Voor haar suster kan antwoord, sê Muggie: “Ek hoor Apie gaan ’n partytjie hou. Hy gaan my seker ook vra. Ek hou van partytjies. Partytjies is lekker.”
“Ek weet nie of Apie jou gaan nooi nie, Muggie,” sê Saartjie. “Hy’t gesê hy wil niks meisies daar hê nie. Ek en Anna en Lina moet natuurlik gaan help met die partytjie, maar …”
“Wel, dan gaan ek ook help – ek en Trienkie,” kondig Muggie beslis aan. “Sê solank vir Apie.”
“Sê jy dit self vir hom,” kap Saartjie katterig terug.
“Ek sal,” sê Muggie.
Muggie dink duidelik sy gaan by Apie se partytjie wees – of hy haar genooi het of nie. Dit maak nie aan haar saak nie; sy gaan daar wees en klaar.
“Ek het nie net gedínk wat om vir Apie te koop nie,” sê Anna nou tevrede, “ek het dit al klaar gekoop toe ek en my ma laas Saterdag in die stad was.”
“So, wat het jy vir hom gekry?” vra Saartjie belangstellend.
“Ek gaan jou nie nou sê of wys nie,” sê Anna en loer onderlangs na Muggie. “’n Verjaarsdagpresent is mos veronderstel om ’n geheim te bly tot die persoon dit oopmaak.”
Anna sal nie omgee om vir Saartjie te sê en te wys wat sy vir Apie gekoop het nie, maar sy wil nie hê haar sussie moet weet wat die present is nie. As Muggie uitvind, sal nie net Apie nie, maar die hele Lynnekom weet wat dit is.
Saartjie knik. Sy verstaan hoekom Anna haar nie nou kan sê nie. Muggie het ’n vreeslike los tong.
Die kleintjie het die twee ouer meisies agterdogtig gesit en dophou. Toe sy sien Anna gaan niks oor die verjaarsdagpresent uitlap nie, sê sy vies: “Hoekom kan jy nie nou sê wat jy vir Apie gekoop het nie, hè?”
“Omdat ek nie wil nie.”
“Hoekom wil jy nie?”
“Sommer.”
Dan mompel Muggie: “Dis nou ’n antwoord om vir ’n mens te gee.”
Anna en Saartjie kan nie help om te lag nie. Die kleintjie lyk tog te koddig as sy haar so vererg.
Maar al lag hulle ook, is hulle nogtans nie van plan om vir Muggie te sê wat Anna gekoop het nie. Hulle gaan niks sê nie, tot Muggie moeg word om so stil hier by hulle te sit en niks doen. Dan sal sy verkas en dan sal Anna vir Saartjie gaan wys wat sy vir Apie gekoop het.
Dit is die enigste manier om van Muggie ontslae te raak. Hulle het dit al vantevore probeer en dit het gewerk. Maar om sommer op te staan en weg te stap, sal nie help nie. Sy sal saamstap. En as hulle haar met geweld probeer keer om saam te stap, sal sy ’n keel opsit tot die hele Lynnekom aangehardloop kom om te kyk wat aangaan.
Saartjie knipoog vir Anna en Anna knipoog terug. Hulle gaan nou tjoepstil sit en nie ’n woord sê nie tot Muggie moeg word en padgee.
Dit is ’n paar minute lank doodstil. Al geluid wat ’n mens hoor, is die sonbesies in die tuin.
Muggie loer nog ’n rukkie agterdogtig na die twee ouer meisies, dan sê sy: “Hoekom praat julle nie?” Die vriendinne kyk na haar, maar sê nie ’n woord nie.
“Is julle tonge afgesny, hè?” wil Muggie nou weet.
Die twee antwoord nie. Hulle sê glad nie of hul tonge afgesny is of nie. Hulle sit net doodstil met verveelde uitdrukkings op hul gesigte.
“Ga,” sê Muggie en trek ’n suur gesig. Dan sê sy vir haar pop: “Hulle dink seker hulle’s snaaks.”
Muggie maak hulle altyd baie vies, maar Saartjie kan darem nie help om te dink die kleintjie is snaaks nie. Sy byt op haar onderlip om nie hardop te lag nie toe Muggie vies vir Trienkie sê sy gaan hier sit tot dit so donker is dat die spoke hulle vang en hulle almal spookland toe vat. Sy gaan hier bly sit tot die groot meisies eendag begin praat.
