“Beloof! Jy glo die woord van ’n stuk gemors soos hy?”
“Ons sal meer wagte aanstel. Is ons klaar met die iPad?”
Nadat Haman weg is, maak hy reg vir bed. So ’n veilige kokon, hierdie weelderige badkamer met die wit marmer en blink chroom en spieëls, hierdie groot stort sonder bedreiging … so anders as daai primitiewe, onheilsame, onterende kommunale badkamer van Klipfontein Max se Seksie 3, Eenheid C.
Vir sy teer vel het Elizabeth vir hom organiese seep gekry, tuisgemaak, en uit die bruisende skuim ontsnap aromas van klapperolie en van seder en laventel. Hy staan lank onder die stomende water, droog hom tydsaam af met ’n sagte handdoek wat sy ontwyde lyf salwe en streel.
Voor die lang spieël betrag hy sy kaal liggaam, die rimpels en plooie van die los ou vel, die oumensboep en oumensvlekke, sy letsels en wondmerke.
Ander word vet van tronkkos met al daai leë kalorieë, al die brood, pap, samp, onvoedsame suiker en sout en versadigde vette. Hy is lank en maer. Hy het afgeleer om te eet. Al tien jaar op ’n dieet. Hy het nie vet geword nie, maar betaal die prys – hare wat uitval, verrottende tande, bloeiende tandvleise, knaende hoesie, afgetakelde immuunstelsel, konstipasie, hoë cholesterol, hoë bloeddruk, slaaploosheid, kopsere, pynlike gewrigte. En dis nie eens die ergste van sy kwale nie.
Hy vee sy dun grys hare met palms agteroor en vryf dan sy hele lyf in met die nagroom waarop Elizabeth aangedring het.
Maar hy is nog nie reg vir bed nie, nog nie reg vir die pil om hom droomloos weg te vat nie. In slaapklere en nuwe kamerjas stap hy by sy kamer uit, sy pantoffels sag oor die weelderige Persiese loper, handgeweef in Afganistan.
Die huis is stil. Elizabeth is seker ook al kamer toe, Haman terug in sy woonstel daar op die kwekery se winkel.
Arthur druk die deur van die musiekkamer agter hom toe en sak met ’n diep sug in die leunstoel neer.
Hy loer na die donker silhoeët van die groot swart vleuelklavier soos ’n hibernerende dier met blinkgepoetste huid. In die dowwe skynsel van die naglig druk hy die afstandbeheerder en in ’n vloer-tot-plafon-muurrak vol CD’s gaan blou en rooi liggies aan.
Hy sluit sy oë en laat toe dat die eerste Bach-kantate deur hom spoel, deur sy kop en liggaam en wese – “Komm, du süße Todesstunde” … kom, o soet uur van die dood.
Hilde Rössel-Majdan se openingsaria is ’n smeking vir die verlossende oomblik wanneer die dood uiteindelik arriveer, en haar altstem roep agter sy geslote ooglede beelde op van die pastorale sereniteit van die Elisiese Velde. Die tenoor Waldemar Kmentt volg met dieselfde tema van verlange om te sterf, en die koor berei die liggaam voor vir die graf en die siel se reis hemel toe. Die sluitingskoraal is ’n ontstellende aanmaning dat die fisieke proses van dood en die aftakeling van die liggaam nie te aangenaam is nie, hoewel dit darem troos met die wete dat die gees hemelse saligheid betree en altyd onaangeraak sal wees deur verdere aardse sondes.
Hy geniet en waardeer ál JSB se kantates, maar is spesifiek aangetrokke tot BWV 161, asof dit spesiaal vir hom bedoel en geskryf en gekomponeer is, asof dit die metafoor is vir ook sý verlange en teistering en uiteindelike soete sielsverhuising.
Hy wens hy kon sy tronkkoor geleer het om van Bach se kantates te sing, maar die repertorium van die Singing Roosters – hulle entoesiasme kon nie vergoed vir gebrekkige sang- en musiektalente nie – was helaas beperk tot ’n paar Kersliedere en tradisionele Afrikaliedjies met ’n gestamp van voete en ander liggaamlike perkussies.
***
Sy nuwe roetine begin stadigaan beslag kry. Hy voel veilig in roetine. In die tronk is hy verkinder, gedwing om terug te keer tot ’n infantiele stadium van willose, daaglikse sleur. In sy nuwe, vry lewe begin hy leer om weer sy eie besluite te neem en weer sy eie lewensritme te volg.
Hy lê en wag en hoor uiteindelik die klop aan sy kamerdeur en roep: “Kom in!”
Die deur gaan oop en Thoko bring die skinkbord in met sy koffie en glas lemoensap. “Môre, Arthur!” Steeds daai vrolike groet van tien jaar terug, asof niks verander het nie, asof hy net weg was op ’n lang vakansie.
