Brouhaha. Eben Venter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Eben Venter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780624051114
Скачать книгу
sowel medepligtige as slagoffer was. En boonop die skrywer van sy diaboliese boek. In 1951 het Tadeusz Borowski selfmoord gepleeg.

      We climb inside. In the corners amid human excrement and abandoned wrist-watches lie squashed, trampled infants, naked little monsters with enormous heads and bloated bellies. We carry them out like chickens, holding several in each hand.

      Pole, Hongare, sigeuners, Grieke, Franse. Die mense moes almal help met die administrasie van Birkenau. Maar kyk nou op ’n snerpende wintersdag heen oor daardie sneeu-bedekte pad wat tussen die barakke loop, na ’n kommando werkers wat aangeja word deur ’n Kapo, ’n medegevangene, gewoonlik ’n Duitse misdadiger wat verhef is tot ’n soort onderoffisier, en jy herken lank nie meer jou ma of jou kind of jou vriend, enigiemand, manlik of vroulik, nie. Kaal koppe in streeppajamas, almal gestroop tot ’n nommer. Die verontmensliking was volkome.

      Ek en Paweł stap aan deur die barak. Aan al twee kante van die gangetjie is drie verdiepings houtbeddens onder ’n kaal sinkdak. Aan die einde van die gangetjie staan ’n antieke keramiekverwarmer, die enigste mooi ding wat ek in Birkenau gesien het. Daar is slegs ’n paar ander besoekers in die barak; die meeste sien nie kans vir meer as die afgryse van Auschwitz nie. En steeds die gelaaide stilte. Dis byna onmoontlik om jou nié in te leef nie: ongewaste lywe bo en onder jou houtbed; die Poolse winter wat doodskoue dra; die angs vir wanneer die SS-wagte jou uitjaag na die rooktorings waar die reuk van brandende vlees in die lug hang.

      “In Oświęcim kon die mense dit ruik. Hulle het nooit geweet wat presies daar aangaan nie.” Ek het niks hierop te sê nie. Ek kyk op en lees wat teen die muur van die barak geskrywe staan: Eine Laus dein Tod. Een luis beteken jou dood.

      Ons stap uit en kom weer op die pad tussen die rye barakke. Ek sê vir Paweł dis eers genoeg vir my, ons kan maar terugdraai. Maar weer sê hy nee, ek moet deur die hele kamp stap; dis my lewensopvoeding. Tot daar ver aan die einde, tot by “Kanada” en die ruïnes van die gaskamers, die “sauna”, en die dam waar die water volgens hom nou nog die grys, stinkende doodsheid van verbrande lyke hou.

      By “Kanada” word goud en silwer ten toon gestel saam met edelgesteentes en horlosies. En teen die mure hang foto’s van ’n ganse familie waarvan nie ’n enkele lid die konsentrasiekamp oorleef het nie: grootouers, ouers, kinders, tantes en ooms en naaste familielede verder langs die stamboom af.

      Maar wat my veral bybly, is die feit dat jy tussen die uitstallings op loopbrûe van glas loop, verhewe bo die oorspronklike vloer. Terwyl jy dus kyk na die ontstellende foto’s, vrees jy heeltyd dat die glasvloer onder jou gaan breek.

      Loop op glas: Jy is onseker van jou trap, dit voel of jy gaan inval en nooit weer daar uitkom nie. Die sielkunde van die Birkenau-gevangenes word só gedupliseer. My senuwees was naderhand op.

      Ek móés daar uitkom, maar die uitgang is nie ’n vinnige besigheid nie. Al langs die lang treinspoor, tussen die rye en rye barakke, moet jy nou terugloop tot by die Doodshek reg aan die anderkant van die kamp. En die afgryse die hele tyd langs jou, op die treinspoor: The morbid procession steams on and on – trucks growl like mad dogs. I shut my eyes tight, but I still see corpses dragged from the train, trampled infants, cripples piled on top of the dead, wave after wave … freight cars roll in, the heaps of suitcases and bundles grow, people climb out, look at the sun, take a few breaths, beg for water, get into the trucks, drive away. And again freight cars roll in, again people …

      *

      Ná ons besoek gaan geniet ons koek en koffie en vodka by Paweł se oupa en ouma. Sy ouma het spesiaal gebak: sernik (kaaskoek) en makowiec (papawersaad-rolkoek) en jablecznik (Poolse appelkoek). Ons praat en lag, maar kan nie help om te probeer sin maak van die dag se belewenis nie. Het die mensdom die lesse geleer van die slagting?

