Woorde is soos wors. Rona Rupert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rona Rupert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078326
Скачать книгу
met vier deure waarin ons almal kan ry, en met ’n beursie vol geld in sy sak. En dan sal hy sê: ‘Ek het na julle verlang.’”

      “Wat-gaan-jy-eerste-vir-jou-koop-as-Pa-kom?” het een van ons geliefkoosde speletjies geword. Skoene met hoë hakke, sê Mita. ’n Fiets, sê Hester. ’n Perd, sê Georgie. ’n Huis, sê ek. Dan het Ma altyd gewaarsku: “In die huis sal julle almal moet help aan die kant maak!”

      Maar ek het altyd geweet dit is net ’n speletjie. Ek is darem nie meer sewe soos Georgie, of agt-en-’n-half soos Hester, of elf soos Mita, of twee soos die baba nie; al speel ek saam. Ek glo nie meer alles wat ek hoor nie. Maar ek dink Ma glo dit nog partykeer.

      As Ma nie toe ook – toe ons al almal daarmee klaar was – waterpokkies gekry het nie, het ons miskien nog by haar in Dundonaldstraat gewoon. Maar dit help nie om so daaroor te dink nie. Ek het nie eens in die hospitaal iemand so siek soos sy sien lyk, toe sy dit gehad het nie.

      Die middag toe ek van die skool af kom, het ek geskrik, want sy het ons skaars gegroet. “Eet julle maar,” het sy gesê. Haar stem was droog en dik; ek kon skaars verstaan wat sy sê.

      Wát om te eet, was die vraag. Al wat daar in die huis was, was ’n halwe winkelgesnyde brood waarvan die snye begin omkrul het. In die kombuiskas was ’n oop blik waatlemoenkonfyt met miere in, en ’n toe blik gemaalde ingelegde vis. Die melk was suur.

      Gelukkig het Linda niks nodig gehad nie, want sy het agter Ma se rug gelê en slaap. Dit was net ek en Mita en Hester en Georgie wat moes eet. Ek het die brood en die vis deurmekaar gemaak en in die pan in olie probeer bak. Maar die koekies wou nie heel bly nie en ons het later die krummels met ’n lepel in ons borde geskep, en tamatiesous, wat Mita in die yskas gekry het, bo-oor gegooi. Dit was nogal lekker.

      Toe ons klaar geëet het, het ons weer gaan kyk hoe dit met Ma gaan. Hester het begin huil. As ek ’n meisiekind was, sou ek ook gehuil het. Ma se hele gesig was vol blasies, en sy het nie geantwoord toe ons met haar praat nie. Ek onthou nog hoe ek gedink het: asseblief, Ma, moenie nóú so siek wees nie, ons begin dan vanmiddag oefen vir Junie se sirkusprogram, en as ek nie daar is nie, verloor ek my plek.

      “Dóén iets, Sias,” het Mita gesoebat, “jy’s die oudste, jy moet wéét wat om te doen!” Ek het gewens ek hét geweet wat om te doen.

      Ons woonstelblok is ’n ou gebou. Ons het ’n woonkamer en ’n slaapkamer en ’n badkamer en ’n klein kombuisie. Ons woon en eet in die woonkamer, en ek en Georgie het daar geslaap. Die meisies het by Ma en die baba in die kamer geslaap.

      Ons woonstel, nommer 12 A, is die laaste een in die gang op die tweede verdieping, en ons weet skaars hoe die mense lyk wat in die een net langsaan ons woon. Hulle is omtrent nooit daar nie, of as hulle daar is, slaap hulle die hele tyd.

      Die opsigter van die woonstel is ’n ou man, meneer Hansen. Hy het ’n groot rooi neus. Hy pes kinders wat op die trappe rondsit. Hy jaag ons altyd op, woonstel toe, of af, na die agterplaas toe.

      Ma het nie kans gehad om mense te leer ken nie, want sy het elke middag by die viswinkel in Victoriastraat gaan werk. Dan het ons die baba opgepas. Saans het sy nooit voor nege-uur huis toe gekom nie, en soggens het sy huis aan die kant gemaak en die wasgoed gewas.

      Ek het weer na Ma gaan kyk. Sy het baie stil gelê. Pa het ’n niggie wat in Kraaifontein woon, maar ons was laas nog saam met hom daar, het ek gedink; meneer Hansen was die enigste mens vir wie ek kon vra om ons te help.

      Met voete wat sleep, is ek die treetjies af na hom toe. Ek het Hester met haar rooi gehuilde oë saamgeneem. As hy mý nie jammer kry nie, sou hy hom darem seker oor haar ontferm.

      Vyf

      Hester wou nie met my saamkom nie, ek moes haar soontoe sleep. Sy was bang vir meneer Hansen en het weer begin huil toe ek aan sy deur klop.

