Die goudkewers. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780798174831
Скачать книгу
gaan goed, dankie,” antwoord hy half stug. “Meg … Megan, my vrou, hanteer die salon nou feitlik volskaals.” Hy verduidelik nie verder nie. Vertel haar nie dat dinge nooit weer dieselfde sal wees tussen hom en Meg nie. Dat hulle sedert haar verraad – of was dit sy eie met madame Isabella? – nie meer ’n kamer deel nie.

      Dis weer ongemaklik stil. Deborah en Mac probeer die stilte tegelyk verbreek.

      “Sam het gesê dat u met my –”

      “Deborah, ek het gekom om –”

      Al twee glimlag ongemaklik.

      “Jammer, u wou sê?” vra Deborah stil.

      Mac huiwer net ’n oomblik voor hy praat. “Ek het gekom omdat ek glo dat ek jou ’n verduideliking verskuldig is.” Mac swyg weer. Hy het voor die tyd in sy kop geoefen hoe hy die saak sal benader, maar nou is die deeglik voorbereide sinne skielik nie van toepassing nie. Nie teenoor dié Deborah met wie hy nóú kennis gemaak het nie. Sy moed begewe hom amper en dwing hom orent. Hy gaan staan voor die kaggel met ineengestrengelde hande, sy rug na haar.

      “Eerstens wil ek jou verseker dat niemand my gevra het om met jou te kom praat nie,” sê hy uiteindelik buitengewoon stram. “Ek het self besluit. Waarskynlik is dit spyt … my gewete … ek weet nie, dít maak seker nie eintlik saak nie.”

      “Wat probeer u vir my sê, meneer Mac?” vra Deborah. Sy probeer kalm lyk, maar haar hart bons swaar. Sy het ’n goeie vermoede waarom hy hier is, en sy weet skaars of sy genoeg selfbeheersing het om met die gesprek aan te gaan.

      Mac kyk bedruk na die gloeiende kole in die kaggel voor hy antwoord. “Dit gaan oor die misverstand waarvoor ek glo ek en my vrou die skuld dra.” Hy draai om en kyk na haar, maar sy pleitende grys oë vind geen genade op Deborah se koel, byna hooghartige gesig nie. “Kit Malloy het niks te make met my koms hierheen nie,” ploeter hy dapper voort.

      Ten spyte van haar koel houding, merk Mac dat Kit se naam haar tóg raak. Nou is daar geen kans vir omdraai nie; nou moet hy die ding uitkry, en gou ook, want sy kan hom dalk enige oomblik die deur wys, en voor dit gebeur, moet sy die volle verhaal uit sy mond aanhoor. Slegs dan sal sy gewete hom met rus laat in die wete dat hy alles van sy kant probeer doen het om sake reg te stel.

      “Vergewe my, meneer Mac, maar as u hierheen gekom het as ’n soort bemiddelaar, stel ek nie belang om verder –”

      “Ek is nie hier as bemiddelaar nie. Ek is wel hier om jou die waarheid te vertel oor wat met Kit in Mosambiek gebeur het.”

      “Dan moet ek u teleurstel. Dit traak my nie in die minste wat –”

      “Nie?” Aangedryf deur sy begeerte om die taak agter die rug te kry, praat Mac vinnig verder. “As dit jou werklik nie skeel nie, kan dit jou tog nie kwaad doen om net ’n kort rukkie na my te luister nie. Asseblief, Deborah!” Hy gaan sit sonder uitnodiging op die kis voor haar stoel. Die sproeterige Skot is reeds korter as Deborah en word so nog verder tot nederigheid verdwerg. “Gee my minstens die kans om dit wat ek verbrou het, aan jou te verduidelik!”

      Onkant gevang deur Mac se emosie, kyk Deborah hom onseker aan.

      Mac buit die geleentheid uit. Hy begin kort en bondig vertel hoe dit gebeur het dat Kit Malloy op ’n sending gestuur is om wapens vir die ZAR van Mosambiek af in te smokkel, ’n byna noodlottige sending wat hom duur te staan gekom het. Hy vertel hoe en wanneer dinge begin skeefloop het. Hy vertel van ’n man genaamd Harrison, wat met groot sorg deur Cecil John Rhodes uitgesoek is, juis omdat Rhodes bewus was van die tien jaar oue onbeslegte bloedvete tussen Harrison en Malloy.

      “Harrison was die ideale kandidaat om jag te maak op hom, en tegelykertyd sou hy verhoed dat die wapens Pretoria bereik. Was dit nie dat Kit betyds ’n waarskuwing gekry het nie, sou Harrison waarskynlik in sy doel geslaag het.”

      Teen haar wil sit Deborah vasgevang en luister na Mac se vertelling. Sy hoor hoe Kit deur die toedoen van Harrison, wat die Rheinländer wou opblaas, vasgekeer is op die brandende vragskip. Hoe Kit noodgedwonge deur ’n muur van vlamme in die nagdonker see geduik het.