      Nog ’n rondte Zubrowka-vodka vir almal. Onthou, as die bottel eers oopgemaak is, mag jy die doppie nie terugskroef voordat hy dolleeg is nie. Verdere besinning. Op 27 Januarie 2005, by die herdenking van die bevryding van Auschwitz-Birkenau, het die destydse Israeliese president, Moshe Katsav, na Auschwitz verwys as die grootste begraafplaas van die Joodse mensdom. Uitdruklik waarsku hy teen die herlewing van antisemitisme en beklemtoon dat die huidige geslag wêreldleiers moet seker maak dat die lesse van Auschwitz nooit vergeet word nie.

      Tog was daar weer sulke vergrype: In Kambodja het Pol Pot drie miljoen mense vermoor. En op ons eie vasteland was daar die slagting in Rwanda. En wat is Gasa en die Wesoewer met sy apartsheidsmuur anders as verontmenslikte ghetto’s?

      Ons klink ons glasies: ironie, sinisme en vodka, dié drie bly oor.

      *

text2.tif image1.tif

      Beesslag lank, lank gelede

      Die aand voor beesslag was daar so ’n gevoel van opwinding. Dit was winter, die beste tyd om met vleis te werk, want dan is daar nie brommers nie. In die kombuis het al die bestanddele vir die wors reggelê: heel koljander, neutmuskaat, naeltjies en visderms in ’n emaljeskottel vol water. En die slagmessse op ’n ry. Soos ek kan onthou, is hulle eers die volgende oggend geslyp deur ’n ou Xhosaman, Arnols, op ’n smal leiklip met so ’n egalige saggrys kleur.

      Beesslag het die alledaagsheid verbreek. As jy tussen die flennielakens ingekruip het, het jy geweet as die son môre so teen sewe opkom, gaan dit anders wees op die plaas. Die opwinding het ook te make gehad met die verantwoordelikheid om so baie vleis te verwerk. My pa wou dit alles reg doen, my ma wou haar worsmengsel net reg meng, ons kinders het elkeen take gehad. Net reg – daar was nie veel ruimte vir foute nie.

      Die vorige aand is die klompie beeste al in die kraal geja dat hulle rustig kan raak. Jy wil nie spanning in die spierweefsel hê nie, want dit maak die vleis taai. En hy moet ook nie verder vreet nie sodat die pens effens leër kan raak. Die slagbees, gewoonlik ’n ossie, is op droë lusern en mieliemeel ekstravet gemaak. Op die .303-koeël was sy naam reeds geskryf – so sou ’n mens seker vandag daaroor praat. Ons het nie. Daar was respek vir daardie bees, vir al die diere op die plaas. Is vanjaar se slagbees vet, is hy moddervet? So is daar gepraat. Die regte bees op die regte tyd van die jaar met die regte hande om hom te bewerk. Dit was alles belangrik.

      Dis hard en koud op ’n wintersoggend in die Oos-Kaap: Die grond onder jou skoensole is kliphard, die punte van jou ore en vingers val af. Al is die waterpype ook met goiingsak toegedraai, kan die water steeds verys wees. My ma het die vorige aand die grootste kastrolle met water laat volmaak, anders is daar eers teen elfuur die oggend water en dis ’n gesukkel.

      Die kraalhek swaai op sy hingsels oop en die beeste word op ’n trop gehou, wit asem by hulle neusgate. Met fluit en sweepklap word die slagbees vorentoe gedruk en my pa lig die .303 teen die skouer van sy duffeljas. Daar kom ’n gemalery onder die beeste, die loop van ’n geweer beteken gevaar; die diere is nie dom nie. Daar is kwaai druk op my pa, en hy trek los, ongeduldig. “Manne,” skreeu hy. As die slagbees nie uit die bondel kom nie, kan hy mos onmoontlik sy mik inkry. Onthou, die koeël moet reg tussen die twee oë van die bees ingaan sodat die vleis nie deur onnodige bloeding beskadig word nie. Dis sy trots om daai bees reg te skiet – so is dit van sy oupa se tyd af, oupa Willem-Frederik van die plaas Klipfontein in die Stormbergkontrei.

      Die skoot klap, die koeël gaan reg op die wit bles die os binne. Hy hik soos hy neersyg, daar’s bloed en die ander beeste snuif en draai die wit van hulle oë, angstig, en gaan aan die hol. My pa lag breed, almal is verlig. Die winterson is uit, miskien so 21 °c, ’n ideale dag vir slag.

      Ons gaan eet ontbyt terwyl die vel afgeslag word, die bees oor die lengte van sy maag oopgesny en die pens en die res van die binnegoed losgeskeur en uitgehaal word. Mieliepap en koffie en roosterbrood met vanjaar se appelkooskonfyt: deur die kantgordyn van die eetkamer kyk ons hoe die honde daar anderkant op beleefde afstand wag en snuif agter die beesbloed aan. Ons sien hoe die blou kopdoek en breë heupe van Maggie, die vrou wat in ons kombuis kook, afsak en hurk en hoe sy haar skottel hou vir die bloed by die hoofslagaar uit. In Europese lande het ek later kennis gemaak