Namate die ure verbygaan, kom daar ’n einde aan die gesprekke wat die eerste deel van die reis opgekikker het. Party van die passasiers is aan die slaap gesus, en ander staar in die niet. Selfs doktor Pitzer het sy boek en sy oë toegemaak. Die vrou sit en vroetel met ’n brief op haar skoot, herlees dit elke nou en dan, met lippe wat die woorde stilweg vorm. Elke keer as sy by die einde kom, is daar ’n sagte sug, en sy byt haar onderlip. Dit is asof haar mond ’n lewe van sy eie het, die lippe probeer heeltyd ’n beter manier vind om op mekaar te pas, en verraai die onstuimigheid wat haar oë probeer wegsteek. Die arme mens, dink Siegfried. Maar nee, haar figuur pas by haar beroep en sy sal goed vaar. Sy is lank, met ’n goeie beenstruktuur, en kan dalk vir ’n dekade of meer ’n hoë prys vra, as sy gesond bly.
’n Stampgeluid op die dak laat ’n paar mense verbaas opkyk. “Dit klink kompleet of iemand daar bo is,” merk Siegfried op.
Die vrou lyk bekommerd. “Wat sou enigiemand op die dak doen?”
Siegfried is klaar op die been. “Ek kan uitklim, op die vensterraam staan en kyk.”
Pitzer het ontwaak. “Moenie belaglik wees nie. Dit is waarskynlik net strukturele geraas, weens die metaal wat in die hitte uitsit.”
Die gevaar om belaglik te lyk, stuit Siegfried in sy spore. “Ek meen u is dalk reg.”
“Daar is geen ‘dalk’ daaraan nie.” Noudat hy die saak voorhande afgehandel het, maak doktor Pitzer weer sy boek oop.
Siegfried gaan sit weer en kyk by die venster uit, sien Pforte, Jakkalswater, Sphinx, Dorstrivier …
* * *
Al is dit so ongemaklik, word Mordegai ’n paar keer met ’n skok wakker, bly om nog op die trein te wees, met geen idee hoe lank hy ingesluimer het nie. Die landskap verander stadig. Teen laatmiddag het hulle noordwaarts gedraai. Die berge daar voor is die Chuos, raai hy. Dit maak nie saak dat hy nie seker is nie, hy kan later uitwerk waar hy is. Die steilte maak dat die trein stadiger ry.
Hy trek sy hemp uit en draai die moue om sy hande. Dis al hoe hy kan rondbeweeg, anders sal die dak te warm wees nadat die metaal heeldag in die son gebak het. Hy kan nie veel langer wag nie. Die kampkos het hom verswak. Hy moet van die trein af kom terwyl hy nog die krag het om te beweeg. Hy kruip so stil moontlik na die agterkant toe. Hy kan nie van hier bo af spring nie, hy moet eers afklim na die balkon agter die wa. Die laaste wa is vol goedere – hy het dit help laai – en daar behoort niemand te wees wat hom kan sien nie.
Maar toe hy oor die rand loer, is daar twee spoorwegmanne op die smal balkon agter die trein. Een pie op die spore, ’n blink straal wat deur die wind gebreek word. Die ander sit op die vloer en rol ’n sigaret. Mordegai lê plat op die dak bokant hulle, beweeg sy arms en bene om die styfheid uit te kry. Hy moet gereed wees om vinnig te beweeg wanneer die tyd kom. Hulle ry nou met die berghang langs. Sal hy verby die manne kom? En wat sal hulle doen as hulle hom sien? Dis ’n slegte plan, besef hy. Dalk is daar later ’n beter kans. Maar dalk nie. En hy word al hoe swakker. Die dors maak sy kop deurmekaar. Tyd om te laat vat.
Hy loer oor die dak se rand. Hy werk sy bewegings uit, sê ’n vinnige gebed aan sy voorvaders en swaai sy bene ondertoe. Dit moet alles in een beweging gebeur. Hy laat los met sy hande en val op die man wat sit. Die kêrel kreun. Mordegai gee ’n tree, dan nog een, en spring van die trein af. Sy voete tref die grond en hy val agteroor van die momentum. Die val stamp sy wind uit, en die slag teen sy kop laat hom katswink.
Toe sy gedagtes weer vorm begin aanneem, sukkel hy om te onthou waar hy is. Daar het seker net ’n paar sekondes verbygegaan, want die trein is nog naby. Hy rol om, kom handeviervoet op en skarrel weg, op soek na skuiling.
* * *
Siegfried hoor ’n geroesemoes, ’n golf opmerkings wat van die trein se agterkant af aanspoel. Iets het die spoorwegwerkers daar op hol gejaag. Dit vat ’n rukkie om uit te werk wat dit is: Hulle het ’n man van die dak af sien spring, dalk is dit ’n krygsgevangene wat ontsnap het.
