Sondag. Irma Venter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Irma Venter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780798177405
Скачать книгу

      Donderdag 8 Februarie, 14:45

      Brooklyn is amper onherkenbaar. Wanneer laas was ek in dié voorstad van Pretoria? Ek doen die somme in my kop. Ses jaar gelede, toe die Rolex-bende vasgetrek is.

      Talle van die ou huise in die buurt lyk anders as wat ek onthou. Hulle is meer modern, uitgebrei, met roubaksteenmure en growwe verf in natuurlike kleure, soos die mode deesdae dikteer. Nuutgelêde gruispaadjies staan afgemerk met potte vol kruie, groente en vrugte. Die huise voel minder ook, met restaurante, prokureursfirmas, bemarkingsagentskappe en kraakvars meenthuiskomplekse wat op elke hoek opskiet.

      Die straat se bome dra die letsels van die buurt se vooruitgang, as mens dit so kan noem. Die jakarandas wat altyd so dig was, staan uitgedun, vermink, tot op die been gesnoei.

      Ek voel amper lus om om te draai. Ek hou van ou huise met hulle plankvloere, groot kombuise, kaggels en staalplafonne. En bome ouer as ek. Ek vertrou niemand wat ’n boom afkap of ’n ou huis sloop nie.

      Bo my flits die weerlig helder, gevolg deur ’n donderslag.

      Ek kyk op my horlosie. Ek’s honger. Ná die Midnight Club het ek Ranna by Sarah se woonstelblok in Pretoria-Wes gaan aflaai. Verbasend genoeg was die hacker nie voor haar rekenaar nie. Sy het reggemaak om te gaan draf voor die reën kom. Ek weet Ranna sal die minute aftel tot ek terug is sodat ons saam deur Martina se besittings kan sif. En sy sal beslis Sarah se yskas takel. Hoe iemand so baie kan eet en maer bly, weet ek nie.

      Ek draai links, regs, stop by ’n swaar swart hek en ’n waghuis so groot soos my eerste woonstel. Ek soek verby die hek. Die Stables Estate is groot. Ek sou nooit kon dink ’n sekuriteitsdorp lê hier weggesteek tussen die ambassades, besighede en woonhuise nie.

      Die hekwag vra vir my ID en my regterwysvinger se afdruk, dan kyk hy op ’n lys en bel om te hoor of ek ’n genooide gas is. Gelukkig groet ons voor hy ’n bloedmonster vra.

      Ek kan nie glo ek moet met kaptein AJ Williams ’n onderhoud doen nie. Ranna het uitgebars van die lag toe ek haar vertel het, en toe gesê ek moet versigtig wees.

      Ek weet goed om my afstand te hou van ’n polisievrou wat niks weet van los nie. Kaptein Williams het my twee keer gebel ná die xenofobiese gemors destyds by die Pretoria-kerk. Sy wou hoor of Ranna Abramson my gekontak het. Of ek weet waar die vrou is wat Tom Masterson vermoor het, en al daai ander mans regoor die wêreld.

      Wat sal sy doen as ek vir haar die waarheid vertel? Dat ek en Ranna saam vir Tom doodgemaak het nadat hy haar jare lank genadeloos gejag het? Dat hý al daai ander mans vermoor het sodat sy skuldig moet lyk?

      Dalk maak dit nie eers meer saak nie. Daar is bitter min bewyse teen Ranna oor, indien enige, daarvoor het ons deur die jare gesorg. Ons enigste bekommernis is dat die polisie dalk ’n DNS-monster van haar het.

      AJ weet dit. Móét dit weet.

      Beteken nie sy gaan ophou nie.

      Ek ry stadig verby huise wat sê geld bly hier.

      Elke huis in die Stables is individueel ontwerp en sit op ’n groot erf. Sommige het grensmure en ander oop grasperke. Min of geen diefwering.

      ’n Jong vrou en twee Labradors hardloop verby, haastig om voor die reën by die huis te wees. Sy’t seker vroeg by die werk geloop. Of dalk werk sy glad nie. Wat weet ek nou van Pretoria se elite?

      ’n Mercedes-Benz-minibus jaag verby, drie jong skoolkinders wat deur die oop vensters jil. ’n Jong vrou, dalk ’n au pair, roep skril op Engels dat hulle moet stilbly.

      Ek ry verby ’n groot groen park met kareebome en akasias wat stoei in die stormwind. Parkeer die Land Rover op die gras voor nommer 25, die huis verste weg van die hoofhek, en klim uit.

      Van hier af lyk die Van Zyls se dubbelverdiepinghuis soos ’n kerk. Indrukwekkende katedraalvensters, ’n geboogde dubbelvoordeur van hout met loodglasvensters weerskante. Selfs ’n effense toring heel agter.

