Uit die beek 2018. Barend Vos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Barend Vos
Издательство: Ingram
Серия: Uit die Beek
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320346
Скачать книгу
kan hulle vereenselwig met die psalmdigter se sterk uitsprake oor die Here se opgetekende woord, met woorde soos “volmaak”, “betroubaar” (v. 8), “helder” (v. 9), “goed” en “reg” (v. 10). Soos die digter, weet hulle ook dat die woord van die Here lewe gee, dit bring wysheid, dit dui die regte koers aan, dit gee insig. Boonop staan dit altyd vas.

      Maar dalk is dít die belangrikste uitwerking wat hierdie woord op die lesers daarvan het: Die Here se dienaars laat hulle daardeur leer. Op hierdie manier besef hulle dat hulle nie alle wysheid in pag het nie. Dat soveel dinge, ook in hulleself, steeds vir hulle verborge is. Só leer dit hulle beskeidenheid, afhanklikheid, iets van hul eie broosheid. Die voorlopigheid van hul verstaan.

      Só dryf die woord hulle terug na God, soos dit sekerlik hoort. Nadat hulle Hom aangehoor het, lui hul gebed uiteindelik só: “Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here …” (v. 15).

      Inderdaad: Aan die Here se woord word ons woorde en gedagtes gemeet, geweeg. En deur hierdie Woord word ons reggehelp.

      ____________________

      Here, ek hoor U skaars; my ore is so toe. Praat tog hard en duidelik met my. Help my reg.

      Donderdag 8 MAART 2018 Lees 1 Korintiërs 1:18-25

      Wondertekens en onsin

      Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin … (v. 22-23).

      Niks het ook verander nie …

      In Paulus se tyd het die Jode gevra na God se wonderwerke – en wanneer hulle dit nie gesien het nie, het hulle belangstelling verloor. Deur die eeue was dit by baie mense die geval, wêreldwyd. Is dit steeds so: Groot wonderwerke (of gerugte daarvan) lok groot skares, maar as dit nie ’n groot genoeg skouspel na hul sin is nie, draai hulle onvergenoeg om en gaan soek na méér.

      Destyds het die Grieke groot klem op redevoering en slim uitsprake gelê – en wanneer hulle dit nie gevind het nie, het hulle verder gesoek. Deur die eeue was dit by baie mense die geval, wêreldwyd. Is dit steeds so: Kennis is koning! Bewysbare inligting is al wat tel, die res is bewysbare onsin. Of hoogstens ’n filosofiese of esoteriese gebabbel.

      En eintlik, sê Paulus, verkondig hy en sy koninkryk-medewerkers bloot die gekruisigde, gebroke Christus. Ja, gee hy toe, dit is ’n enorme teleurstelling vir dié wat ’n wonderwerker soek. En ’n foeitogfabel vir hulle wat tot elke prys wil weet hoekom dit moes gebeur, ás dit hoegenaamd gebeur het.

      Vir ons, sê Paulus, is die gewonde Geneser die grootste troos in lewe en in sterwe. Sy krag kom juis tot volle werking wanneer ons swak is. En wanneer Hy ons ongeloof te hulp kom, is daardie genade vir ons genoeg.

      ____________________

      Here, my krag en my sterkte, u genade maak my lewe sinvol. Ek leef in die greep van u goedheid.

      Vrydag 9 MAART 2018 Lees Johannes 2:13-17

      Skoonmaaktyd

      Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my” (v. 17).

      Dalk is dit omdat Jesus se optrede hier so vreemd was. Verbeel jou: ’n sweep! Dalk is dit omdat die woedende spektakel so grafies geteken word. Hy smyt die geldwisselaars se geld op die grond, keer boonop hul tafels om.

      Hoe ook al. Dié klompie verse wat vertel hoe Jesus die tempel en die aangrensende plein “skoongemaak” het, word met groot smaak oorvertel en aangehaal. Dikwels deur gelowiges wat op die een of ander manier húl woede oor ’n saak wil regverdig met iets soos: As Jesus so kwaad geword het, dan kan ek mos ook …

      Pleks dat diésulkes verder lees oor die dissipels se latere besef van die liefde vir die Vader se huis. En Jesus se eie regverdiging vir sy optrede: “Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie” (v. 16). Die ander drie Evangelieskrywers onthou boonop dat Hy ’n veel sterker woord – “rowersnes” (Matt 21:13; Mark 11:17; Luk 19:46) – gebruik het.

