Annelize Morgan Omnibus 8. Annelize Morgan. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Annelize Morgan
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624083313
Скачать книгу
sê sy skaars hoorbaar. “Ek kan dit net nie glo nie …!”

      “Joe-hoe!” skreeu oom Markus en lag dawerend toe die kapkar by die twee vroue verbyjaag na die stal.

      Clara kom uitgehardloop saam met Samuel. Hulle staan verstom en kyk hoe oom Markus die draai by die stal op twee wiele vat en die kapkar dan eindelik tot stilstand bring. Hy wag nie eens om met die verskrikte stalkneg te praat nie, maar kom aangehardloop na die stoep.

      “Hy kom!” skreeu hy toe hy binne hoorafstand is. “Hy kom terug!”

      Hanna frons en wag totdat hy uitasem by hulle aansluit voordat sy vra: “Wat bedoel jy, Markus? Hoekom jaag jy so en wie is dit wat kom?”

      Hy lag gelukkig en waai die vel wit papier in sy hand.

      “Hy kom terug, Hanna … Derek leef en hy kom terug Leydshoop toe!”

      6

      Hanna staar lank na Markus sonder om iets te sê. Sy is baie bleek, en dis asof daar ’n lig in haar oë doodgegaan het.

      “Dan het dit uiteindelik gebeur,” sê sy dof. “Leydshoop sal nooit aan my kan behoort nie.”

      Markus kyk vinnig na haar.

      “Moenie laf wees nie, Hanna. Hy sê net dat hy ’n rukkie lank kom kuier. Ek is maar net bly om my seun weer na ál die jare te sien … of wens jy my nie dié geluk toe nie?”

      Sy kyk moeg op.

      “Ja, Markus, ek is bly vir jou part dat hy terugkom, maar jy het nog nie een oomblik aan my en my gesin se toekoms gedink nie.”

      “Daar is niks om oor te dink nie. Alles sal bly soos dit is.”

      Sy skud haar kop stadig.

      “Nee, dit sal nie … jy sal die plaas aan Derek nalaat al het hy jou drie-en-twintig jaar lank vergeet.”

      Markus se vrolikheid verdwyn soos mis voor die son.

      “Ons kan later daaroor praat,” sê hy stug en steek die brief in sy sak. Dan draai hy om en loop geboë van hulle af weg. Al die vreugde het uit hom gewyk, en die hartseer het teruggekom.

      Rosalie hardloop na hom toe en steek haar arm deur syne.

      “Kom ons gaan stap ’n lang ent, en dan vertel oom Markus vir my wat hy geskryf het.”

      Hy glimlag vaag toe hy na haar kyk.

      “Jy is ’n liewe kind, Rosalie, maar ek glo nie jy wil regtig weet nie.”

      Sy gee sy arm ’n drukkie.

      “O ja, ek wil.”

      “Dis ’n lang brief,” begin Markus onseker. “Hy vertel van waar hy orals was … oorkant die Limpopo, op die gouddelwerye op Barberton en in die oorlog wat pas verby is. Hy was oral.” Hy aarsel. Dan hervat hy: “Hy het gedink dat ek nie meer lewe nie, en daarom het hy nooit geskryf nie. Iemand het hom vertel dat ek aan ’n hartaanval dood is, en hy wou nie terugkom na Leydshoop toe nie … omdat ek nie meer hier sou wees nie. Eers toe hulle op kommando was die laaste jaar, het hy gehoor dat ek nog leef, en hy het so gou as wat die oorlog verby was, geskryf. Hy kom terug … al is dit net om te kuier. Al die lang jare wat hy weg was, het hy my nie vergeet nie … Die woorde borrel oor oom Markus se lippe en Rosalie luister. “Hy het my onthou en hy wou terugkom …”

      “Is hy weer getroud?” wil sy weet.

      “Hy sê nie.”

      “Maar hy kom darem terug, oom Markus.”

      Hy sit sy arm om haar skouers en gee haar ’n stywe druk.

      “Ai, Rosalie, na ál die jare gaan ek my kind weer sien.” In sy oë is die geluk vlak, versag dit die harde lyne van swaarkry op sy gesig. “Ek sal my seun weer by my hê. Destyds was hy maar ’n rapsie ouer as wat jy nou is. Hy was vyf-en-twintig toe hy hier weg is en as ek nie verkeerd is nie, sal hy nou naby die vyftig moet wees … dis ’n baie lang tyd …”

      Sy glimlag.

