Uit die beek 2018. Barend Vos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Barend Vos
Издательство: Ingram
Серия: Uit die Beek
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320346
Скачать книгу

      Here, U het ons van die bose bevry. Bevry ons tog van onsself ook, asseblief.

      Donderdag 22 FEBRUARIE 2018 Lees Markus 1:9-11

      Die oop hemel

      Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ’n duif na Hom toe sien neerdaal. Daar was ook ’n stem uit die hemel … (v. 10-11).

      Daar is baie maniere waarop die verskillende Bybelskrywers die liefdesdade van die Skepper aan sy skepsels beskrywe. Die profeet Hosea sê byvoorbeeld dat God die Een is wat afbuk om vir sy kinders te sorg; priester Samuel het geweet dat die Here tot in die mens se hart sien; koning Dawid het gepleit dat die Here vir hom ’n rein hart en ’n nuwe gees sal gee.

      In die Nuwe Testament is Paulus lief vir die woord “versoen” in al sy verbuigings, en Johannes skryf herhaaldelik oor God se tere liefde vir sy kinders.

      Maar waar is daar ’n skouspelagtiger bewys van God se omvattende omhelsing van sy kinders as die toneel by sy geliefde Seun se doop? Die duif! Daardie stem …

      O, en die oop hemel. Dít is seker die veelseggendste metafoor denkbaar wanneer die verhouding tussen Skepper en skepsels beskrywe word. En dit was van altyd af so: Jakob die vlugteling het dit reeds gesien (vgl. Gen 28:11-17); die radelose Jesaja het dit van die Here afgebid (vgl. Jes 64:1-2); die weifelende Petrus sou dit later self beleef, boonop met die stem daarby (vgl. Hand 10:11-16).

      Maar Jesus van Nasaret sou in alle opsigte die verpersoonliking van God se oop hemel wees. In Jesus sou die skepsels hul Skepper sien. Deur Jesus, het hulle later geleer, sou hulle na hul hemelse Vader toe gaan.

      ____________________

      Here Jesus, U is ons oop hemel. U maak ons die erfgename van ’n nuwe dimensie.

      Vrydag 23 FEBRUARIE 2018 Lees Markus 1:12-13

      Woestyntyd

      Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in … (v. 12).

      Die triomfantelike belewenis by Jesus se doop word onmiddellik gevolg deur veertig dae in die woestyn. Die gewaarwording van ’n oop hemel word summier gekompliseer deur die Satan se versoeking.

      Só sou dit deur Jesus se hele aardse lewe wees – die hemelse hoogtepunte word deur ellendige laagtepunte gevolg. Selfs sy dissipels doen die mooiste belydenisse, net om daarna op groot skaal droog te maak. Die skares roep “hosanna!”, maar wysig dit gou-gou na “kruisig hom!” (Luk 23:21; Joh 19:6).

      Dankie tog vir die onverstoorbare ondersteuners: die engele wat in die woestyntyd ná sy doop na Hom omgesien het. Die vroue wat Hom deurentyd versorg het, wat ook hul emosionele onderskraging tot by die kruis volgehou het (vgl. Mark 15:41). Dit sou deur die eeue die patroon bly. Jesus se navolgers sou dit eerstehands beleef: die eb en vloed van dissipelskap, die groen weivelde én die donker dieptes, die bergtopbelewenisse én die woestyntye.

      Dikwels volg dit kort ná mekaar. Die oorwinning se opwinding bruis nog deur jou are, dan klap die Bose se sweep op jou ontblote siel. Vra maar die ou profeet Elia: Sy hart juig nog ná die Baälprofete se vernedering, toe bevind hy hom in die woestyn onder ’n besembos, waar hy wens om dood te gaan. Dankie tog vir die engel wat vir hom roosterkoek en water bring, sodat hy weer kon opstaan (vgl. 1 Kon 19).

      Ja, dankie tog vir die versorgers. Vir hulle wat hul arms om jou sit en sê: Toemaar, ek is hier vir jou, ek sal jou nie alleen los nie. En goddank vir Hom wat hulle gestuur het, omdat Hy alles van woestyntye weet.

      ____________________

      Here Jesus, U is uiteindelik selfs deur God verlaat, sodat ons elke ellende sal oorleef. Halleluja!

      Saterdag 24 FEBRUARIE 2018 Lees Markus 1:14-15

      Tyd vir die koninkryk

      Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom” (v. 15).

