Vierhonderd jaar lank het Portugal Angola beset, gekolonialiseer, van sy rykdom gestroop en sy mense verslaaf, en dit was eers in die twintigste eeu dat die inheemse stamme hulle in vryheidsbewegings gegroepeer het. In die vyftigerjare is die MPLA en FNLA gestig. Die lede van die MPLA was meestal mulatto’s en Kimbundus van Luanda, Bengo, Cuanza Norte en Cuanza Sul, asook Malange. Die FNLA se mense was die Bakongo, van die Cabinda-, Uíge- en Zaïre-provinsies. In 1964 het Savimbi van hulle weggebreek en UNITA gestig, hoofsaaklik met lede van die Ovimbundu van die sentrale hooglande. Dit was hier waar senhora Fernanda gebore is.
Haar pa het skoolgehou. As gemeenskapsleier was hy goed ingelig oor die situasie in die land. Die baklei teen die Portugese koloniste en die magstryd van die guerrillagroepe. Die broedermoord, Angolees teen Angolees, wat die land laat sidder het met sy wreedheid en futiliteit, terwyl die Portugese steeds geldmaak en onderdruk.
Fernanda was ’n kind tydens die 1974-staatsgreep in Lissabon, en die aankondiging daarna: die dekolonialisasie van die Afrika-provinsies Angola, Mosambiek en Portugees-Guinee. Haar pa was bekommerd. Dis nie net die mariene bronne en die koffieplantasies wat aanloklik is vir ander moondhede nie, het hy gesug. Of die jagvelde nie. Dis die diamante. Dis die olie. As Angola maar arm was.
Angola se veiligheidspen was getrek. In die moment voor sy ontploffing kry die MPLA adviseurs uit Rusland. Toe die Portugese uit Luanda onttrek, kom daar niks van die verkiesing nie, want die MPLA neem die regering van die land oor met die hulp van die Russe en Kubane. ’n Verwoestende, bloedige burgeroorlog ontstaan. Dit was 1975. Die Portugese wat in die land agtergebly het, vlug met net die klere aan hul lyf en rillerstories om te vertel. Die VSA gee beperkte hulp aan Roberto Holden se FNLA. Ook die buurlande raak betrokke. Zaïre ondersteun die FNLA aan hul grens, terwyl Suid-Afrika hulp aan UNITA verleen om ’n buffer te hê teen die insurgensieveldtog van SWAPO in die noordelike deel van Namibië.
Senhora Fernanda se pa was ’n lid van die raad van oudstes, wat die hoofman moes adviseer. Besorg het hulle onder die bome vergader. Onder die Portugese was dit hel. Maar onder die MPLA veel erger. Daar was wandade.
“Watter wandade?”
Maar sy wil nie daaroor praat nie.
En toe Savimbi sy mense vat en met hulle bos toe trek om van daar vir die vryheid van Angola te veg, het sy saamgetrek.
“Met jou ouers?”
“Nee. Hulle was toe dood.”
Sy wil ook nie daaroor praat nie. Sy wil net praat oor die onderdrukking van die Angolese. Eers was daar die juk van die Portugese, nou die juk van die supermoondhede, die Russe en Kubane wat in hul duisende na Angola gestuur word om hul militêre invloed in Afrika uit te brei, terwyl die VSA hom onttrek het met Viëtnam nog vars in die geheue. Enige verdere hulp deur ’n Amerikaanse regeringsinstansie is verbied deur die Clark Amendment. Suid-Afrika gee slegs beperkte hulp.
Savimbi het ’n nuwe hoofbasis by Jamba gestig, waar nou ongeveer tienduisend siele woon. Hulle is goed georganiseer. Ons sien die ondergrondse hospitaal, die kraamsaal (altyd besig) en die werkswinkels onder kamoefleernette vir voertuie en wapentuig van Russiese en Tsjeggiese oorsprong – alles oorlogsbuit.
Ons besoek ook die noodhulpklas van die Vroueliga, en by die sekondêre skool skiet ons ’n paar tonele van die kinders wat weerbaarheidsoefeninge doen. “’n Hele geslag jongmense word opgeoffer vir die vryheid van Angola,” sê senhora Fernanda, terwyl die seuns met houtgewere verbymarsjeer. “Hulle ken niks anders as oorlog nie, daarom moet hulle wetenskap, kuns, geskiedenis en tale op skool leer. Dis belangrik vir die handhawing van beskawing. Dié wat uitblink, word na ander lande gestuur vir verdere opvoeding, om dan terug te kom na Angola. Dit is hulle wat die topposte sal kry ná die oorlog.”