Teen die tyd dat die trein tot stilstand kom, is almal op die been, behalwe doktor Pitzer. “Vir wat stop ons in die middel van nêrens?”
“Om ’n gevangene aan te keer. Hy het blykbaar van die trein afgespring.”
“As hy gespring het, moet hy dood wees.”
Die trein stoot terug soos wat hy gekom het.
“En nou gaan ons agteruit,” sug Pitzer. “Dis wat jy kry as soldate die septer swaai.”
Sodra hulle by die plek stilhou waar die manne die voortvlugtige sien afspring het, spring die offisiere uit en swaai hulle pistole rond. “Almal uit! Almal uit!”
Siegfried is in die peloton wat aan die trein se regterkant byeenkom. Hulle bevelvoerder, oberleutnant freiherr Von Schlicht, gee haastig bevele. “Luister nou mooi! Ons vat die suide. Sprei uit, mik opdraand. Bly binne sigafstand van mekaar, sodat hy nie tussen ons deurglip nie. En hou julle gewere gereed. Die man is ’n vyand. Skiet op sig.”
“Hy’s myne, manne!” roep iemand. Siegfried kan nie sien wie dit was nie.
“Dalk kan jy hom die twééde skoot gee,” kap iemand terug.
Die vooruitsig om so gou al met die vyand slaags te raak, het almal op hol. Die man is ongewapen en op vlug; dit sal so maklik wees soos om ’n haas te skiet, maar met meer waarop jy jou daarna kan roem.
“Roer julle!” Von Schlicht se stem breek. Hy is seker omtrent neëntien.
Selfs edelmanne sukkel met die verleenthede van adolessensie, dink Siegfried. Dalk sal die offisier ook in sy broek kom as hy aan ’n mooi vrou raak.
“Waar de hel is hy heen?” fluister die man langs Siegfried, nie eintlik vir enigiemand se ore nie.
“Daar moet spore wees.”
“Dis net klippe oral.”
Dis al laatmiddag, en die son kaats op die treinspore westekant toe – die enigste geometriese vorm in sig. Siegfried draai weg en sien geen teken van die werk van mensehande nie, net skerp klippe, sand en skewe grasse wat dood lyk selfs terwyl hulle aan die groei is, die bros dorheid van die aarde, die hol hemel. Dit is nie net ’n ander land nie, dis ’n ander wêreld, een wat deur ’n lomp god gevorm en in woede gebreek is. Hy is ’n vreemdeling hier, nie omdat hy Duits is nie, maar omdat hy mens is. Die verlate barheid van die landskap doen iets aan hom, die grondliggende stilte eggo in sy siel. Hy kyk links en regs na sy medesoldate wat uitsprei – gewere in die hand, harte in die keel en moord in hulle oë. Siegfried wens hy kan ’n rukkie alleen wees, net hy en hierdie wildernis. Hulle kies koers bult-op. Dis onmoontlik om reguit te loop, almal moet om bosse, slote en rotse swenk. Hulle ontdek sommer binne die eerste paar treë dat elke bos vol dorings is. Die man aan Siegfried se regterkant vloek, en steek vas om hom van ’n besonder geniepsige bos te verlos.
Siegfried loop aan, sien ’n rotsstulping, ’n knoets vaalgrys klippe wat soos ’n reusevuis van ondergronds uitsteek, en loop daarom. Vir ’n oomblik kan niemand hom sien nie, dalk net God. Hy is nie gelowig nie, maar besluit dat as hier iemand is, dit God moet wees, en as God bestaan, Hy hier sal wees. Siegfried staan stil, voel die bries op sy vel, luister hoe die wind soos asem deur die graspolle sleur. Hy trek sy longe vol lug, gepeper met stof en die reuk van droë, suur gras.
Hy kan iemand se oë op hom voel en kyk vlugtig oor sy skouer. Van hier waar hy staan, is steeds nie een van sy makkers in sig nie. Hy berispe homself dat hy nie die gedagtes oor God kop toe moet vat nie. Dan sien hy dit: Vanuit die skeur tussen die rotse kyk ’n paar oë na hom, skaars vier tree weg. Siegfried se hand klem om sy geweer, maar hy lig nie die wapen nie, die loop wys nog grond toe. Die son is fel soos ’n kamera se flits, en vir Siegfried voel dit asof die tyd gaan stilstaan. So baie begin in sy kop gebeur dat sy lyf versteen.
Dit moet die voortvlugtige krygsgevangene wees, sy vyand. As hy doen wat hy veronderstel is om te doen, as hy eenvoudig die geweerloop se punt lig, dit op die vlugteling rig en die sneller trek … Op hierdie afstand kan hy kwalik