Die goudkewers. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780798174831
Скачать книгу

      Half geamuseer maar onberispelik galant buig hy oor haar hand om dit liggies met sy lippe aan te raak voordat hy orent kom. Weer ontmoet hulle oë vlugtig voordat hy homself bekendstel.

      “My naam is Kit Malloy. Mag ek so voorbarig wees om u naam te vra, juffrou?” Hy lag tergend. “Want u het my nou die versekering gegee dat dit nié Alice is nie.”

      Sy plotseling sedige uitdrukking laat haar weer skaterlag. ’n Helder, rinkelende lag wat soos vloeiende water voortkabbel. “U mag dit sekerlik vra. Ek vrees ek het ’n doodgewone naam, Cornelia Bailey, en ek was nog nooit in Wonderland nie.”

      “Nie?” Sy oë kyk warm in hare. “Dan wil ek die voorspelling waag dat u eendag ’n baie spesiale heer ’n uiters gelukkige man gaan maak, deur hom die kans te gee om u daarheen te begelei.”

      Tot haar verleentheid voel sy hoe die bloed na haar wange styg en sy vrees dat sy so rooi soos ’n beet moet lyk … Haar skaamheid verwek ’n soort deernis by Kit. Hy verberg dit dadelik omdat hy haar verdere ongemak wil spaar, maar die meisie se bekoorlike blos maak hom vir die eerste keer bewus van die fyn sproete wat soos ’n sterreboog oor haar wange en neus span. Sonder rede laat dit hom nóg meer van die klein, hartvormige gesiggie hou, so welig omraam met rooibruin hare.

      Cornelia probeer haar uiterste bes om haar ongemak te versluier. “Is u ’n Johannesburger, meneer Malloy?” vra sy asof sy nie reeds weet nie.

      “Ja, ek is. Van meet af aan, vanaf die stad se proklamasie …” Die skitterende glimlag wat haar van die eerste oomblik bekoor het, verhelder weereens sy gesig. “Maar in u kringe is ek nog ’n vreemdeling. U teenwoordigheid laat my vir die eerste keer welkom voel. Juffrou Cornelia, mag ek later ná ete die voorreg hê om met u te dans?”

      Maar voordat sy hom ’n antwoord kan gee, lê ’n groot man met ’n sonverweerde gesig sy hand op haar prins se skouer en dwing sy aandag weg van haar.

      “Meneer Malloy!” roep die man uit. “Dit is ’n gelukkige toeval – ek het nie geweet jy gaan vanaand hier wees nie.”

      Kit glimlag en skud hartlik blad met Joseph Benjamin Robinson, oftewel J.B., soos hy in mynerskringe bekend staan. Soos Barnato is hy ook een van die goudkewers wat sy eerste fortuin op die diamantvelde gemaak het. Hy is ’n moeilike man en word in Britsgesinde kringe beskou as ’n Boereheuler vanweë sy buitengewone partydigheid vir die Boere en sy goeie verhouding met die Volksraad van die ZAR en veral met Kruger.

      Kit koester egter respek vir Robinson, veral vir sy kennis en sy waaghalsigheid, maar ook vir sy belangstelling in nuwe mynbouprojekte.

      “Ons moet praat, Malloy. Ek het die artikel wat jy my gegee het uiters insiggewend gevind. Jy is reg. As dit waar is wat die man van Glasgow in sy artikel beweer en ons kan dit hier in Johannesburg finaal bewys, kan dit ongelooflike moontlikhede vir die Rand inhou.”

      “Dan is ek verheug. Ek moet erken, ek het gehoop om u geïnteresseerd te kry. Ek verstaan die nuutgestigte Cassels – wat nou in besit van MacArthur en die Forresters se formule is – het pas wêreldwye patentregte opgeneem. Hulle verteenwoordigers is reeds reg oor die wêreld gestuur, van Kanada en Rusland tot in verre Australië en Nieu-Seeland. Twee dae gelede het ek ook verneem dat hul verteenwoordiger reeds op pad is na die Rand en dat MacArthur, die voorbok, glo kort op sy hakke sal volg.”

      “Goeie nuus, kêrel! Dan is die tyd min.”

      Albei mans neem ’n glas sjampanje van ’n skinkbord wat voor hulle gehou word. Hulle drink ’n oomblik in stilte.

      “Het jy al gehoor van ’n Duitser genaamd doktor Werner von Siemens?” vra Robinson uiteindelik.

      Kit se oë vernou. “Hy is glo geniaal op die gebied van elektronika, nie waar nie?”

      “Juis. Hulle verwys na hom as Berlyn se beste elektrisiën.” J.B. lag. “Vreemde humorsin wat die Duitsers het … die man is ’n genie.”