Elke dag as ons terugkeer van ons besigtigingstoer, word ons geneem na ons netjiese kampong met riethutte, wat hulle casas noem. Hier bly ons afgesonder van die UNITA-mense. Ons het storte en elektrisiteit danksy ’n kragopwekker. Ons slaap op militêre katels met sponsmatrasse, en het militêre bruin linne en komberse. Snags hoor ons vryheidsliedere uit die basis langs die kampong, soggens word ons wakker gemaak deur die opstaanbeuel van die troepe, en die gekraai van hane. Ons kry koffie in die bed. Alles wat ons nodig het, word aan ons voorsien. Spek en eiers, gekookte bredies of boerewors en aartappels, voorberei uit die voorraad wat in die ruim van die vliegtuig saam met ons uit Pretoria ingevlieg is.
Is dit hoe die povo, die gewone mense, lewe? Waar kry hulle kos? Klere? “Is hier winkels of markte in die Bevryde Gebied?” vra ek vir senhora Fernanda.
Sy kyk my meewarig aan. “Nee. Die dorpe word deur ’n sosialistiese stelsel bestuur. Elke dorp het ’n gekose komitee wat sorg dat almal kos kry deur die oeste te verdeel. Hulle stuur ook patrollies uit en is in beheer van algehele orde in die gemeenskap. Ons president Savimbi glo daarin dat streng dissipline uiters noodsaaklik is in ’n oorlogsituasie. Die propaganda van die MPLA wil natuurlik voorgee dat ons mense ’n klomp barbare in die bos is. Jy moet maar self besluit, Nell, jy is die joernalis.”
Ons staan op wanneer UNITA sê ons moet opstaan, ons eet wanneer UNITA sê ons moet eet. Maar ons kan nêrens gaan, tensy hulle besluit ons moet gaan nie. Ons sien wat hulle wil hê ons moet sien, ons hoor wat hulle wil hê ons moet hoor. En as dit van senhora Fernanda afhang, sal ons later ook dink wat hulle wil hê ons moet dink. Sy reël vir ons koeldrank en selfs die leesstof wat ons kry in die jango – alles UNITA-propaganda. Die jango is ’n groot rondawel met sitplek vir ongeveer vyftig mense rondom. Die wande is van pragtige Zimbabwiese kiaatplanke gemaak, tot heuphoogte. Die spitsdak van riet maak dat die jango die koelste plek op Jamba is. Die muskietnet tussen die hout en die dak hou die insekte buite, terwyl die lug nog daardeur kan trek.
Toe ek een oggend vroeg gaan draf en by die hek van die kampong wil uitgaan, keer die wagte my voor en kom senhora Fernanda vervaard daar aan om die situasie te hanteer. “Jy kan nie gaan nie.”
“Hoekom nie?”
“Dis nie op die program nie.”
Die volgende oggend is dit op die program. Toe ek met my sweetpak by die casa uitkom, staan daar ’n seksie van tien troepe, almal met T-hemde, kamoefleerbroeke en stewels, gereed om saam met my te draf. Hulle het ook elkeen ’n AK-47.
Wat my laat wonder hoe vry die Bevryde Gebied is.
En waar is Savimbi? vra ek die aand in die jango.
Hy kom, sê senhora Fernanda. Hy is op pad. Sal binnekort hier wees.
Ons poleer ons lense en blaas in ons mikrofone, en wag. Klaar gesien, klaar geskiet, klaar alles ervaar wat daar is op Jamba. Nou nog net O nosso Presidente.
Vyfde dag. Steeds geen Savimbi nie. Senhora Fernanda is opgeskeep met ons, want daar is niks meer wat sy ons kan wys nie. Sy kom staan arm in die heup en kyk hoe Riko probeer om die antennadraad van die digitale elektroniese transformator in die boom te gooi. Ek staan onder met die transformator in die hand, reg om die sein te stuur.
“Hier is ’n krygsgevangene van SWAPO, as jy belangstel,” sê sy.
Suid-Afrika is besig met ’n teeninsurgensie-oorlog teen SWAPO. Dit kan nuus wees. “Watter taal praat hy?”
“Kwanjama. Hy is van Namibië.”
“Wie sal vir ons tolk?”
“Capitão Rebelo. Hy is die taal magtig.”
Riko klim met die antennadraad in die hand in die boom. Pienk T-hemp en geblomde broek teen die stam.
“Is sy Engels goed?”
“Uitstekend. Capitão Rebelo is ’n produk van Savimbi se opvoedingsprojek; hy was in Suid-Afrika vir ’n offisierskursus, en het ook in Frankryk gestudeer. Ons hou hom dop vir bevordering; hy kan moontlik in een van ons buitelandse missies gebruik word. ’n Intelligente man. Die gevangene is ook intelligent. Dikwels is hulle onnosel vegters, maar hierdie een is geleerd.”
“Kom af,” roep ek vir Riko. “Ons gaan ’n onderhoud doen.”
“Mooi uitsig van hier. Wat van die boodskap?”