      “Julle sal baie hê om oor te gesels.”

      Hy gaan skielik staan. “Ons moet teruggaan huis toe. Die werk wag vir ons.”

      Terwyl hulle terugloop, wonder Rosalie hoe die koms van Derek haar eie lewe gaan beïnvloed. Sy sal nie meer die eerste plek in oom Markus se lewe inneem nie, en sy sal op die agtergrond geskuif word. Dan sal sy oom Markus nie meer in die steek laat as sy weggaan nie. Dit sal dit vir haar makliker maak.

      Vandat die spaider op die plaas aangekom het, is daar gedurig onenigheid. Samuel span enige twee perde in wat hy kan aankeer, en meesal is dit Harmonie wat deurloop, totdat oom Markus ’n groot slot vir haar gaan koop waarmee sy die perd se stal snags kan toesluit. Samuel raas en skree dat hoor en sien vergaan daaroor, maar Rosalie weier om die sleutel vir hom te gee.

      Thor het intussen aangesterk, en hy is ’n stewige vulletjie. Wanneer Danser nie haar skofte op die dorsvloer werk nie, hardloop hy agter sy ma aan totdat oom Markus hom een oggend voorneem om die vul te speen. Die diertjie is al ses weke oud, en oor ’n week of twee kan hy die vul van sy ma af wegneem.

      Niemand het weer gepraat van Ansie du Preez nie. Rosalie is baie dankbaar daaroor omdat sy nie nóg verdere onsekerheid oor haar herkoms sal kan verduur nie. Dis al moeilik genoeg om onder die omstandighede te leef. Tog wonder sy of Clara dit nie dalk teenoor Julius de Koning genoem het nie. Julius was voorheen ook stug teenoor haar, maar dit het vererger sedert daardie dag toe oom Frank dit aan oom Markus gesê het.

      Frank kuier deesdae net naweke op Leydshoop. Dan lê hy gewoonlik net in die kamer en tant Hanna moet vir hom kos aandra. Hy drink ten minste twee bottels brandewyn die naweek uit, en Sondag vroegaand ry hy terug Harrismith toe. Hy praat geen dooie woord met oom Markus nie, tensy hulle stry kry. Frank is baie verbitterd dat Markus hom van die plaas af gejaag het. Op die dorp hou hy ook nie ’n werk nie, omdat hy al sy geld uitdrink.

      Rosalie sien altyd die verligting op tant Hanna se gesig wanneer oom Frank vertrek. Sy kry die vrou jammer omdat sy self maar deur ’n beproewing gaan.

      Nadat die dorsery agter die rug is, is dit vir Samuel ook makliker om twee perde te kry om voor sy spaider in te span. Dan vertrek hy gewoonlik vroeg in die oggend om eers laataand terug te keer.

      Een Sondagoggend soek hy weer na twee perde om op te saal toe hy oom Markus by die stal raak loop.

      “Jy gaan vanoggend saam kerk toe,” sê die ou man eenvoudig.

      “Ek is nie lus nie. Ek wil ’n ent met my spaider gaan ry, en dan wil ek vir Sarie Langeveld gaan oplaai. Ons wil die dag gaan piekniek hou.”

      Markus se gesig verhard.

      “Ek het gesê dat jy vanoggend saam kerk toe gaan, en so sal dit wees.”

      Samuel vererg hom.

      “En ek het gesê dat ek wil gaan ry en basta! Ek is oud genoeg om my eie besluite te neem.”

      Markus haak ’n riem van die muur af.

      “Jy is nie te oud vir ’n pak slae nie.”

      Samuel gaan staan wydsbeen voor oom Markus.

      “Slaan aan my, en ek slaan jou gesig pap, oubaas! Moenie weer met my torring nie.”

      Markus se oë vernou.

      “Jy moenie my onderskat nie, Samuel,” sê hy stadig. “Jy het my laas onkant gevang, maar nie hierdie keer nie. Ek is reg vir jou.”

      Samuel lag minagtend.

      “Oom sal nie aan my raak nie.”

      Die riem fluit deur die lug en die punt krul om Samuel se rug. Die woede skiet na sy oë.

      “Jy durf aan my slaan!” roep hy woedend uit.

      Markus bly kalm.

      “Geen kind praat só met my nie! Jy het in jou hele lewe nog