“Ja, nè, om te dink daar was so ’n tyd.”
“Volgens jou onthou mevrou Pressly niks. Waarom sou jý iets negatiefs oor haar wou onthou, Babs?”
“Omdat my brein niks makeer nie.”
“En Pressly, hoe het Tom hom leer ken?”
“Tom het die kantoormasjiene nagesien. Daar by die privaatskool waar Hans toe op die personeel was. Naby ons Magnolia Cottage.” Sy swyg stomp, hervat dan in ’n dowwe stem: “Tom maak mos met almal vriende. So vra hy toe al geselsende wat die moontlikheid is dat ek en hy die skool se uitstekende tennisbaan mag gebruik. Nie ’n gemors soos hier by die Sentrum nie, hoor. Maar Hans het toestemming bewimpel. So het ons vier eenkeer saam daar gespeel. Hy en Tom het nooit dik vriende geword nie. Om redes van Tom se kant wat ek later sou verstaan. ’n Ou maak nie vriende met jou lady lover se man nie.”
Dis net te blatant, en Brenda voel hoe haar liggaam van skok verstyf. “Is dit feite of is dit jou persepsie, Babs?”
“Intuïsie?” bied Babs aan.
“Maar hy was nog vriende genoeg met Pressly dat dié jou ’n pos kon aanbied.”
“Een hand was die ander,” skimp Babs duister.
“Loop maar lig,” waarsku Brenda, “julle deel alreeds ’n stukkie geskiedenis.”
“Wat impliseer jy? ’n Vryery? Die man het genoeg moeilikheid, met sy vrou se toestand. Moet boonop veg om die kinders te behou.”
“Veg, teen wie?”
“Die skoonma wil hulle by haar kry.”
“Nie maklik nie,” reken Brenda. “Uit ’n regsoogpunt.” Sy wil liefs nie by Pressly se sake betrokke begin voel nie. Dit klink te donker en ingewikkeld.
Maar Babs is op die onthoupad en brei self uit: “Ek het vermoed Tom het iemand, iewers. En dinge het in Hans Pressly se vrou se rigting beduie.” Wrewel sluip haar stem binne: “Ek het dit stopgesit. Of so het ek gedink.”
“Die tipiese jaloerse vroutjie. Regtig, Babs …”
“Bly stil oor iets waarvan jy niks weet nie. Jy is maar nog net soos kleintyd, ’n regte snip.”
Brenda onderdruk ’n giggel. Regressie, begryp sy. ’n Terugglip in die veilige kindertyd. Sy gun Babs die rondte, maar bly nog oor Pressly wonder. Is sy vrou se “toestand” regtig so erg dat hulle vervreem moet lewe? Sy het in ’n prokureurskantoor genoeg te doen gehad met alle moontlike redes vir vervreemding. Soos: Hy is mal in sy kop. Of: Haar kop raas.
Waar presies is mevrou Pressly? Sy raai, en sy vermoed sy raai reg, dat Pressly se eie dogtertjies ook in sy kleuterskool is. Dalk was hulle die spoorslag om dit op die been te bring. En hoekom sal sy aanhou met wonder, ten spyte van haar weerstand?
Sy gaan hom uithelp, en dis al. Iets bly in haar gedagtes krap, en dis daardie “Of so het ek gedink”. Wat het Babs bedoel? Moet sy haar vra? Nee, nie nou al nie, dalk later.
Totdat die slaap oorneem, hang die stilte swaar tussen die twee enkelbeddens. Brenda is gewoond aan stilte in die straat waar hulle op Dennedal woon, maar hier is voorlopig net geraas. Hewige verkeer, ook swaar verkeer van groot voertuie, ronk dermate dat dit voel of die wiele bo-oor jou kop loop. Van omringende eenhede is daar menige soorte binnegeraas van stemme en televisie of musiek.
Dis asof sy en haar suster hulle op ’n eindeloos deinende see bevind, op golwinge wat onkeerbaar aanswel. Ploeg die see met osse. Hoe dwaas. Haar koms hierheen, om Babs by te staan, haar instemming om Hans Pressly by die werk uit te help. Is dit bestem, of verspilde kragte? Het sy reg geoordeel, reg gedoen?
Een ding is seker: Daar lê vermoedelik veel, veel meer agter Babs en Tom se egskeiding as wat enigeen tuis sou kon vermoed. En dieselfde geld Babs en Hans Pressly se vriendskap, as jy dit so kan noem. Twee eenders verontregtes wat hulle saamskaar?
