In die klein kamertjie skud herr Kamke sy hand. Die boer se hand is klewerig van iets wat hy aangesmeer het teen die grofheid. Terwyl die paartjie die wetlike aspekte afhandel, staan Siegfried terug en staar na die agterkant van herr Kamke se nek, hoe grof die vel daar is in vergelyking met die gladde dele reg agter sy ore. Vanaand gaan hierdie harde lyf op Lisbeth Löwenstein neerdruk, kan hy nie help om te dink nie. Die gedagte pla hom. Dis nie jaloesie nie, besluit hy, dit skrei teen sy sin vir regverdigheid. Dit is nie wat die vrou wil hê nie. Hy sien dit gebeur, en kan dit nie keer nie.
Op ’n punt rebelleer sy longe, meteens daarop uit om van regte of kastige slym ontslae te raak. Hy voel die gekrap in sy bors, probeer dit onderdruk, maak geluide in sy keel. Hy sien dat die ander na hom kyk, Lisbeth inkluis. Hulle dink seker ek word oorval deur emosie, wat selfs nog meer beskamend is, dink hy. Dit is in elk geval nutteloos om daarteen te stry. Hy gryp sy sakdoek en laat die hoesbui kom. Toe hy sy asemhaling terug onder beheer het en weer bewus raak van almal om hom, kyk hulle na hom, in afwagting. “Ek vra verskoning,” mompel hy. “Gaan voort.”
Toe die tyd kom, maak hy sy handtekening onder die nuwe frau Kamke s’n.
Met die formaliteite afgehandel, wens die Jürgense die paartjie geluk en die dominee kloek van vrolikheid. Siegfried forseer ’n glimlag. Dan draai die bruid na hom toe, plaas haar hande op sy skouers en soen hom op die wang. “Dankie,” sê sy.
* * *
Presies vier-en-twintig uur na sy aankoms is Albert Pitzer terug op die stasie om sy tweede trommel te gaan haal, die een wat die spoorwegbeampte in Swakopmund gesê het hy sal aanstuur. Hy wil nie ’n dag langer in Windhoek bly as wat nodig is nie. Hy het hom al klaar vasgeloop in iemand wat hom ken, ’n medestudent wat sy graad voltooi het, nou ’n weermagdokter. Heinrich Salzwedel het baie vrae vir hom gehad, en het blykbaar nie sy antwoorde geglo nie.
Hulle vat erg lank om sy toerusting uit die goederetrok te laai. Hy hou die deur dop soos wat nuwe bagasie verskyn, deur amptenare geëien word en weggedra word deur jong swart mans wat vrolik gesels, asof dit hulle is wat goed ontvang. Die meeste dra hoed, maar ’n paar loop kaalkop. Hulle klein bossies hare verdoesel nie die vorm van hulle skedels nie, en hy staar met groot belangstelling daarna.
Later is daar net twee portiere oor. Hulle verdwyn in die goederetrok en Pitzer staan alleen, op sy tone van afwagting; sekerlik gaan hulle nou enige tyd met sy trommel verskyn. Hy wag, maar niks gebeur nie. Hy kyk rond, hoop om die stasiemeester se oog te vang, maar selfs hy het blykbaar ’n ander plek gekry waar hy moet wees. Om die waarheid te sê, daar is hoegenaamd niemand nie, besef hy geskok. Dis net hy, ’n verhongerde bruin hond wat die treinwiele ruik en druppeltjies urine daarop uitdruk, en ’n vrou wat teen die stasiegebou se muur sit met haar bene reguit uitgestrek en ’n baba op haar dye wat haar maag met sy voete vertrap. Selfs die masjiniste het die lokomotief verlaat, en is waarskynlik iewers besig om biere in hulle keelgate af te gooi. Pitzer loop na die goederetrok toe en loer huiwerig in. Dit is donker en dit vat ’n rukkie voordat hy seker is wat hy sien. Die twee portiere lê en slaap, of probeer slaap. Buiten die twee figure is die wa dolleeg.
Dit is soos ’n hol trom toe hy op die hout langs die deur timmer, en die portiere kom met wydgerekte oë orent.
“Waar is my trommel?”
Hulle kyk na hom, dan na mekaar, en dan terug na hom. Begrip dring stadig tot die skepsels deur.
“Wat het van my trommel geword? Dit was veronderstel om van Swakopmund af te kom.”
Die portiere – een jonger en sterker, die ander ouer en maerder – kyk so verwilderd na hom dat hy wonder of hý die een is wat besig is om mal te word. Hy moes geweet het dinge gaan verkeerd loop. Nou die dag in die woestyn toe honderd opgeleide en gewapende mans nie daarin kon slaag om ’n enkele ongewapende vlugteling vas te trek nie, moes hy geweet het dinge sal nie volgens plan verloop nie. Pitzer deel nie sy volk se algemene bewondering vir manne in uniform nie. Die soldate se mislukking was vir hom ’n aanduiding dat dinge selfs nog slegter is as wat hy hom voorgestel het. Nou word daardie indruk bevestig. Die jong portier wat wegdraf om die stasiemeester te gaan roep, vul Pitzer nie met vertroue nie.
