Wat Josef hoor, is wat elke leser van hierdie verhaal hoor: die erns waarmee ’n seun sy pa se saak bepleit. Boonop ten koste van homself: “Hou my daarom dan nou hier …” (v. 33). Daar ís dus iets soos grondige besinning, ’n bekering van die hart. Juda se optrede bewys dit.
Vir die res van Juda se storie kan die Bybelleser gerus eers verder blaai, ver vorentoe, tot by die eerste boek in die Nuwe Testament. Tot hier: “Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar …” (Matt 1:3). Juda is dus een van Jesus van Nasaret se voorsate.
Daar is dus ook iets soos genade, daardie verbysterende daad van God. Ja, daar is maar Een soos Hy wat onverdienstelike mense in sy diens neem.
Dit alles wys natuurlik ook dat hierdie dagstukkie se titel foutief is. Dit moet “God” heet. Hý is die onderwerp van elke storie, elke dag van ons lewe. En daarna.
____________________
Grote God, aan U die eer! Heerlik is waar U regeer.
Sondag 24 FEBRUARIE 2019 Lees Genesis 45:3-11, 15
Maar God
“Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel …” (v. 8).
Hier kom alles uiteindelik op die lappe. Josef, vertel die skrywer, kon sy emosies nie meer beheer nie en het al sy Egiptiese amptenare van hom af weggestuur. Net sy broers was by hom. En toe het hy begin huil, so hard dat almal in die paleis hom kon hoor.
Toe vra hy uit oor sy pa. Sy broers kon hul ore nie glo nie. Is dit werklik Josef, die verkoopte slaaf, ons broertjie oor wie ons ’n liegstorie vertel het? Is dit werklik hý, hierdie magtige Egiptenaar?
Dit is hy. En hy sal hulle sekerlik nou terugbetaal vir alles wat hulle hom aangedoen het. Hy sal behoorlik wraak neem – omdat hy kan. Hy sal ten minste sy dreigement uitvoer en Benjamin na behore straf. Of die broers se “aanbod” aanvaar dat hulle almal tot slawearbeid gevonnis word. Boonop is daar Juda se pleidooi: “Hou my … hier as Meneer se slaaf …” (Gen 44:10-33).
Maar Josef het niks hiervan ooit oorweeg nie. Hy het iets heeltemal anders in gedagte: Hy gaan haal die storie ver – by hul motiewe, hul bose dade – en stel dit in ’n splinternuwe perspektief. Nie net slaan hy só hul asem weg nie, hy verras ook die latere lesers van hierdie verhaal.
Julle was, onwetend, bloot God se handlangers, sê hy vir die broers. Julle maak allerlei planne, maar God het sy eie plan met al jul plannetjies.
Julle sús en julle só – maar Gód!
Ja, “maar God” … Dit bly waarskynlik die kortste samevatting van die blye evangelie.
____________________
U buig die kwade om. U slaan ’n reguit hou met ’n krom stok. Ek prys u Naam!
Maandag 25 FEBRUARIE 2019 Lees Psalm 38
Sonder antwoord
Ek vertrou op U, Here, U sal antwoord … (v. 16).
Lees hierdie psalm van hoek tot kant deur: Jy sal nie ’n antwoord vind nie. Geen verligting nie. Soos dit in die eerste vers met ’n smeekroep begin (“Moet my tog nie …”) eindig dit meer as twintig verse later: “Maak tog gou om my te help …”
Die redes vir die benoudheid wissel: In die eerste verse is dit die Here se hand wat “swaar op my” lê (v. 3); in die daaropvolgende gedeelte wys die digter die vinger na homself, “my eie dwaasheid”(v. 6). Nóg later wys hy sy vyande uit “wat my sonder rede haat” (v. 20).
Maar deurentyd, van begin tot einde, smeek hy: Help my, Here! Maak tog gou! “U weet waarna ek smag …” (v. 10).
Wat ’n roerende pleidooi. En ons kan ons, eeue later, steeds daarmee vereenselwig. Met die desperaatheid, met die vyande – juis ook onsself, wat merendeels ons eie grootste vyand is. Ja, en selfs met die belewenis van die Here se swaar hand, sy toorn oor ons.
