Maandag 4 MAART 2019 Lees 1 Korintiërs 16:1-12
Vanselfsprekend?
Wanneer Timoteus kom, moet julle hom by julle laat tuis voel … Niemand moet op hom neersien nie (v. 10-11).
Aan die einde van ’n lang brief het dit tyd geword vir Paulus om ’n klompie laaste reëlings te tref. Hy deel met die gemeente sy plan vir die kollekte wat hulle vir die sukkelende gemeente in Jerusalem moet opneem, en hy verduidelik sy onmiddellike reisplanne. Ook hoe dit hulle in Korinte raak. Dan doen hy voorspraak vir Timoteus, wat op pad na hulle toe is, en hy verduidelik wat die situasie met Apollos is.
In dit alles hoor ons die rustige stem van die ouer man, die geliefde leraar, die geestelike leier wat deur die gemeente vertrou word. Alles is saaklik, rustig, raadgewend en logies. Ons sou dit nie anders verwag nie.
Wanneer hy oor Timoteus praat, is daar wel ’n ekstra sagtheid hoorbaar. Opvallend is sy vermaning dat niemand tog op die jong man moet neersien nie. Help hom, vra Paulus.
Tog vreemd dat Paulus so iets van daardie gelowiges moes vra, nie waar nie? Dat hy vra hulle moet tog nie op die Here se dienskneg neersien nie. Dat hulle hom eerder oor die weg moet help. Sou ’n mens dit nie as vanselfsprekend verwag nie?
Blykbaar nie. Die gemeentemense in Korinte blink toe nie noodwendig uit in gasvryheid nie. Die “ou dominee” poog hier om sy invloed te gebruik om die pad in die gemeente vir die nuwe dienskneg gelyk te maak. Hopelik hoor hulle ook hier sy vermanende stem. Hopelik is die jong man na hulle sin …
Kan dit wees? Is hierdie soort beoordeling dan al só lank met ons? Hierdie gretig-geweeg-en-gemaklik-te-lig-bevind? Hierdie neersien op diensknegte, die “minag” (v. 11, 1933/53-vertaling) van Woordverkondigers?
____________________
Here, leer my om vir u gestuurdes te bid. Maak só van my ’n medewerker.
Dinsdag 5 MAART 2019 Lees 1 Korintiërs 16:13-24
Al die name
Ek verbly my oor die aankoms van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus … (v. 17).
Die laaste vermaning en die laaste groete – en die brief is reg om afgelewer te word. Soos in die geval van minstens drie ander Paulusbriewe (kyk Romeine 16, Kolossense 4 en 2 Timoteus 4), word in die laaste klompie verse ’n rits name genoem: medewerkers, mense wat spesiale vermelding verdien en, les bes, almal wat groete stuur of aan wie groete gestuur word.
Vir die Bybelleser lui sommige van hierdie name iewers ’n klokkie; die meeste nie. Plek-plek word die name ’n moeilike oefening in uitspraak en spelling. Daarom word dit dikwels oorgeslaan, ook deur predikers en ander geestelike voorgangers, omdat dit regtig nie ’n voor die hand liggende “boodskap” bevat nie.
Maar dit is die Bybel dié, en die leser moet maar versigtig lees. Daar staan dikwels nie wat daar op die oog af staan nie. Soms staan daar dinge wat jou oog gemis het – soos met al die name in die genoemde Paulusbriewe.
Die eerste wat die leser hier tog moet raaksien, is … ja, die name. Elkeen verteenwoordig veel meer as bloot die letters waarmee dit gespel is. Agter elke naam is daar ’n gesig en ’n geskiedenis, ’n bidder en ’n doener, ’n leier of ’n lydende. Soms verteenwoordig so ’n naam ’n hele familie, ’n netwerk, ’n groep wat by daardie persoon se huis byeenkom om te aanbid. Hierdie name is dikwels niks minder nie as ’n register van die vroeë kerk se voorlopers.
Dit was nog altyd so: Die Here-van-die-kerk gebruik mense, vlees en bloed, om in sy kerk te dien. Geen engele nie. Geen heiliges.
____________________
Nee, Here, U het mense in u diens – swak, dom, feilbare mense soos ek. Dankie vir dié voorreg.