Toe die stasiemeester uiteindelik opdaag, lyk hy vies oor die onderbreking. Hy is ’n groot, gespierde kêrel met grys oë wyd uitmekaar soos dié van ’n haai, en klein geel tandjies. Hare is teen sy slape vasgeplak van die sweet. “Wat’s fout met jou trommel?”
“Daar is niks mee verkeerd nie, behalwe dat dit nie hier is nie.”
“Wat het jy daarmee gedoen?” vra die stasiemeester, wat lyk asof hy regtig sukkel om te verstaan wat aangaan.
“Die vraag is wat het júlle daarmee gedoen. Ek het dat hulle dit van Swakopmund af aanstuur.”
“Dan moet ons die mense in Swakopmund vra waar dit is.”
“Dit móét hier wees, ek het dit nodig.” Pitzer doen sy bes om sy ontsteltenis in bedwang te hou.
“Jy het dit nodig … Ek het ’n gewillige wit vrou nodig, maar sien jy enige hier rond?”
Pitzer beskou mans wat op sekspraatjies staatmaak om gemeenskaplikheid te bewerkstellig as ’n lae klas. Sy minagting wys seker.
“Kyk, probeer net ontspan en ons sal sien wat ons kan doen,” paai die stasiemeester. “Kom na die kantoor toe, dan skryf ek jou besonderhede op, stuur ’n telegram Swakop toe en vind uit wat aangaan.”
* * *
Vir Lisbeth is die troue ’n interessante wedervaring, soos om in ’n toneelstuk te wees wat sy nie ken nie, maar sy sê al die regte woorde en die man wat sy belowe het om te gehoorsaam lyk ingenome met haar vertolking. Hy probeer eers heeltyd op die mense in die kerkbanke fokus, maar kyk tog later na haar, lank genoeg om sy skurwe lippe teen hare te druk.
Na die formaliteite poseer hulle vir foto’s – een met net hulle twee, en een met die getuies by. Dan neem haar bruidegom haar aan die arm en lei haar buitentoe.
Die gaste dring nader, gretig om die bruidegom op die skouer te klop en sy hand te skud. Lisbeth is nou wel nie die middelpunt van belangstelling nie, maar sy is reg langs hom, en dit is ook spesiaal. Nadat hulle haar man gelukgewens het, glimlag mense beleef vir haar en probeer bemoedigende of vermaaklike goed sê. Die meeste van die vroue sê sy lyk lieflik. Sy glo hulle, en wens haar ma kon haar gesien het. Sy het nog nooit so ’n mooi rok gehad nie.
Hulle tou na die Südwester Hotel se agtertuin toe, waar tafels op die gelykgemaakte grond opgestel is, met wit doeke en bekers bier en skinkborde vol dauerwurst en leberkäse, rogbrood, suuruitjies en kaas. Linte van verskillende kleure is tussen die bome gespan en die geel voëltjies is ook in die omtrek. Op die koelste plek het ’n orkes in Beierse uitrusting hulle ingerig, die mans met lederhosen en ’n vrou in ’n dirndl wat sing. Miskien was haar fantasie in Karibib tog nie so vergesog nie, dink Lisbeth, daardie manifestasie van Duitsland bestaan wel hier. Die orkes begin speel. Herr Kamke vat Lisbeth se hand en lei haar na die dansvloer toe. “Eins, zwei, drei,” tel hy en daar trek hulle. Elke keer as haar dansmaat haar so draai dat sy wegkyk van die gebou af, sien sy ’n groep swart kinders op ’n afstand onder ’n boom sit en kyk hoe die wit mense jolyt maak. Om haar is daar handegeklap en juigkrete, dis die ene joligheid. ’n Paartjie sluit by hulle aan, en dan ander. Sommer gou dans hulle in ’n stofwolk. Die hotelbestuurder stuur portiere met emmers water. Hulle kry almal van die dansvloer af en sprinkel water, doop hulle hande in die emmers en saai druppels soos sade. Toe die dansery hervat, is daar minder stof, maar modder koek om hulle skoene.
Tussen danse gaan sit Lisbeth op ’n voustoel en aanvaar die beker bier wat haar bruidegom aanbied. Sy sit dauerwurst en kaas op ’n broodrol, knibbel daaraan, melk en vleis tesame. Sedert sy van die huis af weg is, hou sy nie meer by die kosjer-reëls nie.
Siegfried Bock sit eenkant, sy stoel ’n tree of wat van die tafel se rand af geskuif. Hy lyk ietwat verlore. “Is alles reg?” vra sy. “Hoekom dans jy nie?”
“Ek verkies dit