Saartjie wil die middag eers ’n bietjie in haar kamer gaan rus, maar dan onthou sy Galpil het ook gerus voor hy teen Louis baklei het en dit het hom niks gehelp nie. Inteendeel, hy het amper in die hospitaal beland.
Verder is Saartjie ook gans te opgewonde om stil op haar bed te gaan lê. Sy trek ’n kniebroek en T-hemp aan, sit haar bofbalpet op haar kop en besluit om plakkies te dra, anders word haar tekkies net vuil in die veld.
Voor sy by die kamer uitloop, kyk Saartjie eers in die spieël en knipoog vir haarself.
“Vandag is die dag, meneer Louis de Jager,” sê sy vir haar spieëlbeeld. Haar oë glinster. Daardie boef gaan vandag ’n les leer wat hy nooit sal vergeet nie. Hulle meisies gaan sommer baie pret hê.
Saartjie is op pad na Lina toe. Anna is seker al besig om vir die ander klomp hul laaste instruksies te gee; hulle moet binnekort by die damwal stelling inneem.
Saartjie het gesê Anna moet reël dat die meisies twee-twee en kastig ongeërg dam toe dwaal en nie almal in een groot groep nie, anders is dit te ooglopend dat hulle iets in die skild voer.
Apie en Bennie het egter die nuus onder die seuns versprei dat daar iets aan die gang is en dat Louis de Jager ’n les geleer gaan word wat hy nooit sal vergeet nie. Hulle weet nie hoe en waar dit gaan gebeur nie. Hulle weet ook nie wat gaan gebeur nie – hulle weet net “iets” gaan gebeur.
Die seuns het besluit die beste manier om antwoorde op hul vrae te kry is om Saartjie te agtervolg.
Toe sy oor die plaveisel voor die Baumanns se huis begin spring, hou ’n hele klomp seuns, Apie en Bennie inkluis, haar van agter die heining aan die ander kant van die straat af dop. Hulle gaan haar nie onder hul oë uit laat nie. Hulle wil weet wat aangaan.
Naby die einde van die betonplaveisel kyk Saartjie af na haar voete. Sy byt op haar onderlip. Haar linkervoet raak effens aan een van die gleuwe tussen die blokke. Sy moet weer van voor af begin spring.
“Dis simpelgeit,” mompel sy, maar besluit nogtans om dit maar te doen. Sy is te bang daar sal iets vreesliks met haar gebeur as sy nie haar belofte aan haarself hou nie. Sy kan ook nie kul deur haar voet net so effentjies weg te draai nie, want dan jok sy mos maar net vir haarself.
Saartjie draai vies om. As sy opgekyk het, sou sy gesien het hoe ’n klomp koppe agter die heining oorkant die straat verdwyn.
Die seuns sug. Nou moet hulle nog langer hierso sit. Die hele Lynnekom weet al van Saartjie se springery – hierdie selfopgelegde taak wat sy so pligsgetrou nakom.
Die seuns hoop sy gaan hierdie keer beter spring sodat hulle nie baie langer so gehurk hoef te sit nie.
Saartjie is weer by die tuinhekkie. Sy vee die krul op haar voorkop met die rugkant van haar hand weg en begin weer spring. Sy is nou dubbeld versigtig, want sy wil nie weer van voor af moet begin nie. Sy sorg dat sy elke keer in die middel van die blok te lande kom.
Wanneer sy sonder verdere teëspoed by die einde van die plaveisel kom, slaak sy ’n sug van verligting en hardloop na Lina-hulle toe.
Die seuns slaak ook almal ’n sug van verligting. Hulle peul vinnig agter die heining uit en volg haar gebukkend. Daar is nie juis wegkruipplek in die straat nie, en hulle hoop maar sy kyk nie om nie.
Sonder dat sy een keer omkyk, gaan Saartjie by Lina-hulle in. Oorkant die huis gaan hurk die seuns maar weer geduldig agter ’n heining.
Saartjie sit nou eers by Lina en gesels. Dit is nog heeltemal te vroeg om nou al dam toe te gaan om vir Louis te ontmoet.
“Jy weet,” sê Saartjie, “ons twee het eintlik die gevaarlike werk.”
“Ek weet,” sê Lina. “Dink net wat kan gebeur as hy sommer links en regs begin slaan – onthou wat het met Galpil gebeur.”
Saartjie wil liewer nie eens aan so ’n moontlikheid dink nie.
