Uit die beek 2018. Barend Vos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Barend Vos
Издательство: Ingram
Серия: Uit die Beek
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320346
Скачать книгу
geskenk aan jou sal aanvaar.

      ____________________

      Here, druk dit in my onwillige hande.

      Skryf dit op my verraderlike hart.

      Vrydag 12 JANUARIE 2018 Lees Johannes 1:1-9

      Die ware lig

      Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie (v. 5).

      Johannes se Evangelie begin nie met ’n Kersverhaal nie, maar met ’n gedig. Oor lig. Oftewel die Lig.

      Hy sê die Lig was van die begin af daar, alles het deur Hom tot stand gekom. En: “In Hom was daar lewe …” (v. 4).

      Vir ons is dit nie nuus nie. Ons weet dit van die begin af, want hierdie Lewe het vir ons die lewe gegee. ’n Lewe in sy lig wat nie uitgedoof kan word nie, hoe hard die duisternis ook al probeer.

      En probéér dit nie hard om alles te verswelg nie! Soms kom dit met een fel hou wat die lewe in chaos dompel. Maar dikwels bekruip die duisternis, planmatig en slinks, hulle wat in die lig lewe. Sodat hulle nie hierdie stelselmatige verdonkering sommer agterkom nie.

      Lank, soms jare lank, werk hierdie bose strategie. Mense van die lig merk nie op dat hulle langsamerhand in hierdie grynslaggende swart gat ingesuig word nie. Hulle vergeet gou hoe helder die Lig eintlik is. Hulle raak noodlottig gewoond aan die aansluipende skemer.

      Maar hierdie lig, sê Johannes, hierdie Lig, laat Hom nie uitdoof nie. Nee, dit is juis wanneer die helse donkerte alle pretensies oorboord gooi en verwoed begin dreig en blaas en soek om te verslind, dat die Lig soos ’n helder môrester opkom. En die dag die nag beslissend breek.

      ____________________

      U, Woord by God, U bly die lig op my pad

      en die lamp vir my voet. U skyn in my en oor my en altyd voor my uit. Halleluja!

      Saterdag 13 JANUARIE 2018 Lees Johannes 1:10-18

      God by ons

      Die Woord het mens geword en onder ons kom woon (v. 14).

      Nee, dit is geen Kersverhaal met sterrekykers en herders dié nie, en niemand sing nie. Tog kan Johannes se sober verslag oor die impak wat God met Kersfees op sy kinders se lewe maak nie verkeerd verstaan word nie. Of hoe?

      Maar verstaan die Godskinders dit, die gewone mense, dié soos ons vir wie hierdie troosgedig bedoel is? Het hulle hoegenaamd ’n idee wat dit beteken dat Hy, die Woord wat in die begin reeds daar was, mens geword het? ’n God wat mens word? Wat tussen die mense kom woon? Wat God-by-ons word?

      Iewers tussen al dié heerlike, verbysterende feite duik ’n tweede vraag op: Is ons by God? Want uit Johannes se verslag van die geskiedenis blyk dit dat die mensgeworde Een nie by sy eerste adres welkom was nie. Sy “eie mense” (v. 11) wou Hom nie gehad het nie. Hoe op aarde …?

      Maar toe wend Hy Hom tot die ander, en Hy gee húlle die reg om sy susters en broers te word, God se kinders. Genade op genade! juig Johannes.

      Sedertdien weet al hierdie begenadigde kinders waar hulle vandaan kom en by wie hulle die reg gekry het om kinders van God genoem te word. Hulle weet dat dié status ’n geskenk is. Soos met alle geskenke moet hulle daarvoor dankie sê, dit oopmaak en dit geniet. En hulle verwonder oor die onberekenbare waarde daarvan om in God se teenwoordigheid te mag lewe. En hulle voorneem dat dankbaarheid voortaan die wagwoord in hul lewe sal wees.

      ____________________

      Dankie, Here, vir genade op genade. Wys my elke dag hoe die dankbaarheid lyk wat by só ’n geskenk pas.

      Sondag 14 JANUARIE 2018 Lees 1 Samuel 3:1-10

      God se stem

      Die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor … (v. 1).

      Samuel het sy kleintyd in die kerk deurgebring. Só vertel die Bybelskrywer ons. Sy mentor – nie onverwags nie – was die ou priester daar, ene Eli. Maar, sug die skrywer, die Here se stem is in daardie tyd maar selde gehoor.

