“O, ek weet nie, so tussen honderd en twee honderd. Genoeg om genoeg werk mee te bring.”
“Geen hostel nie?”
“Nee, nogal jammer, anders kon hy baie meer ingevat het. Meer van dié.” Babs skakel die kar af en vryf middelvinger en duim teen mekaar.
“Ek kan nie sê hy het my as ’n geldwolf getref nie,” kom Brenda op vir ’n man wat sy skaars ken.
“Wat seker moet beteken ék is ’n geldwolf,” bits Babs.
“Klim van jou perdjie af, Barbára. Jy koop graag, maar dis nie ’n halsmisdaad nie. Pa sê mos jou en Ma se hande wys dit kan nie geld hou nie.” Dis ’n ou gesinsgrap: om jou oop handpalm te wys, vingers teen mekaar, en te kyk of daar openinkies is waar die geld kan deurval.
“Kom, ek sal jou na hom toe deurvat,” bied Babs aan. Vertroulik, die “hom”, asook die bekendheid met die terrein wat ’n vaste deel van haar nuwe leefwêreld is. Brenda voel haar op die rand daarvan, hunker na die bekende tuiskantoor.
“En jy, waar is jou klaskamer of werkskamer of ding?”
Babs beduie argeloos na ’n anneksgebou regs van die hoofgebou. “My klasateljee, dankie. En moet maar nie te gou kom kyk nie, laat ek eers opruim. Anders loop dra jy weer stories aan.”
“Dis nie waarvoor ek hier is nie. Wat is daar ook so danig wat ek nie mag sien nie? Jy was nog altyd deurmekaar, maar begaaf. Om iets uit niets te skep.”
“En nou moet ek dit tot satwordens toe doen. Kuns, met die oog op herwinning en produktiwiteit. ’n Loopbaan. Bid jou aan, dis een groot gesukkel. Lyk soos ’n rommelhoop, en weinig talent onder die spul. Dis nog net weke en ek is tot hiertoe vol.” Babs trek ’n vinger oor haar strot.
Brenda beskou dit as wys om liewer min te sê, aangesien dit tog prekerig sal wees. “Jy dink hopelik nie aan tou opgooi, en dit so gou al nie,” volstaan sy.
“Natuurlik nie. Waarvan lewe ek dan? Jy moet dink die moeilikheid met Tom het my verstand aangetas.” Sy loop ’n halwe tree voor Brenda. “So erg was dit nou darem ook nie. Of dalk was dit so erg, maar die lewe gaan aan.” In die herfsoggendlug klink haar stem gesmoord. Miskien is dit maar omdat sy haar ken laat sak het. Babs se ou bekende manier van loop, heupe los, verloklik op ’n effens lomp manier.
“Mevrou Kilian, juffrou Rabie,” groet Pressly formeel toe hulle in sy kantoordeur staan. Dis meteens duidelik dat daar ’n groot skroef los is. Die vertrek is in ’n chaotiese toestand, en ’n gapende gat in die plafon verraai die hele waarheid.
“Inbraak,” knik Hans Pressly toe hulle, paslik geskok, uitvra. “Dis nou al wat ek nog op hierdie bloue Woensdag nodig het. Veral die onvervangbare bekers en trofeë.” Hy beduie na die oopgebreekte glaskas. “En tot die blinding.” Môrelig, buite salwend maar hier binne ongenadig omdat dit die kaalheid van die enkele groot venster beklemtoon, stroom oor hulle.
“En die klaskamers?” vra Babs, tog begaan oor haar sogenaamde rommelhoop.
“Nee wat, te min van waarde daar. Net my kantoor en die sekretaresses s’n het deurgeloop. Ook die personeelkamer, waar ons enigste oorspronklike skildery gevat is. Wat jou klaskamer betref, mevrou Kilian, enige inbreker sou dink daar was reeds ’n ander een voor hom.”
Dat hy op hierdie tydstip humor aan die dag kan lê, gee dalk meer van sy persoonlikheid en veerkrag te kenne as die erns wat gister oorheers het. Sy kry die idee dat hy in teerheid sal kan swig. Maar nie hier en nou, en beslis nie teenoor haar nie.
“En die balk,” beduie hy na ’n rou dwarsstreep aan die rand van die plafon. “Dit was losserig en ek wou al daarna kyk voor dit op iemand val.”
“Kry ’n skrynwerker,” raai Babs aan.
Dalk kom sy makliker oor dinge omdat haar denke in kompartemente werk. Wat ’n gawe is, reken hulle pa die prokureur, dan kwel sy haar oor een ding op ’n slag.
“Ek sal,” belowe hy. “As ek self probeer, kry ek dalk ’n balk in my oog.”
