Ruby loop asof haar linkerheup sukkel, al kan sy niks ouer as veertig wees nie. Sy lyk net so moeg en beneuk soos die Rus. Ek loer onderlangs na Ranna. Hoe het sy ooit hierdie vroue oorreed om vir ’n foto-essay te poseer? Om haar genoeg te vertrou om haar van hierdie meisie te vertel? Hulp te vra?
“Hoe oud was die kleintjie?” vra Ivanka vir Ruby.
Ruby se mond trek bitter. “Sy was agtien.”
“Agtien?” Ivanka klink verbaas.
Ruby trek haar skouers op. “Dis wat sy gesê het, en sy’t ’n bestuurderslisensie gehad om dit te bewys.”
“Klink nie of julle haar geglo het nie,” sê ek.
Ruby se oë vernou. “Gaan julle regtig help, of gaan julle twee ure vat soos die polisie om ’n verklaring te neem sodat julle bietjie kan perv en gratis koffie drink? En dan hoor ons nooit weer van julle nie.”
Ek kyk terug na die foto. Weet Ranna was reg oor die meisie, en oor my, soos altyd. Dat ek hierdie storie moet doen.
“Ons sal ’n artikel skryf,” sê ek, “maar dan moet julle help. Hoe oud was sy regtig?”
Ruby kruis haar arms. “Ek dink sy was nader aan sestien.”
“En die Renault?”
“Colin wou glo sy’s agtien, maak nie saak of die lisensie vervals was nie. Sy’t hier ingeloop, jonk en vars – en nice – en vir hom gesê sy kan dans. Vir hom gewýs sy kan dans.” Ruby klap haar vingers. “Net so kry sy die werk, maak nie saak dat ek gestry het sy’s te jonk nie.”
“Kon sy dans?”
“O ja,” sê Ruby.
“Strip?”
“Sy moes leer, maar sy’t gou geleer.”
Ek voel vreemd verlig oor die antwoord. “En was sy regtig nice, of was dit net om werk te kry?”
Ruby vee die vlegsels uit haar oë. “Haar naam was Martina. Tina.”
Ek knik. “Goed dan. Was Tina regtig nice?”
Want daar is regtig nice en dan is daar nice om te oorleef. Nice want jy weet wat om te doen om kos te kan koop.
Ruby se mondhoeke trek af. “Sy was regtig nice.”
“Te nice vir hier,” stem Ivanka saam. “Maar sad. Baie sad. En kwaad.”
Die Rus vis ’n pakkie sigarette uit haar handsak, steek een aan en blaas die rook hoog die lug in. Haar nek wys die naderkruip van ouderdom, lyne wat room en grimering nie meer kan wegsteek nie.
“Wanneer het sy verdwyn?” vra ek.
“Iewers voor Kersfees,” antwoord Ruby. “Ek en Ivanka was vir ’n week af. Toe ons die 30ste terugkom, was sy weg. Mense praat asof hulle haar laas die oggend van die 24ste gesien het.”
“So lank al? Het die polisie niks gekry nie?”
“Hulle het nie eers gesoek nie. Ek weet wat hulle dink, en julle seker ook … ’n blesser het haar kom vat, of sy’s strate toe, of sy’t iewers ge-OD, of sy’s huis toe.” Ruby se hand aap ’n mond na wat oop- en toeklap. “Maar sy’t nie een van daai goed gedoen nie, en sy’s ook nie ’n junkie nie.”
“Hoe weet jy dit?”
“Is jy nou heeltemal –” byt Ruby.
Ivanka hou haar hand op. “Wag, wag.” Sy kyk vinnig in die rigting van die voordeur asof sy die klub se bestuurder enige oomblik terug verwag. Die uitsmyter staan met bultende spiere en maak of hy ons nie sien nie. Ivanka het hom honderd rand gegee voor sy met ons kom gesels het.
Sy draai na Ruby. “Onthou, Ranna het gesê hy gaan die feite wil check voor hy die storie skryf.”
Ruby se ken lig uitdagend. “Ek weet Martina was nie ’n junkie nie, want ek kyk na die dansers.” Sy beduie verhoog toe. “Daai een? Llello … coke. Sy dink niemand weet nie, maar Colin het haar reeds middae toe geskuif.”