      “Is hy nie ook die neef van meneer Adolf Goertz van die Aurora-myne nie?” vra Kit en hy wonder waarom Robinson nou die onbekende Duitser bysleep.

      Robinson hou hom nie lank in die duister nie. “Dis korrek, ja, en dit is Goertz wat my gesê het dat Von Siemens hierheen op pad is. Volgens Goertz het ook hy nou glo ’n onfeilbare oplossing gevind vir die suiweringsproses van goud.”

      Kit se gesig word onleesbaar. “Interessant. Ek vertrou u het Goertz nie vertel van MacArthur en …”

      “Vanselfsprekend nie. Dit bly streng privaat tussen jou en my,” sê Robinson vertroulik. “Maar ek moes jou vertel van Von Siemens, omdat ek glo daar gaan wedywering wees tussen die twee partye om te bewys watter tegniek die beste is. Die vraag ontstaan nou by my … op watter perd mens jou weddenskap moet sit …”

      “Daardie keuse is seker die reg van elke entrepreneur, meneer Robinson,” sê Kit met ’n glimlag. “Ek weet waar ek mý belegging gaan maak.”

      Die twee mans som mekaar in stilte op. By albei ontstaan dieselfde gedagte: Hoe ver kan die ander man vertrou word, en hoe gaan elkeen vir homself die grootste deel van die wins verseker indien hulle tot ’n vergelyk sou kom?

      “Sou u bereid wees om u mynaanleg se fasiliteite beskikbaar te maak?” vra Kit uiteindelik.

      “Dit is moontlik, afhangende van die finansiële voordeel. Ek het geweldige onkostes gehad het met die nuwe chloreringsprojek.”

      “Dis een van die redes waarom ek ú genader het, meneer Robinson; u is nie bang vir vooruitgang nie.” Kit glimlag sardonies voordat hy die ander man se wantrouige blik met ’n ligte knik van sy hoof erken. “Op u beurt mag u miskien sê dat my voortvarendheid en dobbelaarsinstink teen my tel?”

      Robinson lag droog. “Allermins! Ek sou wat wou gee om jóú vernuf en geluk by die dobbeltafel te hê, Malloy. Dog, dit gaan hier om iets van ’n heeltemal ander aard …”

      “Werklik? Wat is die verskil? Is alle transaksies hier aan die Rand nie tog maar ook ’n dobbelspel nie?”

      “Hang af hoe jy daarna kyk. In my ondernemings is ek die kaptein van die skip. Ek laat selde toe dat iets deur toeval beskik word.”

      “Dit weet ek. Daarom het ek ú eerste gekontak, en nie meneer Hamilton van Orion-myne nie.”

      Kit se aanmerking tref die kol. Dis duidelik dat Robinson nie van die idee hou dat Kit dalk na Hamilton toe kan gaan nie. Die twee manne som mekaar op soos wolwe, hulle waaksame oë meet die krag van die ander maar verklap niks nie.

      Robinson verbreek uiteindelik die ongemaklike stilte. “Ek glo ek en jy moet mekaar volgende week ontmoet.”

      Kit knik. “Noem u die tyd en plek.”

      “Die Rand Club?”

      Kit knik weer. “Indien ek toegang kan kry as u gas. Ek vrees ek is nog nie ’n lid van u eksklusiewe bende nie.”

      “Nie?” roep Robinson gemaak verbaas uit. “My liewe kêrel, maar dis ’n saak wat in aller yl reggestel moet word!”

      Kit glimlag skeef. “Dankie vir u aanbod. Ek sal dit dalk later opneem. Wat nou van belang is, is hoe vinnig ek ’n nuwe maatskappy kan begin. Indien u belangstel, stel ek voor dat ons mekaar met ons prokureurs byderhand ontmoet om die saak so gou moontlik te beklink.”

      Cornelia hou die twee mans wat nou so diep in gesprek is teleurgesteld dop. Sy het gesien hoe Kit se gesig verlewendig gedurende sy gesprek met meneer Robinson, en met ’n sinkende hart het sy besef dat hy in ’n ommesientjie van haar bestaan vergeet het. Vreugdeloos bepaal sy nou weer haar aandag by die orkes wat hul openingsmelodie speel. Sy het die ensemble al gehoor speel. Volgens die Johannesburgers se standaarde is hulle seker nie te swak nie, maar haar fyn oor vind geen harmonie tussen die musikante nie. Snob! betig sy haarself dadelik. Miskien spruit haar irritasie bloot daaruit dat sy Kit Malloy maar net nie uit haar gedagtes kan verdryf nie. Hy het nie eens gewag op haar antwoord tot sy uitnodiging om te dans nie! As hy weer vra, sal dit haar plesier gee om hom weg te wys – dit sal hom leer! Maar Cornelia