Brenda glimlag waarderend oor die tweede kwinkslag. “Waar begin ons?” vra sy prakties. “Jy het verseker al die polisie gebel.”
“Ja, hulle is op pad. Ons benodig die saaknommer vir die versekering.”
“Ek sê eers toedeldoe, my mensies wag. Skrou as ek moet help.” En hiermee ontsnap Babs ongepla.
“En ons het pas na rekenaars oorgeskakel, soos ek jou gister gesê het.” Pressly begelei Brenda stoeplangs na die kantoor direk langsaan, eweneens in chaos. Hy beduie spytig na die kaal kolle waar twee rekenaars gestaan het. “Die elektriese tikmasjien is darem oorgelos, maar niemand kan of wil meer daarop werk nie.” Inderdaad staan dit onaangetas onder die liggrys oliekleedjie.
“Dit pas my. Is die rekenaarwerk gestoor?”
“Ja, mevrou Clutie is so manies daaroor dat sy haar geheuestokkie huis toe vat. Ons kan dit so gou moontlik by haar kry.”
“En waarop oopmaak?” vra Brenda te midde van die nuuskieriges wat aangroei, hetsy ouers, personeel, leerders of werkers. Die middeljarige faktotum kyk veral geïnteresseerd na alle fisieke skade waarvoor sy handvaardigheid benodig kan word.
“Jy is reg, waarop? There’s a hole in the bucket, dear Liza.”
Dalk is die rampspoed die beste medisyne om aan die gang te kom. Die tikmasjien werk immers, al sal sy eers weer daaraan gewoond moet raak. Daar is briewe wat beantwoord moet word en waarop Pressly in potlood konsepantwoorde aangedui het. Ook ’n stapel nuwe pos wat deur die bode ingebring word, in ’n eie possak met ’n slotjie.
Daar is oproepe om te maak, waarvan hy ook ’n lysie gemaak het. Fondse waarvoor kwitansies uitgeskryf moet word. “Ek word altyd gespot oor my lysies,” sê Pressly toe Brenda haar waardering hieroor uitspreek. “Maar ons moet seker eers die sirene druk om die eerste periode te laat afskop.”
Mevrou Clutie se taak, raai Brenda, en is bly toe Pressly dit self doen. Die aardige geloei galm oor die terrein en tot in elke hoekie, sodat die omstanders onwillig verkas.
“Al wat ons nou kan doen, is om te keer dat die dag verder uitrafel,” filosofeer hy asof hy homself moed wil inpraat. “Ek sal baie bly wees, juffrou Rabie, as jy net ’n draai by die kleuterskooltjie kan maak en kyk of alles op koers is. Weet jy waar dit is?”
“Ja, ek het gesien waar die kleintjies begin maal. Naby Babs se klaskamer.”
“Kyk asseblief veral of …” Hy breek stomp af, en sy raai: sy dogtertjies. Sy knik begrypend, en hy lyk dankbaar. Hy durf hulle immers nie uitsonder of voortrek nie.
Sy is lankal terug voor die tikmasjien, waar sy te midde van polisie-bedrywighede met haar eie taak aangaan, toe sy nog terugdink aan die Pressly-dogtertjies, ongeveer ses en vier jaar oud. Die eenderse rokkies het gehelp dat sy hulle as sussies plaas. Origens lyk hulle nie sterk eenders nie, soos sy en Babs ook. Die omgekeerde geld egter, naamlik dat die oudste enetjie donkerder is, soos die pa, en die jongste een blond, seker soos die ma. Wie se idee is die eenders aantrek? Sy moet terugdink aan die bohaai toe haar ma eenkeer eenderse truie vir haar en Babs laat brei het. Die grootste teenstand was van Babs se kant, wat nie soos die “pipsqueak” wou aantrek nie. Brenda moes toe oor jare heen twee truie opdra. Besonder kleurryk, bygesê.
Pressly se tweetjies het rustig gelyk en was goed genoeg versorg. Nie onberispelik nie, veral die poniesterte, maar hulle was immers omring deur ander kleintjies wat ook nie almal uit ’n prenteboekie stap nie.
Besig met inkleur, het hulle nie veel aandag aan Brenda gegee nie sodat sy net vir die “tannie”, self ’n moeder, kon sê dat meneer Pressly net wil weet of alles reg is. Sy het wel ’n lysie van benodigdhede teruggebring, maar “Niks dringends nie, ek het gehoor van die inbraak en Meneer is seker baie besig”, sodat Brenda besluit het om self namiddag die goed te gaan koop as niemand anders kan nie.
Namiddag. Vreemde gedagte. Twee dae gelede, op