      Motiewe verklap alles. En Hy wat tot in mense se hart sien, weet hoekom hulle doen wat hulle doen. Hy oordeel nie gunstig oor die diensverskaffers op die tempelplein nie, waarskynlik omdat hulle die tempelgangers uitgebuit het. Daarom reinig Hy die omgewing van hul soort.

      Nee, dié optrede regverdig nie gelowiges se woede en geweld nie. Jesus se boodskap is duidelik: Jy vergryp jou nie aan die Vader se kinders nie. Juis nie as hulle afhanklik is van jou, die kerkmens, se diens aan hulle nie.

      ____________________

      Here, U bring dikwels mense oor u kerk se drumpel wat verleë wag op ons, u kinders, se aandag. Leer ons hoe om te maak. Leer ons u wil vir hulle en vir onsself.

      Saterdag 10 MAART 2018 Lees Johannes 2:18-22

      Terugskouend

      Maar die Jode het Hom aangespreek … (v. 18).

      Dalk was dit vanweë hul gevestigde belange in die uitbuiting van die tempelgangers. Dalk was hulle bloot ongemaklik oor Jesus wat die tempel opgeruim het, dit wat húlle eintlik moes doen.

      Hoe ook al. Hulle praat Hom aan. Hoe durf Hy! Hulle daag Hom uit. Tipies die destydse Jode, soek hulle ’n wonderteken.

      Hy gee dit vir hulle: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig” (v. 19).

      Maar soos gewoonlik verstaan hulle Hom verkeerd, en hierdie vergissing sou uiteindelik een van die vernaamste aanklagte teen Hom word toe daardie einste mense ’n verskoning vir sy teregstelling soek (vgl. Mark 14:57-59). En soos so dikwels gebeur het, verstaan sy dissipels sy woorde ook eers veel later, toe hulle op daardie dag terugkyk.

      Agterna beskou, kan ook ons heelwat oor dié klein gesprek tussen Jesus en die verontwaardigde Jode sê. Dalk iets soos: Bygelowigheid het nie brieke nie; hulle wou dan opsluit ’n teken hê. Of: Geslepenheid het geen grense nie.

      Ag, dalk oordeel ons te kru oor hierdie kultuur. Maar dan kan ons gerus uitroep: Moedswilligheid, waar is jou einde! Want dit bly ’n feit dat die Jode van meet af aan probeer het om Jesus uit te daag. Uit te lok.

      Dit het nooit gewerk nie. Maar dit het hulle hoegenaamd nie verhoed om uiteindelik wel van Hom ontslae te raak nie. ’n Mens moet nie die krag van gevestigde belange onderskat nie. En jaloesie was nog altyd ’n vernietigende emosie, juis in die kerk en juis tussen gelowiges.

      ____________________

      Here, U moet tog nooit ophou om u kerk te reinig nie! Werk saggies met my …

      Sondag 11 MAART 2018 Lees Numeri 21:4-9

      Verleë

      Op pad daarheen het die volk ongeduldig geword en teen God en Moses uitgevaar … (v. 4-5).

      Soos heelparty Ou- én Nuwe-Testamentiese verhale laat ook hierdie een sommige hedendaagse Christenlesers effens verleë. Nie oor die wondergenesings nie, nee. Die meeste van ons lewe al lank genoeg om heelparty van God se wonderwerke te kon aanskou, juis ook dié in hospitale en langs siekbeddens tuis.

      Die probleem lê eerder by die rede vir die slange se skrikbewind: Die Here het hulle gestuur, sê die Numeriskrywer. Klaarblyklik omdat die trekkers ontevrede was oor die kos.

      Sjoe. Dit is darem maar … kwaai! ’n Groot reaksie op ’n klaery oor kos – of hoe? Moet ons dan liefs vinnig verbyblaai en ’n geskikter leesgedeelte in die verhaal gaan soek, een wat by ons idee van God sal pas? Liefs nie. Ons weet dat dit oneerlik is. Kom ons kyk eerder na wat hier voor die hand liggend is. Na die tipiese verhouding wat die ou trekvolk met hul God sou hê: ontevredenheid – ondankbaarheid – straf – berou – vergifnis.

      Op die keper beskou, is dit nie soveel anders as wat deur die eeue heen tussen gelowiges en God gebeur nie. Hoe goed ken ons nie óns ondankbaarheid en ontevredenheid nie. Hoe skoorvoetend is ons berou nie; dikwels ontbreek dit heeltemal.