      Hy het die deur op ’n skrefie oopgemaak en gesukkel om ons raak te sien. Hy het nie sy bril opgehad nie. Dit het gelyk asof hy geslaap het en nog nie heeltemal wakker was nie.

      “Wat is dit?” het hy gevra.

      “Mamma gaan dood!” het Hester gesnik, en harder gehuil.

      “Nee, meneer Hansen,” het ek vinnig gesê, want ek was bang hy verstaan verkeerd en bel die polisie, “sy is baie siek; sy praat nie meer met ons nie. Kan meneer asseblief die dokter laat kom?”

      Hy het dadelik anders gelyk en die deur wyer oopgemaak. Hy het ons ingenooi, tot by die potplant in die gang. “Wag hier vir my,” het hy gesê, “ek trek net gou my skoene aan.” Toe hy terugkom, het hy sy bril ook op, en hy het ’n appel in sy hand gehad wat hy vir Hester gegee het. “Toe maar nou,” het hy vir haar gesê, en vir my het hy begin uitvra oor Ma se siekte.

      Terwyl ek hom van die waterpokkies vertel, en van Ma wat nie antwoord as ons met haar praat nie, het ’n papegaai in ’n kou op die eetkamertafel die hele tyd aangehou met vra: “Waar’s die pos? Waar’s die pos?”

      Meneer Hansen het die kou aan ’n haak in die gang opgehang en saam met ons na ons woonstel toe gegaan.

      Ons woonsteldeur het oopgestaan en Mita en Georgie het op die treetjie vir ons sit en wag. Hy het hulle skaars raakgesien.

      Ek het hom deurgeneem na Ma toe. Hy het haar net een kyk gegee. “Ek gaan bel die dokter,” het hy gesê, en weer by Mita en Georgie en Hester verbygeskuur, sonder om iets te sê. Hester het langs hulle gaan sit.

      “Hy sien ons nie eens raak nie,” het Mita gesê.

      Hester het self die eerste hap uit haar appel gebyt, en dit toe rondgestuur, sodat almal daarvan kon kry. “Maar vandag is hy anders,” het sy gesê.

      Voordat die appelstronkie wat Georgie op die trapportaal van die onderste verdieping gegooi het, bruin was, was die dokter daar. Ek het hom na Ma toe geneem. Hy was skaars by haar, toe roep hy my. “Waar werk jou pa?”

      Die vraag wat ek haat. “My pa is in die Transvaal,” het ek gesê. Of in Durban. Of in Port Elizabeth. Maar daardie dag het ek gesê: in die Transvaal. Ek het dadelik geweet hy weet.

      “Het jy sy adres?” het hy gevra. Hy het in sy sak na iets gesoek en nie na my gekyk nie, waaroor ek bly was.

      “Nee,” het ek gesê.

      Hy het twee telefoonnommers op ’n stukkie papier geskrywe wat hy uit sy sakboekie geskeur het, en dit vir my gegee. “Gaan vra die opsigter om asseblief hierdie nommers te skakel,” het hy gesê.

      Kort daarna het ’n verpleegster opgedaag. Hester het by die voordeur gaan staan, en haar dopgehou. “Is sy baie siek?” het sy gevra toe sy die kans kry.

      Die verpleegster het met haar geglimlag. “Sy is,” het sy gesê, “maar sy sal weer gesond word. Jy kan maar gaan speel. Bly net hier onder rond, dan kan ek julle roep as ek julle nodig het.”

      “Nodig het waarvoor?” het Mita gevra.

      “O,” het sy gesê, en ek kon sien hoe sy soek na ’n rede, “sommer, ek weet nie …”

      Die meisies was daarmee tevrede, en hulle is die trappies af, maar nie Georgie nie. Hy het geweier om van die deur af pad te gee. “Ek bly by Ma,” het hy gesê, en bly sit. Hy was só bleek en beslis dat die verpleegster nie eens met hom probeer redeneer het nie. Ek het besluit om hom geselskap te hou.

      Kort nadat die verpleegster daar aangekom het, is die dokter weg. Ek moes hom gaan wys waar die opsigter se woonstel is. Daar het hy my gegroet en gesê hy kom die volgende oggend weer. Hy het gewag totdat ek die treetjies begin klim het voordat hy aan meneer Hansen se deur geklop het.

      Toe het ek geweet iets is aan die kom, maar ek kon nie dink wát nie. Ek het weer by Georgie gaan sit, en my bekommer oor die sirkusoefening. As die verpleegster weg is, kan ek ook gaan. Dit is gelukkig nog vroeg genoeg, het ek gedink, net solank ek teen drie-uur daar wegkom.

      So het ek sit en dink toe ’n man en ’n vrou die treetjies opkom, en na ons deur aangestap kom. Hulle het vir ons geknik en geklop.