TITELS DEUR DIESELFDE SKRYWER
Annerkant die longdrop
Vaselinetjie
Die ontwaking: Essie Honiball
Net voor die droogte my breek
Uitgegee in 2020 deur Penguin Random House Suid-Afrika (Edms.) Bpk.
Maatskappyregistrasienr. 1953/000441/07
The Estuaries Nr. 4, Oxbow-singel, Century-rylaan, Century City, Kaapstad, 7441
Posbus 1144, Kaapstad, 8000
© Anoeschka von Meck 2020
Alle regte voorbehou.
Geen deel van hierdie boek mag sonder skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of langs enige meganiese of elektroniese weg weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, plaat-, band- of CD-opname, of enige ander stelsel van inligtingbewaring of -verkryging.
Eerste uitgawe, eerste druk 2020
ISBN 978-1-4859-0410-6 (Druk)
ISBN 978-1-4859-0455-7 (ePub)
Omslagontwerp deur publicide,
na ’n kunswerk van Maxfield Parrish
Teksontwerp deur Fahiema Hallam
Geset in BookmanITC Lt BT
As ’n saluut aan my pa, Vloog Theron
(11 November 1941 – 29 Desember 2009)
Pa as huursoldaat en aide-de-camp vir Moïse Tshombe van die Kongo in 1962.
Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.
SPREUKE 18:21
Hierdie verhaal is bisaro-fiksie. Glo dit op eie risiko.
Inhoud
1. Mustang Sarie se Groot Trek
11. ’n Man wat een stel spore trap
14. Die kokefires doen Palm Springs
15. Wille Willemien se seksles
1
Mustang Sarie se Groot Trek
My lyf en my gees pas nie bymekaar nie.
Dit is wat Pa van my gesê het. Die man wat soms die emosionele koëffisiënt van roereier gehad het. Veral as dit by homself of sy eie kinders gekom het. Tog was Pa dié slag reg soos hy dikwels wel sy teiken getref het. Pa was ’n uitmuntende skut. ’n Wafferse cock-and-fire.
“Weet jy waarvandaan kom die gat hier in jou muur?” beduie ek vir die vrou met die soel gelaatstrekke van iemand wat dalk Indiaanbloed het. Met haar onopgesmukte poniestert is sy die nuwe eienaar van die bekende, maar verbasend oninteressante, Little Alien Inn Motel.
Rachel, Population 54. Dit staan op ’n bord voor jy na die piepklein amper-dorpie op Nevada se Extraterrestrial Highway indraai. Dis waar ek twee nagte wil slaap sodat ek kan uitry na Area 51. Dis die streng bewaakte Amerikaanse woestyngebied waar ’n UFO glo nié in 1947 neergeplons en verskeie getinfoeliede buiteruimse oorle’s nooit tussen die wrakstukke gevind is nie.
“Nah?” kyk Belle op van die nat lap waarmee sy ’n kol op haar boesem probeer uitkry. Op haar T-hemp is haar naam en die gesig van ’n alien.
Dit was mý pa wat ’n gat deur kolonel Wendelle Stevens se spyskaart geskiet het. Op ’n dare. Voor jou tyd. In the eighties, sê ek.
“Man! Are you serious? I’ve been meaning to fix it, but now I think I’ll just keep it for the story? Where you guys from?”
“South Africa. And afterwards they still ordered from that same menu – hole and all.”
Ek en Belle is ewe ingenome. Ek’s verbaas dat dié gat in al die jare nog nooit toegepleister is nie. Byna het ek die insident nie eens onthou nie. Pa en trawante het ’n vreemde voorliefde gehad om gate deur spyskaarte te skiet. Verkieslik nog in iemand se hand.
“They probably had one too many Beam-me-up-Scotties? Some pretty crazy folk come out here sometimes, you get my drift?” Sy loer vlugtig na die deur voor sy agter die toonbank induik. Die volgende oomblik plonk Belle ’n dienaar voor my neer.
“I’m impressed, whoa!” fluit ek. ’n Kortloophaelgeweer?
“Sometimes a gal’s gotta do what a gal’s gotta do.”
Ek lig my koppie. Nes jy daar sê!
Ná dekades is ek terug in Amerika. Hier om Pa se laaste goed te kom uitsorteer en my kleinsus te oorreed om saam terug Suid-Afrika toe te kom. Al is dit net vir ’n rukkie. Daar is sake wat ek nie sonder haar kan afhandel nie. Sy wag vir my in Arizona.
Daar was ’n tyd toe besorgde familielede, sielkundiges en gesondheidskonsultante of giminstrukteurs my nog gevra het hoe ek so dik geword het. Byna altyd met ’n bekommerde uitdrukking. Wie weet? Het ’n belustige oom my gevinger, of is ek in die bosse buite Pretoria langs