“Môre, Thoko.” Op die bedkas maak sy plek vir die koffie en sap en gaan trek die gordyne oop sodat hy op die welige grasperk en boomryke agtertuin kan uitkyk. “Maak ’n venster oop sodat ek die oggend kan ruik en die voëls kan hoor.”
Sy kom pof die groot kussings agter sy rug uit en hy skuif op. “Wat soek jy vir brekfis – pap?” Die pap-grappie maak sy elke oggend, en hy laat haar begaan.
“Ek soek pannekoek, opgerol met warm piesang en heuning en jogurt.”
Toe sy uit is, sit hy teen die kussings met sy nuwe leesbril en sluk aan die lemoensap en bestudeer op sy iPad gister se sluitingsyfers op die JSE en die finansiële aanwysers vir internasionale geldmarkte en die beurse in New York, Londen, Frankfurt, Parys, Tokio en Shanghai.
Sy aansienlike erfporsie lê in kommersiële geboue aan die Rand en in Pretoria en in ’n diverse portefeulje van plaaslike en buitelandse beleggings, en ’n handvol besighede onder beheer van ’n houerkorporasie, W & K Enterprises – vandat sy gewetenlose en sedertdien vervreemde bloedsuster hom dertig jaar gelede slinks uitgewerk het uit die familiebesigheid en hy uiteindelik op aanneemlike voorwaardes (deur ’n hofbevel bekragtig) en veral uiters mildelike vergoeding besluit het om afstand te doen van medeseggenskap in Wilky Holdings.
Nadat hy sy lemoensap gedrink en die finansiële en ekonomiese data bestudeer het, staan hy op en gaan doen sy ablusies – sorgvuldig, rustig, tydsaam, en veral ongesteurd. In die ruim instapkas soek hy tussen die nuwe klere sy drag vir die dag uit.
Hy gaan eet sy ontbyt alleen; Elizabeth is soggens teen dagbreek al by die kwekery. In sy kantoor maak hy die twee glasdeure na die onderdakstoep en agtertuin oop, en begin sy adviseurs en makelaars en batebestuurders bel.
Dis belangrik dat almal mooi verstaan dat hy terug is en opnuut die leiding neem van sy eie bestemming, spesifiek van die roete wat hy wil loop om daar uit te kom. Dis ook belangrik dat daar geen ruimte vir misverstande is oor sy opdragte en behoeftes vir die dag nie. Hy wil nie weer met ’n krisis sit nie.
Sy laaste oproep is aan sy getroue ou vriend en gesinsprokureur, George Pagel, oor R200 000 wat George op Arthur se aandrang sonder groei by Fiduciary Trust & Wealth geparkeer het. Hy vra George om met Du Plessis te reël om daai Ruiters-rekening te sluit en die geld oor te plaas na George se trustrekening. George weet presies wie Ruiters is, en dis ook sy advies dat daar geen elektroniese geldspoor of verband of enige kontak tussen Arthur en Ruiters mag wees nie, nie net weens hulle verskil in klas en stand nie, maar omdat albei se paroolvoorwaardes pertinent enige kontak met enige ander bandiet of eksbandiet verbied.
George adviseer dat hy self, wanneer Arthur meen die tyd is reg, die geld in kontant aan Haman sal oorhandig, sonder Arthur se verdere tussentrede.
Die res van die dag bring hy in die konservatorium deur tussen sy geliefde kaktusse. En worstel met Haman se toenemende aandrang dat hy bieg oor wat régtig alles met hom in die tronk gebeur het.
Die aand voor bed, soos nou sy gewoonte begin word, lê hy in die flou lig agteroor in sy musiekkamer se stoel, asof in ’n toestand van skyndood, sy asemhaling kwalik merkbaar, sy oë gesluit, die klaviernote in die skemerlig bo hom, om hom, in hom, geabsorbeer deur elke sel van sy liggaam; hy hoor nie net die musiek nie, maar voel dit en sien ook die pianis se vingers oor die klawers, niks gejaagd of moeitevol nie, die toon van elke prelude perfek besin, die ontvouing van elke fuga ongedwonge. Dis soos dit moet wees met JSB: die helderheid van essensie, die suiwerheid van kontrapunt. Dis hierdie preludes en fugas van The Well-Tempered Clavier wat hom sy gesondheid van gees laat behou het in daai lang, onrustige tronknagte, eers op die klawers van sy verbeelding, toe op ’n werklike klavier.
As kind al het hy sy ma saans op die ou Steinway begelei en wanneer hy sy oë sluit en sy gedagtes laat terugdwaal, hoor hy haar steeds in volle glorie sing: “Die heem’le vertel” en “Inkosi Jesu” en “Klein Piedeplooi” en “My koekiesveerhen” en