Eers toe die straat tog stiller raak en ’n nagwind teen die vensters ruis soos in die dennebome van haar tuisdorp – indringers glo, maar skeppers van atmosfeer – sak Brenda se spanning langsaam weg.
Net tot die son weer opkom, vermoed sy. Sy het die instinktiewe gevoel dat sy haar voet op ’n pad geplaas het waarvan sy liewer moes wegbly.
2
“Hier is ons nou by die Sentrum,” sê Babs, asof Brenda dit nie weet nie. Sy is immers gisteraand reeds op ’n verkenningstog hierlangs geneem. Wou Babs voorkom dat haar suster teleurgesteld lyk as sy dit die eerste keer in daglig sien? “Welkom by die ‘motley crowd’.” Babs beduie na die jongmense van allerlei ouderdom en met eie haarstyl en kleredrag, meestal denimbroek en T-hemp. Geen uniform, dus.
Brenda sug nietemin verlig. “Dankie. Dis ook al iets om hier te wees.”
“Hoe so?”
“Jy ry verskriklik, Babs.” Eers toe die woorde uit is, onthou sy al haar pa se opdragte. Dat sy Babs tog haar selfbeeld weer moet help opbou, want dié is gewoonlik laag na ’n egskeiding, en haar nie met allerlei skuldgevoelens moet beswaar nie. Maar kan dit dan so erg wees dat ’n mens links flikker en regs draai?
“Jy ken nie hierdie stadsverkeer nie,” sê Babs, wat dit ook al moet beteken. “En jy het my dan so haastig gemaak met jou obsessie om betyds te wees.”
“Neem jy my kwalik?” Sy wou eintlik nog vroeër hier aangekom het, sodra dit oopgesluit is, om die kantoor te verken waar sy in die spore van ’n ingewyde moet trap. Nou is daar reeds ’n gewemel.
Pressly moet voorwaar visie hê, om so ’n “motley crowd” te lei en te rig. Vir so ’n taak moet jy honger wees, ook honger om jou eie ding te doen. Almal lyk nie juis begeester nie, is dalk aan die nek hierheen gedwing. Het sy willens en wetens haar kop in ’n byenes gedruk?
Toe sy gisternamiddag, nadat Pressly weg is, huis toe bel om te berig dat sy veilig aangekom het, en ook dat sy tydelik by Babs se plek sal werk, het haar pa heel tevrede geklink. “Dan kan jy des te beter ’n ogie oor haar hou, Sussa. Dis net, ek het gedink jy moet ’n bietjie rus ook. Ek jaag jou maar goed rond, en vergeet nie van Neels nie.”
Net sy sal weet van die twee stukkies ingeboude ironie in sy onskuldige opmerking. Eerstens, dat sy Neels nie moet vergeet nie. Tweedens, dat Neels haar goed rondjaag.
Tiny Rabie het dit so half argeloos gesê. En tog weet hy sekerlik meer van haar gemoedstoestand as wat hy te kenne wil gee. Dalk wou hy tot dusver net nie inmeng, oorbeskermend optree nie. Wil hy haar ’n wyer keuse gun? Is dit waarom hy haar tydelik weggestuur het? Dis nie die eerste keer dat sy dit wonder nie. Dit word trouens ’n dwanggedagte.
“Meneer Pressly is ook al hier,” sê Babs ewe deftig.
Dis te hope, dink Brenda. Sy kyk skerp na haar suster, want sy self het hom nêrens gewaar nie. Het hulle dalk deur ’n venster oogkontak gehad?
“Sy kar,” beduie Babs dan. “Het jy dit nie gister gesien toe jy aankom nie?”
“Ek was so behep om jou in jou nes op te spoor, en stilhouplek te vind, dat ek nie nog kon rondkyk nie.”
“Ek verneem hy is altyd heel eerste hier. Ek sal nie weet nie, ek is altyd half laat.” Babs lag met ’n oorblyfsel van haar vroeëre sorgeloosheid.
Tog kan Brenda, wat haar deeglik ken, agterkom dat dit net ’n skyn van opgewektheid is. Die hemel alleen weet hoe groot Babs se knou werklik is. Tiny het per telefoon berading probeer doen, maar Babs was eiewys. En Tom, wie dink aan arme Tom? Dit kan vir hom ook nie ’n piekniek wees nie.
“Hy is baie bekwaam, en ’n werkesel.” Babs laat dit klink asof sy Pressly moet verdedig, of sy aansien bou. “As hy sommer net ’n verandering wou maak, kon hy by enige akademiese instansie instap. Maar hy verkies om sy eie potjie te krap, met al die kopsere en uitgawes daaraan verbonde.”
“Hoe