En dan dink sy, sy het ’n bietjie geleef, gisteraand. Sy het ’n stukkie van alles wat verlore is, teruggekry.
* * *
Transkripsie: Meeluistering, telefoongesprek – J.N. Shabangu (a.k.a “Inkunzi”) en A. Hendricks.
Datum en tyd: 13 September 2009. 20:32
S: I have a message for Inkabi.
H: What is the message?
S: The export deal …
H: Yes.
S: The guy who wants to buy the goods, you know? He is in Cape Town. He is an Inkosi …
H: I don’t understand “Inkosi”.
S: Inkosi is a big man. A chief. You know … of a … company. How can I say? We are in the same business, this buyer and I … But his business is in Cape Town …
H: O.K.
S: We have heard that his name is Tweety the Bird.
H. Tweety the Bird.
S: That is what we have heard. So we think you can help to find him.
H: O.K.
S: And we think the goods are going to travel at the end of the month. Any time from the 24th.
H: Do you know more about the transport and the route?
S: We think it will be by truck, but the route is not sure. That is why you must find this Tweety the Bird. He will know the route. You must make him tell us.
H: O.K.
S: I will give you a number. The number will change next Sunday, and then I will call you again.
H: What is the number?
14
(14 September 2009. Maandag.)
Om 06:46, terwyl Quinn ontbyt eet saam met sy vrou en twee tienerseuns in hul huis in Nansenstraat, Claremont, kry hy die SMS. Hy kyk vlugtig na die skerm van sy selfoon, verskoon homself van die kombuistafel, stap na die slaapkamer en skakel Masilo.
“Osman is op die lughawe, op pad Walvisbaai toe,” sê hy as Masilo antwoord.
“Hoe laat vertrek die vlug?”
“Seker binne die volgende uur.”
“Dan sal ons moet wikkel.”
“Ons het net een operateur in Namibië. In Windhoek. Ek gaan hom nou bel en hoor hoe vinnig hy in Walvisbaai kan wees.”
“Dankie, Quinn … Walvisbaai? Wat wil Osman in Walvisbaai gaan doen?”
* * *
“Hoekom Walvisbaai?” vra Janina Mentz om die ronde tafel in haar kantoor. Dis 08:41.
“Invoerhawe. Vir die wapens,” sê Tau Masilo.
“Dis spekulasie.”
Masilo het voorberei. “Occam se wet sê die eenvoudigste verklaring is gewoonlik die regte een, mevrou. Ná die Ismail Mohammed-debakel sal die Supreme Committee allermins aandag op die Kaap wil vestig, hulle is nou versigtiger as ooit. Hulle weet dit gaan moeilik wees om die wapens hier aan wal te bring, en as dit skeefloop, is die fokus dadelik op hulle. Gee hulle die krediet: Walvisbaai is slim. Laer sekuriteit, goedkoper omkoopgeld, goeie vervoerverbindings deur die TransKalahari-korridor na Gauteng toe. En as ’n fout insluip, is daar min bewys van hulle betrokkenheid.”
Mentz oorweeg die standpunt, en knik. “Kan wees. Wat doen ons?”
“Osman se vlug is via Windhoek, waar hy moet oorklim. Ons het een operateur daar. Hy is reeds per motor op pad Walvisbaai toe, en hy behoort ’n uur voor Osman in Walvisbaai te wees.”
“Hoe laat kom Osman daar aan?”
“Eenuur vanmiddag.”
“Hoe goed is ons man in Namibië?”
“Sy naam is Reinhard Rohn. Dertig jaar se ervaring. ’n Ou jakkals. Sy verslae is altyd deeglik. Stiptelik.”
“Waar kom ons aan dié mense?” Maar dan frons Mentz. “As ons iemand aan die binnekant gehad het, Tau, kon ons nou drie van ons beste spanne daar gehad het om vir Osman in te wag.”
Masilo knik net, min lus vir dié argument. Dan verander hy die onderwerp: “Ons weet wie Johnson Chitepo se besending diamante gaan koop.”
Dit neem Mentz ’n oomblik om die sprong te maak. “O?”
“Die rolverdeling van hierdie drama raak al hoe interessanter. Inkunzi Shabangu het oor die naweek weer ’n oproep na die Committee gemaak met die nuus. Die nuutste byspeler is klaarblyklik ene meneer Willem “Tweetybird” de la Cruz, bendeleier van die Kaapse Vlakte.”
“Jy’s nie ernstig nie.”
* * *
“Kom, Mac, ons het werk,” sê mev. Killian net ná tienuur en rol haar stoel tot langs Milla se lessenaar. Sy wag dat MacFarland sy stoel nader ry voor sy gaan sit en die dik lêers op die blad neerlê.
“Milla, dis jou eerste grote, en ons moet iets reg hê teen môreoggend,” sê sy. “Maar moenie jou bekommer nie, Mac sal jou vangnet wees …”
Mev. Killian gee die eerste lêer vir Milla aan.
“Misdaadbendes op die Kaapse Vlakte. Hier is baie materiaal, die uitdaging is om dit alles te reduseer tot drie of vier bladsye. Een oor die agtergrond, maar fokus op die laaste dekade, die res is eintlik irrelevant. Een oor die huidige stand van sake, weer net die breë trekke, ’n kort oorsig. Onthou, ons wil vir topbestuur ingelig hê, maar ons wil nie hulle tyd mors nie. En dan een bladsy oor ’n spesifieke sindikaat: Die Restless Ravens. Nie meer as ’n paragraaf of twee oor hulle geskiedenis nie, hou die fokus op hoe hulle nou lyk, waarmee hulle besig is. Which brings me to you, Mac. You will be looking at a mister Willem de la Cruz, also known as ‘Tweetybird’ or ‘Willy’ …”
“My, my …”
“Not now, Mac. De la Cruz is the leader of the Restless Ravens, he’s the one that most concerns us …”
“As well he should. You know what they say, a tweetybird in the hand is worth …”
“Mac!”
“Come on, Mother. Tweetybird. The Ravens, Willy … Freudian, to say the least …”
* * *
Om vyf-en-twintig oor twaalf steek Quinn sy kop by Masilo se kantoor in. “Reinhard Rohn, ons man in Namibië, het nou net gebel. Hy staan in die aankomssaal van Walvisbaai se lughawe en wag vir Osman.”
“Hy weet hy moet baie diskreet wees.”
“Hy weet.”
“Hoe gaan hy Osman uitken?”
“Ek het drie foto’s na sy selfoon gestuur.”
Masilo is tevrede. “Hou my op hoogte.”
“Ek sal …” Quinn huiwer. “Advokaat, dié ding met Tweetybird de la Cruz …”
“Ja?”
“As die Supreme Committee … Hierdie hele ding kan ’n oorlog op die Kaapse Vlakte veroorsaak. As Suleiman Dolly in Pagad se ore begin fluister …”
“Ek dink nie Dolly sal só dom wees nie. Hy wil die diamante hê, en as hy kwaad stook, soek die smokkelaars dalk ander kopers.”
Quinn skud sy kop. “Ek hoop jy’s reg.”
* * *
Veertien kilometer oos van Walvisbaai – en net twee kilometer van die grens van die Namib-Naukluft Nasionale Park – lê die Walvisbaai-lughawe, ’n spikkel-oase in die plat en eindelose