Die onverwagsheid van wat hy gesien het, die onsinnigheid en wreedheid daarvan, hou Siegfried vasgenael. Hy staar totdat die wa verdwyn, en dan die geluide ook, sodat net die see se gesis oorbly, en die twyfel in sy hart. Het dit regtig gebeur, of was dit ’n hersenskim, veroorsaak deur ’n ooraktiewe verbeelding en ’n lyf wat nie aan sulke inspanning gewoond is nie, deur die disoriënterende mis en die stuwing van oorweldigende emosies?
Uiteindelik dring ’n ander geluid tot hom deur, een wat al ’n hele ruk voortduur voordat hy besef dat die koor van stemme na hom roep: “Bock! Bock! Bock!” Soos ’n trop blaffende honde.
Toe hy daar aankom, het die res van die peloton al in drieë aangetree, van die langste na die kortste man. Terwyl hulle hom allerhande goed toesnou, neem Siegfried sy plek op die punt in.
“Op my bevel!” bulder die sersant wat hulle op die hawehoof ingewag het. “Aaaandag!” Hy loop verby die ry manne, kyk elkeen van hulle priemend aan, terwyl hulle by hom verbykyk na ’n kamtige ding daar voor iewers, ’n onsigbare teiken in die warrelende mis. Die hele tyd spreek hy hulle toe: “Die protektoraat se mense is op hete kole. Setlaars is vermoor, honderd-ses-en-twintig van ons landsgenote net in die eerste paar dae van die Herero-opstand, onskuldige mense wat in hulle beddens en huise en werksplekke vermoor is, vroue en kinders ook, goeie mense soos julle ma’s en susters en pa’s en broers. Die setlaars het nuusberigte gesien van veldslae en gevalle soldate. Soos julle weet, het ons die Herero’s se hoofmag verlede jaar by Waterberg gebreek, maar party van hulle baklei nog. In die suide is Witbooi en Marengo se Nama-bendes nog aan’t moor en steel. Ons mense wil sien dat die Vaderland die opstandelinge vasvat.” Hy praat in kort sarsies woorde, benadruk telkens die laaste woord, en skep diep asem tussenin. “Ons moet sorg dat Swakopmund se mense sien dat nuwe schutztruppe hier aangekom het om hulle veiligheid te verseker. Julle gaan van hier af reguit na die stasie toe, daarvandaan per trein Windhoek toe, en dan die vertes in. Op pad van hier af stasie toe gaan mense julle deurkyk, probeer peil wat daar in julle steek. Hulle soek bevestiging dat hulle snags rustiger kan slaap, dat hulle toekoms in Duits Suidwes-Afrika veilig is. Julle sal skerp lyk. Julle sal vol vertroue lyk, en sterk. Julle is soldate van die Kaiserreich. Om hemelsnaam, gedra julle so.”
Hulle maak ’n regsomkeer en begin marsjeer, die lang manne voor. Siegfried rek sy treë, probeer om ’n armlengte van die rugsak voor hom af te bly. Moenie struikel nie, maan hy homself, moenie val nie. Onder sy voete voel hy die grond soos die see dein.
* * *
Mordegai Guruseb is vasbeslote om hierdie einste dag op vlug te sterf, of eers veel, veel later. Nie ’n paar weke of maande van nou af nie, nie van hongersnood nie. Hy is seker dat as hy in die konsentrasiekamp bly, hy nie die winter gaan deurstaan nie. Hy is nog maar ses weke in die kamp, maar het reeds te veel sterftes gesien om enigiets anders te verwag. Die Duitsers gee hulle te min kos en skuiling, en te veel werk.
Die laaste keer toe hy só gevoel het, was terwyl hy saam met die Herero’s in die Omaheke-woestyn rondgedwaal het na hulle nederlaag by Waterberg, op soek na kos en water. Die Duitsers het die kleiner watergate vergiftig en die grotes bewaak. Hy het besluit dat enigiets beter sal wees as om in die woestyn van dors te beswyk, en het hom aan hulle oorgegee. Hy het só sy lewe gered, maar watter soort lewe is dit hierdie?
Hy hoort glad nie eens hier nie. Die kamp is vir Herero’s bedoel, maar die soldate kan nie tussen die stamme onderskei nie. As ’n Damara was hy al jare lank aan die Herero’s onderworpe, as bokwagter. Dis ’n skrale troos dat sy meesters ook nou agterkom hoe dit voel om onderdruk te word. Die feit is hulle word almal uitgewis; hy moet wegkom. As hy in die proses doodgemaak word, verloor hy ten minste net ’n paar weke van sy lewe – weke van lyding. En as hy wel wegkom … Hy het geen idee wat dan op hom wag nie, maar hy sal lewe en vry wees, dit is genoeg.
