Brouhaha. Eben Venter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Eben Venter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780624051114
Скачать книгу
perpetual September,” skryf hy in September 1935, “one does one’s best to prefer Spring, in vain.”

      Hierdie ontbloting, uitgeskryf in afgeweegde woorde, kom jy egter nie maklik in ’n e-pos teë nie. En nog minder die slim konstruksie en humor van ’n sin soos die volgende, oor Beckett se loseermaat in ’n Hamburgse herberg: “And there is an Irsishman called Power, who has not been in Ireland, who was born in Gibraltar, whose home is in Peru, whose interests are in Spain & family in Marburg, whose family left Waterford, while the going was good, in the 18th century. He stood me in a vegetarian restaurant.”

      As jy nog gedink het dat daar ’n kilheid uitstraal in Beckett se beroemde drama, Wag op Godot, wat die grense van twintigste-eeuse teater verskuiwe het en soos byna geen ander drama steeds relevant en eietyds klink, weerspreek sy briewe dit volkome. Beckett se menslikheid en decency straal uit hierdie slim, deurdagte, by tye vlymskerp handgeskrewe briewe.

      Ek en my broerskind in Londen praat een Sondag op Skype. Ek draai die klein kameratjie na ons ete van bobotie en geelrys: so naby en ook so ver. Daar was nog nooit so baie onmiddellike, “werklike” kommunikasiemiddele beskikbaar soos vandag nie. En tog is die verwydering en die gevoel van eensaamheid volslae.

      ’n Handgeskrewe brief is getuienis van die mens daaragter, en as jy daardie koevert oopskeur en begin lees, het jy dit gevóél, my maat. Jy het die stem gehoor, ingebed lê dit in die woorde wat die briefskrywer so aandagtig neergeskryf het.

      Selfs as Beckett nie emosioneel daartoe in staat is om oor sy pa te skryf nie, is dit juis daardie emosie wat hy uitskryf: “Lovely walk this morning with Father, who grows old with a very graceful philosophy. Comparing bees & butterflies to elephants & parrots & speaking of indentures with the leveler. Barging through hedges and over the walls with the help of my shoulder, blaspheming and stopping to rest under color of admiring the view. I’ll never have anyone like him.” En toe sy pa ’n paar maande later sterwe, skryf hy: “I can’t write about him, I can only walk the fields and climb the ditches after him.”

      Die brief het gepraat. Vaarwel.

      *

text2.tif image5.tif

      Terug na die land van melk en moorde

      Weke voordat ek uit Sydney vertrek om huis toe te kom, begin ek my al voorberei. Dit gaan nie regtig oor wat om in te pak en wat om te los nie – ek het ’n HAT in Australië en ’n HAT in my studeerkamer in die Karoo – maar eerder oor die kopdinge. Watter perspektiewe laat staan jy en waarmee kom jy – gepantser – terug op geboortegrond en terug tussen jou mense?

      Net voordat ek vertrek, vind die jaarlikse Sydney Gay & Lesbian Mardi Gras plaas. Dit is een van die stad se groot feeste wat derduisende besoekers lok en miljoene dollars in die stadskoffers stort. Ek besef sommige lesers se keel trek teen dié tyd toe, maar luister na die punt wat ek wil maak.

      Opvallend is die boodskappe van ondersteuning voor in die amptelike program van die Mardi Gras – boodskappe van die Australiese eerste minister, die premier van Nieu-Suid-Wallis en die leier van die opposisie. Skeptici sal opper dat die boodskappe onvermydelik geraak het vanweë die groot klomp dollars wat die Mardi Gras vir die staat van Nieu-Suid-Wallis maak, maar vir skeptisisme is daar, veral wanneer jy na Suid-Afrika terugkeer, min plek.

      Die eerste minister sê die volgende in sy boodskap: “Die Mardi Gras is een van die sleutelgebeure op die Sydney-kalender en die voortgesette sukses daarvan weerspieël die kulturele diversiteit van die hedendaagse Australië.” Die leier van die opposisie stippel dié gees van verdraagsaamheid en inklusiwiteit nog duideliker uit: “Ná 32 jaar het die Mardi Gras protes aangeteken teen diskriminasie, dit het ’n sterk bewussyn van en groter steun vir mense met MIV en vigs bevorder … en bowenal is die Mardi Gras ’n viering van die mensdom in al sy verskeidenheid.”