      Ek kyk na links. Ja, dis soos Google Maps sê: die huis is op die hoek van die kompleks, langs die tienvoet-grensmuur met sy elektriese heining. Sou die inbrekers van buite af oor die muur gekom het?

      Die eerste vet reëndruppels val op die warm teer. Die weerlig knal so naby dat ek instinktief koes.

      Ek maak die tuinhekkie oop. Daar is ’n vyfvoetmuur om die eiendom wat die inwoners taamlike privaatheid gee. Die driemotorgarage sit voor die huis, met net die voordeur en ’n deel van die stoep sigbaar van die straat af.

      Ek draf voordeur toe. ’n Ry lourierstruike steek iets na links weg. Ek gaan staan, spits my ore. Die geduldige, veraf klop van ’n pomp sê dis ’n swembad. Voor die struike staan ’n klassieke rooi Merc, die ruite getint. Langsaan is ’n groot, ronde fontein met ’n sementvis wat water oor wit lelies spoeg.

      Hoe het die motor hier gekom? Iewers moet ’n hek wees wat ek nie kan sien nie. Seker aan die ander kant van die garage.

      Ek klim die trappies na die stoep en klop aan die voordeur. Haastige treë klink van binne af op. Die jong vrou wat oopmaak, is skraal met lang, lang bene in ’n stywe denim. Haar skoene is oorgetrek met wit materiaalsokkies en sy het latekshandskoene aan.

      Daar is ’n beneukte kyk in haar oë, beklemtoon deur ’n prominente rooiraambril. Haar krullerige bruin hare hang los om haar skouers. ’n Fyn moesie sit neffens haar mond à la Cindy Crawford, wat in die 1980’s skoolseuns soos ek laatnag wakker gehou het.

      “Middag. Ek’s Alex Derksen. Ek moet kaptein AJ Williams hier kry.”

      Die vrou kom uit tot op die stoep. “Ja-nee. Wragtig.”

      Ek staar vraend na haar, wonder vlugtig hoekom daar rolstoeltoegang na die huis is – ’n breë sementloopvlak wat tot op die stoep draai. Onthou dan wat ek in die koerante gelees het oor Katerien van Zyl se jonger suster, Annabel Kirkpatrick.

      Die vrou bekyk my fronsend, asof sy nie weet wat om met my te maak nie.

      “Kaptein Williams?” vra ek weer.

      “Jy’s vroeg.”

      Ek weet. Vroeg wees help soms. Dit laat mense gou maak, sleg voel dat hulle laat is, al is hulle nie. Soms laat dit hulle goed sê wat hulle nie moet nie.

      En van wanneer af is dit slegte maniere om betyds te wees?

      “ ’n Hele tien minute vroeg,” sê sy.

      “Jammer?” bied ek onwillig aan.

      Sy kyk verby my na die reën en die weerlig. Sug.

      “Nou maar toe.” Sy beduie na die Mercedes. “Gaan klop aan die venster. Kaptein Williams wag in die kar.”

      Ek voel aan my bosbaadjie se sak, maak seker ek het my notaboek, opnemer en pen. Steek dan my hand uit dat sy dit nie kan ignoreer nie. “Alex Derksen.”

      Sy waai ’n latekshand in die lug. “Sersant Faradien Josephs.” Haar frons verskerp weer. “Voor jy by die huis inkom, moet jy daai aantrek.” Sy beduie na ’n boks met skoenoortreksels en handskoene op die stoeptafel agter my. “Jy kom neuk nie met my crime scene nie.”

      Ek knik en draai om, draf die trappies af na die Merc se passasierskant. Klop aan die toegewasemde ruit terwyl ek koes vir die reën wat al harder val.

      Die deur gaan op ’n skreef oop en ek klim in, sak terug teen die ligbruin leersitplek. Dankie tog vir groot ou motors wat plek het vir ’n sesvoet-twee-lyf en nommerelf-stewels.

      Die water drup van my skoene tot op die swart matjie. Ek kyk skuldig daarna, dan na AJ Williams wat vies na my klam baadjie staar. Dis duidelik sy pas haar motor goed op, al moet dit dertig jaar of ouer wees.

      “Kaptein, gaaf om jou weer te sien.”

      Sy steek haar hande onder haar sygladde bruin hare in, haal ’n iPod se oorfone uit. “Moenie jok nie. Moet nooit jok nie, anders gaan ons nie kan saamwerk nie.” Sy neem my hand. Druk dit effe te hard toe die donderweer skielik slaan.

      Ten