      Deborah herroep die nagmerrie wat sy gehad het; dit moes dieselfde nag gewees het. Hoekom was sy net in voeling met hom toe hy in doodsgevaar was? Hoekom het hierdie buitengewone sensitiwiteit haar nie ook gewaarsku dat hy leef nie? Het sy haar doof gehou daarvoor? As sy geluister het na haar aanvoeling, sou sy nie in hierdie onsinnige huwelik beland het nie!

      “Deborah?” dring Mac se stem van ver af tot haar deur. Sy sien die Skot se bekommerde grys oë. Sy is onbewus daarvan dat haar gesig skielik bloedloos geword het, haar donker oë soos twee brandende lampe.

      Sy beveel hom stram om voort te gaan met sy vertelling.

      “Niemand het geweet van Harrison se teenwoordigheid op die boot nie. Dit is daarom algemeen aanvaar dat die onuitkenbare oorskot van ’n man wat ’n dag of wat ná die ontploffing gevind is, dié van Kit was.” Mac se gesig vertroebel. “Jy was reg om in jou agterdog vrae daaroor te vra, Deborah. Ek was die sot wat dinge sommer geglo het, en ek vra vergifnis daarvoor. Ter verduideliking kan ek bloot aanvoer dat mens se verstand deur emosies oorheers word wanneer jy langs die graf van jou beste vriend staan. Maar ek bied dit nie as ’n verskoning aan nie. Ek moes nie so gou moed opgegee het nie.”

      Hy glimlag wrang. “Met ons eerste aansig van Lourenço Marques het jong Daniël Tristão, my gids, my aandag gevestig op ’n formidabele klipvesting gebou op ’n loodregte krans wat oor die see toring. Die seun het aan my genoem dat dit Forte Rosetta is, volgens hom die berugste gevangenis in die ganse Oos-Afrika. ’n Tronk waarin die gevangenes vir goed verdwyn in die donker kerkers wat onder seevlak gebou is. En dít is waar Kit Malloy op daardie oomblik aangehou is! In my stiksienigheid het ek nie eens ’n tweede keer aan die fort gedink nie, want ek het my blind gestaar teen ’n nuwe graf met ’n houtkruis waarop Kit se naam was.”

      Nie een van hulle merk die diensmeisie wat geruisloos binnekom en die teeskinkbord saggies op die tafel neersit om net so stil-stil weer die kamer te verlaat nie.

      Mac laat niks uit nie. Hy vertel Deborah van die maande lange donker hel waaraan Kit blootgestel is, hoe hy soos ’n dier moes leer oorleef.

      “Kan jy jou so iets indink? Voortdurende stikdonkerte; voortdurend, Deborah! Geen kontak met enige ander mense nie. Hulle het selfs sy kos met ’n stok deur die opening geskuif om sy isolasie absoluut te maak. Die gevreesde rotte het hom dag en nag geteister, en hy moes aanmekaar waak teen die mensvreter-gediertes. Die meeste van Forte Rosetta se gevangenes kom glo juis as gevolg van die rotte om, wanneer hulle in ’n onbewaakte oomblik aan die slaap raak. Ander, volgens Kit, verloor hul verstand, stamp gillend hul koppe teen die muur totdat hulle hul bewussyn verloor. Dan slaan die rotte toe. Kit het aan my erken dat hy self baie na daaraan was om sy sinne te verloor.”

      “Hoekom het hulle dit aan hom gedoen?” roep Deborah ontsteld uit.

      “Politiek. Hulle het ’n sondebok nodig gehad. Die Portugese owerhede het Kit verdink van die keldering van die Rheinländer. Hulle wou ’n skulderkenning uit hom dwing. Daarom het hulle selfs uiteindelik die kats gebruik.” Mac se oë is vol trane. “Hy sal die littekens van daardie geseling vir ’n leeftyd op sy rug dra …”

      Die pyn sny soos ’n lem deur Deborah se siel. Sy onthou Kit se lenige bruingebrande rug daardie dag toe hulle by die fontein saam was. Oorweldigende emosies dwing haar orent – sy moet ten alle koste wegkom van die Skot, wat in sy meegevoel met sy vriend haar siel stroop van die laaste flenterige verskansing wat dit nog oorhet. Dwalend beweeg sy deur die vertrek, verby die onaangeraakte pot tee. Haar gedagtes val soos water deur ’n sif. Haar brein het vasgeslaan. Sy kan nie meer dink nie. Miskien wil sy nie dink nie. Sy kom tot stilstand voor die venster, die een verste weg van Mac. Sy wens sy kan haar ore toedruk teen die gedreun van sy stem, maar ook dit doen sy nie. Sy hoor hoe Kit deur die bemiddeling van Joaquim Tristão uit die afgryslike folterkelders gered is.

      Deborah se gesig weerspieël nie die ontsetting en pyn wat Mac se ontstellende verhaal haar veroorsaak nie. Sy staar met onsiende oë na die verrypte voortuin. Dood. Alles is dor en bruin. Met die lente