Ou Vicks het my die storie vertel van die dag toe Ma op ons kleinhoewe buite Windhoek in kraam gegaan het. Op ’n Goeie Vrydag. En niemand kon die Volksie aan die gang kry nie. Omdat Pa weg was, moes Koot met ’n trekker na die buurmense ry, want die telefoonpale het in ’n fratsvloed weggespoel en die drade was nog nie herstel nie. Teen die tyd dat die oompie en die tannie van langsaan opgedaag het, het Ma al in die pakstoor probeer om self die nukkerige dieselkabaal aan die gang te kry. Dit was ’n gesukkel, want met haar boep kon sy nóg moeiliker bykom. Sy was te kort en moes half staan en bestuur, want die trok se sitplek was nie beweeglik nie. Intussen het Ou Vicks histeries gepleit: “Kleinnoi, moenie! Asseblief, Jirre-god-van-grond-en-water, asseshêmblief! Kom af daar, hoe gaan jy die briek trap?”
Die buurman het egter geblyk so dierbaar en met soveel sorg te bestuur dat Ou Vicks oortuig was ek sou gebore word nog voor hulle by die plaashek kom. En dan was dit nog byna ’n driekwartier tot in Windhoek. En die hospitaal was moeilik om te kry.
Ek het van die storie gehou, want Ou Vicks kon dit met smaak vertel. Die res van die verhaal moes sy by my ma met haar tuiskoms gehoor het, want dis waar sy geluide van verwondering maak en haar sinne uitrek asof die toneel hier voor ons afspeel: “Jy ken Wêndhoek se pad? Voor jy af by die stad, dan kom jy op daai draai en jy kyk van hoog af?” vra sy my altyd en, sou daar van haar eie kleinkinders of weglêkinders by wees, vra sy hulle ook, al was hulle nog nooit stad toe nie.
Ek sien duidelik hoe mens met die teerpad op daai spesifieke plek kom waar Windhoek doer onder in die kom sigbaar is en die geboue opstoot.
“Daar was iets in die pad.” Ou Vicks tik met haar vinger asof ons deur tyd terugblaai.
“Wat was dit?” wil ons in ’n koor van fluisterstemmetjies weet.
Ou Vicks skreef haar oë asof sy ’n openbaring van bo ontvang. “Die boodskapper.”
“Jhoehannes?” vra Meidemeidjie langs my. Ou Vicks blaas geïrriteerd en gee haar kleinkind ’n pap klap teen die kant van haar kop: “Daar was ’n dêng in die teerpad voor hulle.”
Volgens my ma se weergawe het sy haar kop in tannie Hedwig se skouer gedruk. “Het hy seergekry? Is hy dood? Asseblief, ek wil dit net nie sien nie,” het Ma gekerm. “Ry net, Oom. Ry!” Maar toe besef sy as die dier gewond is, sal die oom hom moet skiet. “Maar moet my net niks sê nie.” Ma het haar hande oor haar ore en haar oë styf toe gehou.
Oompie het stadiger gery en verbaas uitgeroep dat dit lyk of die dier niks makeer nie en die tannie sê, nee, my ma móét kyk! Net daar op die nasionale pad in middagson het ’n jong leeumannetjie op die onwaarskynlikste plek gelê met sy kop in die rigting van die aankomende verkeer.
“Hoekom het die leeu in die teerpad gelê?” wou ek altyd weet.
“Is jy pampoen?” Kamma vies gee Ou Vicks my ook ’n veeg teen die oor. Dis deel van hoe ons die storie ken. Ná elke verkeerde antwoord moet al die plaaswerf se kinders jillend koes.
“Daai tier, hy loop nie by die middag nie. Dan hy tiep saam met sy trop. Hulle lê pens en pote in die son. Ek’t al gesien. As hulle naby jou brul, knoop jou derms tot by jouse gat. Jy kannie hardlop nie. Jy’s lam geknoop vannie skrik. Vra vir Koot. Hy’t al ’n leeu by die rivier gekry toe hy klong was …”
Hoe groter die wit van Ou Vicks se oë, hoe groter rek óns oë. “Koot val van sy fiets af en hy dink hy klim die boom, maar hy sit net pis-pis daar op sy knieë. As daai tier hom wou gevreet het, dan het ons net sy plakkies opgetel.”
Maak nie saak hoeveel keer ons die storie hoor nie, óns kinders sit in ’n bondel met ons skouers van afwagting saamgetrek. “Vertel klaar!” kerm ons en trek aan Ou Vicks se moue.
