“Ek kan nie aanhou presente van jou aanvaar nie. Die Volla se onderdele gaan seker heelwat kos.”
“Ruan het my ’n blanko tjek gegee.”
“Dis nie nodig nie, hy’s nie verantwoordelik vir my onkostes nie.”
“Hy’s jou man en wil vir jou sorg. Gun hom dit, mooinooi. Ruan wil dit graag doen, al is dit net om hom minder soos ’n boef en ’n rugsteker te laat voel.”
Nikka hou die kat se warm lyf teen haar vas en streel oor die sagte pels. “Hy is nie meer my man in die ware sin van die woord nie. Ons is van tafel en bed geskei. Binnekort dalk wettig geskei.”
Geskei. Sy is verbaas dat die woord so geredelik gekom het. Twee keer … Sy vorder. Darem nie meer ’n huilende jellievis onder ’n duvet nie.
Thys kyk op sy horlosie. “Ek moet gaan werk. ’n Resensie skryf oor die nuwe Jeep Wrangler. Die beste waarmee ek tot dusver vorendag kon kom, is: ‘Die lug is blou en dié is die Jeep vir jou.’ ”
Gister nog sou Nikka gelag het. Maar haar sin vir humor is weg, saam met Ruan. Haar gedagtes bly om hom maal.
“Ek het vanoggend soos ’n vuurspuwende berg uitgebars,” erken sy. “Dink jy hy sal weet dit was van skok, dat ek nie al die lelike goed bedoel wat ek gesê het nie?”
“As jy ontplof het, het jy goeie rede gehad. Hy verdien om onder ’n aswolk te versmoor.”
“Moenie kant kies nie. Ek wil nie tussenbeide kom in julle vriendskap nie.”
“Jy is reeds.”
Thys gee haar nie kans om vrae te vra nie. Hy tel sy sleutels op. “Gaan jy koekies bak? Jelly Tots en Smarties koop? Tessa se ma bel en die piekniek bevestig?”
Sy knik.
“Mooi so!” Hy buk af en soen haar skrams op die voorkop, soos dit ’n ondersteunende broer betaam. “Sien jou Saterdag.”
10
Nikka wik en weeg lank, blaai deur haar eie resepte en besluit dan sy sal sonder haar ma met die bakwerk regkom. Sy is darem nie ’n groentjie nie en het op Hennie Viljoen geoefen. Thys gaan spookasem maak. En Andries het ’n squeeza wat gereeld by familiebegrafnisse die kos maak.
“Niemand is dié week dood nie, so Millicent is los en sy wil graag ’n ekstra paar bucks maak vir nuwe skoene,” het hy vertel. “Sy wil graag met die kinders se makietie kom help.”
“Is Millicent jou cherry?” het Nikka nuuskierig gevra.
“Aikôna! Ek sê mos: my squeeza. My broer se vrou. Ruby is mos my cherry.”
Nikka het die aanbod met dank aanvaar, al is dit net om te help met die klits, roer, knie of skil. Haar ma kan die verjaarsdagkoek bak as sy wil, maar sy sien nie kans om haar heeldag in die huis te hê en die stroom vrae te beantwoord nie. Oor die opgemaakte bed in die spaarkamer en Ruan se klere in die spaarkamer se kas en waarheen hy die naweek is nie …
Sý mag hom kritiseer en teen hom uitvaar. En Thys mag. Maar nie haar ma nie, wat van meet af teen Ruan gekant was.
Nikka sit met een van Foksie se week oue babatjies op haar skoot, besig met Saterdag se spyskaart, toe ’n motor in die grondpad aankom.
“Dis die Toyota!” basuin Wieldop se blafstem die nuus uit.
Sy bly gespanne by die rekenaar sit. Ruan kom ook nie dadelik groet soos sy gewoonte altyd was nie. Hy stap verby spaarkamer toe om ’n kortbroek aan te trek en eers met die terugkom sien hy haar by die lessenaar.
“Middag,” groet hy versigtig.
Waar haar hart was, is een groot, kloppende pyn. Die baklei is uit haar uit en al wat agtergebly het, is ’n vakuum, ’n verlatenheid groter as die Namib. Sy wens sy kon eers gou lipstiffie en parfuum aansit; hoekom, weet sy nie. Nee, sy wéét hoekom. Sy is vir hom kwaad en baklei en verwyt hom, maar sy is nog lief vir hom.