      Die Doper verdwyn van die toneel, sy padmakerwerk is voltooi. Die Een vir wie hy die pad geskraap het, tree nou op die voorgrond. Die tyd het aangebreek.

      Dit sou ’n tyd word wat die wêreldgeskiedenis beïnvloed soos geen ander daarvoor of daarna nie. God se geliefde Seun sou mense en nasies se bestaan op ’n beslissende manier beïnvloed. Definieer en herdefinieer. Landsburgers sou ook koninkrykskinders word. Ontheemdes en ontworteldes sou erfgename word. En verloorders sou die grootste moontlike prys wen.

      Dit alles was van die begin af Jesus se verkondigde en geleefde boodskap: Die tyd vir die koninkryk van God het aangebreek. ’n Genadetyd soos nooit tevore nie, sou die begunstigdes spoedig agterkom.

      Maar nie almal sou dié tyd en dié koninkryk se betekenis begryp nie. Met hulle sou Jesus baie moeite doen. Hy sou hulle onder meer help deur stories te vertel wat só begin het: Met die koninkryk gaan dit soos met … (vgl. Matt 13:47; 25:1). Of: Die koninkryk kan vergelyk word met … (vgl. Matt 13:24; 18:23; Luk 13:18, 20).

      Sonder uitsondering sou Hy die koninkryk van God se korreksie op die plaaslike koninkrykies aankondig en sommer ook aanbring. Hy sou sommige teregwys, ander troos en genees. Hy sou almal met ope arms uitnooi. Só sou Hy wys hoe tydig die koninkryk van God is en hoe genadig naby dit aan die koningskinders gekom het. As hulle dit maar net sou raaksien, dit aangryp en omhels.

      ____________________

      Ook ék is ’n erfgenaam van u koninkryk, Here. Leer my om my erfenis te eer en gereeld te vra wat U wil hê ek daarmee moet doen.

      Sondag 25 FEBRUARIE 2018 Lees Genesis 17:1-7

      Verbintenis

      “Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag” (v. 7).

      Die Here se verbintenis met sy kinders berus nie op hul vroomheid of getrouheid of godsvrug nie. Hy is aan sy kinders verbind omdat Hy so sê. Omdat Hý hierdie verbintenis met hulle aangaan.

      By Abraham was daar hieroor geen misverstand nie; hy het immers geweet wie hy is en waar hy vandaan kom. Hoe die Here hom geroep en aan hom ’n nuwe land en nuwe moontlikhede gegee het.

      Veral, verál, het Abraham geweet wie die Here is. Wie Hy vir hom en sy mense is: die Toekomsmaker, die Hoopgewer.

      En nou, te midde van hierdie dramatiese bevestiging van die Here se verbintenis aan hom en sy mense, het Hy boonop vir Abraham ’n nuwe naam gegee. ’n Hoorbare, herkenbare versekering van die verbintenis wat Hy, die grote God, met hierdie mens aangaan. Eenvoudig, nie waar nie? En ingrypend. Want wanneer Hy vir Abraham op sy nuwe naam roep, sal hierdie verbondskind sonder twyfel weet: Ek is Syne.

      Hy hoef dus nie meer in die nuwe land te probeer naam maak nie; sy nuwe naam is aan hom gegee. Hy kan nou bloot vanuit hierdie sekerheid in sy nuwe toekoms gaan leef. En weet: Ek is onvervreembaar aan God verbind.

      Hierdie geskiedenis bevry ook ons, die Abrahamskinders, van ons wanhopige probeerslae, al ons dapper pogings. Ons behoort aan Hom, Hy het ons aan Hom verbind. Hy het so gesê en so sal dit wees en bly. En watter Godskind sal dit waag om hieroor te stry?

      ____________________

      Here, ek dra trots en dankbaar die naam wat U my gegee het.

      Ek heet Kindjie. Dit is mos die naam waarop U my roep.

      Maandag 26 FEBRUARIE 2018 Lees Genesis 17:15-16

      Naamgewer

      “Jy moet jou vrou nie meer Sarai noem nie. Haar naam is nou Sara” (v. 15).

      Toe kry ook sý ’n nuwe naam, Abraham se vrou. Sarai word Sara. Ook dit is ’n hoorbare teken van God se vaste verbintenis met die Abrahamgeslag. Sy sal immers – só belowe Hy, die Naamgewer – die draer van die belofte wees.

      Die verandering van Sarai se naam het dalk ’n selfs breër betekenis as haar man se naamsverandering.