Die heelal op my tong. Anoeschka von Meck. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anoeschka von Meck
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9781485904557
Скачать книгу
vir Adriaanus met die afstandbeheerder sê. “Wat van Luxemburg? Adelaide?”

      “Ek sien nie ’n vrou hierop nie, Boss?”

      “Australië! Dis ’n stad in Australië!”

      “Good night, everyone. I will leave you kids to it then,” het Chana goedig maar betekenisvol gesê.

      “Die witkopkunstenaar het ’n veertjie op die eerste lit van elk van haar vingers getatoeëer gehad,” vertel ek my suster. “Jy kan bly wees Pa het joune nooit gesien nie, want hy sou jou beslis vir ’n veloorplanting gestuur het.”

      Precious Cargo het ’n liederlike tatoeëermerk oor haar hele boarm. Elke keer wanneer ek daarvan bewus raak, voel ek om haar ’n skuinsklap te gee. Ons hang steeds buite die kar rond by die One Stop voor ons weer padvat.

      “’n Tatoe is soos om jou eie stam te stig. Volgens jou ontwerp. Jy en jou lyf is gemerk deur waarin jy glo. ’n Baie menslike behoefte. Hoe jy lyk, ís jou meesterstatus. Dis hoe ander jou lees en in ’n millisekonde opsom.”

      “Sal ek dit nou nie weet nie? Ja, soos vet. As jy dik is, is dit die eienskap van jou wat alles oorskadu. Mense se blik som jou lyf se proporsies en hoeveel jy weeg op nog voor hul brein enigiets anders van jou registreer. Van vet kan jy nog ontslae raak, maar met ’n tatoeëermerk sit jy opgeskeep. Sê nou maar jy glo oor twintig jaar iets anders?”

      Precious Cargo sug. “Jy ooranaliseer als. G’n wonder jy sukkel met die gewone lewe nie, want jy delf en ontleed als op drieduisend maniere. Raak jy nie moeg nie? Ek gaan nie my tyd mors op moontlike kommer of spyt oor twintig jaar nie. Nou is ek hier. En ek laaik my tatoe, of jy en Ma daarvan hou of nie.”

      “Lyk my jy het ’n bewonderaar.” Ek wys met my oë.

      My suster en die jong man glimlag vir mekaar.

      “My sister and I are doing a road trip,” waai Precious Cargo vir die boer.

      Hy lig ’n blikkie Coke asof hy cheers sê. Ek sien nou eers hulle is twee. Die ander man het ’n baard soos ZZ Top met ’n pet en sonbril op. Hy help sy vriend om die toue na te gaan voordat hulle inklim en vertrek. My sus kom orent en stof haar sitvlak af.

      Op die grootpad gaan ons die trok weer spoedig verby. Hulle het Rosh Pinah-nommerplate op. My suster blaas vir die jong man ’n soen en hy hang aan sy toeter. Die baardman langs hom skud net sy kop en lag.

      Verby Garies begin ek gaap. Die son blink op die teer. Ons praat nou nonsens net om my wakker te hou. Ek trek af om bietjie te strek. Dit is byna skemer en my suster haal haar sonbril van haar kop af, maak die kattebak oop en soek deur haar bagasie langs die kluis vir iets warmers om aan te trek.

      “Ek weet jy wil my vra,” sê ek weer bo-oor die Subaru se dak.

      “Oor hoe jy lyk?”

      Ek leun teen die kar.

      “Jy’s verkeerd, hoor. Die heelal wentel nie rondom hoeveel jy weeg nie. Glo my. Ek’t ander vrae. Oor Pa. En Ma. Hoe sake inmekaar pas. Jy’s moerse selfbehep as jy dink almal stel belang in hoekom jy in jou eie lyf wegkruip.” Sy sê dit sonder beskuldiging.

      Ek glimlag. Ernstiger: “Daar’s baie vrae wat ek jóú wil vra, maar ek weet nie of ek gereed is vir ’n waarheid wat anders is as waarvan ek myself oortuig het nie.”

      Precious Cargo klim by die bestuurskant in. “I’m driving for a while. You take a nap.” Sy stel die sitplek vorentoe al is ons basies ewe lank.

      Die skemering se sagte kleure sus my onmiddellik. Voor ek haar vir oulaas herinner aan watter kant van die pad sy moet ry, vroetel my suster met haar Amerikaanse megaftertjie waarop sy ook musiek gebring het.

      “They tried to make me go to rehab, but I said no, no, no!” slur Amy Winehouse wat altyd klink of sy met ’n bottel in die hand sing.

