Hierdie bevoorregte kinders moet weer kennis neem van die Almagtige se heiligheid. Hulle moet weet om hulle nie daaraan te vergryp nie. Hulle moet te alle tye hul plek voor Hom ken.
Dan kan hulle hulle klaarmaak om met die allerheerlikste beloftes saam te leef. Met die prentjie van mense wat rustig sit en gesels in die koelte van hul Here se teenwoordigheid.
____________________
O Here, gee ons tog nou reeds iets van daardie rus. En leer ons hoe om die salige skadu’s te geniet.
Woensdag 13 MAART 2019 Lees Lukas 21:34–22:6
God se volk
In die môre vroeg het die hele volk … na Hom kom luister (21:38).
Vandag se stukkie – tussen die laaste deel van Jesus se waarskuwings oor die eindtyd en die begin van Judas se planne om van Hom ontslae te raak – word gekenmerk deur herhaalde verwysings na ’n stille teenwoordigheid: die mense wat na Jesus luister.
Dié mense – wat hier twee keer “die volk”(v. 2, 6) genoem word en ’n keer selfs “die hele volk” (v. 38) – speel klaarblyklik ’n belangrike rol. Nie net kom luister hulle getrou na Jesus se preke in die tempel nie, maar die godsdiensleiers én Judas is bang vir hulle. Die tergende vrae vir die konkelaars is: Hoeveel bewonderaars het Jesus? Hoe groot is hul agting vir Hom? Én: Hoe gaan die bewonderaars optree as dié-met-die-planne van Hom ontslae gaan raak?
Vandag weet ons hoe alles geëindig het: Boosheid het geseëvier, die volk het “verdwyn”. Toe alles op die spits gedryf word, het hulle die hasepad gekies. Dit sal interessant wees om te weet hoeveel van hulle wat so ernstig na Hom geluister het onder dié was wat later sou skreeu: “Kruisig, kruisig Hom!” (Luk 23:21).
Maar is dit regtig so? Het die Satan wat in Judas “ingevaar” het, werklik die laaste sê gehad?
Nee, nee. Ons weet dít ook: Die boosheid wat op ’n heuwel naby Jerusalem koning gekraai het, het stert tussen die bene van ’n leë, geopende graf weggevlug. Tot die dood toe beangs – maar te laat, want die boosheid is gevang en vasgeketting en word sedertdien in Christus se triomftog aan God se volk vertoon (vgl. Kol 2:15).
Vandag is die tergende vrae óns s’n. Onder meer: Weet ons dat die duiwel nie los is nie? En: Weet ons dat God se volk vas aan Hom verbind is?
____________________
Ek behoort aan U, Here. Ek het my teen u liefde vasgeloop. Halleluja!
Donderdag 14 MAART 2019 Lees Genesis 13:1-7, 14-18
Altare
Abram het … gaan woon by die groot bome van Mamre by Hebron. Daar het hy ’n altaar vir die Here gebou (v. 18).
Dit kom al ver, van die begin van Abram se reise, die ding dat hy so altare vir die Here bou. Twee daarvan: een in Sigem, een oos van Bet-El (vgl. Gen 12:7-8).
En hier is dit weer. Dié altaarbouery was nie om dowe neute nie. Elkeen van hulle merk ’n plek waar Abram en sy mense tot stilstand gekom het en kon asemskep. Kon terugkyk op die pad waarlangs hulle tot daar gevorder het.
Want die pad-tot-daar word nie altyd in dagreise gemeet nie. Daar is deurentyd ook die hardepad van emosies en eiebelang, van val en probeer opstaan. Van bely en weer opgehelp word. Van selfondersoek en herbesinning.
Daar was mos die hartseer episode van Abram se leuen aan die Egiptiese farao, daardie ompad wat vir seker nie in die Here se roetekaart vir hom opgeneem is nie.
Boonop die relletjie tussen Abram se veewagters en Lot s’n oor die beste weiveld. Abram wat uiteindelik terugstaan en vir Lot aansê om eerste te kies. Laasgenoemde wat, na sy eie én Abram se oordeel, die beste deel vir homself vat. Die hele Jordaanstreek – Sodom inkluis.
