Die heelal op my tong. Anoeschka von Meck. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anoeschka von Meck
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9781485904557
Скачать книгу
verlange. Wat ek nie vir my suster sê nie, is dat ek onlangs weer wakker geskrik het met die duidelike wete dat ’n man na my geroep het. Die klanke het steeds oral om my in die kamer gehang. Een van die redes hoekom ek later as skoolkind aantekeninge in dagboeke gemaak het, was om my vlietende kopprentjies te probeer onthou. Ek wou hóm nie vergeet nie, maar ek het.

      “Het jy nie ook voet by stuk gehou dat jou man koorsig is en dat ouma Liedjie hom sou moes dokter as hy opdaag nie?”

      “O, ja! Flippit, jy onthou die storie beter as ek.”

      Ek verstel my sitplek om regopper te sit.

      “Vir hierdie leerskool ervaar ons onsself tot tyd en wyl as deel van ’n groepering biologiese wesens vol hormone wat hoofsaaklik sensories lewe.”

      My suster sak terug in haar sitplek. “Uh?” Sy weet hier kom een van my tirades en laat haar ruit ’n oomblik lank sak sodat koel wind die kar binnestroom. “I really need some fresh air.”

      “Ons wil kitskos eet, mekaar beklouter, of almal en als uitwis wat ons moontlik aan ons hemelse herkoms herinner. Ons draai alles om. Wat sleg is, word goed. Dié wat dom, slinks en gierig is, sal die slapende dwales as leiers kies. Hoeveel jy weeg en wat die kleur van jou vel blyk te wees, dit-is-jy. Hoe faktap is dit, hè? Doosheid,” beklemtoon ek, “en afwykende gedrag word beloon en wysheid is ketter.”

      Ek leun oor die stuurwiel en kyk op na ’n spatsel van die melkweg wat oor die Subaru se dak boog. “Ons gesamentlike gierigheid is so erg dat, indien ’n UFO dit ooit sou waag om hier te land, die kanse goed is dat ons net daar sal omdraai en hulle blameer vir al ons ellende en heel moontlik ’n eis teen hul planeet instel. Of hulle met tyres aan die brand steek of in hokke aanhou en met twee dag oue samoesas dik voer. Ons is waansinnig in ons strewe na mag en beheer oor ander en so lank al aan boosheid oorgegee dat naasteliefde godslasterlik klink. Vrede is nie ekonomies lonend nie en daarom stel ons nie daarin belang nie.”

      Precious Cargo gee ’n slaperige kreun en het lankal in haar eie sonnestelsel weggedryf. Geen wonder sy het nie gekla dat ek kilometers terug al vergeet het om Engels te praat nie.

      “Springbok,” vat ek liggies aan haar. “ Ons slaap vannag hier.”

      Die man kom orent in sy kajuitbed, dankbaar die dae van goedkoop vlugte is verby. Vir luuksheid, nes eenvoud, maak hy nie meer verskoning nie. Gelukkig het genoeg blootstelling hom van die Afrikaanse neiging tot skuldgevoelens verlos.

      “U stort is nou gereed,” kom bied die lugwaardin hom ’n sagte koningsblou-en-silwer japon met insteekpantoffels aan. Die pantoffels is natuurlik weer te klein.

      “Ek vra om verskoning dat u moes wag.” Die lugwaardin staan reg om te kom opruim. Sy beduie met die geringste beweging van haar oë na die groter kajuite met en-suite sitkamers, skuins oor sy eie. “Van ons passasiers het besondere behoeftes,” fluister sy betekenisvol, “én voorskrifte.”

      Hy glimlag en knik woordeloos. Hy het reeds die hoogswanger Angelina en Brad op ’n kommersiële vlug na Windhoek opgemerk.

      Die verbode blondine

      “Vertel weer hoe Ma jou balls weggebid het,” por my suster my, nadat ek ’n lange verduideliking aan ons kelnerinnetjie moes gee oor al haar aardige kosvoorskrifte. Weens ons ongewone bagasie moes ek by ’n duur plek inboek waar die kar in ’n geslote garage met ’n seil bo-oor vir die nag kon staan.

      Ons het sommer dorp toe gestap van ons slaapplek af, en dit voel goed om te kan beweeg. Dis warm, maar nie drukkend nie op die balkon van die Pot & Barrel in Springbok se hoofstraat.

      “Het jy daai ou se uitdrukking gesien toe hy vir ons die garage gaan oopsluit het? Ek wed jou hy dink ons smokkel!”