Sy vat ’n lang snuif en plat haar voorskoot tydsaam. “Daai maanhaar hy loop ôkkie oppie teer waar die karre raas en mense met skietgoed hom kan sien nie, nee-nee. As jy ’n dier so verkeerde tyd en verkeerde plek sien, dan hy is die Here se praat.” Sy druk haar vinger op haar vet onderste lip sodat dit pienkbruin aan weerskante bult. Dan steek Ou Vicks altyd haar hand uit na my en vat aan my gesig op daai growwe manier waarop sy kinders sommer so soos ’n slagding aan die een arm of been oplig.
“Die koningkat, hy’t vir jou en jou ma kom wag. Hy groet jou. Jy kan maar lewe. Hy gaan jou pad vir jou spoor.”
Die deel wat ek nie vir my sussie wil vertel nie, gaan oor die foto’s wat geneem is toe ek net ’n paar dae oud was. Ek weet nie hoekom nie, maar ek wil nie hê sy moet dit teen Pa hou nie. Dis nie die pa wat sy geken het nie.
Voor Pa vlugtig sy verskyning by die hospitaal in Windhoek gemaak het, het die dokters kopskuddend by my ma se bed gestaan. Sy kon nie ophou lag nie; dit was haar groot droom om ’n horde kinders te hê. My ma het wel opgehou lag toe my pa uiteindelik opdaag. Ná die ongeluk was sy arm in ’n verband. Soos altyd het hy ’n handlanger op sleeptou gehad wat van sy pragtige vrou en hul eerste kind moes foto’s neem.
Hy was egter haastig. “Kan jy nie grimering aansit nie? Moet ek iemand kry om jou hare te kom doen?”
Nadat die foto’s ontwikkel is – toe Ma al by die huis was met my – het my pa glo een kyk daarna gegee en hulle in die olifantpoot-snippermandjie gegooi.
“Wat maak jy nou? Ek soek die foto’s, asseblief,” het my ma verward probeer keer.
“Jy en die kind is albei te vet. Word eers weer maer, dan reël ek ’n professionele fotosessie met ’n fotograaf.” My pa kon baie dinge vat, maar vet was nie een van hulle nie.
Terug by ons slaapplek is ek en Precious Cargo albei voddemoeg. Ons val op ons beddens neer. Die oomblik dat my suster die bedlampie afskakel, staan ek op om die gordyne oop te trek.
“Ek’t vergeet jy doen dit. Is dit veilig?” grom sy al halfpad aan die slaap. “Jy gaan nie weer hier in die donker sit en staar nie. En jy kom nie naby my voete met ’n waslap nie.”
“Slaap, man. Ek kyk sterre.” En ek dink en wonder. En bid.
Die prentjies van my kinderlewe is ’n legkaart waarvan daar stukke weg is sodat jy hulle nooit weer sou kon maak pas nie. My sterkste herinneringe speel in my oupa Psalm en ouma Liedjie se huis in Calvinia af, en tog is daar net soveel ander prentjies van ons tuiste in Windhoek.
Waar presies het ek grootgeword? Ek’s nie seker nie.
Iewers in my dertigs het ek dit gewaag om my ma oor my kindertyd uit te vra. Voorheen kon ’n mens nie, want sy het net begin huil, en ek wou nooit weer die oorsaak van haar hartseer wees nie.
“Jy was nog nie ’n jaar oud nie, toe was dinge al so deurmekaar dat ek Oupa-hulle moes bel en …” My ma sit kruisbeen op haar studeertafel, haar boeke netjies eenkant gestapel. Ons kyk nie direk na mekaar nie, want ek sit by ’n tweede lessenaar en maak aantekeninge op my skootrekenaar. Die sonkamer het aan drie kante vensters, als aaneen, en kyk op die see by Swakop uit. Sy en haar man bly al vir jare aan die kus.
“En toe?”
“Ons was albei studente op Stellenbosch, maar jou pa was so besig met grappe maak en aanjaag dat hy nie tyd gehad het vir enigiets anders nie. Hy was naïef. Ons almal was. Sy hart was nog sag. Baie! Een keer toe hy nie tot ’n verwagte leierskapsposisie verkies is nie, het hy ’n dag lank die berge in verdwyn. En daarna kon ek duidelik sien dat hy gehuil het.”
Ek draai verstom om. “Pa? Huil?”
“Hy het so ’n groot gevolg onder die studente gehad dat die dekaan besluit het om ’n voorbeeld van hom te maak nadat hulle ’n meisie se hare gekleur het. Dit was alles net sports en die meisie was self deel daarvan. Haar pa was egter ’n lektor en ontstoke. En daar skors hulle hom. Seker een van