verveeld. “En?”

      “En dit val nog op Vadersdag ook.”

      “En?”

      “En ek weet nie of Pa my sal laat gaan nie.”

      Hy kyk weer na die rekenaarskerm voor hom. “Vra hom.”

      “En as hy nee sê?”

      Hy lyk nou erg gesteurd. “Dan bly jy.”

      Sy weet nie wat die nut van ouer broers is nie. Selfs al is hulle op universiteit, is hulle selde van enige hulp.

      Miskien kan haar suster help.

      “Tinka, ek het ’n dilemma – eintlik ’n tameletjie.”

      “Kom by die punt, ek moet gaan.”

      “Grant het my gevra om hierdie naweek saam met hulle strandhuis toe te gaan.”

      “Wie’s Grant?”

      “Matriek-ou.”

      “Forget it. Pa sal miskien nog, Ma nooit. Vra my: been there, done that. Buitendien, dit val op Vadersdag.” Einde van gesprek.

      Maar iets moet sy doen, en gou. Dan maar haar pa probeer. Tinka is reg: hy is ’n sagter target.

      “Pappa, ek het ’n moeilikheid.”

      Haar pa lyk dadelik besorg. “My poppie, watse moeilikheid?”

      Sy wil nie eintlik meer haar pa se poppie wees nie.

      “Grant het my gevra om hierdie naweek saam met hulle strandhuis toe te gaan, Pappa.”

      Haar pa lyk ’n bietjie verward.

      “Wie’s Grant?”

      “Matriek-ou, Pappa.” Haar pa hou daarvan as sy altyd sê “Pappa”, sy moet net haar stemtoon poppierig hou.

      “Vriend van jou?”

      “Ja, Pappa.” Eintlik meer, maar dis nie nou belangrik nie.

      “In julle skool?”

      “Nee, Boys’ High, Pa. Maar sy pa is Afrikaans, hy ook.”

      “Waar is die strandhuis?”

      “Margate, Pa.”

      “Gaan sy ouers saam?”

      Oukei, hier gaan ons. “Nee, Pappa, dis net ’n groep van ons vriende wat gaan.”

      “Gaan ’n onderwyser saam?” Haar pa is sowaar ernstig!

      “Nee, Pappa . . .” Sy begin vermoed sy is aan die verloor.

      Haar pa lyk bekommerd. “Ek weet darem nie.”

      Petronel trek ’n vreeslik ongelukkige gesiggie – dit werk soms met haar pa, nooit met haar ma nie.

      Dit werk. “Ons sal maar moet hoor wat Mamma sê.” Haar pa het nooit daaraan gedink dat dit Vadersdag is nie. “Maar ons sal beslis eers jou vriend en sy ouers moet ontmoet . . .”

      Nou weet Petronel dat sy ’n gróót moeilikheid het. En al een wat regtig sal verstaan, is Lady Jane.

      “Lady Jane, ek het ’n moeilikheid, ’n dilemma, ’n tameletjie, noem dit wat jy wil.”

      Lady Jane luister.

      “Grant het my gevra om hierdie naweek saam met hulle strandhuis toe te gaan.”

      Lady