En dit lyk sowaar vir Anna en Saartjie of dit is wat gaan gebeur. Muggie gaan bly totdat hulle iets sê.
Ná ’n kwartier van doodse stilte begin Saartjie-hulle verveeld word. Dit lyk of Muggie langer as hulle so doodstil sal kan sit.
“Is julle al moeg?” vra die kleintjie toe sy sien hoe hulle ongemaklik begin rondskuif. Hulle antwoord haar natuurlik nie, maar Muggie steur haar nie daaraan nie. “Ons is nog nie moeg nie, nè Trienkie?” sê sy vermakerig vir haar pop.
Saartjie en Anna trek hul skouers vir mekaar op terwyl Muggie haar pop se klere begin uittrek. Sy stryk die klere mooi netjies plat met haar hande en trek dit dan weer vir die pop aan.
Die probleem is dat Saartjie en Anna nou baie meer verveeld as Muggie is. Die kleintjie het iets om te doen – sy speel met haar pop. Maar hulle sit net hier en doen niks nie.
Die twee vriendinne beduie vir mekaar hulle moet iets anders probeer. Muggie het dit sowaar bedoel toe sy gesê het sy sal hier bly sit tot dit donker word en die spoke hulle kom vang.
Saartjie en Anna is moeg daarvoor om so te sit en niks doen en nie eens met mekaar te praat nie. Muggie babbel aanhoudend met hulle en met haar pop. Dit lyk of sy glad nie omgee dat nie een van die drie haar antwoord nie.
“Ek is nou gedaan,” sê Anna skielik.
“Ek ook,” sê Saartjie.
“Ha!” roep Muggie uit en haar hele sproetgesiggie verhelder. “So, julle het tonge, hè?”
“Niemand het gesê ons het nie tonge nie,” sê Anna vies.
“Ja, maar julle sit daar asof julle nie het nie. Julle dink mos ek is dom, nè? Julle dink ek gaan loop sodat julle kan praat, nè? Maar ek gaan nêrens nie. Ek bly net hier.”
“En sê nou ons loop?” vra Saartjie.
“Dan loop ek ook – saam met julle.”
Anna onthou skielik sy het vyf rand in haar tas. Sy het dit die oggend skool toe geneem om lekkers mee te koop, maar sy het toe nooit pouse daarvoor kans gekry nie.
“Muggie,” sê Anna nou vriendelik.
“Ja?” Muggie se hele sproetgesiggie lyk soos ’n vraagteken terwyl sy haar suster agterdogtig aankyk. Sy wonder hoekom Anna skielik so vriendelik is.
“Muggie,” sê Anna weer en glimlag breed, “hoe sal jy daarvan hou om vyf rand se lekkers by oom Costas te gaan koop?”
Haar sussie glimlag nou ook breed. Dit is duidelik dat sy baie daarvan sal hou.
“Wel, ek gee dié vyf rand vir jou,” sê Anna en haal die muntstuk uit haar tas. “Gaan koop vir jou lekkers.”
“Hoekom gee jy dit vir my?” vra Muggie terwyl sy ’n vuil handjie uitsteek om die munt te neem.
“Sodat jy vir jou lekkers kan gaan koop,” sê Anna, maar sy gee die geld nog nie vir haar sussie nie. Muggie moet eers belowe sy sal op die daad gaan.
“Moet ek nou gaan?” vra Muggie.
“Nou dadelik, ja – anders kry jy nie die vyf rand nie.”
“Jy wil my net hier weg hê, nè?”
“Dis reg,” sê Anna saaklik. “Wil jy die geld hê of nie?”
Muggie dink eers ernstig oor hierdie vraag na. Sy wil die geld graag hê om lekkers mee te gaan koop, maar sy wil ook graag hoor of sien wat Anna vir Apie gekoop het. Sy wil weet sodat sy vir Apie en al die ander mense kan sê.
Maar dan besluit die kleintjie sy sal tog later by die partytjie sien wat Anna vir Apie gegee het. Sy is nou te lus vir lekkers. Sy sal kafee toe gaan.
“Gee vir my die geld,” sê Muggie en staan op.
“Jy belowe jy gaan nou dadelik