Brouhaha. Eben Venter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Eben Venter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780624051114
Скачать книгу
wens hom geluk met die aankoop van Rietfontein. Ek dink hy weet ek bedoel dit. Frank Uitlander sê hy gaan sy bes doen op die plaas, hy gaan baie mooi na die veld kyk. Al probleem is, hulle het nie eintlik meer geld oor om vee aan te koop nie. Hulle gaan maar by die Landbank moet leen. Toe sê ek: “Dis maar hoe die meeste boere maak.”

      Hy en sy pa maak eers ’n bietjie skoon hier op die werf voordat hulle intrek. Sy pa kom ook aangestap, met ’n hark in die hande. Die ou mnr. Uitlander vertel my dat hy destyds in Van Ryswyk gewerk het, die handelshuis wat later afgebrand het. Hy het my oupa geken, my pa en al my ooms; hy onthou hulle almal. Ek is verbaas, maar ook nie; ek het gehoor die Uitlanders is ou inwoners van Burgersdorp. Die ou man kan terugkyk oor die geskiedenis van my en sy mense op die dorp, na die fel skeiding tussen ons en alles wat dit meegebring het, en hy kan my plaas soos ek dit onmoontlik met hom kan doen. Dit dwing my tot beskeidenheid.

      Ek vra of ek na die graf kan gaan kyk. In my agtersak het ek ’n halfjack whisky. ’n Vriendin van my het my aangeraai om saam met my pa ’n dop te gaan maak, whisky saam te vat as dít is wat hy teen die einde van sy lewe graag gedrink het. Ek gaan sit toe halfboud daar op die ringmuur in die begraafplaas en sluk net so uit die bottel. Ongewone ding vir my om te doen helder oordag, maar dit voel reg.

      Natuurlik kan ek nie “saam met my pa” ’n dop drink nie; sy siel het lankal elders ingetrek. Ek praat maar liggies met hom. Hy sal bly wees oor die huidige eienaars van Rietfontein. Die Uitlanders gaan na die plaas kyk, die hekke nie sommer laat ooplê nie, die veld nie vertrap nie.

      My pa het graag die besitterskap van grond verduidelik met die woord “rentmeesters”. Hy het gesê die Here het net vir ’n rukkie die grond aan jou gegee om daarvoor te sorg, grond kan nooit aan jou behóórt nie. Daarom moet jy die veld en ondergrondse water oppas. Ek sê vir hom ek dink die Uitlanders het gekom om te boer – hulle is die nuwe rentmeesters. Grond wat so lank in die hande van wit mense was, word nou betrek deur ander ou inwoners van die streek. Hulle het oor die destydse skeiding getree, ’n klein historiese oomblik om saam te vier.

      Ek skroef die bottel toe en maak die hekkie van die begraafplaas agter my toe en loop oor die grasperk terug. Ek het die branderigheid van whisky by my keelgat af en ek is tevrede. Ek het sielerus, my oorlede pa ook.

      Ek groet en vra vir die ou mnr. Uitlander of dit goed is as ek van tyd tot tyd die graf kan kom besoek. Toe sê hy: “Hoe kan ons nou nee sê,” en konfronteer my opnuut met sy eerlikheid.

      *

      Johannesburg … en Johannesburg

      “Dis waar swart mense kom om ’n lewe te probeer maak.” Só word in die rolprent Jerusalema oor Hillbrow gesê. Die fliek gaan oor die kaping van woonstelblokke deur ’n swaar gewapende bende.

      Ek het die afgelope tyd deur twee Johannesburge gery – die eerste slag deur Hillbrow, Yeoville en toe die middestad. Niks moois nie, niks om op trots wees nie. Net ’n vuil, gehawende onderbroek wat uitsteek.

      Dit was ’n Sondag en mý versoek om na die middestad te gaan kyk. Ek wou sien wat van my ou uithangplekke geword het. Gaan Johannesburg dit maak as ’n inwoonstad, lewensvatbaar bedags, selfs ’n bietjie tintelend saans? Dit was ’n hopeloos naïewe vraag, besef ek nou.

      Ek en twee van my vriende, gesoute Johannesburgers, trek weg uit die noordelike voorstede waar katjiepiering en geparfumeerde seringbloeisels die lente aankondig.

      Ons ry verby die Wilds, die botaniese tuin, en die stad word net so effens rowwer. Die witgerypte grasperke moet nog herstel en die tuin is lankal verbode terrein. Gaan kyk na die aalwyne, en jou kop waai.

      Ons ry Hillbrow met Claridgestraat binne, en nou word die stad nóg ruwer. Kwaai son op beton, min groen, maar dit maak Hillbrow nog nie anders as in die ou dae nie.

      Dit is die verval van die beton en die aftakeling van dit wat nog bly staan het wat ’n mens opval.