Hoe moes die uitbundige Lot geweet het dat dit ’n noodlottige keuse was? Hy sou dit eers uitvind toe dit te laat was.
En Abram? Hý sou deur die Here getroos word. By Hom sou Abram verneem dat die aanvanklike Godsbelofte, die rede vir daardie eerste klompie altare, uitgebrei word.
Toe bou hy weer ’n altaar. Die groot bome van Mamre by Hebron sou die getuies wees van ’n begenadigde se aanbidding van die groot Gewer.
____________________
Liewe Heer, ook my lewensreis het volop plekke soos dié. Dankie.
Vrydag 15 MAART 2019 Lees Psalm 27
Gerus
Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem (v. 10).
Hierdie geliefde psalm volg ’n bekende patroon, een wat by baie psalms voorkom. Eers is daar ’n sterk, uitgebreide geloofsbelydenis: “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees?” (v. 1). In Psalm 23, byvoorbeeld, lui vers 1: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.”
Ná etlike dergelike versekerings spreek die psalmskrywer nou die Here aan: “Luister tog na my, Here, as ek roep; wees my genadig …” (v. 7). In Psalm 23 gebeur dit in hierdie woorde: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my” (v. 4).
Uiteindelik word Psalm 27 afgesluit met ’n dankbare uitroep: “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed!” (v. 14). Psalm 23 eindig só: “… ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae” (v. 6).
Dit is die patroon: gerusstellend geyk, bekend, die ene vrede. Met hierdie goue draad wat dwarsdeur loop: God is groot; God is goed. Die misdadige teenstanders het nie ’n kans nie. Diegene wat in die Here se huis tuis is, beleef sy goedheid dáár. Dit is hul skuilplek. Hiervandaan kyk hulle, veilig, seëvierend, op die boosdoeners neer.
Gelowiges het deur die eeue in hierdie en soortgelyke psalms ’n klankbord vir hul eie belewenisse gevind, en woorde vir hul diepste gedagtes. ’n Troos te midde van hul vrese, ’n herinnering aan hul vaste Rots. Uiteindelik is dit ’n oproep om op Hom te vertrou wat nog altyd die vanselfsprekende toevlugsoord gebied het vir verwilderde, verskrikte kinders. Hulle wat weet dat hul Here nooit met hande gevou toekyk hoe hulle verrinneweer word nie.
____________________
Ek rus in u arms, my ewige Lig, my Redder.
Saterdag 16 MAART 2019 Lees Matteus 23:37-39
Boodskappers
“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is …” (v. 37).
Dit is geen wonder dat die volksleiers, wat sommer ook die godsdiensvoormanne was, Jesus uit die weg wou ruim nie. Hy draai geen doekies om wanneer Hy hulle kortvat nie; Hy sê ’n ding soos dit is. En Hy skroom nie om sy net wyd uit te gooi nie – tot by die allerheiligste herinnerings: dié oor die verlede, oor die voorvaders, oor die “goeie ou dae”.
Hier kreet Hy sy klagte oor Jerusalem uit, die eeue oue setel van die Joodse godsdiens. Oor die leiers wat van altyd af, en juis nou weer in die Jesustyd, van die profete ontslae raak wat daarheen gestuur word. Hulle, die boodskappers van Bo, wat die godsdienstige elite se waardes kom bevraagteken. Wat die “waarhede” uitdaag en hulle só die argwaan van die hoës en die vernames op die hals haal.
Stenig hulle! was die opdrag uit daardie kringe. Kruisig Hom! sou dit aanstons opklink.
Bybellesers moet tog nie Jesus se trane hier miskyk nie. Sy diep hartseer oor die plek wat vir alle Jode kosbaar is en wat nou aan plundering en verwoesting oorgegee word omdat die leiers doen wat hulle doen.
En juis hedendaagse gelowiges, mense soos ons, moet kennis neem van Jesus se snydende veroordeling van gevestigde