      “Jy’s aspris, nè?” Ek sit ’n kussing tussen my en die ruit.

      Al is my oë toe, raak ek nie dadelik aan die slaap nie. Het ’n storie altyd ’n duidelike begin, lê ek en wonder. Myne is plek-plek so geblur, ek kan nie meer die skerwe reg aanmekaarlas nie. Dit het ek eintlik al in standerd vyf besluit. Dit was die jaar wat ek ophou praat het. Want, het ek besef, woorde is soms ook leeg. Wat help dit grootmense praat, maar daar is geen binnegoed om te anker wat hulle sê nie?

      Toe die musiek ophou, kom ek uit my sluimering. My suster het van die pad getrek en draai haar venster af. “Listen!”

      “Plattelandse stilte?”

      “No, something like a flat tyre.”

      Ek kreun, maak my veiligheidsgordel los en ons klim weer uit.

      “Ek sien niks fout nie?”

      “I definitely heard something.”

      By die agterwiel ontdek ek tot my verligting dat die modderskerm losgeraak het. “Dis wat jy gehoor het. Dit het al voorheen gebeur. Dankie tog ons hoef nie nou ’n wiel om te ruil nie.”

      Die uiltjieknip het my goed gedoen. Ek’s reg om verder te bestuur én om met my verhaal aan te gaan.

      “Waar was ek?”

      “Daai jaar op laerskool toe jy heeltemal opgehou het met praat …”

      Pa is weg einde standerd twee, en ek het begin wag. Hy’t gesê hy sal bel, maar hy het nie. Hy’t gesê hy sal skryf, maar hy het nie. Oor die jare het ek enkele poskaarte gekry van wie weet waar ook al, byna altyd in die handskrif van een of ander onbekende vrou. Pa het gesê sodra hy kan, sal hy my na hom toe laat kom. Maar hy het nie.

      Ek het bly wag.

      “Al wat ooit verbygekom het, was fokkol en kontsemaat,” vertel ek vir Precious Cargo, maar dit val plat in die Engelse vertaling. “So, iewers word genoeg net genoeg.”

      Dis toe dat ek besluit het ek gaan nie langer in hierdie familie bly nie. “Ek weet presies waar ek gesit het. Dit was op ’n duin agter daardie hoë woonstelle op Bloubergstrand. Weet jy nog waar ons ná hulle egskeiding gewoon het?”

      “Blouberg Heights.”

      “Ja, Ma wou naby haar suster wees.”

      My suster lag toe sy hoor dat ek my eie bende gestig het om teen die bende van woonstelseuns te baklei. In die bende was net ek en my maatjie, Estrellita.

      Daar op die duin het ek ’n botteltjie tuisgemaakte gif vasgehou wat ek oral met my saamgedra het. My gif was ’n Grandpa-poeier, Dettol, een gegapste Valium, twee skytpille en fyngemaalde giftige veldtulpe, als saam verpulp. Heel laaste het ek ’n fyn roosblaar heel bygevoeg omdat ’n deel van my jammer was dat ek so haatlik geword het. Mettertyd het die roosblaar byna deurskynend geword.

      Ek het lank na die sakkende son deur my botteltjie en die drywende roosblaar gekyk. Dit het my laat dink aan die veldblommetjies wat my ma in haar Bybel saamgepers het.

      As ek my pa ooit weer sien, maak ek hom self vrek. Seker nie met die gif nie, want hy sou my uitlag. Die gif is bedoel vir ’n paar ander mense. Dit het my beter laat voel om dit saam met my te dra.

      Die atmosfeer in die kar is skielik ernstig en ek voel simpel oor wat ek verklap het.

      “Wanneer het jy toe weer van Pa gehoor? Dit moes hektiek gewees het om so te wag. Maar was jy en Ma nie toe al eienaardig wat jul eetgewoontes betref nie? Ek wil my so iets verbeel.”

      “Fokkitjaa! Daar was nie ’n dieet wat ons nie slaafs nagevolg het nie. Of dit een was wat Ma self opgemaak of uit ’n oorsese boek gekry het, ons het dit gedoen. Die een met die grondboontjies was die ergste …”

      “Jy eet dan nie grondboontjies nie?”

      “Presies. Ek en Ma het ’n week lank nét grondboontjies geëet en niks anders nie. Ma het gesê as ek daarby hou, vat sy my om my hare te laat knip by ’n regte haarkapper en kan ons daarna in ’n duur restaurant