      *

      Op sy roete tussen Sydney en Johannesburg vlieg QF64 baie naby aan die Suidpool verby. Toe die eerste sig op die koelblou suidelike seë kom, is daar ’n beroering op die vliegtuig. Baie passasiers gaan haal hulle kamera en mik deur die patryspoorte na onder: Spierwit blokke wat van ysberge afgebreek het, drywe op die koelblou water.

      “Is die blokke ys elke jaar hier of is dit ’n teken van aardverwarming?” vra ek vir een ou met ’n blou kortbroek en ’n polohemp van donkerblou rekstof. Hy lyk vir my Afrikaans en dit is toe ook so.

      “Nee,” sê hy, en “ja” sê hy en ek stap terug na my sitplek, en die kombers van skeptisisme – of, erger nog, sinisme – trek weer oor my. Ek bestel ’n 250 ml-botteltjie Kaapse sauvignon blanc en drink my beter.

      Begryp dit: As jy ’n lang ruk in Australië gewoon het, is die vlaag van negatiewe mediadekking oor Suid-Afrika oorrompelend. En ek praat nou nie van beriggewing oor krieket nie, want dit is soet doepa daardie wat jy lekker kan wegsluk.

      Boonop kom jy heeltyd in aanraking met nuwe Suid-Afrikaanse emigrante; skerpsinnige mense, goed gekwalifiseerd, mense met baie breins en baie bagasie. Die bagasie – en ek bedoel nie koffers met klere nie – is dít wat onwillekeurig saamgebring is uit dorpe en voorstede, en van plase wat nou eens en vir altyd agtergelaat is: lieflike ou herinnerings, maar toegegooi met sinisme en volslae negatiwiteit.

      Hiermee ry ek dus terug na die land van melk en moorde: die swaarwigtige perspektiewe van nuwe emigrante, die aanhoudende negatiewe beriggewing oorsee en nou nog die afgebreekte ysblokke daar ver onder. En bygeklits in die cocktail: Zuma.

      Vergelyk nou die inklusiewe boodskappe van ondersteuning vir die Mardi Gras met dié van Zuma kort voor sy verkiesing tot president: “Toe ek grootgeword het, sou ’n ungqingili (’n gay man) nie voor my kom staan nie. Ek sou hom net daar uitgeslaan het.”

      Agterna, waarskynlik op aanbeveling van sy adviseurs, moes hy die gewraakte stelling terugtrek. Maar wie’t toe in sy opregtheid geglo?

      Voeg hierby die Londense Guardian wat ’n klomp gesiene joernaliste gevra het om hulle vooruitsigte vir die nuwe jaar reg or die wêreld neer te skryf. Só het ene Jenni Steele geprofeteer: “In Suid-Afrika is daar ’n baie werklike vooruitsig dat gevaarlike etniese verskille na vore gaan tree. Sedert apartheid aan sy einde gekom het, was daar ’n ongemaklike alliansie tussen die twee dominante groepe: die Zoeloes en die Xhosas. Dit is nou besig om tot niet te gaan.”

      Dit is die eggo’s van sulke frisgewaagde beriggewing en naïewe politieke uitsprake waarmee ek terugkeer. Maar bowenal is dit die uiters swaarmoedige, nee, keelafsnyperspektiewe van ’n Afrikaner in murg en been wat my bybly. En teister.

      Ek verwys hier na Breyten Breytenbach se brief aan Nelson Mandela in die Desember 2008-uitgawe van die Amerikaanse tydskrif Harper’s. Dit is die einste maer man met die groen trui wat eenkeer lank gelede geskryf het:

      My voorouers praat met my:

      So ver soos die asem terug kan tel

      Lê die oorskot van my mense in hierdie aarde se skoot:

      Stowwerige semen,

      Ek het ’n belegging,

      hier

      ’n nederige blyke van vertroue in die oneindige ryk van die dooies.

      In Harper’s spreek Breytenbach egter sy diepe ontnugtering uit oor sy “belegging”, oor sy droom dat daar ná 1994 “in hierdie aarde se skoot” verwesenlik sou word: gulhartigheid, ekonomiese geregtigheid, kreatiwiteit, en siviele en regerende verantwoordelikheid.

      Drink die wyn klaar, maak oë toe, los maar eers vir Breyten met al sy breins en mnr. Zuma met syne. Vergeet en vergewe sommer ook en probeer slaap.

      Om by die huis te kom moet ek deur die Langkloof en oor die Swartberge ry. Daar is appelsmouse langs die pad wat melerige Jonathans reg voor jou karruit indruk, en teen die kloof se hange rooi en wit proteakelke, bitterlik mooi. Die lug is ’n silwerblou en die