“Jy het die tyd,” probeer ek weer. “Nie waar nie?”
Die hacker frons. “Seker. Bietjie.”
Ranna skink kookwater in die pot, gooi dan heuning in elke koppie. “Jy kan net so wel help, anders gaan jy binnekort droogmaak.”
Sarah kyk skerp na haar.
“Daai blitspatrollie-ou saam met wie jy snags so rondjaag. ’n Polisieman … jy? Wat gaan jy doen as julle moeg gespeel is, hom huis toe nooi?”
Ranna beduie na die woonstel om ons. Die drieverdiepinggebou het net een inwoner: Sarah. Of eerder, Sarah, haar twee honde, ’n versameling vinnige wiele en ’n superrekenaar op die eerste vloer. Ek het geen idee wat op die grondvloer aangaan nie.
Sarah snork vies, brom iets onhoorbaars.
“Ek gaan lees terwyl julle werk.” Ranna tel haar tee en boek op en loop kamer toe.
“En?” vra Ranna toe ek langs haar in die bed klim.
“Sarah is besig met die selfone en die motors. Sy sê ek moet loop slaap en haar uitlos.”
“Loop slaap?”
“Ja, okay, haar woordkeuse was meer kleurvol.”
Ek skuif onder die laken in. Luister na die verkeersgeluide wat af en toe opklink deur die oop vensters, aangedra deur ’n koel bries wat deur die vertrek waai. Pretoria-Wes is rustig vannag.
“Dis goeie nuus. Dat sy help.” Sy blaai om.
“Ja.” Ek skuif die kussing reg agter my kop. Gaap. “Goeie boek?”
“Hmm-hm.”
“Werk dit? Jy al slaperig?”
Sy lag. “Nee. Dalk moet ek nog ’n koppie rooibostee drink.”
Ek kom orent op my elmboog. “Ek dink dis tyd vir ander raad.”
Sy kyk oor die rand van haar boek na my. “Soos wat?”
Ek neem die boek uit haar hande. “Fisika. Vir mense wat weet hoe.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.