      “Ek het in daardie woonstel in Clarendonsirkel gebly, elegante ingangsportaal, stylvolle badkamerkrane,” vertel my vriendin. Nou’s die woonstelblok skaars herkenbaar, ’n krater.

      Daar is ’n wemeling van mense op straat, ín die straat, oral stalletjies op die sypaadjies, ’n volkome verwisseling van inwoners sedert die laat jare tagtig.

      Niks wit gesigte meer nie, niks van die ou Joodse tannies met klein brakkies op pad om melk te koop by Highpoint nie, niks van die Indiërs wat die uitstekende tydskrifwinkel Estoril bedryf het of die Midde-Oosterlinge met hulle MiVami waar jy die vetste falafels ná middernag kon kry nie, niks meer oor van die heel eerste Exclusive Books net onder straatvlak nie, absoluut niks oor van die teater aan die einde van Pretoriastraat waar jy na Jacques Brel se liedere kon gaan luister en dink jy’s op die mees polsende plek op aarde nie.

      Van al die ou bakens, noem dit klein flikkeringe van kultuur as jy wil, is daar boggherol oor.

      Ons bestuurder sit voet neer in sy Corolla, ondanks die voetgangers. By rooi ligte stop hy net lank genoeg om veilig te wees.

      “Ek het al ’n film hier geskiet,” sê hy. “Jy’t ’n lyfwag nodig, of twee, maar selfs dan word jou kameras en goed gesteel.”

      Ons ry in Abelstraat, Yeoville se kant toe. Hier staan woonstelblokke wat lyk soos in Gasa, behalwe dat hier nooit ’n oorlog gewoed het nie. Van hulle is uitgebrand en sonder ’n enkele raam of kosyn, op straatvlak is venster- en deur-openinge met baksteen en sement toegestop.

      Voor ’n eertydse gewelgebou wat uitgehol en treurig daar staan: ’n mark met plastieksakke vol tamaties en hopies aartappels en uie en kool en sulke goed. Ook ’n spierwit BMW reg voor.

      “Dis jou boek, man,” sê my vriende, “dis Horrelpoot wat waar geword het. Dis die totale ineenstorting van die infrastruktuur van ’n stad, dis mos wat jy wou beskryf. Die groot Afrika-stede het na die suidpunt verhuis.”

      Ons sien ’n jong man, ’n sangoma, wat voor ’n staaldeur wag; bo-op die staaldeur golf lemmetjiesdraad waarin plastiek en sementsakkies vasgedraai is. Ons sien nog stalletjies met groente en sjampoe en sulke alledaagse benodigdhede.

      Ons sien ’n vrou leun teen ’n siersteenmuur, silwerskoon in haar ZCC-uniform, ’n Bybel in haar hande. Dit lyk of dit by Openbaring oopgevou kan wees.

      “Hoor daar,” sê ons bestuurder toe ons verby ’n parkeergarage onder een van die blokke ry, “daar word kerk gehou. Kultuur gemaak, elke Sondag.”

      Ons sien haarkappers op die sypaadjie, vir mans, maar meestal vir vroue. Ons sien jong mans wat mooi aangetrek uit ’n hool stap. Toe die een in ’n rooi polohemp my sien mik met my kamera, is so ’n klein, beledigde handaksie sy spontane refleks.

      Dit is wat jy maar moet vashou terwyl jy so deurry en kyk: Hier bly mense. Hulle eet en slaap en werk hier. Hier bid hulle tot hulle God. Ek probeer só, menslik, begrypend, aan dié woesland dink waardeur ons ry, maar dis donners moeilik. Trap rem, gee vet, swenk, rem weer. My vriend weet net hoe om ons veilig in en uit te kry. Geen illusies nie; as jy hier uitklim en lyk of jy iets het, enigiets, gaan jy jou gat sien. Of nie eens kans kry om dit te sien nie.

      Uit Somalië, Ethiopië, die Ivoorkus, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Zimbabwe en Nigerië kom die mense aan. Op soek na blyplek en werk en ’n ordentlike lewe in ’n land met ’n werkloosheidsyfer wat, konserwatief bereken, op 30% staan. Die mense van Afrika het Hillbrow vir hulle kom vat.

      Hulle beskou hulle besitterskap as nie-onderhandelbaar. Eenkeer het ’n Anglikaanse priester van Kaapstad my daaraan herinner dat wat ek as ’n armoedige eenvertrekkrot sien, vir ’n ander mens ’n eerste, gewaardeerde en selfs trotse woonplek kan wees.

      In Rockystraat ry Darrell nóg vinniger. Tik, dagga, kokaïen, MDMA, Mandrax, enige tyd van die nag of dag. Laat jou kar net effens langer op een plek staan en luier en daar kom hulle, die manne met hulle ware.

      Op linkerhand is ’n netjiese markgebou opgerig met grasgroen mure en oordakke van sparre. Boerpampoene en spinasie, al daardie gesonde goed te koop, maar dis nie met die beeld van daardie moedige mark waarmee