      Dit laat ons lag. Ons is albei lus om iets te drink.

      “Prostitutes in the reeds!” knak my suster vrolik haar eerste kneg.

      “Nee, heng. As jy dit nie in Afrikaans kan doen nie, werk dit glad nie. Engels-kômmin is net te verpoef.”

      ’n Paar biere later loop die storie: Lank voor ek skool toe gestuur is, of die rooi verpesting van Engels my skoolloopbaan in ’n helkamp van hoofpyn en maagsere verander het, het ek al saam met my ouers perdgery.

      “Jy was eers ’n seun gewees,” praat my ma dié dag skuins af na my toe.

      Haar perd se rug is heelwat hoër as myne. Ek konsentreer so hard om nie van Kaneel af te val nie dat ek nie kan agterkom of sy my terg nie. My ouers, het ek vroeg reeds besef, is eiesoortige wesens met ’n aardige sin vir humor.

      “Ek kon dit voel en toe vra ek die Here om jou in ’n dogtertjie te verander. En dat jy nie kort of donker soos ek sal wees nie, maar lank en blond. Die dag toe jy verander het, het ek my heeltyd verbeel ek ruik die allerlieflikste roosgeur, maak nie saak waar ek was nie. En ek het bly lus kry vir kaas. Kan jy glo?” Sy glimlag vir my.

      Ek kyk bekommerd af na tussen my bene.

      “Op ses maande. Toe voel ek hier verander jy nou. Jy kan bly wees. Anders het jou pa jou wraggies iets soos Koos Sneeuvlokblom genoem.”

      Ek bly frons, maar my ma lag en kap haar hakke in. Net toe ek wil huil, kom sy weer tot stilstand by my en lê vooroor op haar merrie se nek. “Altoos,” streel sy haar perd met haar oë toe. “Vir jou het ek innig lief.”

      Daai aand toe Ma my in die bed sit, voel ek iets kouds teen my been onder die komberse. Ek lig die komberse blitsig op, want Ma moet gereeld skerpioene by die venster uitgooi. Sy en Pa het albei Ou Vicks en Koot en veral die kinders verbied om enigiets op die werf dood te maak. Soms kom sit my ma kwansuis langs my om te lees en dan sien ek, ja-nee, hier loop al weer ’n hotnotsgot in haar hare. Sy weet ek gril my krom vir daai boloog-gogga.

      Ek’s verlig om te sien dis ’n houertjie. Nietemin is ek versigtig, want my ma glimlag ondeund. “Maak dit oop!”

      In die boksie op ’n stukkie watte is die dop van ’n reusagtige swart miskruier.

      “Is hy nie pragtig nie? Kyk net sy horings. Kompleet nes ’n mini-oerdiertjie! Kan jy dink as mens hulle so groot soos my Volksie gekry het?” gesels sy in verwondering.

      “E … dankie.”

      My ma tel die skelet op en soen dit voor sy dit op die bedkassie langs my neersit. “Hulle gee my soveel hoop.” Sy vat saggies aan die dop en gaan sit by my voetenent met ’n waslap.

      Ek skop my voete oop sodat Ma hulle eers kan afvee. Van kleins af, toe ek glo geslaapwandel het, kom tjek sy my voete saans om seker te maak hulle is skoon. As hulle in die oggend vuil is, weet sy my nagdwalery het weer begin.

      “Hoekom?”

      “Omdat miskruiers my aan die Here laat dink. Hy vat ons gemors en maak dit weer bruikbaar.”

      “Jak!” trek ek my gesig.

      Ma bekyk my groottone. “Jy’s met ingroeitoonnaels gebore. ’n Mens se groottoon is jou rigtingwyser. Dis belangrik dat hulle versorg en gesond bly.”

      “Ma, hoekom is Mamma so lief vir insekte?”

      Sy gee ’n lang, droomverlore sug en vou my voete toe. “Omdat insekte tonne kos vreet en hulle nooit vet raak nie. As hulle eers volwasse is, lyk hulle die res van hul bestaan so. En hulle word nooit oud nie. Hulle eindig net.”

      My suster lag dat sy spoeg. Van kleins af is sy gek oor dié storie. En haar kommentaar is altyd: “So dís hoekom jy altyd lang rompe dra, hè? Om jou appelkose weg te steek. En toe gee Ma vir jou ’n dooie tor as troos?”

      “Voertsek, man! Jy verdraai die storie.”

      Ons bestel nog ’n ronde. Dis