Sy tik teen haar bors met ’n lang rooi vingernael. “Ek weet als wat hier aangaan, en ek kan jou belowe daai girl wou nie huis toe nie. Daar was niks by die huis vir haar nie. Nie geld of kos nie. Sy was desperate toe sy hier aangekom het. Ek het vir haar ’n toebroodjie voor die onderhoud gegee en sy’t geëet asof sy dae laas kos gehad het.”
Ek kyk weer na die foto wat op die tafel lê. Martina. Tina. Sestien is baie jonk om in ’n Johannesburgse strip club te dans.
“Dis al amper twee maande later. Het niemand nog van haar gehoor nie?”
Ivanka skud haar kop.
“Het sy ooit gepraat oor waar sy vandaan kom? Oor ’n pa of ma?”
“Nee.” Ruby beduie na ’n deur aan die agterkant van die verhoog. “Ek sal vir julle gaan wys wat sy als hier gelos het. Dalk help dit.”
“Als?”
“Tas, klere, grimering. Net haar handsak is weg. Toe sy nie terugkom nie, het ek haar goed in ’n tas gegooi en by my huis gebêre. Hier kry als mos voete.” Sy beduie oor haar skouer, na iewers agter die gebou. “Daar is enkelkamers hier agter die klub wat die meisies kan huur as hulle wil.”
Ek kyk na Ranna. Watter vrou, hoe oud ook al, los haar klere en grimering as sy wegloop?
Ruby lag sardonies toe sy my uitdrukking sien. “Ek sê mos: sy’t nie gewaai nie, sy’s gevat.”
Die son breek helder deur die wolke toe ons by die Midnight Club uitloop. Ranna sit haar sonbril op en neem my hand.
’n Helderblou BMW met blink wiele draai by die hek in en parkeer onder een van die twee afdakke op die terrein. Die motor klink warmgemaak, haastig. ’n Swartkopman klim uit, jongerig, breedgeskouer, goed opgepaste lyf, sy noupassende swart pak en wit hemp meer gedemp as die motor.
Hy lag verbaas. “Frankie?” Hy kom nadergeloop, sy blinkswart skoene wat op die gruis lawaai. “Wat ’n verrassing.”
Ranna druk my arm, waarsku my, tree vorentoe. Die man soen haar op die wang, steek sy hand na my uit.
“Colin Farrell. En nee, ek het die naam eerste gehad, nie daai akteur nie.” Hy glimlag.
Ek skud sy hand. “Aangename kennis.”
Die afwesigheid van lyne om sy oë sê hy lieg. Hy is heelwat jonger as die filmster. En ek kan sien hoekom Ranna my gewaarsku het. Sy oë styg niks hoër as haar T-hemp nie.
Ranna het hard gewerk om die Midnight Club se bestuurder te oorreed om Ruby en Ivanka in haar foto-essay oor vroue van Johannesburg in te sluit. Nie dat ek weet hoekom sy hom ooit gevra het nie. Op die ou end mag sy hulle glad nie by die klub afgeneem het nie.
Van naderby kan ek sien dat sy pak duurder is as Ranna se kamera.
Colin swaai die motorsleutels om en om in sy linkerhand. “Julle weer kom foto’s soek?” Die agterdog slaan deur die blink vriendelikheid.
“Nee.” Ranna glimlag, raak vlugtig, amper intiem aan sy voorarm. Sy skud haar kop. “Alex was nuuskierig. En bietjie jaloers.”
“Maak sin,” speel Colin saam. “Ek sou ook wees.” Hy lag, maar dis gedwonge. “Wil julle nie bly vir koffie nie? Iets sterkers? Die Boeing is lankal oor. Ek steek die goeie whisky in my kantoor weg.”
“Nee, dankie,” sê Ranna. “Volgende keer. Belowe.”
“Bel my.” Hy huiwer. “Volgende keer. Bel my voor julle kom.”
“Ek sal,” sê Ranna plegtig. “Belowe.”
MARIA
1.
Donderdag