“Hy sal darem seker nie aan meisies slaan nie,” sê sy sonder dat sy dit glo.
“Ons moet net vinnig wees,” sê Lina. “Voor hy kans kry om te slaan, moet hy plat op die grond wees en die ander moet by wees om hom te help vasdruk.”
“Ja,” sê Saartjie. “Onthou nou – ek duik en jy stamp.”
Die twee het afgespreek dat Saartjie met die aanval gaan begin. Sy sal Louis se bene onder hom uitduik en Lina moet hom terselfdertyd omstamp. As Saartjie duik, sal sy ook hard skree: “Kom!” sodat die ander meisies by kan wees sodra Louis grondvat. Hulle hoop nou maar net alles sal wel so uitwerk.
Saartjie en Lina sit nou sommer en gesels oor die vakansie. Nie een van die Drie Muskiete se gesinne gaan weg nie, so hulle bly net hier in Lynnekom.
“Ek wens ons twee en Anna kon saam weggaan na ’n plaas toe, of so iets,” sê Saartjie. “Dit sal so lekker wees.”
Lina dink ook dit sal heerlik wees. Op ’n plaas kan hulle mos baie moleste aanvang. Saartjie dink weer daaraan dat haar ma gesê het daar sal ’n wonderwerk moet gebeur voor hulle kan weggaan. Sy hou nog steeds duim vas vir so ’n wonderwerk.
Terwyl Saartjie en Lina gesels oor hoe lekker ’n vakansie op die plaas sal wees, sit Lynnekom se seuns in die warm son gehurk agter die heining aan die oorkant van die straat. Hulle wens Saartjie wil nou uitkom. Een seun wonder of sy nie dalk aan die agterkant van die huis uitgeglip het nie. Miskien is sy lankal weg en dan hurk hulle nog steeds soos bobbejane hier in die son. Apie en Bennie verseker die seun egter daar is nie ’n hek agter Lina-hulle se huis nie. Saartjie moet weer voor uitkom.
In die huis kyk Saartjie op haar horlosie. Dit is kwart voor vier.
“Ons moet nou gaan,” sê sy. “Anna-hulle kruip seker al weg.”
Toe Saartjie en Lina by die tuinhekkie uitkom, beloer ’n hele ry oë hulle van oorkant die straat af.
Die meisies voel albei skrikkerig vir die taak wat voorlê, maar nie een wil hê die ander een moet iets agterkom nie. Hulle gesels land en sand oor alles onder die son, maar nie ’n woord oor wat vir hulle wag nie. As hulle niks daaroor sê nie, sal Saartjie mos nie uitvind hoe bang Lina is nie en Lina sal ook nie uitvind hoe bang Saartjie is nie.
Met ’n gemaak dapper houding stap die twee meisies in die rigting van die damwal. ’n Entjie agter hulle kom ’n hele swetterjoel Lynnekom-seuns gebukkend aangesluip.
Die meisies stap deur die veld, al met die spruit langs tot by die damwal. Die seuns skuil nou in die lang gras.
Toe hulle teen die kant van die hoë wal waar die ou wilgerboom staan, opklouter, sê Saartjie: “Ek hoop Anna-hulle is al in posisie.”
Die twee het nog nie een van die meisies gewaar nie.
“Ek wonder of hulle ooit hier is,” sê Lina effens benoud.
Die twee staan nou onder die wilgerboom. Hulle kyk stip na al die bosse en struike hier naby die grondwal, maar sien die meisies nêrens nie – nie eens een van hulle nie!
Saartjie en Lina sien die seuns ook nie, want hulle het in die lang gras platgeval. Hul skuilplek is ver van die wal af, maar hulle kan die meisies duidelik sien. Hulle gaan hier lê en kyk wat aangaan en wat Saartjie gaan doen om die boef van Kaapstad so te laat skrik dat hy hulle almal sal uitlos.
Die twee meisies op die damwal se oë is op skrefies soos hulle na die bosse en struike voor hulle kyk, maar hulle sien niks nie.
“Dink jy hulle is ooit hier?” vra Lina weer benoud.
“Natuurlik,” troos Saartjie haarself en Lina. “Hulle kruip net baie goed weg.”
“Ek wens Anna wil nou ’n wit sakdoek waai sodat ons seker kan wees.”
Saartjie wens dit ook. Dit sal vreeslik wees as sy en Lina ’n ou so sterk soos Louis alleen