      Dit is seker dié dat die ou priester niks vermoed het toe die seun na hom gehardloop kom met die storie oor ’n stem wat na hom geroep het nie. Selfs nie die tweede keer nie. Eers ná die derde roepslag lui daar ’n klokkie by die tempeldienaar en kan hy die regte raad aan die seun gee.

      Tog vreemd dat die man wat van beter moes geweet het so horende doof was. Die skrywer verklap wel dat die ou man se oë swak geword het, maar klaarblyklik was die sig in sy geestesoë ook maar erg aangetas …

      Die vraag is: Hoe gebeur dit dat God se stem skaars word, en feitlik onherkenbaar is wanneer dit wel (in die plek waar Hy aanbid word!) gehoor word? Is dit die priester se skuld? Is dit as gevolg van die manier waarop hy en sy kinders God se genadegawes misbruik het?

      Die verhaal sê: Ja, dit is so. In hoofstuk 2 word God se oordeel oor Eli en sy huis uiteengesit, en die openbaring aan klein Samuel sou dit bevestig.

      Sal dit dan vandag steeds so wees dat God se oordeel nie by die sogenaamde heidene en godloënaars begin nie, maar by die kerk se mense? By hulle wat van beter moet weet? Wat lankal moes agtergekom het dat God se stem stil geword het, ook daar waar hulle Hom aanbid?

      ____________________

      Here, U moet tog nooit ophou om met u kerk te

      praat nie. Skud ons wakker, laat ons luister!

      Maandag 15 JANUARIE 2018 Lees 1 Samuel 3:11-20

      Praat, Here …!

      En Eli het gesê: “Hy is die Here,

      laat Hom doen soos Hy wil” (v. 18).

      Die boodskap wat die jong Samuel van die Here ontvang, is nie ’n maklike een om aan te hoor nie, en nóg moeiliker om te gaan oordra: Hy moet aan sy mentor gaan vertel dat dié se tyd verby is. Dat die Here se geduld met hom en sy mense opgeraak het.

      Eli het dit reeds geweet. ’n Tyd gelede het die Here dit immers self aan hom gesê. Ons weet nie wat sy reaksie tóé was nie, maar nou haal hy sy skouers op en sê gelate: Die Here moet maar maak soos Hy wil.

      Ja, wat anders is daar te sê of te doen as die Here self die gordyn laat val? Jy moet maar aanvaar dat dit die end van die prent is – of hoe?

      Nou, millenia later, met Jesus Christus wat intussen op die wêreldtoneel verskyn en skeidsmure afgebreek en gordyne middeldeur laat skeur het, wonder slimjanne soos ons oor die verdoeming wat op die kerkman Eli en sy mense afgekom het. Vra ons allerlei strikvrae oor ’n God wat toe wel met ’n mens, nogal een van sy spesiale diensknegte, die stryd gewonne gegee het.

      Ons kan seker ná Christus vrae vra as ons wil, of allerlei lawwe afleidings oor die Ou-Testamentiese gebeure maak, maar dalk sal dit ons beter pas om ’n vraag of twee te vra oor óns erns met die werk in sy kerk en koninkryk. Oor óns bereidwilligheid om te luister as Hy opdragte gee.

      En oor ons, die kerkmense, se vroom gewoonte om “Here, Here” te sê – en dan na te laat om sy wil te doen.

      ____________________

      Ek sê nou liewer nie u Naam hardop nie … Maar U moet asseblief nie met my moed opgee nie.

      Dinsdag 16 JANUARIE 2018 Lees Psalm 139:1-6

      U sien dwarsdeur my

      Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip (v. 6).

      Natuurlik is die wete dat die Here “dwarsdeur” (v. 1) ons sien bo ons begrip. Én veels te erg om selfs aan te dink. Ek bedoel: Wat sien Hy nie alles nie! Wat ’n seeroog is ek nie vir Hom nie!

      Ons kan niks vir Hom wegsteek nie, niks. Hy sien ons hart, ons bedoelings, ons motiewe en geheime agendas. Hy sien deur ons plannetjies en verskoninkies. Hy lag vir ons vroom fasades en manhaftige maskers. Hy weet alles.

      Dit