“Jy is vroeg.”
“Dis maar die gewone tyd.”
“Ek het jou later verwag, teen elfuur, soos gisteraand.”
“Gisteraand was saktyd. Ons moes redigeer, koppe skryf en koerant opmaak.”
Sy is so van koers af, sy het vergeet Weeknuus verskyn vandag. Dus was hy nie by die vaalvrou nie. Darem een troos, vir wat dit werd is, want hy sal steeds die hele naweek dáár wees.
“Ek het vir jou ’n koerant gebring.” Hy aarsel ongemaklik. “Ek weet nie of jy dit wil lees nie. Slaan my stories maar oor. Daar is darem ander berigte in wat jou mag interesseer.”
“Dankie.”
Hy streel met sy vinger oor die babahondjie se syerige haartjies. “Die kleintjies is oulik. Ek het gister gaan loer en vir Foksie maalvleis ingeskep.”
“Ek het gesien jy het die ander diere ook kosgegee, voor jy weg is.”
“Vanselfsprekend. Ek is nie weg nie, Nikka, ek het net gaan werk, soos altyd. Ek bly steeds deel van die opset.”
Maar nie deel van háár nie … Sy wens hy was minder gaaf, wens hy het baklei, sodat sy kon terugbaklei. Hierdie opgekropte doodsheid in haar is seerder as ’n vuurspuwende berg wat sy binnegoed woedend die lug in spoeg.
Hy kyk op. “Dankie vir gisteraand se pastei in die mikrogolf. Maar jy hoef nie vir my te kook nie, ek sal smiddae sommer in die kafeteria eet.”
“Dis nie nodig nie. Ek sal my huishoudelike pligte nakom. Voorlopig … So lank as wat jy hier is.”
Ruan se gesig is onleesbaar. As hy agterkom sy steek voelers uit om hom te toets, te probeer uitvind hoe lank hy gaan bly, laat hy dit nie blyk nie. “Ek wil jou moeite spaar, siende dat jy baie werk met die piekniek het.”
“Dis nie moeite om saans ’n ekstra bord kos te maak nie.”
Hy glimlag skewerig. Hartbrekend. “Dankie, Nikka. Jou kos is altyd lekker, lekkerder as die kafeteria s’n.”
Darem ’n pluspunt in haar guns. Haar hart slaan bolmakiesie en dis asof die woestyn in haar ’n bui lentereën gekry het. As hy aan haar raak, haar net een maal weer Nieks noem, sal sy hom alles vergewe. Hom van vooraf liefhê.
Voel Ruan nog iets vir haar? Nie liefde nie, net darem … iets? Of behoort sy hele hart aan Stefni, sodat daar niks vir sy vrou oorbly nie? Hy is nie ’n besluitelose soort mens nie. Sy wonder hoekom hy nog hier is as hy hulle huwelik wil beëindig. Sy het verwag hy sou dadelik nadat hulle Maandag gepraat het ’n prokureur gaan spreek. Is dit uit jammerte vir haar? Of omdat hy diep in sy hart nog twyfel?
“Het al drie die hondjies al base gekry?” vra Ruan.
“Ja. Hennie Viljoen, vir wie my eerste piekniek was, neem een, Lorna wat verloof geraak het nog enetjie, en Thys die derde outjie. Die tefie.”
“Thys?” Ruan frons. “Hy is nooit by die huis nie. Wie gaan vir die dingetjie sorg? Sy erf is nie eens behoorlik omhein nie. Sê vir hom hy kan nie die hond kry nie.”
“Ek het klaar belowe. Hy sal ’n plan maak met die heining.”
“Thys is altyd vol goeie voornemens, waarvan daar gewoonlik niks kom nie.”
Nikka is verbaas. Vanwaar dié skielike kritiek? “Dis ’n bietjie onbillik. Ek kan nie onthou van voornemens wat hy nie uitgevoer het nie.”
“Ek ken hom beter as jy. Thys praat maklik, belowe jou die aarde, en die volgende dag het hy ewe gerieflik alles vergeet. Hy kan vir hom ’n ander hond soek. Ek wou in elk geval self die tefie gehou het.”
Dis die eerste woord wat Nikka daarvan hoor. “Ek dag ons het besluit vier honde is genoeg, foksterriërs is te lewendig en netnou jaag hulle die ganse.”
“Foksterriërs is goeie waghonde,” hou hy koppig vol. “Veral die tefies.