Woensdag 6 MAART 2019 Lees Jesaja 58:1-12
ASWOENSDAG
Skyngodsdiens
Hulle vra wel elke dag na my wil, asof hulle graag wil weet … (v. 2).
Vandag begin die lydenstyd – veertig dae se saamloop op Jesus se lydensweg, tot by die kruisiging en opstanding. En niemand kon vir ’n groter knal gevra het as dié klompie verse om hierdie reis mee te begin nie.
Hoor dan hier: Die Here kla deur sy profeet dat sy mense hulle nie regtig aan Hom steur nie. Hulle maak al die regte geluide en gebare, maar wanneer hul saak en sak geraak word, doen hulle net wat vir hulle voordelig is. Ja, hulle vra kamma, vol vroomheid en voorgee, wat die Here se wil vir hul lewe is – en dan leef hulle in elk geval soos hulle wil.
Die Here vaar woedend uit teen hierdie skyngodsdiens. Hulle moet nie dink Hy is gediend met al hul “vertonings” nie, sê Hy. Dit wat Hy wil hê, doen hulle nie. Hulle sorg nie vir die armes en die sukkelaars nie, hulle draai hul rug vir die dakloses en verdruktes.
Intussen baklei hulle dat die hare waai, bid dat die biesies bewe, speel kerk-kerk asof dit uit die mode raak – en vergeet wie die Een is aan wie daardie gebede gerig is en in wie se Naam die vasdae gehou word.
Kan hulle dan verwag om geseën te word?
Nou kla mense wat beter moet weet oor die donkerte in hul omgewing, oor die Here wat hulle nie hoor nie. Hulle sal nooit daaraan dink dat hul medemens die sleutel tot al hul klagtes dra nie, daardie mens wat oor hul pad gestuur word en vir wie hulle blatant ignoreer.
____________________
Here, ek vra ernstig na u wil – en toe stuur U húlle na my toe! Wat wil U hê moet ek doen?
Donderdag 7 MAART 2019 Lees Eksodus 5:10-23
U doen dan niks …
“Here, waarom werk U so sleg met hierdie volk? Waarom het U my nou eintlik gestuur?” (v. 22).
Dit is maar die begin van die armdrukkery tussen Moses en die Egiptiese farao. Die groot koning is nog vol hubris: Hy stuur sy sterkmanne om allerlei onmoontlike eise aan die reeds swaarbeproefde Israelitiese slawe te stel. Hulle boonop te slaan omdat hulle kwansuis nie vinnig genoeg werk nie.
Die slawe se woordvoerders kom kla by die farao, maar hulle word uitgeskel vir lui, vir kansvattery – en terstond teruggestuur om verder te werk.
Toe daal hul desperate omstandighede opnuut op die Israeliete neer. Nou beskuldig hulle vir Moses en Aäron daarvan dat dit húlle is wat die farao so kwaad gemaak het.
En Moses? Hy beskuldig die Here: “Van die eerste oomblik af … het hy hierdie volk mishandel. Tog het U niks gedoen om u volk te red nie!” (v. 23).
Dit is ’n sug (en beslis ’n aanklag, hoe vroom dit ook al geformuleer word) so oud soos die Egiptiese farao’s self: Here, ek soebat en ek sukkel en U weet dit. En tog doen U niks. Wat doen ék nou?
Wie sal my help?
Die Here sal. Hy help altyd. Ten spyte van Moses se maklike moedverloor. Te midde van sy ongeduldige verwyte. Die Here is reeds daarmee besig. As Moses eenvoudig sy oë wou oopmaak en die groter prentjie raaksien …
Dit is mos alle moedelose gelowiges se probleem: Ons staar ons blind teen die grense van ons eie klein, miserabele hoekie. Ons verknies ons oor die stank op ons eie mishoop. Terwyl God die hele wye wêreld op die oog het, sý wêreld. Sy kinders se blyplek, ál sy kinders s’n. Hy is voltyds besig om te help.
____________________
U, Here, is my hulp en my vesting. Vir wie sou ek vrees?
Vrydag 8 MAART 2019 Lees Handelinge 7:35-42
Diensknegte
“Ons voorvaders wou egter nie na hom luister nie. Hulle het … na Egipte terug verlang” (v. 39).
Stefanus was een van die vroeë kerk se eerste diakens. Die bietjie wat ons van hom weet (eintlik bloot uit twee hoofstukke in Handelinge), laat