Die kamp word deur twee rye doringdraad omhein en daar is wagte. Sy beste kans om te ontsnap is nou, terwyl hulle buitekant werk. Hy het pas ’n krat van die kaai af na die trein toe gedra, en word teruggejaag om nog ’n vrag te gaan haal. In die digte mis kan hy dalk ongesiens wegglip. Die grootste probleem is waarheen om te gaan. Aan die een kant is daar die yskoue see, aan die ander kant dorre woestyn waar nie eens die gehardste plant oorleef nie. Die enigste manier om die Namib te voet oor te steek, sal wees om die Swakoprivier se droë loop te volg, maar daar sal hy hom in Duitsers vasloop. Hy besluit op ’n vinniger en meer gewaagde manier – hy gaan die trein haal. Nog soldate het per skip aangekom, en met die trein wat voorberei word, is dit duidelik dat hulle binnekort gaan vertrek. Mordegai sal op daardie trein wees.
Nadat hy sy krat neergesit het, draal hy en maak seker dat hy die laaste man is, met net twee wagte agter hom. Hy haal die metaalkenteken af wat hy aan ’n riempie om sy nek moet dra. Toe hy langs die trein verbyloop, gooi hy die skyf so hard as wat hy kan teen ’n ossewa wat daar naby staan. Sonder om seker te maak of die geluid wel die wagte se aandag getrek het, duik hy tussen die treinwiele in, lê met wydgesperde oë op die dwarslêers, hou die wagte deur die newels dop en hoop hulle sien hom nie op die treinspoor lê nie. As hulle hom oplet, sal hy opspring en hardloop, en aanhou hardloop totdat hulle hom platskiet, en dan sal hy kruip as hy kan, bly voortbeur totdat die lewe hom verlaat.
Hy seil onder die treinwa langs. By die koppeling lig hy sy kop en kyk rond. Dit lyk asof niemand hom sien nie, en hy klouter op die balkon tussen die waens en van daar op die reling. Dan hys hy hom aan sy arms tot op die dak. Hy het niks by hom nie, net die ruwe seilhemp en -broek wat aan hom uitgereik is, ’n halfleë maag na die kampontbyt van ’n paar lepels rys, en ’n greintjie hoop. Hy kry ’n plek op die dak wat hom ’n bietjie vashouplek bied en lê dan stil, bid dat die trein sal vertrek voordat die mis lig, voordat hy oop en bloot lê vir enigiemand om hom van die stasiegebou se tweede verdieping te sien.
* * *
Teen negeuur wag die volle kompanie by die trein. Hulle sit op hulle rugsakke of leun daarteen. Party van die manne het rug aan rug gaan sit, leun teen mekaar. Hulle wys hulle opgewondenheid en ongeduld, steek hulle vrees en onsekerheid weg. Siegfried sit kiertsregop op sy rugsak en bekyk die wêreld. Hy soek selde die troos van ander se geselskap, vind dit nooit. Soos soveel dinge in sy lewe, is sy hunkering om as man onder manne erken te word grootliks abstrak. In werklikheid word dit gedurig beduiwel deur ’n rebelse gees, ’n inherente wantroue in algemene aannames. Om dinge te vererger, is sy skeptisisme nie net uitwaarts gerig nie, maar het hy die gewoonte om homself te folter. Het hy, byvoorbeeld, regtig nou net daardie vroue gesien wat die wa trek, of was dit ’n hersenskim wat deur sy onderbewuste opgedis is, ’n stukkie halfvergete Dante dalk, ’n veruiterliking van ’n diepgewortelde vrees dat hierdie land dalk nie aan sy verhewe verwagtinge gaan voldoen nie?
Die mis begin wegbrand en die wêreld om hulle kry gestalte. Die stasie is ’n groot gebou wat iewers in Duitsland sou kon staan, gepunte toring in die middel, en kleiner torinkies aan die ente waarop die imperiale vlag pryk. Die dorp bestaan uit ’n dertigstuks geboue wat op kaal sand staan. Party van die ander ouens is teleurgesteld dat hier nie oerwoud en apies is nie, met bobbejaantoue en kreupelhout, maar Siegfried het sy huiswerk gedoen. ’n Wye soom sandduine loop langs die kus af, van Portugees Wes-Afrika tot by die Kaapkolonie. Die Namibwoestyn het Europeërs dermate afgeskrik dat hulle vir twee- of driehonderd jaar nadat hulle die gebied ten noorde en suide beset het, bloot hier verbygehou het. Die enigste rede dat hierdie nedersetting hoegenaamd bestaan, is die kuslyn se vorm, met die meestal droë Swakoprivier se monding wat ’n redelike hawe bied. Walvisbaai, vyf-en-dertig kilometer suid, bied beter beskutting, maar die Britte het dit reeds beset en Swakopmund het noodgedwonge die nuwe kolonie se lewensaar geword.
Toe Duitsland hom hierdie gebied vyftien jaar gelede toegeëien het, het hier minder as honderd-en-vyftig wit mense gebly in ’n