Maar die Bösendorfer moet nog eers wag.
Hy sit diep versonke en luister, gevul met gedagtes oor klaviere en musiek en plante en vryheid. Wel, hy is vry van die tronk, maar nog nie bévry nie.
Net ná middernag maak Arthur sy oë oop en skakel die musieksentrum af.
Hy oorweeg ’n slaappil, besluit daarteen, staan op en stap deur die groot, stil vertrekke kombuis toe. Hy skakel die ketel aan, haal een van sy ma se porseleinteepotte uit en meet die Earl Grey daarin, spesifiek die teemengsel met net ’n sweem van sitroen. Op die silwerskinkbord sit hy ’n fyn wit porseleinkoppie-en-piering en ’n teesiffie en dan skink hy die kookwater in die pot. Hy roer dit, sit die deksel op en dra die skinkbord by sy studeerkamer se glasdeure uit en sit dit op die blad van die tafel op die agterstoep.
Die stoeplig baai ’n kol van die grasperk en naaste blombeddings in ’n warm glans.
Hy staan met sy hande agter sy rug terwyl die tee trek en tuur oor die ligkol sy donker tuin in, tot doer agter die struike en bome in die koers van die wandelpad al saam met die loop van die spruit, en teug diep aan die somernag se herinneringe. Ook aan ’n reuk van reën, of verbeel hy hom? Wat nié sy verbeelding is nie, is die geure van die nagblomme wat op die stil lug sy neus bereik, iets speseryagtigs, iets soets, die sterkerige vanielje van die maanblomme, wit en pienk en groot soos trompette – ál die nagblomme, nie net die cereuse in sy konservatorium nie, maar ook die ander wat hy vir Elizabeth gevra het om hier in sy agtertuin te laat plant: die pragtige geel van die evening primrose, die romerige aandpypies, die Casablanca-lelies, Nottingham flycatcher, four-o’clocks, dragon fruit, Dutchman’s-pipe.
Hy draai om, roer weer die tee en skink deur die siffie. Hy sit agteroor, kruis sy enkels ver voor hom uitgestrek en beskou, een vir een, die galery gesigte in sy kop. Altyd dieselfde gesigte, soos die uitstalling van ’n ry geraamde foto’s van eens vername mense, elkeen eens gewerdig om afgeneem en geraam en teen ’n muur gehang te word, hulle presiese betekenisse intussen vervaag, selfs vergete.
Nie sý galery nie – elke gesig hier ’n etterende sweer wat uit sy gees uitgesny moet word voor dit té laat is, voor die besmetting verder versprei en onomkeerbaar is.
Dit was sy groot vrees, ná daai nag in die tronk se stort – sy en George se vrees, want vir George kon hy dit nie wegsteek nie; daar moes toetse gedoen word, elke paar maande, op behandeling besluit word, op hit hard, hit early (George se krygskreet om die virus te beveg). En hulle was suksesvol, dis nie meer ’n akute lewensgevaar nie, nou net ’n chroniese kondisie wat in beheer gehou word met die daaglikse kombinasiepil HAART, vir hoogs aktiewe antiretrovirale terapie.
Al die gesigte in sy galery …
Haman is reg, die las is te swaar om alleen te dra. En om dit uit sy gestel te purgeer, moet hy dit lug gee en uitpraat en deel. Nooit met Elizabeth nie, maar met Haman.
In die tronk was daar nie ’n keuse nie, dit was deel van sy straf. Hy kon Elizabeth en Haman nie verder belas nie, die skok was klaar te groot – van sy arrestasie, die hofsaak, skuldigbevinding, sy tronkstraf. Hy moes hulle teen verdere skokke beskerm, en wat daar binne gebeur het, in daai primordiale wêreld, moes hy alleen dra.
Hy hoef nie meer nie.
***
Vannag is hy nie op sy stoep of in sy musiekkamer nie, maar in die konservatorium. Ook hier is net ’n paar nagliggies aan.
Hy sit op die bankie in die middel, omring deur sy kaktusse, en in die powere skynsel fladder en sweef die nagmotte soos herfsblare tussen die spokerige stingels en ranke.