Maar veral, verál, met die noodroep waarop die antwoord steeds uitbly. Want wie van ons ken nie daardie stilte ná gebed nie? Wie het nog nie gewonder of ons gebede nie maar iewers tussen bed en plafon vassteek nie? Is ek ooit gehoor? Is daar hoegenaamd Iemand wat my aanhoor?
Dié digter wonder nie daaroor nie. Sy gebed het maar een adres: “Here, my Redder!” (v. 23). Nee, hy weet goed God hoor; dit is net die gewag wat hom onderkry.
By hom is dit geen kwessie nie: Om sonder ’n antwoord te wees, beteken nie dat jy sonder God is nie. Nooit. Moet jou net nie skaam om aan te hou vra nie. Dit sou ook Jesus later sê (vgl. Luk 11:5-13).
____________________
Ek vra sonder ophou, Here, ek soebat: Hoor my! Help my!
Dinsdag 26 FEBRUARIE 2019 Lees 1 Samuel 24:1-23
Ek kon …
Dawid se manne sê toe vir hom: “Kyk daar, vandag sê die Here vir jou: Ek gee jou vyand in jou hand …” (v. 5).
Wat ’n verstommende storie! Lees gerus dié hele hoofstuk, en wonder saam met my hoe ’n fliek hieroor sou lyk en wat ’n geskikte ouderdomsbeperking sou wees.
Die kleurvolle besonderhede is boeiend: Saul neem drie afdelings uitgesoekte manskappe om Dawid te jag. Saul, ook maar mens, kom agter die natuur roep en hy kies, van alle plekke, die grot waar Dawid en sy manne skuil. Dawid se manne sê dit is die Here (nogal!) wat Saul op dié manier aan Dawid se genade oorlaat. Dawid versamel ’n bewysstuk dat hy inderdaad Saul se lewe in sy hande gehad het. Dawid sê vir Saul: Ek kon u doodgemaak het, maar ek het nie. Saul begin huil en erken dat Dawid ’n beter mens as hy is en dat hy ’n beter koning sal wees. Uiteindelik sê Dawid aan Saul: Die Here sal regspreek oor ons. Hy is die Een wat oordeel, nie ek of u nie.
Dit is die storie …
In hierdie klein, alte menslike drama kom ons daardie spesiale kenmerk van ’n Godskind teë: Ek kon, maar ek het nie; dit sou ’n vergryp teen die Here self gewees het. Dit was beslis binne my vermoë om dit te doen, maar ek vermoed dit was buite God se wil. Daarom het ek my daarvan weerhou.
Nie maklik nie, nè? Daar is mense wat sal sê: Moenie so naïef wees nie. Jy verspeel jou kanse.
Maar ons weet die lewe voor God se aangesig is nie ’n fliek nie. Dit is ’n werklikheid wat met respek en deernis en dankbaarheid geleef moet word.
____________________
Here, leer my elke dag wat ek kan, en wat ek moet. En wat die verskil is.
Woensdag 27 FEBRUARIE 2019 Lees Lukas 17:1-4
Onvermydelik
“Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is” (v. 1).
Bekende Jesusuitsprake in ’n effens anderster baadjie: Die waarskuwing om nie “een van hierdie kleintjies” (v. 2) te laat struikel nie, want ’n seegraf met ’n groot klip om die nek is dan jou voorland. O, en dan die oorvloedige vergifnis.
Opvallend, dus, die effense verskille. Dié dinge wat Lukas gehoor het en wat ons nie by Matteus en Markus verneem nie. Soos die “onvermydelik” in vers 1.
Jesus verkondig nie ’n aardskuddende waarheid nie; enigiemand wat maar ’n bietjie gelewe het, sal weet hoe geneig mense soos ons is om te struikel. Dit is nie dat jy uit jou pad hoef te gaan om sulke struikelblokke teë te kom nie; hulle meld hulle sommer self aan, hulle doem voor jou op. En dikwels wanneer jy dit skaars verwag of die minste daarop voorbereid is.
Jesus se opmerking oor hierdie vanselfsprekendheid lei tot sy waarskuwing aan hulle wat daarvoor verantwoordelik is. Aan dié wat kleintjies op so ’n manier laat val. Hiér flits die rooi ligte, want ons weet reeds wie Jesus met “kleintjies” bedoel: nie (net) kinders nie, maar almal wat weerloos is teen gemene aanslae, wat uitgelewer is ander