Uit die luidsprekers aan die oop balke is dit András Schiff se vingers op die klawers met JSB se Goldberg-variasies, die note byna voelbaar aan sy vel.
Die donker skemering omvou hom, beskerm hom, hou hom veilig. Soos ’n kat of ’n uil of ’n mot is die nag sy tuiste en hier in sy konservatorium kan hy homself oorgee aan ’n ander, ouer dimensie.
Op vier het hy sy eerste mot geëet. Eintlik net ’n ruspe. Van Gonimbrasia belina, pouoogmot van die Saturniidae-familie. ’n Lekkerny vir baie, dié gedroogde mopaniewurm. Nie vir hom nie. Maar hy glo daar het in sy maag ’n wonderlike metamorfose van larwe tot papie tot mot plaasgevind.
Soms, selfs soveel dekades later, verbeel hy hom steeds – veral daar in die baie eensame tronknagte – dat hy die fladdering van vlerkies in sy ingewande kan voel.
Maar dis ’n groot saligheid, so omgeef van al sy spesiale plante en die spesiale motte wat hulle besuig en bestuif.
En terwyl hy so diep sit en luister, hoor hy die geknaag van ’n duisend wurms aan die blare, en die gewoel en gedowwel van ’n duisend imago’s wat uit hulle papieskille uitvroetel, en ’n duisend donsvlerkies wat sag ontvou en ruis en opstyg, en aan die bries aan sy vel kan hy ’n versteuring aan die wêreld se lug voel.
En hy neem die besluit: môre!
Môre sal hy álles vir Haman vertel. Hy sal sy hart oopmaak en bieg, bieg, bieg. Hy sal dit uitstort, alles wat daar in die tronk met hom gebeur het. Ook die werklike rede vir die antiretrovirale pil.
Miskien sal hy dan, uiteindelik, die vrymoedigheid hê om voor sy Bösendorfer te gaan sit en die eerste note van die eerste gebroke akkoord van die eerste prelude van JSB se eerste Clavier-boek te speel – in C-majeur, beginnend met middel-C.
Maar waar sal sy bieg begin – by die skietery, by sy verhoor, by die tronk?
Nee, hy sal by die oë begin.
By die Neser-kind se oë.
DIE UITSPRAAK
Vrydag 27 Oktober 2006
Toe sy uitkom, staan Silas klaar daar op die skool se stoep vir haar en wag, en die lug is grys betrokke en die son wasig asof agter geslypte glas.
“Hoe was dit?” vra hy op pad kar toe.
Ella haal ’n skouer op. “Dit was oukei. Het hulle al begin?”
“Jy sal niks mis nie. So ’n uitspraak is ’n langdradige besigheid, dit kan baie vervelig wees.”
Eintlik moes haar pa self ook daar gewees het. Dis net reg dat hy by is, op hierdie dag wanneer oor sy skieter se lot beslis word. Maar hy kan nie, hy lê al tien maande in sy eie donker heelal, en sy kanse lyk al hoe slegter. Haar ma glo hy sal regkom, sy sê dis moontlik, want mens hoor elke dag van iemand wat bykom. Maar die dokters klink nie so seker nie.
“Wat’s jou planne?” vra Silas in die ry.
Hy’s die praterige soort, stiltes pla hom. Nie vir haar nie, veral nie vanoggend nie, vanoggend het sy baie om oor te dink; haar kop is vol fisika en skieters. “Die dag ná my laaste vraestel begin ek al werk … waiter.” Dis klaar op haar kalender afgemerk: 29 November, op haar verjaardag!
“Waiter? Jy bedoel seker kelner.”
Ag, tog. “Ja, by die Dros. Kampusplein.” Hy’s tog so vol fiemies as jy jou taal mix.
“Ek wag nog vir jou aansoek, ek het mos gesê ek sal ’n aanbeveling saamstuur Pretoria toe.”
“Ek gaan eers swot. Dis wat ek besluit het.”
“En jy dink kelnerwerk sal vir universiteit betaal? Saans in die Dros en soggens in die klas … Wil jy nie meer polisie toe kom nie?”
Sy hoor die verwyt in sy stem, asof sy haar pa verraai, noudat hy so hulpeloos en stemloos daar in sy diep slaap lê. “Ek wíl. Dis al wat ek wil